Ondersoek my hart. Ilze Beukes
Ondersoek my hart
Ilze Beukes
Hartklop
1
Madelie kyk vies na die interkom in haar klas toe dit met ’n piepgeluid aangaan.
Die sekretaresse se stem klink huiwerig: “Juffrou, jammer om te pla.”
Sy probeer die irritasie uit haar stem hou. “Ja, Benita?”
“Handré se oom dring aan om jou onmiddellik te sien.”
Waaroor sou dit nou gaan? Iets in Benita se stem laat haar toegee aan die ongewone versoek. “Goed, laat hy maar deurkom.”
Haar blik gly oor die graad 3’s en kom op Handré tot stilstand. Iets baie vreemds is hier aan die gang …
Handré duik vinnig weg agter die rug van die maatjie voor hom. Net ’n stukkie van sy koperblonde kuif steek uit.
Madelie kry ’n nare voorgevoel. Hy het beslis iets aangevang, maar wat? En wat het dit met sy oom te doen? Waar is sy ma en pa dan? Die oom is seker ’n ou inmengerige, bemoeisieke man met te veel vrye tyd op hande.
Handré is ondeund, maar tog nie regtig stout nie. Wat kan nou so dringend wees dat dit nie tot later kan wag nie? Hoop nie sy ouers … Nee wat, dis seker nie te ernstig nie.
Sy wou so bitter graag vandag se werk volgens haar beplanning klaarmaak. Sy draai gou na die skryfbord voor in die klas en tik daarteen met ’n liniaal: “Haal asseblief jul klaswerkboeke uit en skryf dié woorde van die bord af.” Gelukkig het sy alles reeds vroeg vanoggend voor skool opgeskryf.
Stoelpote skuur oor die vloer. Tasknippe raas terwyl almal na hul boeke begin soek. Penblikkies val op die grond. Fluisterstemme agter bakhandjies klink oral op, en hier en daar giggel iemand.
Madelie draai stadig om en kyk na die kinders. “Wie wil pouse in die klas bly en uitskryfwerk doen?”
Dadelik het sy hul volle aandag. ’n Paar koppe skud heen en weer. Stilte daal oor die klas net toe daar hard teen die deur gehamer word. Sy loop gou soontoe voor die ou omie dit afklop.
Dit klink ernstig.
Madelie maak die deur oop, en haar mond gaan stadig oop terwyl sy na die lang donkerkopman staar. Hy is toe glad nie ’n ou omie nie; sy skat hom so dertig jaar oud – en hy is gevaarlik aantreklik. ’n Diep frons keep in sy voorkop en dit lyk of sy twee potblou oë blitse skiet. Haar knieë voel effens lam.
Hy is sterk gebou, pynlik netjies aangetrek in ’n wit en blou strepieshemp, donkerblou das, en donkerblou langbroek wat sy smal heupe beklemtoon. Gepoleerde swart skoene rond die prentjie af.
Iets pla Madelie. Maar sy weet nie wat dit is nie.
Sy tree agteruit en sê die enigste woord waaraan sy kan dink. “Hallo?”
Sy frons keep nog dieper in en sy oë vee net vinnig oor haar – van haar kort rooi hare, oor haar veelkleurige rok wat los om haar skraal lyf hang tot by haar bont geverfde toonnaels.
Toe kyk hy na die kinders. “Ek het dadelik gekom. Waar is Handré? Laat ek gou na hom kyk. Hy het dit al ’n paar keer baie erg gekry. Dit kan gevaarlik wees.”
Hy gee nog ’n tree vorentoe en kyk oor haar kop na die klas, want hy is heelwat langer as sy.
Sy skud haar kop. Die man kan net sowel Grieks praat. Hy is so naby dat sy die sagte muskusgeur van sy naskeermiddel kan ruik.
Dit is duidelik dat hy nie vir Handré sien waar hy nou laag op sy bank lê nie. Dit lyk of die seuntjie in die knyp is.
“Ek verstaan nie,” sê sy.
Die vreemdeling draai na haar. “Waar is die juffrou? Dit is ’n krisis. En waar is Handré? Ek het nie tyd nie. Is jy ’n student?” Kommer trek sy mooi mond skeef.
Sy nabyheid ontsenu haar en sy gee nog ’n tree agteruit. Sy frons ook nou. “Ek is die …”
Hy hoor duidelik geen woord wat sy sê nie. “Kinders, waar is Handré?”
Die kinders wys almal in Handré se rigting en dié staan op en loop druipstert tot voor sy oom. Hy slaan sy armpies om sy oom se lyf.
