Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
logies, en makliker vir almal,” beaam hy. “Is daar bagasie wat ek solank ondertoe kan neem?”
Aloma druk ’n paar los kledingstukke in Clio se tas, knip dit toe en oorhandig dit aan hom. “Ek sal die res bring.”
“En vir Cleopatra ook,” beveel hy. “Kry julle onder by die motor?”
“Ja.”
Clio is verlig toe hy padgee. Sy het nog skaars die skok van Arnold se ongeluk verwerk, sy sien nie nou al vir sy broer ook kans nie.
Sy drink twee hoofpynpille, borsel haar hare en bind dit met ’n rekkie vas.
Dan soen sy Aloma op die voorkop. “Dankie, liewe vriendin, vir jou hulp en onderskraging. Sonder julle sou ek verlore gewees het.”
“Jy sou dieselfde vir my gedoen het.”
“Onthou: uit die oog is nie uit die hart nie,” herinner Clio haar. “Daar is ’n groot, bruin boepens-teepot op die plaas, en ons twee gaan lang stukke rondom hom gesels.”
Sy tel die plastieksak met die blommetjies en haar skouersak op. “Ek is klaar, ons kan afgaan.”
’n Haastige afskeid is makliker, dink sy terwyl sy die Bremers oplaas vashou en bedank. Uitgerek sou weer ’n tranedal afgegee het. En dis nie vir altyd nie. Sy sal hulle weer sien, veral vir Aloma. Sy het belowe om gou, die eerste oop Sondag, te kom kuier. Teen daardie tyd is Arnold hopelik al by …
Jurg wag haar op die voorstoep in om die laaste bagasie in te laai. Maar Clio steek vas en haar oë rek. Sy moes dit verwag het. Geweet het hy sal nie met ’n bakkie of ’n skedonkmotortjie ry nie. Geen wonder hy was twintig oor elf al hier nie. Dis omdat hy met ’n laagvlieënde Mirage gekom het.
Sy onthou albei die Van Deventer-broers het ’n voorliefde vir spoed. Arnold met perde en Jurg met vinnige motors. Sy kamermure was vol plakkate van Formule 1-renmotors, Ferrari’s, Maserati’s, Bugatti’s en ander monsters wat soos koringkrieke lyk.
Die een waarmee hy haar kom haal het, is ’n spesie op sy eie, meer soos ’n vlieënde piering, met ’n lae profiel, breë bande en ’n drukvlerk, alles in chroom en glimmende swart. ’n Oorweldigend macho-kar, soos net Jurg van Deventer sal hê. Dis ’n wonder dat hy plek gevind het vir haar pakkerasie.
Sy klim versigtig in by die motordeur wat hy vir haar oophou, bang sy stamp aan iets en die ding styg op. “Dankie,” sê sy kortaf en vou haar bene onder die paneelbord in.
Die sitplek is omtrent plat teen die vloer en sy wonder hoe sy hier gaan uitkom sonder ’n onelegante geskarrel. “Ook vir jou moeite om my te kom haal. Dit was gaaf van jou.”
Die Porsche brul met die rylaan af en deur die ysterhekke. Jurg draai sy kop en glimlag vir haar. “Ek is maar so ’n gawe ou. Het jy vergeet?”
“Nee, ek het niks vergeet nie, niks omtrent jou nie,” antwoord Clio stug. Dit was dubbelsinnig en sy hoop hy snap die insinuasie. Tussen hulle lê ’n slagveld vol bloed en derms wat nie deur een vriendelike gebaar uitgewis kan word nie.
Die glimlag om sy een mondhoek trek skeef en hy draai weg. “Ek onthou jy het altyd geskiet sonder om te groet.”
Bedoel hy om haar te laat sleg voel? Clio se wange word warm. “Naand.”
“Goeienaand,” groet hy formeel.
Hy verwag blykbaar meer, en sy dwing haarself om ’n bietjie meer erkentlik te wees. “Dis goed om jou te sien.”
“Is dit?” vra hy sinies.
“Nee,” erken sy eerlik, “dit is nie. Ek het net probeer om beleefd te wees.”
“Bedagsaam van jou.”
“Ek is maar so ’n bedagsame meisie,” antwoord sy snipperig.
Jurg probeer redelik wees. “Ek weet jy hou nie van my nie, en ek kan jou seker nie kwalik neem nie, want miskien het ek dit verdien. Maar ons is saam in hierdie krisis gedompel, en ter wille van Arnold moet ons probeer om oor die weg te kom.”
“Ek is nie die probleem nie, dis jy.”
