Ena Murray Keur 8. Ena Murray
gestap waar jy deur ons gasheer vriendelik verwelkom is en sy ondergrondse laboratorium binnegenooi is. Jy het hom as professor aangespreek en julle is kop in een mus. Kan jy dit ontken?” Daar is ’n oomblik stilte. Elke oog is op Anton de Woud gerig. Die atmosfeer is gelaai. Irma klem haar hande saam. Anton móét hierdie beskuldigings van Carlyle ontken. Sy weet dat dit vir haar van die grootste belang is dat hy hierdie storie van Carlyle moet ontken. Hierdie dinge wat Carlyle vertel, kan nie, mág nie waar wees nie. Nie Anton nie.
Anton kyk hom kalm aan en trek dan sy skouers op.
“Ek is aan jou geen verduideliking verskuldig nie, Faure. Aan die res kan ek net dit sê: ek erken of ontken net mooi niks nie. Glo wat en vir wie julle wil …”
“Jy is nou baie onredelik, Anton,” probeer Jan redeneer. “Die beskuldigings wat Carlyle teen jou kwytgeraak het, is van ernstige aard. Ons kan dit nie sommer ignoreer nie. Ons is almal gemoeid met hierdie besigheid en dis vir my nie lekker om te weet dat hier heel moontlik ’n verraaier onder ons is nie. Laat ons hierdie saak soos grootmense uitpraat. Carlyle, kan jy op jou woord van eer sweer dat wat jy so pas vertel het, die waarheid is?”
“Ja, ek kan,” antwoord Carlyle dadelik en baie beslis.
“En jy, Anton?”
“Ek sê nog steeds hy praat twak!”
Jan frons en kyk die jonger man stip aan.
“Een van julle twee praat nie die waarheid nie. Ek moet eerlik erken ek weet nie watter een om te glo nie.”
“Maar, my hemel, Jan, gebruik tog jou verstand! Dink jy werklik dat ek die hele storie sou versin het?” bars Carlyle los, en toe hy die besluiteloosheid op die ander drie gesigte sien, kners hy op sy tande en gryp Anton voor die bors, terwyl hy sissend sê: “Goed, De Woud. Dis jou woord teen myne. Ek is baie lus en druk jou strot in totdat jy die waarheid erken. Maar ons praat later weer.”
“Hou jou hande van my af, Faure. Ek waarsku jou!”
Anton se stem is baie sag, maar juis daarom soveel gevaarliker. Carlyle laat sy hande sak, maar bly nog op dieselfde plek staan. “Ek sal jou nie nou bykom nie, De Woud. Maar een ding sê ek vir jou: as jy en jou professor dink ek gaan ’n gewillige proefkonyn vir julle wees, begaan julle ’n groot fout!”
“Carlyle! Wat bedoel jy met ‘proefkonyn’?” vra Emerit ontsteld, en Carlyle antwoord sonder om sy oë van die man voor hom weg te neem.
“De Woud en ’n sekere professorvriend van hom is besig om die een of ander reeks eksperimente te doen om ’n sogenaamde supermenseras te teel. En dit traak my nie of hy dit erken of ontken nie, maar ek sê vir julle dat óns vier na hierdie eiland gelok is met die uitsluitlike doel om as proefkonyne te dien.”
“Wat?” Jan is met een tree langs Carlyle, en dis hierdie keer sý hand wat uitskiet en Anton voor die bors vasvat.
“Anton, ek eis ’n verduideliking van jou – onmiddellik! Is dit die waarheid wat Carlyle praat?”
Met ’n ferm swaai van sy arm kap Anton die ander man se hand voor sy bors weg. Sy oë flits waarskuwend: “Vind dit vir jouself uit, vriend. Maar vir die laaste keer waarsku ek julle manne: die een wat sy hand weer teen my lig, sal dit berou!”
“Jou …”
Carlyle is buite homself en sy vuis skiet vorentoe. Dit tref Anton vol op sy lip, maar tot almal se verbasing slaan Anton nie terug nie. Hy haal net sy sakdoek uit en druk dit teen sy mond.
“Toe! Hoekom slaan jy nie terug nie? Jy het mos gewaarsku …”
“Ja, ek het. Maar ongelukkig het jy geen ag op my woorde geslaan nie. Dis jammer. Ek het geen skuld aan wat gaan gebeur nie.”
“Wat bedoel jy, Anton?” Jan is sigbaar onrustig, en Irma staar bleek na Anton, wat sy sakdoek telkens teen sy mond druk.
“Dit maak nie nou saak wat ek bedoel nie. Julle sal wel sien – binnekort.”
