Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
Sy sit die bottel terug in die kas.
“Het jy toe verlede nag in die skuur geslaap?” vis sy uit en begin was met oordrewe sorg dieselfde bord oor en oor.
“Jip.”
“Op die koue sement, tussen die trekkers en stekelrige bale hooi?”
“En die mieliestronke en slange en giftige skerpioene.” Hy neem ’n vadoek en begin afdroog. “Jammer om jou vreugde te bederf. Ek het ’n deel van die skuur in ’n buitekantoor omskep, met ’n uittrekbank waar ek slaap as ek saans laat werk.”
Verligting spoel deur haar. Dan was hy nie by ’n meisie nie. Nie by Lizaan of Petronel of Joey of wie ook al nie.
Hy spoel ’n deksel wat nog seep aanhet onder die kraan af. “Dit help nie jy beskerm naarstiglik jou eer, maar los die voordeur oop nie. Wat as die versoeking my of ’n inbreker oorval het?”
“Daar staan een van jou ou krieketkolwe agter my kamerdeur. Ek sou ’n indringer met ’n woeste ses uitgeboul het.”
“Oor die grens geslaan het.”
“Wát?”
“Uitboul is wanneer die bal die paaltjies tref.”
Sy beduie vaag met ’n seephand. “Wat ook al … Maar hy sou goed gemoker gewees het, tot bo-op die dak.”
“Met daardie paar kanarie-armpies?” terg hy.
“’n Krieketkolf is ligter as ’n tuinvurk.” Aan die flikkering in sy silwergrys oë weet Clio hy het die verwysing gesnap. Sy het verwag dit gaan weer op ’n skermutseling uitloop, maar hy lag net. “Beteken dit ek moet vannag weer in die skuur slaap, of in die huis, om jou te beskerm?”
Sy haal haar skouers op. “Jy kan maak soos jy wil. Ek is nog vlugvoos en gaan vroeg slaap.”
Hy grinnik. “As ek maak soos ek wil, gaan jy nie veel slaap kry nie.”
Sy kan die blos nie keer wat in haar gesig opstoot nie. “Loop!” gebied sy vies. “Loop vat ’n koue stort!”
“Onthou om jou kamerdeur te sluit!” roep hy agter haar aan toe sy in die gang af verdwyn.
Dis skaars behoorlik donker, maar Clio se oë wil toeval. Sy kry nou eers kans om haar tas uit te pak. Dan bel sy haar ma en Aloma. Sy wou nog vir Talien ook sê hoe spesiaal die hoenderpastei gesmaak het, maar die vaak oorval haar.
Toe sy lomerig onder die duvet lê, dink sy aan haar huis doer ver. Sy werk uit hoe laat dit nou in Calgary is en wat haar pa en ma nou doen. Seker besig met ontbyt, dan werk toe, deur die sneeu en yswind …
Sy ril en dink aan Arnold, ook doer ver in ’n bed in die hospitaal. Maar toe die slaap haar inhaal, is die prentjie wat voor haar bly dié van Jurg se gesig met sy stoute oë en die twee kuiltjies weerskante van sy sensuele mond. In haar gedagtes hoor sy sy warm baritonstem: “As ek maak soos ek wil, gaan jy nie veel slaap kry nie.”
Yskoningin, het hy haar gespot. Min weet hy hoe kolk en kook dit diep in haar waar niemand sien nie. Sy is nie ’n pampoen nie. Sy weet wat hy bedoel het, en sy is verstom oor die warm krieweling wat hier by haar midderif begin, net agter haar naeltjie, en in prikkelende sensasies deur die res van haar lyf sprei.
Sy het vir Arnold kom kuier, hoe kan sy sulke gevoelens oor sy broer hê? Haar eertydse vyand wat sy doodgewens het … En toe dit nie gou genoeg gebeur nie, die proses met die skerp tande van die tuinvurk wou aanhelp.
Watse soort mens is sy? Eers wil sy hom vermoor, nou lê sy en kortasem raak oor sy lyf? Dis goedkoop en dislojaal van haar. Sy moet Jurg warmplek toe verban en op haar dierbare Arnold fokus.
7
Die volgende oggend begin Clio tuis voel op die plaas. Die koolstoof brand en vanuit die kombuis kom die geur van gebraaide spek en varsgemaakte koffie.
