Ena Murray Keur 8. Ena Murray

Ena Murray Keur 8 - Ena Murray


Скачать книгу
Irma na die enigste strooitjie waaraan sy kan dink.

      “Maar hoe kan jy seker wees dat Carlyle wel die waarheid gepraat het?”

      “Ek weet omdat ek hom liefhet.” Emerit se oë word vol trane. “Dis vreemd …”

      “Wat is vreemd?” vra Irma toe Emerit stilbly.

      “Dis vreemd dat ek op hierdie eiland eers moes kom leer wat ware liefde is.” Sy begin saggies snik. “My lewe tot hiertoe was nie juis … mooi nie. Ek was wild, roekeloos, hard … Ek het nog nooit veel waarde aan beginsels en sulke dinge geheg nie. Ek het na hartelus gemaak en gebreek. En toe het ek hierheen gekom …”

      ’n Siddering trek deur haar. “Ek het vir Carlyle ontmoet. O, ek weet hy is jonger as ek, ’n veel beter mens as ek. Maar ek het hom liefgekry.” Sy glimlag meewarig. “Jy dink seker ek is verspot. Hoe lank is ons nou al hier?”

      Irma knik begrypend, haar stem teer: “Nee, ek weet dit kan skielik gebeur. Die een oomblik is iemand ’n algehele vreemdeling en die volgende oomblik weet jy net …” Sy skud haar kop verdwaas. Is dít wat met haar gebeur het? Die een oomblik was Anton de Woud ’n vreemdeling en nou …

      “Irma, sê my! Ek weet hy is tot jou aangetrokke, maar is jy ook?”

      Sy moet haar gedagtegang terugdwing na die hede. “Is ek ook wat?”

      “Is jy ook verlief op hom?”

      “Op wie?”

      “Carlyle!”

      “Emerit, asseblief! Jy is onder ’n wanindruk. Ek is nie verlief op Carlyle nie, net so min as wat hy op my verlief is. Hy is maar net beskermend teenoor my omdat ek die jongste van ons vyf is. Glo my!”

      “Maar jy het netnou gesê …” Emerit se oë rek. “Dis Anton de Woud! Jy is verlief op Anton de Woud, is dit nie?”

      Irma laat haar blik vinnig sak en kyk fronsend op haar hande af. Sy merk nie die kommer in Emerit se oë nie. Daar kom ’n besluitelose trek op Emerit se gesig toe sy die verraderlike rooi blos op Irma se wange sien.

      “Irma, moenie dink dat ek my in jou persoonlike sake wil inmeng nie, maar …”

      “Maar wat, Emerit?”

      Irma kyk haar met smekende oë aan, asof sy hoop dat hierdie meisie wat soveel jare ouer is en meer ondervinding het as sy, helderheid vir haar sal bring.

      Emerit kyk haar reguit aan.

      “Ek dink nie jy is opgewasse teen Anton de Woud nie. Na regte behoort jy geen kontak met daardie man te hê nie. Hy is gevaarlik, Irma – nie net vir jou nie, maar vir ons almal.”

      Met wanhoop in haar hart probeer sy die man wat sy liefhet, verdedig.

      “Ons het nog geen bewyse teen hom nie, Emerit. Ons agterdog berus net op veronderstellings en …”

      “En op wat Carlyle vertel het – en dit is die waarheid,” val Emerit haar in die rede. Sy kyk Irma met bejammering aan. “Irma, jy gaan seerkry, bitter seerkry as jy toelaat dat Anton de Woud jou liefde wen. Hy is ’n … verraaier. Hy is kop in een mus met ons gasheer. Hy sal net ellende en trane in jou lewe bring. Luister na my. Stoot hom uit jou hart. Julle ken mekaar nog nie lank nie. Luister na my waarskuwing. Dis nog nie te laat nie. Ek erken dat hy ’n baie aantreklike man is. Maar die duiwel kom ook soms in baie aantreklike gedaantes voor.”

      Irma druk haar gesig in haar hande, en dis Emerit wat nou weer vertroostend háár hande neem.

      “Arme kind. Beteken dit dan reeds soveel vir jou?”

      Irma knik magteloos, terwyl sy nog vir oulaas ’n poging aanwend om Anton te beskerm.

      “Moenie hom te gou oordeel nie, Emerit. Miskien … miskien is dit nie soos wat ons dink nie …”

      Emerit ag dit wys om hierdie keer liewer nie te antwoord nie en lê terug op haar bed. Sy spring dadelik weer orent toe daar aan die deur geklop word.

