Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste


Скачать книгу

      Satyn

      OMNIBUS 5

      Bruid uit die koue – Ettie Bierman • Vinkel en Koljander – Marijke Greeff • Maalstroom – Wilmarí Jooste

      Jasmyn

Bruid uit die koue

      1

      Clio se vingers klem haar sitplekgordel vas toe die landingsaankondiging deur die kajuit van die Boeing 747 weerklink.

      “Jou senuwees op hol?” vra haar buurvrou wat langs die pad, op Frankfurt-lughawe, opgeklim het.

      Clio knik. “Aan flarde en flenters.”

      Aloma glimlag gerusstellend. “Dit sal seepglad gaan, jy sal sien.”

      “Wat as ons soos twee soutpilare na mekaar staan en kyk en nie weet wat om te sê nie?”

      “Dis maklik: sê net ‘Hallo’ en ‘Hoe gaan dit?’ ”

      “En dán?”

      “Hy sal seker vra hoe die vlug was, en so aan … Dan antwoord jy: ‘Lekker, dankie.’ Hou op stres. Onthou, julle is darem nie heeltemal vreemdelinge vir mekaar nie.”

      “Ek het Arnold meer as tien jaar laas gesien – toe ek in graad sewe was, met sproete en bokstertjies. Hy herken my dalk nie eens nie. Wat as hy dink ek is voorbarig, aaklig lelik en spyt is hy het my genooi om te kom kuier?”

      Aloma klik haar tong. “Hou op vis vir komplimente. Stringe ouens het seker al vir jou gesê jy lyk soos ’n filmster. Mans is mans: almal swig vir blondines met kurwes en hemelblou oë. Arnold gaan mal wees oor jou – jou een kyk gee en van nuuts af smoorverlief wees.”

      “Ag, destyds was sommer lawwigheid, omdat ek sy eerste meisie was en hy hartseer was omdat ek so ver weggegaan het Kanada toe.”

      “Ek dag julle was ’n item? Vas gekys?”

      “Ja, vir wat dit werd was …”

      “En dat hy so lekker gesoen het?”

      Clio bloos asof sy steeds ’n tiener is. “Ons was kinders! Twee bogsnuiters. Ek het niks van soene en sulke goeters geweet nie.”

      “Jý was dalk nog jonk. Maar hy was … hoe oud? Agtien? Dis nie ’n bogsnuiter nie. Hy het vir jou ’n kysring gegee en gesê hy wag vir jou tot jy die dag groot is. Daardie dag is nou.”

      “Die ringetjie pas nie eens meer nie, en hy het seker lankal daarvan vergeet,” skerm Clio.

      “Jy reken? As hy vergeet het, sou hy jou nie plaas toe genooi het nie, of tien jaar lank vir jou geskryf het nie. Het jy Arnold nooit weer in daardie tyd gesien nie?”

      “Nee, net oor die foon gepraat. Dit was nie liefdesbriewe nie, sommer net om te gesels en nuus mee te deel van al die mense wat ons agtergelaat het toe my pa-hulle geëmigreer het. Die korrespondensie was my ma se idee, omdat ek in Calgary nie Afrikaans as skoolvak sou hê nie en sy bang was ek verleer om my moedertaal te skryf. Dit was sommer e-pos of sms’e, niks ernstigs nie. Ons was net maats. Intussen het Arnold seker dosyne ander nooiens gehad.”

      “Nie as hy so ’n nerd is soos jy hom beskryf het nie.”

      Clio trek haar hare agteroor en bind ’n rekkie om. Sy wil nie soos die Lorelei met lang, los lokke daar aankom en die verkeerde indruk skep nie – asof sy hom wil verlei. Sy veeg ’n tikkie ligpienk lipstiffie aan. Verder dra sy geen grimering nie.

      “Arnold is nie ’n bleeksiel nie, net bietjie van ’n introvert. En baie talentvol. Op skool al het hy pragtig geteken, en toe kuns gestudeer. Olieverf is sy forte, veral dierestudies. Hy het onlangs uitgestal – al sy doeke verkoop en ongelooflik positiewe resensies gehad. Arnold van Deventer gaan nog eendag groot naam maak. Dis deels waarom ek kom kuier,” bieg Clio. “Ek wil ’n tiental skilderye by hom afbedel vir ’n uitstalling by die galery in Calgary wat ek bestuur. Ek soek perde, eksotiese Afrika-voëls en dan natuurlik die Groot Vyf, vir die toeriste. Elke enkele werk sal opgeraap word. Maar geld is nie vir hom belangrik nie, hy het oorgenoeg daarvan geërf van sy ouers: ’n string plase, van Bela-Bela tot anderkant Polokwane.”

      “Is dít wat julle twee gemeen het? Omdat jy ook skilder?”

