Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
lewe begeer: om mans te prikkel en uit te lok?”
Hy kam met sy hand deur sy hare, sodat sy kuif regop staan. “Ek weet nie hoe ons by hierdie gesprek uitgekom het nie. Maar kom ons los dit en gaan slaap.”
“Ons kan nie – nie as Talien nie hier is nie,” herhaal sy ferm.
Jurg was tegemoetkomend en verdraagsaam. Geduldiger as wat Clio verwag het. Maar sy kan sien hy begin krapperig raak.
“Met watse soort mense het jy oorsee te doen gehad dat jy alle mans wantrou?”
“Nie álle mans nie.”
“Net vir my? Omdat ek nie etiese norme het nie? ’n Boef sonder beginsels, wat myself op ’n vrou sal afdwing? Dankie, nou weet ek waar ons met mekaar staan. Jou kamerdeur het ’n slot en ’n sleutel. Of is dit nie voldoende beskerming teen ’n seksmaniak nie? Sal ek vir jou ’n haelgeweer bring?”
Agter in sy grys oë is ’n gevaarlike flikkering en sy mond trek in ’n strak lyn. Hy wag ’n oomblik en toe sy nie antwoord nie, draai hy kortom en stap weg.
Oor sy skouer voeg hy by: “Ek sal buite in die skuur gaan slaap. Dan is ons nie onder een dak nie.”
“Jurg, wag! Dis nie nodig nie!” roep Clio agterna, maar sy praat met haarself. Sy voetstappe op die houtvloer verdof en sy hoor die voordeur agter hom toeklap.
Dit hét sy nou van haar gekerm en getorring … Hoekom kon sy nie een maal in haar lewe weet wanneer om haar mond te hou nie? Hy was die hele aand gaaf en ordentlik. Het sy nou regtig gedink hy gaan die situasie uitbuit en hom aan haar opdring? Geen wonder hy het hom vererg vir haar simpelgeit nie! Aarde, mens sou sê sy het in ’n glaskas grootgeword. Of ’n klooster.
As jy nie vir Jurg bang was nie, vir wie dan? vra sy haarself af. Vir jouself? Was dit uit selfverdediging dat jy so lelik met die arme man baklei het?
Clio is eerlik genoeg om te erken dat sy Jurg aantreklik vind. Besónder aantreklik. Sy was nie voorbereid op die impak wat sy oorweldigende manlikheid op haar gehad het nie. Die woelinge in haar lyf toe sy hand om hare gevou het, het ’n vuur in haar aangesteek en haar hart laat galop. Dis vir haar ’n nuwe ervaring, en sy weet nie hoe om dit te hanteer nie.
Maar dis nie genoeg rede om te dink haar hart sal haar gesonde verstand oorheers nie. Om te verwag sy sal kop verloor as hy dalk iets met haar probeer nie. Dis nie te sê hy het netnou flikkers vir haar gegooi nie. Dis maar sy manier. Sy geaardheid – om meisies te terg en ’n bietjie te flirt. Dit beteken nie hy het bybedoelings en wil haar bed toe sleep nie.
Geen wonder hy het beledig gevoel nie, dink sy toe sy kamer toe loop. Is daar darem ’n bed en komberse in die skuur? Sover sy kan onthou, is daar net trekkers en onderdele, ’n kragopwekker en stoorgoed. Hy het nie eens ’n kussing en pajamas nie …
Sy loer deur die venster, maar alles buite is stil en nêrens brand ’n lig nie. Sy sal Jurg om verskoning moet vra, besef sy.
Terwyl sy stort, begin sy selfs ’n paar gepaste sinne formuleer: dat sy oorreageer het en dit nie so kras bedoel het nie. Gepraat het sonder om te dink. Bereid is om te vergewe en te vergeet en nuut te begin …
Maar sy kom agter sy herhaal dieselfde ding oor en oor, net in ander woorde. Te veel het in te ’n kort tyd gebeur en haar verstand is dof. Vodde, soos Aloma sou sê. Sy borsel tande en kruip in ’n uitgeputte bondeltjie onder die duvet in. Twee vreemde beddens in een nag is te veel …
Iewers in die donker buite hoor sy die gefladder van ’n voël, ’n dikkop wat roep en ’n paddakoor onder by die leidam. So heerlik bekend … Sy vroetel haar kop dieper in die kussing in en maak haar oë toe. Sy is tuis, op Vuurfontein, in haar ou kamer. Môre gaan Arnold beter wees. Sy asemhaling is vlakker en die koma is besig om te lig. Môre gaan Jurg nie meer kwaad wees nie, en Arnold gaan bykom …
Dié wete kom lê snoesig teen haar, soos ’n warm kombersie.
