Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste


Скачать книгу
van die kandidate is kansvatters wat nie in die samelewing tot ’n normale verhouding in staat is nie en van wie jy moet wegbly. Eintlik moet jy bly wees jou ou het nie opgedaag nie, anders het jy ook met ’n boks snesies gesit.”

      Aloma oordryf, soos gewoonlik, besluit Clio en probeer afskakel. Sy let nie die swaar ysterhekke op waardeur die motor indraai en die imposante dubbelverdiepinghuis nie.

      Voor haar geestesoog is ’n skraal, sensitiewe gesig met blinkbruin hare wat oor sy voorkop val en ’n paar eerlike grys oë wat sonder skroom van agter die bril na haar kyk … Arnold is nie ’n kansvatter nie. Hy is ’n sagte, weerlose mens wat niemand sal skade aandoen nie. Sy weet hy is lief vir haar en hy wou haar sien, wou haar op die plaas hê … Hy sou haar nie sonder ’n grondige rede in die steek gelaat het nie.

      Op vier-en-twintig het sy darem al iets van die lewe ervaar. In Kanada was daar ander seuns met wie sy vriende was; op universiteit selfs een of twee wat vir haar meer beteken het: sterre in haar oë gesit het en haar knieë lam gemaak het. Deel van die grootwordproses, het sy besef, en haarself nie toegelaat om té lief vir hulle te word nie.

      Want iewers diep, in ’n baie spesiale plekkie in haar hart, was die buurseun in Suid-Afrika. Die sagte, geduldige buurseun wat altyd daar was wanneer sy hom nodig gehad het. Wat haar in die vlak water van die rietkuil leer swem het, wat haar leer perdry het, die voëls wat Lallie gevang het gesond gedokter het, wat in die skoolbus vir haar plek gehou het langs hom.

      Wat een aand buite op die patio, toe dit volmaan was, haar hand vasgehou en haar sag op die mond gesoen het. Dit was so natuurlik, amper vanselfsprekend, dat sy hom met kinderlike onskuld teruggesoen het. Eers op die wang en toe ook op die mond. ’n Baie lekker soen, waaroor sy romantiese dagdrome gehad het, pleks van in die klas op te let en haar skoolwerk te doen.

      Arnold het haar boekesak gedra, ’n paar keer by die kafee vir haar ’n melkskommel gekoop en in die bus haar hand vasgehou. Maar hy het haar nie weer gesoen nie. Net die aand op die lughawe toe hulle vertrek het, het hy haar styf vasgehou, sy mond warm teen hare gedruk en belowe hy sal vir haar wag. Wag tot sy groot is. Wag tot sy eendag terugkom …

      “En nou?” frons Aloma toe Clio met haar hand oor haar oë vee. “Hoekom klim jy nie uit die kar nie? Vanwaar die skielike waterwerke? Moenie vir my sê dis wraggies oor daardie slapperd nie!”

      Nee, Clio was sommer sentimenteel, aangedaan by die gedagte dat sy uiteindelik weer in haar eie land is … Sy mompel ook iets van hooikoors, van die stuifmeel aan die blommetjies, klim uit en haal haar bagasie uit die kattebak.

      Aloma stap vooruit deur die ingangsportaal, met die wenteltrap op en in ’n lang gang af, waar sy ’n deur oopmaak. “Die slaapkamer langs myne. Jy het ’n uitsig oor die Magaliesberge, jou eie TV en badkamer. Daar’s seep, handdoeke, sjampoe en gesigroom. Het jy als? Of is daar nog iets wat jy nodig het?”

      “Daar is …” Clio huiwer, maar dis belangrik en sy kan dit nie sommer net los nie. “Daardie telefoongids, asseblief?”

      2

      Anders as Arnold se selfoon, gee Vuurfontein se huisfoon skaars drie luie, toe tel iemand op.

      “Hallo, Jurg wat praat.”

      Dáárop was Clio nie voorbereid nie. Sy was ingestel op Talien of Betta, selfs dalk Arnold. Die stem is voller, meer bariton as elf jaar gelede, maar die klank daarvan is in haar geheue afgeëts en onaangenaam bekend. Sy voel hoe haar nekhare rys en maan haarself tot kalmte.

      “Is Arnold daar?” vra sy kil.

      Haar vraag word deur ’n stilte begroet. Dan vra hy skerp: “Wie is dit wat praat?”

      Sy ignoreer die vraag. “Ek het gevra of Arnold daar is?”

