Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
man in te trek wat so te sê ’n vreemdeling is. As hierdie kunstenaarou dit van haar verwag, kan hy nie so oulik wees soos haar nuutgevonde vriendin hom beskryf het nie. Dalk ook ’n tweede Rinus …
“Nee, ek en Arnold gaan nie alleen in die huis wees nie,” antwoord Clio. “Sy tante en broer bly ook in die huis.”
En dankie tog vir dáárdie grasie, dink sy, sodat dit nie nodig sal wees om dadelik besluite te neem wat hul verhouding vorentoe kan bepaal nie. Die ander huismense sal as weerligafleier dien as sy en Arnold vreemd vir mekaar is; as hulle brûe nodig het om die tien jaar lange kloof te oorbrug.
“Broer?” Aloma is verbaas. “Jy het niks van ’n broer gesê nie.”
“Omdat ek nie die vlug wou bederf nie. Ek het gehoop as ek Jurg van Deventer doodswyg, sal hy in die niet verdwyn.”
“Jonger of ouer as Arnold?”
“Drie jaar jonger, en die teenoorgestelde van sy ouboet. ’n Gemene, arrogante skepsel wat ek destyds nie kon verdra nie. Die hare het gewaai wanneer ons naby mekaar gekom het. Ek het hom ’n keer bygedam en met ’n tuinvurk in die pad af gejaag. Ek was so woedend, ek sou die vurk dwarsdeur sy grynsende bakkies gesteek het as ek hom kon inhaal! Gelukkig kon hy vinniger as ek hardloop, anders het ek daardie dag moord gepleeg en as jeugmisdadiger agter tralies beland.”
Aloma giggel oor die snaakse prentjie wat Clio se beskrywing skep. “Wat het hy gedoen om jou so kwaad te maak?”
Clio klim in die bus en plak haar swaargelaaide skouersak met geweld neer. “My kat in die swembad verdrink,” kry sy dit uit, opnuut lus om Jurg van Deventer te wurg. “En agterna vir my geliég: gesê Lallie het self in die swembad geval. Leuens! Dis hý wat Lallie ingegooi en laat verdrink het, om my te tart. Hy het haar kamma begrawe, maar wou nooit vir my sê waar nie. Ek weet hoekom – omdat hy haar sommer êrens in ’n gat gegooi het, waar die jakkalse haar kan vreet. Daarvoor gaan ek hom nog eendag kry en vir die dood van ’n onskuldige dier laat boet!”
Aloma trek groot oë. “Is dít waarvoor jy eintlik teruggekom het – om wraak te neem? Weer daardie tuinvurk op te tel en die koerant se voorblad te haal? Ek sien al die opskrif: Beeldskone blondine reis twintigduisend kilometer om te moor.”
“Jy oordryf,” keer Clio.
“Jy ook,” spot Aloma.
Teen haar sin kry Clio self lag. “Gelukkig is Talien daar, agter wie se rokspante hy kan wegkruip. Sy bak die grootste anysbeskuite wat ek nog ooit gesien het. My ma het gevra ek moet die resep kry, sodat sy die uitlanders met ’n regte Boere-baksel kan beïndruk. Talien maak ook ’n hoenderpastei wat ’n standbeeld sal verlei, en bobotie om jou siel voor te verkoop.”
Aloma wil nog hoor, dit trek haar aandag van haar eie probleme af. “Talien?” vra sy uit.
“Tant Annalien, wat later sommer Talien geword het. Arnold en Jurg se tante. Hulle ouers is in ’n motorongeluk dood toe hulle klein was. Talien is nooit getroud nie en het vir hulle gesorg. Geboer ook, en die plaas met ’n ysterhand regeer. Dierbaar, solank jy haar nie verkeerd opvryf nie. Anders moet jy koes. Sy het Jurg eendag met ’n nat vadoek bygedam toe ek geklik het dat hy van die soetkoekies gesteel het wat sy vir die kerkbasaar gebak het.”
Aloma kyk haar agterdogtig aan. “En hét hy?”
Clio is min gepla. “Natuurlik nie, hy was te bang. Sy kon ’n ou se gal werk dat jy dit ’n week later nog voel. Daardie ronde was mýne … Maar ek wil nie oor die aaklige Jurg praat nie. Hy het my lewe genoeg versuur.”
Sy vat haar sak en stap vooruit, deur doeane. In die aankomsaal steek sy agter haar bagasietrollie vas. “Hier’s ’n skare! Waar kom almal vandaan?”