Hy draai om en stap weg. Toe Irma na Carlyle kyk, sien sy dat hy wasbleek is. Vrees, openlike vrees kruip onkeerbaar in sy oë …
8
Dis met vrees in haar hart dat Irma daardie nag tegemoetgaan. Ná die aantyging toe Carlyle vir Anton openlik daarvan beskuldig het dat hy met hul gasheer saamwerk, het sy Anton net by die middagete gewaar. Gedurende die ete het daar ’n ongemaklike en spanningsvolle stilte geheers. Dit was net Anton wat blykbaar op sy gemak was. Maar nadat hy klaar geëet het, het hy dadelik opgestaan, beleef verskoning gevra en toe weer na sy kamer verdwyn.
Hulle het niks te doen gehad nie, behalwe om lusteloos te blaai in die tydskrifte wat hul gasheer tot hul beskikking gestel het. Bloot die afsondering en ledigheid is genoeg om ’n mens van jou kop af te laat raak, dink Irma nou, terwyl sy voor die aandete haar hare kam. Dis of almal huiwer om te gesels, uit vrees dat hulle dalk iets sal sê wat liewer ongesê moet bly.
Irma staar fronsend op haar hande af. Ná die dubbelsinnige woorde van Anton die oggend, is sy geneig om met Carlyle saam te stem. Daar was ’n openlike dreigement in Anton se waarskuwing. Maar sy houding bly vir haar onverklaarbaar. Sy weet dat alles na hom wys, maar tog kan sy haarself nie oortuig dat Anton de Woud werklik iets gemeens in die mou voer nie – dat hy doelbewus daarop uit is om hulle kwaad aan te doen nie.
Kan Anton de Woud werklik só vals wees, só goed toneelspeel om een oomblik te suggereer dat hy vir haar omgee en by haar pleit om hom te vertrou, en die volgende oomblik allerhande duistere planne in die mou voer? Dis of dit net nie strook met die man se karakter nie. Sy sug en glimlag wrang. Dis net haar dwase hart wat haar hierdie dinge wysmaak, want hoe kan sy hom oordeel op grond van die paar uur wat sy hom ken? Dis maar net dat sy diep in haar hart bid dat Anton nie moet wees wie Carlyle beweer hy is nie, hoewel haar beterwete haar vertel dat dit ’n hopelose verwagting is.
Selfs as Carlyle met sy gevolgtrekkings die bal mis slaan, dan bly daar nog iets geheimsinnigs aan Anton de Woud wat sy nie kan ignoreer nie. Tog voel sy nie geneë om Carlyle se verhaal sommer net af te skryf nie. Sy weet alte goed dat daar ’n sterk antagonisme tussen hierdie twee mans bestaan. Maar sy weet ook dat Carlyle, hoe min hy ook al van Anton hou, nie so ’n storie sommer uit sy duim sal suig nie. As Carlyle se storie dan die waarheid is – soos sy aanvaar – is dit vir haar onverklaarbaar hoekom Anton, as hy nie besig is om iets weg te steek nie, dit so beslis ontken. Dit is die optrede van ’n lafaard – en Anton de Woud is geen lafaard nie. Irma besef dat hier veel meer agter skuil, en sy voel weer hoe vrees binne-in haar roer.
Hoe sy ook al probeer om haar gedagtes in bedwang te hou, kan sy nie help om telkens maar weer te dink aan wat Carlyle vertel het nie. Sy verbleek. As Carlyle se storie waar moet wees, wag daar ’n afgryslike lot op hulle. As hulle werklik as proefkonyne hierheen gelok is … Sy sidder en druk haar hande voor haar oë, die angs soos ’n koue staallem in haar hart. As sy aan al die geheimsinnigheid dink wat met hul koms hierheen gepaardgegaan het, pas dit so mooi in by Carlyle se storie dat sy nie anders kan as om hom te glo nie. Maar as dit dan die geval is, moet hulle tog iets probeer doen om hulle van so ’n lot te red. Maar wat? Sy voel hoe die magteloosheid en wanhoop haar oorweldig. Daar was net een man in wie sy die vertroue sou gestel het om hulle te red – en hy is oënskynlik in die vyand se kamp.
’n Ligte kloppie aan haar deur laat haar uit haar vreesgedagtes opskrik. Voordat sy nog ’n geluid kan uiter, glip Anton by die deur in. Daar is iets dringends in hom toe hy vinnig na haar toe stap. Irma sit asof versteen, en die man kan duidelik die naakte vrees in haar oë sien. Hy praat in ’n fluisterstem terwyl hy na haar oorbuk: “Irma, jy móét na my luister. Dis die laaste keer dat ek by jou kom pleit, jou smeek om my te vertrou. Asseblief!”
“Anton, ek kan nie met hierdie onsekerheid en onrus voortgaan nie. Wie ís jy? Sê my, asseblief!”
“Ek kan nie. My mond is met ’n eed gesnoer. Jy moet my glo, Irma …”
“Mag jy selfs nie eens vir mý vertel nie?”
“Nie eens vir jou nie.” Sy stem daal nog laer. “Daar sal