      “O heng! Dessit!” mompel hy onderlangs, en nog ’n erger woord, wat Clio gelukkig nie hoor nie. “Wat’s die datum vandag?” wil hy weet.

      “Wat de joos maak dit saak?”

      Hy lag saggies. “My ore en geheue het my nie bedrieg nie … Dis inderdaad die skone Cleopatra. Nog net so ’n kapokhennetjie soos altyd. Daardie aggressiewe reaksie en rasperstem sou ek uit duisende ander herken het.”

      “En ek joune ook!” kap sy terug. “Dit gee my nou nog nagmerries en slegte spysvertering.”

      “So, jy is sowaar terug in die land …” mymer hy. “Wie het gedink die Yskoningin sou haar verwerdig het? Ek het geweet jy kom die een of ander tyd gesig wys, maar het die datum vergeet. Jammer, ek het nie besef dis vandag nie. Waar’s jy?”

      Yskoningin. Hy het altyd allerhande byname vir haar gehad, nie een daarvan vleiend nie.

      Clio wil nie met hom praat nie. “Waar is jou broer?”

      “Is jy op die lughawe?”

      “Wat het dit met jou te doen?”

      “Alles. Ek moes jou gaan haal het. Talien het gesê dis vandag, ek moes die vlugnommer en tyd van aankoms vasstel, maar dit het my skoon ontgaan.”

      Dit wys jou hoe onbelangrik hy haar ag. Tipies Jurg van Deventer, dink sy kwaad. Dink net aan homself! Sy wil die foon neerplak, maar kan nie, nie voor sy die nodige inligting uit hom gekry het nie.

      “Hoekom?” vra sy.

      “Al die krisisse en drama. My gedagtes was op ’n ander plek.”

      “Ek praat nie van jou simpel geheue nie. Ek bedoel hoekom moes jy my gaan haal het?”

      “Jy het mos nie eie vervoer nie, en om ’n taxi al die pad van die lughawe tot op Vuurfontein te kry, sou jou ’n aardige bedrag uit die sak gejaag het.”

      Probeer hy haar opsetlik kwaad maak? Hy het niks verander nie en is nog net so irriterend soos destyds.

      Clio tel tot tien. “Ek bedoel: hoekom moes jý my gaan haal het en nie Arnold nie? Waar’s hy?”

      “Dis ’n lang storie … Het jy al gearriveer?”

      “Lankal, swaer,” antwoord sy sarkasties. “Dis net jý wat uit tyd is, wat nie weet of jy kom of gaan nie.”

      “Op die lughawe gearriveer?” voeg hy by.

      “Ure gelede.”

      “Dessit … Sit jy nog heeltyd daar en wag?”

      Clio is lus om hom ’n dwars antwoord te gee. Maar dis verspot om soos twee kinders te staan en baklei terwyl daar belangriker kwessies is.

      “Nee, ek is by vriende,” verduidelik sy kortaf. “Vir die dérde maal: Wat gaan aan met Arnold? Is hy daar?”

      Jurg is ’n oomblik stil en toe hy voortgaan, is sy stem sober. “Arnold is nie hier nie, Cleopatra, hy is in die hospitaal.”

      Haar maag kry ’n hol kol. Dan was haar voorgevoel sowaar reg … Iets het gebeur.

      “Hospitaal?” eggo sy.

      “In die waakeenheid.”

      Haar knieë is bewerig en sy gaan sit op die stoeltjie voor die spieëlkas. “Wat makeer hom?”

      “Harsingskudding en gebreekte ribbes.”

      Skok en ontsteltenis maak haar stem skril. “En jy sê my nóú eers? Hoekom het jy nie van die begin af so gesê nie?”

      “Jy het my nie juis kans gegee nie.”

      Blaamverskuiwing … Hy was altyd goed daarmee. Clio laat haar nie uitlok nie. Arnold is belangriker as haar en Jurg se kinderagtige vete.

      “Wat het gebeur?” vra sy.

      “’n Perd het hom afgegooi, naby die rivier. Hy het sleg geval – skeef teen ’n boomstam. Een kant van sy gesig is erg gekneus. Johannes, die een voorman, het op hom afgekom. Hy het bekommerd geraak toe Zeus alleen by die stalle aankom en het na Arnold gaan soek, hom ’n halfuur later bewusteloos in die veld kry lê. Genadiglik het Johannes kopgehou


Скачать книгу