“Ons twee het van meet af sleg weggespring.”
“Korrek,” stem sy saam. “Sleg uit ons blokke uit, en ook nie later in die pylvak ingehaal nie.”
“Ek is bereid om weer te probeer.”
“Ter wille van Arnold?”
“Ook ter wille van ’n nuwe begin tussen ons twee.”
’n Olyftakkie wat hy na haar uithou? Só maklik is Clio nie bereid om vrede te maak nie. Veral as sy die vrede nie vertrou nie. Jurg van Deventer het haar al te veel in die verlede getreiter en te na gekom. Dit was nie net Lallie nie, daar was ook haar sewende verjaarsdagpartytjie, toe haar ma ’n groot okkasie van haar spesiale dag wou maak.
Die partytjie het ’n feetjie-tema gehad. Die meisietjies was almal in pastelkleurige balletrokkies geklee, met towerstaffies en vlerke, hare gekrul en vol blinkertjies. Die tuin vol feetjieliggies, paddastoele en sementkabouters. Die tiental meisietjies het om ’n lae tafel op satynkussings gesit en fyntjies geproe aan miniatuur-eetgoed – Jelly Tots, Smarties, gekristalliseerde viooltjies, gevulde kappertjies, roosblare en druiwekorrels. Pinkie in die lug koeldrank gedrink uit kristal-sjerrieglasies.
Teen skemer het die omliggende seuns, ouer boeties en hul makkers besluit om ook ’n bydrae tot die partytjie te lewer. Feëverhale het mos altyd reuse en monsters in … Op stelte, met lakens omhang en vermom met grusame mombakkiese, het hulle vanuit die donker bosse opgedoem en jillend op die feetjies afgestorm. Die meisietjies het histeries op die vlug geslaan. In die chaos het die tafel in die slag gebly, die koeldrank omgeval en die eetgoed in alle rigtings gesaai.
Haar ma het in trane uitgebars. “Dis ’n ramp! My stomme kind … Niemand sal ooit weer na haar partytjies toe kom nie,” het sy verslae gemompel. Sy moes by al die maatjies se ouers verskoning vra oor die trauma waaraan hul kinders blootgestel is.
Clio was dapperder as haar maatjies en het nie so ver weggehardloop soos hulle nie. Sy het halfpad agter ’n dik boomstam weggekruip en uitgeloer. Sy het die voorste belhamel op stelte herken toe hy ’n slag sy mombakkies opgelig het. Dit was Jurg van Deventer, en daarvoor sou sy hom nooit vergewe nie. Die fiasko het amper die vriendskap tussen haar en Arnold verongeluk, al het hy hoog en laag gesweer hy het nie geweet wat Jurg en sy trawante beplan nie.
Nou nog steeds, meer as ’n dekade later, is sy vol wraak.
’n Hand van vriendskap van haar aartsvyand aanvaar? Nee. Nie eens ter wille van arme Arnold wat ernstig beseer in die waakeenheid lê nie. Sy maak geen beloftes en laat haar nie kompromitteer nie.
Dis veiliger om die onderwerp te verander. “Hoe het jy geweet waar om my te kry?” vra sy.
Jurg wou die oorlog beëindig en is teleurgesteld omdat hy nie daarin geslaag het nie. Maar as Clio steeds kwaad is en weier om die verlede te begrawe, kan hy haar nie dwing nie.
“Ek het in die telefoongids gekyk. Bremer is ’n taamlike skaars van. Daar is net ses in Pretoria. Die derde een wat ek gebel het, was Aloma se pa, en hy het bevestig dat jy by hulle is. Ek het die adres gekry en reguit soontoe gery.”
Sy moes dit geraai het, geweet het hy is te eiewys en hardkoppig om te maak soos sy gevra het. Haar gesels droog op en sy sit stil in haar hoekie, skielik vol verlange huis toe, na haar eie mense en bekende omgewing waar sy tuis voel.
Clio onthou goed hoe Arnold gelyk het: rankerig en maer. In teenstelling was sy broer sterker en meer atleties. Maar was Jurg toe al so fors gebou? wonder sy.
Sy hempsmoue is ’n entjie opgerol en sy kan nie help om die breë skouers en gespierde, bruingebrande voorarms op te let nie. Selfs sy hande waar hulle op die stuurwiel rus, lyk anders as wat sy verwag het. Groot, ja, soos mens van ’n fris boer sou verwag, maar daar is ’n onverwagte slankheid aan die vingers, amper soos Arnold s’n. Sy wonder skielik of hulle dieselfde gene