Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
welkom geheet?”
“Bedoel tante of ek haar darem ordentlik gesoen het? Ek wou, maar sý wou nie.”
Talien klik haar tong verontwaardig. “Jy weet goed dis nie wat ek bedoel nie! Ek bedoel welkom laat vóél?”
“Ek het vir haar kos en water en slaapplek gegee. Dis mos genoeg.”
“Sy’s nie ’n merrie wat jy op ’n veiling gekoop het nie! Watse kos?”
“Beskuit.”
Talien slaan haar oë op na die dak. “Sy vlieg halfpad om die aardbol om te kom kuier en al wat jy haar gee, is beskuit? Skaam jou!”
“Hy was bang ek word vet, tante,” sê Clio.
Talien ontplof byna. “Vet? Hierdie dermpie? Waar is jou verstand, seun?”
“Haai, het hy so iets?” vra Clio vroom.
“Ek wonder partykeer self!” blaas Talien.
Dokter Strachan wat die wagkamer binnekom, maak ’n einde aan die skermutseling. Hy is middeljarig en vaderlik. Blykbaar ’n ou kennis van die Van Deventers, lei Clio af. Sy wag gespanne op sy bevinding.
Hy glimlag bemoedigend. “Dis meer as vier-en-twintig uur, en soos ons gehoop het, begin die swelsel sak. Die X-strale wys steeds ’n mate van bloeding, maar ’n skandering toon die drukking op die linkerbreinlob het afgeneem. Dis goeie nuus.”
Dankie, dankie, prewel Clio onhoorbaar. Ek het geweet … Vanoggend toe ek opgestaan het, het ek geweet die dag gaan goeie nuus bring. Sy is skaam omdat sy tussenin pessimisties was. Skaam omdat sy katterig teenoor Jurg was.
“Julle kan ingaan na hom toe,” sê dokter Strachan. “Maar net vir ’n rukkie. Moenie hom steur nie. Sy liggaam het rus nodig.”
Talien druk sy arm. “Dankie, Wim, ons waardeer alles wat jy vir hom doen.”
“Dis die minste … Ek weet waardeur julle gaan. Ons gaan hom deurhaal, Annalien. Moenie bekommerd wees nie.”
Toe Jurg en Talien na die waaksaal stap, bly Clio agter en keer dokter Strachan voor. “Dokter, mag ek u iets vra?”
Hy kyk oor sy bril na die tingerige meisietjie met die inkblou oë. Lyk amper soos sy oorlede vrou gelyk het toe hy haar as derdejaar- mediese student ontmoet het. Dieselfde fyn bou en blonde hare.
“Dis goed jy het gekom,” gesels hy. “Daar lê vir Arnold ’n opdraande pad voor, en hy gaan jou ondersteuning nodig hê, nooi. Wat wil jy vra?”
Dokter Wim Strachan wek die indruk dat hy simpatiek en meelewend is. Clio hou van hom, en dit gee haar die vrymoedigheid om antwoorde te soek op die vrae wat haar pla.
“As Arnold in ’n koma is, sal hy mos nie so maklik wakker word nie – nie sommer net van stemme wat langs sy bed praat nie?”
Hy knik bevestigend.
“Want as hy bewusteloos is, kan hy mos nie hoor nie?”
Waaierplooitjies vorm langs sy oë toe hy stadig glimlag. “Wie sê hy is bewusteloos, nooi?”
“Maar ek dag dan …?”
“Die swelling het normale breinfunksies gestrem. Noudat die drukking afneem, kan die brein weer sy normale werk doen.”
“Bedoel u –”
“Ja,” praat hy haar vrese dood. “Die natuur het vir die liggaam verdedigingsmeganismes gegee om skade te herstel. Een daarvan is slaap.”
Sy kyk hom stomgeslaan aan.
“Arnold slaap. Baie diep en baie vas. En as hy wakker word, sal hy jou ken.”
Die koma is besig om te lig … Sy wil tegelyk lag en huil.
Dokter Strachan du haar saggies in die rigting van die swaaideure. “Gaan na Arnold toe. Moenie eise aan hom stel nie, wees net geduldig. Wees net daar vir hom as hy jou nodig het.”
“Ek sal, dis hoekom ek hier is.”
Jurg trek vir Clio ’n stoel reg, maar sy loop verby na die koppenent van die bed, waar sy nader aan Arnold voel. Gisteraand was sy in ’n toestand van skok, en ontwrig deur Jurg se teenwoordigheid. Nou egter is sy kalmer, objektief en meer oplettend.
