Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste


Скачать книгу
glimlag gemaak ongeërg. “Wulps en vet is nie dieselfde nie. Vet is rolle, soos ballonne of ’n uitgerysde poeding. Wulps is kurwes, soos die vloeiende golwe van die see. Die wind wat oor ’n koringland waai, of die vlug van ’n arend bo die wolke …”

      Jurg slaak ’n verligte sug toe hy by die parkeerterrein indraai en stilhou. Hy is verras deur sy eie welsprekendheid. Nie sleg vir ’n senuweeagtige boertjie wat ’n snoesige donsie wil beïndruk nie …

      Hy word vinnig aarde toe gebring.

      “Wat was daardie gepaste woord wat jy netnou gebruik het?” vra Clio. “Tjol! G’n meisie kan soos ’n golf of ’n stuk koring lyk nie. Of ’n voël nie, behalwe as sy ’n haakneus het wat soos ’n snawel lyk.”

      Sy stoot die deur oop om uit te klim, maar kom agter sportmotors is nie gebruikersvriendelik ten opsigte van vroulike passasiers nie. Genadiglik het sy nie hoëhakskoene of ’n mini aan nie. Nogtans sukkel sy om uit te klim.

      Jurg is afgehaal, versigtig om nie weer van vrypostigheid beskuldig te word as hy te gou byderhand is nie. Hy bly staan. Maar toe sy in ’n bondel elmboë en kniekoppe bly sit, kom hy versigtig nader en steek sy hand uit. “Kan ek jou help?”

      Hoog tyd! Of geniet hy haar dilemma?

      “Indien dit nie vir jou te veel moeite is nie,” antwoord sy sarkasties.

      Sy hand is breed en sterk. Gerusstellend warm. Toe sy vingers ferm om hare sluit, stuur die kontak ’n wilde sensasie deur haar lyf – van haar hand af deur haar arm, af oor haar ribbes en gaan lê in ’n vreemde krieweling op die krop van haar maag. Haar hart skop woes teen haar borsbeen, só hard sy is bang hy hoor dit. As haar bene nie jellie was nie, het Clio sy hand gelos. Maar sy is bang sy val om.

      “Wat makeer?” vra sy stem bokant haar regteroor.

      Het hy iets agtergekom? Sy kyk skrams op, maar sy gesig is suiwer besorg.

      “Natuurlik is ek oukei. Hoekom sal ek nie wees nie?” vra sy half kortasem.

      “Ek het net gewonder …”

      “Ek is nog vlugvoos. My kop draai van die lang vlug en min slaap, dis al,” antwoord sy verdedigend.

      In haar binneste protesteer ’n stemmetjie: Jy jok! Dit het niks met die vlug of min slaap te doen nie. Dis iets anders. ’n Vonk, ’n chemiese reaksie, ’n elektriese lading tussen jou en Jurg van Deventer.

      Tjol! stry sy. Bog en snert! Ons kan mekaar nie verdra nie, vir wat sal daar iets tussen ons wees?

      Jurg kyk vraend na haar. “Ekskuus?”

      Het sy al daardie onsin hardop geuiter? Clio pluk onthuts haar hand uit syne los. Sy kruip bo in ’n boom weg as hy gehoor het hoe haar kop raas en haar verspotte hart tekere gaan.

      “Niks. Ek het sommer net gehoes,” mompel sy.

      Sy loop vinnig in die rigting van die hospitaal se ingang. Die driekwartier in die motor saam met hom was net ’n interlude. Dis oor en verby, dit beteken niks.

      Haar eerste prioriteit is Arnold. Dis waarvoor sy halfpad om die aarde gevlieg het: om by Arnold te wees. Hy het haar nodig.

      4

      “Besoekers word nie in die waakeenheid toegelaat nie. Is u familie van die pasiënt, juffrou Gericke?” vra die nagsuster en loer afkeurend oor haar bril.

      Clio se moed sak. Die vrou lyk nie beïndruk nie, en sy kan haar nie verkwalik nie. Sy maak seker nie ’n gunstige indruk in haar gekreukelde sweetpak en tekkies nie.

      “E …” begin sy dit ontken, maar Jurg tree vir haar in die bres.

      “Binnekort, ja. Sy is my broer se aanstaande,” verduidelik hy. “Hulle staan op trou.”

      Die suster lyk minder krities, maar steeds streng toe sy op haar lapelhorlosie kyk. “Dis laat. Die pasiënt het rus nodig; hy is onder swaar verdowing.”

      “Ons sal hom nie steur nie. Juffrou Gericke het pas gearriveer ná sy al die pad uit Kanada gevlieg het om by Arnold te wees. Dit sal haar hart breek om nou te moet omdraai. Ek belowe ons sal suutjies ingaan en net vyf minute bly.” Jurg leun teen die diensstasie se toonbank en glimlag hartbrekend mooi. “Asseblief, suster Els, as ’n spesiale guns? Ek sal môre vir jou biltong bring van die plaas af.”