      Clio maak dit ligweg af. “Myne is sommer koekblikprentjies. Hy is in ’n totaal ander liga as ek.”

      Sy kyk by die venster uit en skrik. “Haai, ons is amper op die grond! Jy beter begin regmaak, vriendin. Trek aan jou skoene en kry jou handbagasie. Hoe lyk jy so traag? Is jy nie bly om terug te wees by die huis nie?”

      Aloma kyk na die aanloopbaan wat onder die vliegtuigvlerk verbyskuif. Dit was opwindend om Europa te sien en in Frankfurt te au pair, maar ’n jaar was te lank. Te lank vir Rinus …

      Haar gewese kêrel is nie van dieselfde stoffasie as Clio s’n nie. Arnold van Deventer het amper twaalf jaar gewag vir sy tienermeisietjie om groot te word; vir Rinus de Wet was twaalf máánde te lank. Wie weet, dalk selfs twaalf dáe. Soos sy hom intussen leer ken het, het hy waarskynlik al die eerste dag nadat sy weg is vir hom ander weiveld gesoek. Dalk al dieselfde aand op die lughawe een opgespoor om haar plek in te neem.

      Mans! Die spul verdien nie ’n vrou se liefde en lojaliteit nie. Hoeveel keer in Duitsland kon sy ’n oulike ou aangekeer het … Maar sy was te ordentlik, te eerbaar om Rinus te verneuk. Sy het soos Simpel Sannie aand na aand by die huis gesit, serpe gebrei en na Frau Schumann se stories geluister, terwyl Rinus soos ’n mannetjieskat gerinkink het.

      Gemene drip! Ook maar goed haar ma het haar oor sy los en vas vryery ingelig, anders het sy met die lummel voor die kansel gestaan, en ’n jaar later voor die regbank in die skeihof.

      Saam met haar jas en skouersak grawe Aloma ’n dapper glimlag uit. “Ja, ek is bly. Ek het my eie bed gemis, my diere, braaivleis, mieliepap en somerson.”

      “Laasgenoemde drie is volop op die plaas. Jy moet kom kuier, hoor!” herhaal Clio die soveelste keer. “Jy en ek kliek. Noudat ons ontmoet het, moet ons nie kontak verloor nie. Ek bly vir drie weke. Dalk langer as dinge reg uitwerk … Vuurfontein is skaars ’n uur se ry noord van Pretoria. As jy wil, kan Arnold jou kom haal.”

      “Ek vra nie gunste van mans nie.”

      Clio gee haar hand ’n drukkie. “Nie alle mans is soos Rinus nie.”

      “Ek het my eie kar en sal op eie stoom kom,” herhaal Aloma.

      Toe die vliegtuigdeure oopmaak, stap Aloma uit. Sy bly aan die bopunt van die trap staan om die warm Desemberson op haar lyf te geniet. Sy is bly om by die huis te wees. Al gaan alles anders wees …

      Sonder die liefde van haar lewe, vir wie sy die maan en die sterre sou gaan haal het as hy dit gevra het. Maar hy het nie gevra nie. Niks gevra nie. Nie hoe sy gaan voel, hoe sy gaan regkom, hoe sy die pad verder alleen sal loop as hy haar los nie.

      Voor sy in die passasiersbus klim, bly Clio ook eers staan om die son in te drink en rond te kyk. Sy kan geen detail van die lughawe onthou nie, en niks lyk bekend nie. Tog sprei ’n warm nostalgie deur haar. Haar geboorteland, waar haar wortels lê …

      Sy het te lank weggebly. Te lank uitgestel – verskonings gemaak van studies, te veel werk en te min tyd of geld telkens as Arnold geskimp het dis tyd dat hulle mekaar weer van aangesig tot aangesig sien. As dit nie vir die uitstalling was nie, het sy dalk weer kleinkoppie getrek. Dis goed om terug te wees, maar sy wens haar ma kon saamkom. Sy het die ondersteuning nodig.

      Die herontmoeting met Arnold laat haar maag op ’n bondel trek. Hulle was bure, van kleintyd af maats, hegte vriende en gemaklike korrespondente. Hulle hou van dieselfde boeke en flieks, deel dieselfde belangstellings en lag oor dieselfde grappe. Dis ’n gesonde fondasie, maar is dit sterk genoeg om ’n ernstiger verhouding op te bou?

      Al probeer sy dit ontken, en al het hy dit nie in woorde uitgespel nie, weet sy Arnold verwag meer van haar as vriendskap. En Clio is bang sy kan nie gee wat hy van haar vra nie, bang sy is nog nie gereed nie, bang sy maak hom seer … In haar agterkop herken sy dít as die werklike rede waarom sy so lank weggeskram het van ’n kuier.

      En hier is sy nou. Er in en er uit, soos haar ouma altyd gesê


Скачать книгу