      “Ek het vir jou ’n koppie tee bestel, Emerit,” sê Jan toe sy vraend na die skinkbord in sy hande kyk.

      Sy glimlag dankbaar en die twee meisies vermy die speurende blik.

      “Ek dink dit sal beter wees as julle twee maar in die bed klim. Die atmosfeer in die woonvertrek is vanaand nie te gesellig nie.”

      Irma staan op en gryp sy arm vas, terwyl sy pleitend na hom opkyk.

      “Jan, dink jy ook dat Anton iets te doen het met hierdie ding waarvan Carlyle ons vertel het?”

      Jan kyk stil af op haar bleek gesiggie hier by sy skouer, en vlugtig verwissel hy en Emerit ’n blik. Dan sug hy en sit sy arm vaderlik beskermend om haar skraal skouertjies.

      “Ek weet nie, Irmatjie. Ek weet werklik nie meer wat om te dink nie.”

      “Maar glo jy wat Carlyle vertel het?” hou sy vol, en hy antwoord eerlik.

      “Die gedeelte van die professor en die laboratorium glo ek sonder voorbehoud. Ek dink nie Carlyle sou dit uit sy duim gesuig het nie.”

      “Maar die deel van Anton?”

      “Ek moet weer sê ek weet nie. Dis heeltemal waar dat Carlyle nie veel tyd vir Anton het nie, maar … dat hy sommer, sonder enige rede hoegenaamd, sulke soort beskuldigings sal maak, daaraan twyfel ek.”

      “Dus moet hy, volgens jou, die waarheid gepraat het?” sê Irma in ’n verlore stemmetjie, asof sy besef dat sy vergeefs die stryd aangeknoop het.

      “Waar daar ’n rokie is, brand ook ’n vuurtjie, Irma,” antwoord Jan sag en hy druk haar ’n oomblik troostend teen hom vas. “Maar moenie nou jou koppie oor hierdie dinge breek nie. Ons weet nog te min om sommer te oordeel – ons kan dalk ’n onskuldige onregverdig beskuldig. Maar dit kan ook geen kwaad doen om baie versigtig te wees nie. Eintlik weet ek nie meer wie om te vertrou nie.”

      “Jy kan óns vertrou, Jan,” sê Emerit en kyk hom verbaas aan toe hy nie dadelik antwoord nie. “Liewe land, Jan, jy dink tog nie ek of Irma het iets met hierdie …”

      Jan val haar sag in die rede: “Nee. Maar dat Carlyle en Anton wel op die een of ander manier êrens in hierdie legkaart inpas, is vir mý baie duidelik. En jy en Irma is weer by Carlyle en Anton ingeskakel, nie waar nie?” Die twee meisies laat hul koppe sak, en dis nie vir hulle nodig om Jan hierop te antwoord nie. Hul stilswye is antwoord genoeg. Dis met ’n bekommerde gesig dat hy omdraai en sonder ’n verdere woord die kamer uitstap, terwyl die twee meisies mekaar net magteloos, woordeloos kan aankyk. Albei besef dat hulle in ’n net vasgevang is, miskien op hierdie oomblik vir hulle ’n net van liefde, maar later kan dit dalk so nou trek dat dit ’n wurggreep word waarvan net die dood hulle kan verlos.

      Irma het besluit om ook maar na haar kamer te gaan nadat sy Emerit alleen gelaat het, en dis net Jan en Anton wat, skynbaar in hul koerante verdiep, die tyd sit en afwag. Maar tienuur kruip reeds nader, en nog maak nie een van die twee aanstaltes om bed toe te gaan nie. Dis Jan wat eerste sy koerant opvou en stip, peinsend voor hom op die vloer staar. Dan draai hy ná ’n paar oomblikke sy kop in Anton se rigting.

      “Dis tienuur.”

      Anton laat ook sy koerant sak en kyk op sy polshorlosie. “Ja. Dis amper tienuur.”

      Die twee mans kyk na mekaar, en daar kom ’n vasbeslote trek om Jan se mond.

      “Carlyle is nog nie terug nie,” sê hy oorbodig, en toe Anton nie reageer nie, vra hy beslis: “Anton, wat het met hom gebeur? Hoekom is hy nog nie terug nie?”

      Anton se oë vernou. Hy het die agterdog in Jan se stem gehoor, en sy gesig word strak.

      “Ek sou nie kon sê nie.”

      Ook Jan se oë is nou twee splete, en sy kake is saamgeklem. “Jy maak dit nie vir my maklik nie, Anton.”

      Die breë skouers word onverskillig opgetrek as enigste antwoord. Jan leun vooroor, en sy stem is sag


Скачать книгу