      Haar rug word styf. “Omkopery is teen die hospitaalreëls, meneer Van Deventer.”

      Hy knipoog. “Maar nie ’n geskenkie nie. Daar’s niks verkeerd met ’n blyk van waardering aan ’n hospitaalpersoneellid vir die toegewyde versorging van my broer nie.”

      Clio sien hoe die ouer vrou vermurwe. Die frons verdwyn en in die plek daarvan vorm fyn plooitjies om die dun, bloedlose lippe. Wraggies ook die suggestie van ’n glimlag … Clio is nie verbaas nie, want sy ken Jurg se reputasie. Sy onthou daardie berugte sjarme van hom wat hy soos ’n kraan kan oopdraai wanneer dit hom pas. Sy self het ook netnou deurgeloop – weerloos gewees onder die impak van daardie betowering.

      “Net vyf minute,” beveel die suster. “Baie suutjies. En moenie die pasiënt wakker maak nie.”

      Clio volg Jurg gangaf, maar huiwer toe hy die intensiewesorgeenheid se swaaideure vir haar oophou. Dis ’n emosionele oomblik vir haar. Elf jaar lank het sy geweet hierdie ontmoeting sal kom en het sy met gemengde gevoelens daarna uitgesien. Selfs opgesien. Onseker wat om te verwag. Sal sy en Arnold die drade gemaklik optel en aangaan waar hulle destyds opgehou het, of gaan hulle vreemdelinge vir mekaar wees?

      Sy het die ontmoeting op die lughawe gevisualiseer: vrolik en opgewonde ná afloop van die vlug en met baie mense om hulle. Genoeg dinge om te doen as hulle stram in mekaar se geselskap is: die bagasietrollie hanteer, in die kafeteria gaan koffie drink, of wat ook al om die ys te breek …

      Hierdie is nie die weersiens wat sy gevisualiseer het nie. Sy voel soos ’n zombie, dom en deur die slaap. Haar reaksies is vertraag en haar emosies in ’n warboel – ’n maalkolk wat haar saamsleep en waaroor sy nie beheer het nie. Sy wens dit was liewer Aloma wat haar gebring het. Wens dat die ontmoeting met Jurg nie plaasgevind het om haar van koers te gooi nie …

      Wat was dit netnou daar buite op die parkeerterrein – daardie bewuswording wat soos ’n elektriese stroom tussen haar en Jurg geflits het? Was dit net sy, of was hy ook van die vonk tussen hulle bewus? Sy onthou hy het vreemd na haar gekyk, en dit het geklink of sy stem van ver af kom toe hy vra of iets verkeerd is. Hy móés iets agtergekom het.

      Clio sluk teen die droogheid in haar keel en druk haar palms weerskante teen haar gesig. Nee, sy moenie, sy mag nie … Arnold lê daar binne, in ’n koma en ernstig beseer. Dis dislojaal teenoor hom. Hy is haar getroue vriend; hy het vir haar gewag en hy is lief vir haar.

      Deur die swaaideure kan sy drie beddens sien, die voorste twee leeg en Arnold se bed in die verste hoek. Hy lê op sy rug onder ’n ligblou deken. Roerloos, met ’n nekstut aan, ’n drup en monitors langs sy bed. Sy kan nie sy gesig uitmaak nie, net die swartpers kneusings aan die regterkant van sy kop. Sy is skielik bewoë en proe die sout smaak van trane in haar mond.

      Waar hy langs haar staan, merk Jurg die natblink strepe oor haar wange. Hy maak ’n beweging asof hy na haar uitreik en sy arm om haar skouers wil sit. Maar Clio beweeg weg. Sy wil nie hê hy moet aan haar raak nie. Wil nie langs Arnold se bed staan met haar kop vol van sy broer nie.

      Jurg kyk die skraal figuurtjie in die liggeel sweetpak agterna toe sy stadig nadergaan. Hy hou terug en gee haar kans om ’n rukkie alleen by Arnold te wees. Sy en Arnold was van kleins af baie na aan mekaar, sodat hý altyd uitgesluit gevoel het. Derdemannetjie gespeel het …

      Arnold was mal oor haar, en dit was soos dood toe die Gerickes geëmigreer het. Hy weet die twee het knaend gekorrespondeer. Arnold het gedurig van haar gepraat, gekla hy verlang en wens sy was hier. Dis hoekom hy haar genooi het om vir hom te kom kuier. En dis duidelik dat sy vir hom ook omgee, anders sou sy nie gekom het nie. Dis omdat sy Arnold ook mis en by hom wou wees. Dalk besluit


Скачать книгу