Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste


Скачать книгу
nader te trek. Maar hy raak net liggies met sy vingerpunt aan haar; trek vlindersag ’n strepie oor haar wang, in ’n teer en weemoedige gebaar.

      “Ek het belowe jy kan my vertrou,” fluister hy, sy stem hees van ingehoue emosie.

      Die kokon breek en die lewe vloei stadig terug in Clio se ledemate. Sy voel koud, asof sy terug is in Kanada se sneeu. Haar stem klink vreemd veraf, asof dit van anderkant die leidam kom. “Ek moet gaan. Hospitaal toe …”

      Jurg se mond is in ’n strak lyn gespan. Hy moet eers sluk voor hy kan praat. “Ek sal jou neem.”

      “Nee.” Sy skud heftig haar kop, sodat haar hare in haar oë waai. “Nee, ek wil liewer alleen gaan.”

      Hy verstaan. Dieselfde weemoed is nou ook in sy oë. In sy stem en in sy woorde. “Ja, Cleopatra, dis beter as jy vandag alleen gaan.”

      En môre en oormôre ook … Maar nie een van hulle sê dit hardop nie.

      “Ek sal Arnold se bakkie gebruik.”

      Jurg haal motorsleutels uit sy broeksak en hou dit op sy handpalm na haar uit.

      Sy is dankbaar om te merk haar hand is bestendig. Sy neem die sleutels, versigtig om nêrens aan hom te raak nie. Dit sal soos ’n vlam in ’n kruitvat wees. Volgende keer is dit dalk moeiliker en gee sy toe aan die begeerte wat steeds haar lyf vol lê, wat sy weet haar vannag in ’n opgekrulde bondeltjie onder die laken gaan laat wakker lê.

      “Jy hoef nie brandstof in te gooi nie, die tenk is vol.” Clio kom stadig terug van die omswerwinge waar haar hart gaan draai het. Dit klink of Jurg sy asemhaling en emosies onder beheer het.

      “Dankie.” Haar stem klink ook meer in beheer.

      “Dis die wit Toyota, in die duskantste motorhuis.”

      “Dankie.”

      “Arnold kan dalk vandag wakker word …”

      Arnold … Die naam skrei deur haar. Sy wens sy het nog dieselfde sekerheid gehad dat hy vandag sy oë gaan oopmaak. Sy verdien nie goeie nuus nie. Verdien hóm nie.

      Al was dit net ’n oomblik en al het niks tussen haar en Jurg gebeur nie, voel Clio asof sy Arnold verraai het. Dit was te naby …

      So iets mag nooit weer gebeur nie. Sy en Jurg moet van mekaar wegbly, anders gaan haar weerstand verkrummel. Sy sal haarself verag. En vir Jurg ook. Arnold sal dit op haar gesig kan lees. Dat sy hom in die rug gesteek het …

      Sy kyk nie na Jurg toe sy omdraai en wegstap nie.

      In haar kamer hang sy die silwer kysringetjie aan ’n toutjie om haar nek. Dit lyk vreemd onbekend. Sy het dit agter in ’n laai gebêre en op die ingewing van die oomblik saamgebring. Om watter rede weet sy nie eintlik nie.

      Mense aanvaar sy en Arnold het toekomsplanne net omdat sy kom kuier het. Maar soos sy op die vliegtuig aan Aloma verduidelik het, is hy nie in die ware sin haar kêrel nie. ’n Mens kan nie iemand aan ’n belofte hou wat elf jaar gelede gemaak is nie, as ’n impulsiewe en sentimentele tiener. Hulle is net vriende. Baie goeie vriende. Sy glo dis hoe Arnold dit ook insien. Of nie …?

      Jurg is nêrens in sig toe sy met haar handsak by die kombuis instap nie.

      “Dis weer die waterpomp,” kla Betta. “Hy lol hoeka al weer, dan sit die melkery sonder water.”

      Clio haal die irisse uit die beker water en draai handdoekpapier om die stingels. “Hoekom maak Jurg die pomp nie reg nie?”

      Betta laat kletter die kastrolle teen mekaar in die opwasbak. “Dingetjie, moenie ’n skoen aantrek wat nie pas nie. Die kind werk van sonop tot sononder sy hande deur.”