Betta se oë rek groot toe sy instap. “Dingetjie? Ek ken jou amper nie. Jou sproete en bokstertjies is weg!”
Clio gryp die groot ou lyf teen haar vas. “Ek sou jou uit ’n miljoen ander geken het, daar’s net een Betta. Maar jy’t grys geword!”
“Party grys het jý daar gesit, outyd al,” herinner Betta haar. Haar eelterige hande knyp aan Clio se boarm. “Jy’s maer en wit, soos ’n skaap wat geskeer is.”
Talien het altyd gesê sy en Betta het so lank saam dieselfde wa getrek, hulle het twee eenderse karperde geword. Vol raas en lawaai. Maar Clio weet: vryf die stekelrige dorings af en jy kry ’n blink diamant daaronder. Vol omgee en liefde. Sy voel al hoe meer tuis, besef nou eers hoeveel sy werklik terugverlang het.
’n Skaap wat pas geskeer is? “Dankie, Betta, jy sê altyd sulke mooi goed,” spot sy.
Haar sarkasme val op dowe ore. Betta wys met haar vinger na die geelhouttafel. “Lyk my daar in annerland is nie kos nie. Kom sit, dingetjie, laat ek inskep, dat ons vleis en kleur in daardie hol wangetjies kan sit.”
Betta het al Clio se gunstelinge onthou: gebraaide sampioene, spek, wors en roereier met baie pietersielie uit die kruietuin.
Terwyl sy eet, gesels Betta een stryk deur: oor Arnold en Zeus, die baie reën en haar kleinkinders – Lizzie wat al in die huis help, Betsie wat rumatiekkoors gehad het, en Kleinkoos wat so goed vaar op skool.
“Die stouterd het mos laas jaar gaan staan en druip. Toe praat Jurg hom aan, kwaai. Want hy’s ’n slim kind en dit was sommer luigeit. En toe hy klaar geraas het, toe praat Jurg mooi. Belowe vir Kleinkoos ’n fiets as hy hierdie jaar goed deurkom.”
Clio kou waarderend aan die laaste happie boerewors. As die ysige weer in Kanada nie die ding doen nie, sal dié spekwors van die slaghuis op Bela-Bela haar pa omkoop en laat huis toe kom – waar hulle hoort.
“En Kleinkoos kom toe deur?” raai sy.
“Staan eerste in sy klas!” spog sy ouma trots.
“Het hy toe sy fiets gekry?”
“Dag ná die skool gesluit het. Opgeklim en self leer ry, sonder dat iemand hom eers moes stoot. Ry die wêreld vol.”
“Hy gaan volgende jaar weer druip,” voorspel Clio.
Betta druk haar palms teenmekaar en maak ’n torinkie, asof sy bid. “Jinnetjie, dingetjie, moenie spooksels opjaag nie! Ek dog die kind het sy les geleer.”
“Hy het. En hierdie keer wil hy ’n selfoon hê. Volgende keer ’n TV,” spot Clio.
Betta lag so lekker dat haar hele lyf dril. “Sy pa sal sy nerwe aftrek as hy arme Jurg bankrot maak.”
“Jurg het baie geld om te mors, op karre en meisies. Waar is hy? Het hy al kom eet?”
“Vroegtyd al, saam met die hoenders. ’n Melkboer kan nie slaap tot die son wie weet waar skyn nie.”
“Het hy dan nie meer ’n bestuurder nie?”
“Ja, oom Lorrietjie is nog hier. En Johannes en Pietman en die ander voormanne. Maar dis die baas se oog wat die room in die melk sit.”
Betta was altyd vol gesegdes en wyshede, wat Clio geniet het. Anders as op Goederust, waar daar min mense en min dinge was. Alles klinies elektronies en gemeganiseer.
“Gaan julle later weer hospitaal toe?” vra Betta.
“Ja. Vandag gaan Arnold wakker word. Ek weet dit. Dis hoekom ek blomme gekoop het en ’n pienk rok aangetrek het. Pienk was nog altyd my gelukkige kleur.”
Clio help afdek, dan stap sy buitetoe. Loop ’n draai deur die kruietuin, verby die vrugteboord tot by die leidam met sy knoetsige wilgers, eende en herinneringe. Die dam is vol. Seker van die baie reën.
By die swembad kniel sy om haar hand in die water te steek. Dis louwarm. Sy wens daar was tyd vir ’n vinnige dip.
Die rifrug