Sy kyk lank en aandagtig na Arnold se gesig, verby die suurstofpypie voor sy neus en die beserings aan sy kop, met hier en daar nog die oorblyfsels van droë bloed. Sy was reg netnou: daar is ’n gesonder tint in sy wange.
Maar haar oë bly dwaal oor die res van sy gesig, op soek na bekende gelaatstrekke. Sy neus, sy ken en sy mond … selfs sy wenkbroue en voorkop en haarlyn. Trekke wat bekend lyk, soos sy dit onthou het. Maar hy bly vreemd. Anders en onnatuurlik. Nie soos hý nie … Nie soos die prentjie wat sy in haar gedagtes gehad het nie. As hy haar op die lughawe kom ontmoet het, sou sy hom nie dadelik herken het nie.
Jurg raai wat haar hinder. Dis nie net die beserings en die bloedmerkies nie. Sy kyk nie daarna nie, net na Arnold se gesig, en hy kan sien hoe die spanning in haar oplaai. Sonder om iets te sê, leun hy oor en trek die laai van die bedkassie oop. Hy haal sy broer se swartraambril uit en gee dit vir haar aan.
Oplaas iets wat bekend is … Clio staar daarna soos na ’n kosbare kleinood. Sy steek haar hand uit om die bril te neem, maar ruk onwillekeurig weg toe haar hand per ongeluk aan Jurg s’n raak. Haar reaksie is onverwags, maar Jurg se reflekse is vinnig en hy gryp na die bril – net betyds om dit te vang voor dit op die vloer val en dalk breek.
Van ontsteltenis druk Clio albei hande teen haar mond. Die blonde poniestert swaai heen en weer soos sy heftig haar kop skud.
“My fout,” sê Jurg gerusstellend.
Wat het haar makeer? Is sy onnosel? Haar oë is groot bokant haar wydgespreide vingers. “Dit was ek. Ek is jammer …”
“Toemaar, alles reg. Daar was nie skade nie.”
Clio antwoord nie, laat net haar kop sak terwyl hy die bril bêre en die laai toestoot. Sy moet haar regruk – op Arnold fokus, nie op sy broer nie. Arnold is haar eerste prioriteit, en die dokter het gesê hy gaan haar nodig hê. Sy kan nie elke keer as Jurg naby kom of per ongeluk aan haar raak so onsinnig reageer nie. Tot dusver kon sy die woelinge in haar binneste verberg, maar as sy só aangaan, sal hy agterkom watter uitwerking hy op haar het.
En nie net hy nie, Arnold sal ook agterkom. Dit mag nie! Dit sal Arnold breek as hy moet uitvind.
Jurg kon altyd net sy vingers klap, dan staan die meisies tou om saam met hom gesien te word. Al een wat nie soos ’n ryp pruim in sy skoot geval het nie, was die buurmeisie op Goederust. Dié was nie verblind deur sy voorkoms en gewildheid nie. Sy was immuun teen hom. Meer as dit: sy het ’n diepgewortelde weersin in hom gehad.
Arnold het nooit openlik erken dat daar wedywering tussen hom en Jurg was nie, nooit gewys dat hy afgunstig op Jurg was nie. Maar sy kon dit onbewustelik aanvoel, en sy het hom jammer gekry.
Sy was dankbaar dat sy iets aan Arnold kon bied om vir die seerkry te vergoed. Al was dit net die lojaliteit en vriendskap van die bure se snipperige dogter, was dit iets wat eksklusief sýne was, wat sy broer nie van hom kon wegneem nie. Hoe kan sy ooit toelaat dat hy uitvind sy was nié immuun nie? Dat daar ’n kraak in haar mondering is en dat sy ook geswig het?
Nóóit! Nie in ’n duisend jaar nie. Nie in tienduisend jaar kan sy Arnold so diep seermaak en in die rug steek nie. Sy sal nie met haarself kan saamleef nie.
Talien hou Clio met ’n bekommerde frons dop. Sy ken die kind van kleins af – sy was op Vuurfontein soos ’n dogter in die huis. Dis duidelik dat iets met Clio skort, iets wat met meer as Arnold se ongeluk te maak het. Eerder met Jurg? wonder sy onrustig.
Die twee was altyd soos kruit en vuurhoutjies by mekaar – reg om enige oomblik te ontplof. Dit was destyds, as kinders. Nou is hulle groot. Hulle moes die haretrekkery al ontgroei het. Maar dis steeds daar, sluimerend onder die oppervlak. Nou egter is