5
Die voëls voor haar kamervenster maak haar wakker. ’n Kwêvoël se vermakerige “wê!” en patryse wat skree asof die wêreld vergaan. Clio lê lomerig en luister. In die verte blaf ’n hond – ’n klank wat sy jare laas gehoor het.
Calgary se gemiddelde wintertemperatuur is minus 19 grade, te koud om honde aan te hou. Min inwoners het troeteldiere. Miskien ’n kanarie in ’n koutjie of ’n kat met ’n sandboks, want buite is alles toegesneeu en die grond kliphard gevries. Selfs nie eens die mees geharde Sint Bernard sal dit in sulke Arktiese toestande buite waag nie.
Toe hulle weg is uit Suid-Afrika, het sy die son gemis, Smarties en Marmite en Spur se slaptjips. Maar waarna sy die meeste terugverlang het – amper soveel as na Arnold en haar maats – was die plaas en die diere. Dis wonderlik om weer ’n geblaf te hoor. En verder weg by die stalle ’n perd wat runnik. Seker een van Arnold s’n. Sy strek haar uit en geniet die luukse van ’n warm bed, voor sy op haar horlosie kyk.
Sy het geskat dis skuins voor agt, haar gewone opstaantyd. Maar dis halftwaalf. Amper middag! Sy vlieg vervaard regop. Hulle sou vanoggend hospitaal toe gegaan het. Sy moes haar ma gebel het, en vir Talien en Aloma. Sy het hopeloos verslaap …
Het Jurg sonder haar gery? Hy was gisteraand so omgesukkel, hy sal waarskynlik vanoggend nie eens met haar praat nie. En sy het dit verdien … Dit sal haar leer as hy vir haar weggery het. As hy háár vannag uitskop en sý in die skuur moet slaap.
Sy trek in rekordtyd aan, darem iets beters as ’n sweetpak. Borsel haar hare tot dit blink en bind dit in ’n vrolike poniestert. Haar tekkies bly lê en sy trek sandale aan met ’n effense hak. Toe sy lipstiffie aansit, beskou sy haar beeld in die spieël. Vir wie is die optof en splinternuwe rok wat sy vir ’n spesiale geleentheid gekoop het? Bedoel om haar befoeterde toekomstige swaer mee sag te maak?
Clio trek vir haarself skewemond. Sy gooi die lipstiffie neer en los die botteltjie parfuum in haar handsak. Vir Júrg? wonder sy vies. Hy sal nie eens oplet as sy ’n goiingsak aanhet nie – net sê sy lyk “goed” en tel hoeveel wulpse rolle ónder die sak weggesteek is.
Haar goeie voornemens van gisteraand is vergete. Dis hý wat verskoning moet vra, nie sy nie. Hý wat vergeet het om haar op die lughawe te kry, en haar onder die indruk gebring het dat Talien plaas toe is. Hý wat haar kat verdrink en haar verjaarsdagpartytjie verongeluk het.
“Dis vir Arnold wat ek mooi wil lyk,” sê sy hardop. “Hy gaan vandag sy oë oopmaak.”
Dit laat haar beter voel, en sy stap met meer selfvertroue die gang af.
Die kombuis was altyd die hartklop van Vuurfontein: vol bedrywigheid, geselskap en geure. Maar toe Clio daar instap, is dit verlate. Die koolstoof is koud, die wasbak klinies skoon en nie ’n bord of koppie in sig nie.
Sy stap by die agterdeur uit. Al teken van lewe is ’n heuningkleurige rifrug wat haar stertswaaiend verwelkom.
“Is jy die eienaar van daardie mooi blafstem?” vra sy en vryf sy ore. “Waar’s jou baas, ou grote?”
Hy weet nie.
Sy pluk ’n pietersielietakkie in die kruietuin en gaan soek of Jurg in die skuur is. Die skuur lyk kleiner as die prentjie in haar gedagtes, asof ’n stuk daarvan weg is. Jurg is nie daar nie, en daar’s ook geen teken dat hy in die skuur geslaap het nie. Seker by een van sy ritse nooiens gaan inkruip vir die nag, dink sy sinies.
“Ghroeff!” waarsku die rifrug en wys met sy neus na die pad se kant toe.
Sy hoor ook ’n voertuig se dreuning en sien ’n wit bakkie aankom. “Is dit jou baas?”
Sy stert swaai instemmend heen en weer.
“Dis ’n mooi tyd om hier aan te kom,” brom sy. “Het hy nie koeie en ’n melkery om na om te sien nie? Of kon hy hom nie uit sy geliefde se arms losskeur nie?”
Jurg trek onder ’n boom in, klim uit en knik kortaf in Clio se rigting. “Naand.”
Sy