Ondersoek my hart. Ilze Beukes
kom ons begin voor. Ek is Ian Duvenhage, Handré se oom.”
Madelie kyk hom net aan sonder om ’n vinger te verroer. Wie de joos dink hy is hy miskien? Hy moet maar dink sy is kinderagtig; sy voel ’n veer. Sy is net te kwaad. Om haar so disrespekvol voor haar klas te behandel – net hier in te bars en oor te neem. Die vermetelheid! En sy is sommer kwaad omdat hy haar so laat skrik het.
Die vent het haar nog nie geantwoord nie. “Wat presies het nou net hier gebeur?”
Hy trek sy hand terug terwyl die lag steeds in sy oë blink. “Sjoe, maar dit lyk my mos jy is een van daardie kwaai juffrouens. Dis tog duidelik dat ek Handré ondersoek het.”
Sy trek haar rug ekstra regop. “Ek is nie blind nie. Ek probeer net verstaan hóékom jy hom ondersoek het.”
Sy glimlag verdwyn. “As jy werklik nie weet nie, maak jy my bekommerd. Jy behoort tog te weet as een van die kinders siek is?”
Madelie verstik amper. “Ek dog jy het nou net vir hom gesê alles lyk in orde?”
Ian trap ongemaklik rond. “Wel, hy het my gebel en gesê hy is benoud, hy kry nie asem nie. Ek weet nie of jy dit weet nie, maar hy ly aan asma. Dit is nie iets waarmee mens speel nie. Toe ek hom ondersoek, het als gelukkig normaal geklink.”
Sy skud haar kop in ongeloof. Dit voel of sy gaan ontplof. Hy insinueer mos dat sy nie weet wat in haar eie klas aangaan nie. “Ek is op hoogte van die kinders se mediese geskiedenis en het al die ouers se telefoonnommers. Handré het nie vir my –” Skielik gaan daar ’n lig vir haar op. “Het jy dit nie vreemd gevind dat ’n skoolkind jou self oor so iets bel nie en dit nogal van ’n telefoonhokkie af. Of was dit van ’n selfoon af?”
Dokter Duvenhage vryf deur sy netjiese donker hare. “Nee, dit het soos ’n telefoonhokkie geklink.”
“Presies! As daar werklik fout was, sou hy tog vir my gesê het en dan sou ék sy ouers gebel het. Waar pas jy in elk geval in die prentjie? Sy pa is mos ook ’n dokter. Ek is nie eens seker dat dit wettig is wat nou net hier gebeur het nie.”
“Dis glad nie so erg soos jy dit maak nie.”
Madelie lig albei hande uit absolute ongeloof op. O, hy dink sy is maar net ’n ou juffroutjie wat oorreageer, terwyl die groot en belangrike dokter kan doen wat hy wil. Sy wys na die klaskamer. “Dis my klas dié, nie jou spreekkamer nie! Sal jy daarvan hou as iemand so in jou spreekkamer inbars terwyl jy besig is?”
“Dis darem nie heeltemal dieselfde nie. Ek vra om verskoning, maar jy moet verstaan: by my kom gesondheid altyd eerste en dan eers reëls en regulasies. Klim nou maar van jou perdjie af, laat ek probeer verduidelik: My broer is ’n dokter ja, en ons is vennote. En nee, ek ken nie die prosedure by skole nie. Ek het nie kinders nie.”
“So gedink, ja!”
“As jy my ’n kans gee, kan ek jou vertel wat gebeur het?”
Sy beduie met die hand dat hy moet voortgaan.
“My broer en sy vrou is vanoggend vroeg Welkom toe nadat my skoonsuster kontraksies begin kry het. Haar ginekoloog is by die hospitaal daar, dieselfde man wat haar met Handré se geboorte bygestaan het toe hulle nog destyds daar gebly het. Hulle het my inderhaas gebel om na Handré om te sien terwyl hulle weg is. Ek weet nie of jy weet nie, maar Suné het eintlik nog ses weke van haar swangerskap oor. Die kontraksies is vroeg.”
Madelie knik: “Ek weet, ek ken Suné goed.” Sy trek haar asem diep in. Bekommernis kom sit op die krop van haar maag. O, hemel, nou is daar werklik iemand wat sy ken in die hospitaal. Suné het al soveel miskrame gehad … alles het hierdie keer so goed gegaan, maar nou? Haar asemhaling wil-wil weer onreëlmatig word. “Is als reg, ek bedoel met haar – die babas? Sal die rit na Welkom nie meer skade doen nie?”