“Vra hulle,” stel Aloma voor.
Clio kyk radeloos om haar rond. “Hoe op aarde gaan ons ons mense opspoor?”
“Ek onthou darem hoe myne lyk. Daar’s hulle – my ouers!” roep Aloma uit.
Sy los haar trollie en storm op ’n ouerige man en vrou af. Skielik is sy in trane, terwyl sy albei om die lyf beetkry en haar hart teen haar ma se skouer uitsnik.
Nie trane van vreugde nie, besef Clio. Dis oor Rinus. Sy bly staan om hul bagasie op te pas, terwyl haar oë benoud na ’n bekende gesig in die skare soek. Sal hulle mekaar ooit nog ken? Arnold soek dalk vir twee bokstertjies en drade om haar tande. Pleks dat hulle afgespreek het om elkeen ’n rooi vlag te dra, of ’n verspotte pers hoed. Hoekom het sy nie ten minste gevra watter kleur hemp hy gaan aantrek nie? Hy was altyd lief vir blou, maar hier’s hordes blou in alle skakerings en nie een lyf daaronder lyk bekend nie.
Tien minute later, toe Aloma eindelik van haar bagasie onthou, staan Clio steeds en rondkyk. “Voel jy nou beter?” vra sy simpatiek.
Aloma skud haar kop.
“Iets wat ek kan doen om te help?”
“Ja. Maak of als oukei is. Moenie simpatiseer of my troos nie, anders tjank ek weer my alie af. Die ghwar!”
“Ploert!” stem Clio gevoelvol saam.
“Punk! Pateet!” beaam Aloma met ’n onelegante snork. Dit laat haar beter voel en sy sê dit nog ’n keer: “Ploert! Punk! Pateet!” Dan blaas sy haar neus, asof sy Rinus daarmee saam ook uit haar gestel kan blaas. “Dêm drommel!”
“Ditsem!” beaam Clio. “Sê hom. En as jy hom weer sien, slaan hom oor die kop.”
“Of steek hom vol gate met ’n tuinvurk!”
“’n Stomp een, tussen sy ribbes in, dat die bloed loop.”
Aloma se ma beskou die twee en glimlag vir Clio. “Jy’s beter medisyne as ek.”
Aloma raak nog ’n paar skelname kwyt, voor sy onthou om haar nuwe vriendin aan haar ouers voor te stel.
Sy kyk vraend na Clio, en dan na die aankomsaal wat geleidelik begin leegloop. “En toe? Waar’s jou kêrel?” vra sy fronsend.
Clio probeer ongeërg klink. “Ek weet nie. Nie opgedaag nie.”
Aloma verduidelik vlugtig Clio se situasie aan haar ouers, dan kyk sy om haar rond. “Strooi! Hy moet hier iewers wees, jy herken hom seker net nie. Is hy nie daai vleispaleis daar oorkant by die pilaar nie?”
“Nee, Arnold is skraler.”
“Of daai ou wat kort-kort diékant toe loer?”
“Nee, hy is donkerder en dra ’n bril.”
“’n Swart of goue raam?”
“Swart. Dis nou al amper ’n halfuur …” Clio voltooi nie haar sin nie. Haar keel is toegetrek en haar mond droog. “Ek kry ’n gevoel hy gaan nie kom nie.”
“Hy sit dalk iewers in ’n verkeersknoop. Die paaie is woes dié tyd van die middag om die lughawe. Dis boonop steeds die Wêreldbekersokker se nadraai.”
“Dan sou hy gebel het.”
“Is jou selfoon ooit aan?”
Clio maak weer seker. “Ja, ek het hom aangeskakel net nadat ons geland het.”
Aloma gee ’n uitroep en beduie triomfantlik met haar wysvinger. “Eureka! Daar’s hy, in lewende lywe: maer, donker, met ’n bril!” roep sy verlig uit.
Clio huiwer. “Wag eers, ek is nie seker nie …”
“Jy sal nog staan en wharra-wharra, dan verdwyn hy weer!” Voor Clio kan keer, gryp sy haar aan die arm en pyl op die man af. “Arnold? Haai!”
Clio probeer wegrem. “Nee,” sis sy. “Dis nie hy nie.”
“Dit is. Dis presies hoe ek gedink het hy sal lyk. Hou op briek en kom! Natuurlik is dit hy.”
“Issie!”
Aloma luister nie. “Arnold!” roep sy. “Hallo!”
Die