Die kinders raak doodstil. Almal se aandag is op die prentjie voor in die klas.
Ergernis begin soos ’n fontein in Madelie opborrel. Sy kon net sowel nie eens hier gewees het nie. Die man is wragtig onbeskof. Waar het jy nou al ooit so iets in jou lewe gesien? Bars sommer net haar klas binne en neem oor. Kom seker uit ’n ryk familie en nou is hy daaraan gewoond om sy vingers te klap en almal in gelid te laat spring.
Wel, nie in háár klas nie. Sy gee ’n tree vorentoe en maak haar mond oop om iets te sê.
Die volgende oomblik kyk Handré op na sy oom: “Oom Ian, jy het sowaar gekom!” Hy klou soos ’n klein apie om sy oom se lyf vas.
Madelie besef eers wat dit is wat haar heeltyd onbewustelik gepla het toe die man ’n stetoskoop van sy nek afhaal. Haar ore begin soos sonbesies sing. Net met uiterste wilskrag bly haar voete geanker op die vloer. Sy kyk met verstarde oë hoe hy die stetoskoop in sy ore sit en na Handré se bors begin luister.
’n Doodse stilte sak oor die klas neer. Heldeverering verskyn op die kindergesiggies.
Maar Madelie tree terug tot sy die deurkosyn agter haar rug voel en beskou als deur ’n waas terwyl haar hart angstig in haar borskas doef-doef-doef.
O, help tog! Gaan hierdie dokter vir Handré hospitaal toe neem? Sal sy moet saamgaan? Sy kan nie. Sy kan eenvoudig nie. Daardie lang, steriele gange … die mense in pyn … Sy wil nooit weer nie!
Haar asem kom vlak en vinnig oor haar droë lippe. Doelbewus dwing sy haar om stadiger asem te haal soos die berader haar destyds geleer het. Kom nou, Madelie, moenie die ergste dink nie, praat sy haarself moed in.
Stadigaan kom die lewe terug in haar lyf. Sy maak haar keel skoon. “Verskoon my?” Maar haar stemmetjie piep, en met die stetoskoop in sy ore kan hy haar blykbaar nie hoor nie. Sy maak keel skoon. “Ekskuus tog,” sê sy harder.
“Hmm, lyk darem of als in orde is, grootman,” hoor Madelie die man mompel. Sy aandag is volledig by Handré. Eers nadat hy klaar na die kind se bors geluister het, hang hy die stetoskoop tydsaam om sy nek. Hy draai om na haar en bekyk haar op en af. “Het jy iets gesê?”
Het hy regtig nie gehoor nie of spot hy dalk met haar? Noudat die ergste skrik verby is, neem die ergernis weer oor. Skielik voel sy soos die groentjie waarvoor hy haar heeltyd aansien. Die hele klas sit soos oopbek-agies na haar en kyk.
Sy trek haar asem diep in en herwin ’n bietjie van haar selfvertroue terwyl sy haar bont rokkie met haar swetende hande glad stryk. “Kan ons asseblief buite praat?” Sy wys met haar hand vir Handré na sy bank. “Handré, gaan sit op jou plek.” Met pieringoë skarrel die seuntjie na sy bank. Dan beduie sy met dieselfde hand by die deur uit en kyk betekenisvol na die dokter.
Die lang vreemdeling stap by haar verby en gaan by die deur uit. Toe hulle in die gang staan, maak sy die deur hard agter hulle toe. ’n Waarskuwing vir almal aan albei kante van die deur. Miskien wil sy haarself juis daardeur oortuig dat sy nie meer die bang dogtertjie is wie se lewe vir ewig in ’n hospitaal verander het nie. Ja, ondanks al daardie sessies by die berader, het sy die skok blykbaar nog nie heeltemal verwerk nie.
Sy maak haar keel skoon. Haar knieë voel steeds lammerig. “Sê asseblief vir my wat nou so pas hier in my klas gebeur het?”
Hy trek sy lippe op en kuiltjies duik in sy wange. “So, jy is wraggies die juffrou? Ek kan dit skaars glo. Jy lyk regtig soos ’n student, so jonk en kleurvol.” Sy oë gly oor haar terwyl sy glimlag verbreed.
Sy vat aan haar kort hare toe hy daarna kyk. Die styl is ongetwyfeld te vreemd na die smaak van ’n verbeeldinglose dokter, so met die een kant langer as die ander kant gesny, en haar rok seker ook heeltemal te uitheems. Sy volg sy blik tot by haar toonnaels wat afwisselend ligblou en seegroen geverf is.
Sy kyk