“Tweelinge word dikwels vroeg gebore, maar dis goed dat hulle so gou moontlik by die hospitaal kom sodra sy geboortepyne begin kry. Dit sal beter wees as die dokters die kraamproses dalk eers kan stuit. Daar is medikasie wat toegedien kan word. Hoe langer Handré se sussies in die baarmoeder kan bly, hoe beter.” Ian trek sy vingers deur sy hare. “Ek wag in spanning om te hoor of als daar goed verloop, maar hulle het seker nog nie kans gekry om te bel nie. Ek’s baie bekommerd. En toe ek die oproep van Handré kry …” Hy loop weer na die deur. “Hy is my peetkind en baie na aan my hart.”
Sy woorde wil haar net sag maak. Ai tog, miskien moet sy die vent maar dié keer vergewe. Hy draai weg van haar af na die deur toe. “Dalk moet ek Handré tog maar saamvat? Dit bekommer my dat jy nie eens geweet het dat hy my gebel het nie.”
Madelie trek haar asem skerp in. Nee, magtig, hier bevraagteken hy haar bevoegdheid weer. Sy tel in stilte tot tien. Die man het eenvoudig die gawe om haar vreeslik te ontstel. “Moet asseblief nie so gou tot gevolgtrekkings kom nie. Handré het gevra om die kamer te verlaat. Ek loop nou nie juis saam met seuntjies wat wil badkamer toe gaan nie. Hy het toe natuurlik weggeglip na die telefoonhokkie. Soos jy self gesien het, makeer hy absoluut niks. Ek sal verkies dat jy in die toekoms die regte prosedure volg. As jy dit nie ken nie, vind uit, maak ’n afspraak.”
“Ek het nie bedoel om –”
“Maak verkieslik ’n afspraak gedurende pouses of buite skoolure,” val sy hom in die rede. “Dit is kosbare klastyd dié. Ek sal Handré net met sy ouers se toestemming huis toe laat gaan. Voorlopig bly hy beslis net hier. Handré draai jou om sy pinkie.”
“Ek is geen vreemdeling nie, ek is sy oom. Ek het sekerlik ’n reg om –”
“Ek sal bly wees as jy nie weer my klas onderbreek nie! Die tyd stap aan, ek het werk wat wag.”
’n Diep frons verskyn op sy voorkop. Toe hy weer praat, is dit te bevelend na haar sin. “Roep asseblief vir Handré dat hy kan saamkom! Ek dring daarop aan.”
Madelie sit haar hande op haar heupe en skud haar kop. “Nee! In elk geval, waarheen wil jy hom vat?”
“Spreekkamer toe.”
’n Rilling trek teen haar ruggraat af. Spreekkamers is vir haar amper net so erg soos hospitale. “Uitstekend! Flippen fantasties! Vat ’n seuntjie nou tussen al die siek mense in en dít terwyl sy ma nie hier is om hom te versorg as hy ook siek sou word nie. Hy bly net hier. Jy kan hom na skool kry, indien sy ouers toestemming daarvoor gee.”
Hy grom van frustrasie. “Nou maar goed, ek sal hom hier los. Maar bel my dadelik as hy nie goed voel nie.” Hy gee vir haar sy visitekaartjie.
“Ek is seker dit sal nie nodig wees nie. Ek sal wel vir Handré mý kontakbesonderhede gee, want jy gaan ongetwyfeld vasbrand met die kind se versorging.” Nie dat sy daarna uitsien om weer met hom te praat nie. Simpel vent! Maar hy moenie dink hy is die enigste een wat iets weet nie.
“Handré kuier baie by my. Ek weet wat ek doen.” Hy gee ’n tree agtertoe en begin omdraai. “Tot later!”
Madelie draai om en sien dan eers al die nuuskierige kindergesiggies wat deur die vensters na die gang loer. Sy pluk die deur oop en stap die klas binne, druk dit weer agter haar toe sonder om om te kyk. ’n Paar kinders hardloop na hul banke. Sy gluur hulle aan; dat hulle nou wraggies skaamteloos deur die vensters staan en afloer het, maak haar sommer weer van voor af die dinges in.
Sy is skaars weer op dreef nadat almal tot bedaring gekom het, toe die klok vir pouse lui.
“Handré, bly asseblief agter.” Toe al die kinders uit die klas is, buk sy af en kyk hom in die oë.
Sy blik sak voor hare, en hy boor met die punt van sy skoen op die vloer.
“Hoekom het jy jou oom skelm gaan bel?”
“Juffrou, Mamma is siek. Ek was bang. Hulle het gemaak of daar niks fout is nie, maar ek het gesien iets is verkeerd. Ek wou vir Pappa by die werk bel en seker maak als is oukei, maar toe gaan dit deur na oom Ian se kantoor toe. Toe weet ek iets is weer verkeerd.”
Sy bang ogies en die opregte liefde vir sy ma pluk aan haar hartsnare. Sy hurk en kyk die seuntjie waterpas in