      Clio rol haar oë. “Kind” is nie juis ’n gepaste beskrywing vir groot Jurg van Deventer nie, maar sy waag nie ’n antwoord nie. Betta is so ’n vurige dissipel van hom, sy klits iemand wat van haar verskil sommer met een van daardie kastrolle oor die kop.

      “Ja, Betta,” sê sy vroom, “hy werk hom morsdood. Maar dis goed, dit hou hom uit die kwaad.”

      “Jy’s lelik, Clio,” raas Betta. “Jurg het jou niks gemaak nie, maar jy soek net altyd skoor.”

      As Betta haar “Clio” noem, is dit ernstige sake.

      Op pad uit steek sy in die agterdeur vas. “Niks gemaak nie? Jy moenie vandag brood bak nie, Betta, want jou geheue is vreeslik kort. Jy vergeet dalk om suurdeeg in te knie.”

      Betta swaai om, hande in die sye. “Wat is dít veronderstel om te beteken?”

      “Koning Jurg is besig om julle almal om sy pinkie te draai, en julle laat dit toe. Julle dink hy is te wonderlik. Maar het jy van Lallie vergeet? Van hoe hy met ’n windbuks die muisvoëls geskiet het?”

      “Al die plaasseuns doen dit,” verdedig Betta hom. “Dis hoe seunskinders is.”

      “Arnold het nooit voëls geskiet nie.”

      “Die muisvoëls het die vye opgevreet.”

      “Dit sal ’n treurige dag wees as die Van Deventers voëls vermoor omdat hulle te arm is om by ’n winkel ’n sakkie vye te koop.”

      “Jy’s ’n meisiekind, en jy’t daar oorkant stadskind geword,” beskuldig Betta haar. “Hoe sal jy ooit eendag boervrou kan word?”

      “Dit sal dalk nooit nodig wees nie.”

      Voor Betta kan vra wat dít beteken, kies Clio koers deur die kruietuin, motorhuis toe.

      Betta is so partydig vir Jurg, Clio het begin dink dat sy Arnold vergeet het toe die ou vrou skuddend agter haar aandraf. “Jy’t die bak vergeet … Hierso!”

      “Watse bak?”

      Betta druk ’n Tupperbak in Clio se hand. “Hy staan al van gister af reg … Arnold se gunsteling: klapperkoekies. Hy’s dalk honger as hy wakker word.”

      Clio se oë is mistig. “Dankie, Betta.”

      Arnold is nie ’n ou wat hom aan voorkoms steur nie, maar Clio is aangenaam verras. Die bakkie is die jongste model, blinkskoon, en dit vuur die eerste keer toe sy die sleutel in die aansitter draai. Dit gee haar selfvertroue vir die onbekende ratte, hobbelrige sinkplaat en die linkshouery op ’n pad wat sy al half vergeet het.

      8

      By die hospitaal kry Clio ’n skok. Arnold se bed is leeg. Die deken is gladgestryk, met skoon lakens en kussingslope oor, asof hy nooit daar was nie.

      ’n Verpleegster kom na haar toe. “Soek jy vir Arnold? Hy is na ’n privaat saal geskuif. 3B, om die hoek, tweede deur regs. Jy kan maar ingaan.”

      Moenie nou skielik bang wees nie, betig Clio haarself. Dis die oomblik waarvoor jy en almal gewag het. Toe, loop om die hoek. 3B, tweede deur regs. Vergeet jou banggeit en gaan na hom toe. Dis waarvoor jy agtien uur lank in ’n beknopte vliegtuigsitplek gesit het.

      Clio vee haar hare netjies. Moet sy parfuum aanspuit? Nee, besluit sy. Alles ruik in elk geval na ontsmettingsmiddel, en dalk gee dit hom hooikoors. Sy maak seker dat die lekkerruikseep en naskeer in haar handsak is, hou die bos irisse voor haar soos ’n skild waaragter sy kan wegkruip, en stap deur saal 3B se wit swaaideure.

      Arnold lê stil, sy oë toe. Clio besef dat hy slaap, soos enige gewone mens sonder harsingskudding. Die swelsel het gesak, die bloedmerkies is weg en die kneusings lyk beter. Sy sit die blomme op die voetenent neer en loop versigtig nader. Daar is donker kringe onder sy oë, maar sy kleur is gesond. En sy hande lê rustig op die deken, wat beteken dat hy ontspanne is.

      “Voëltjies … vir oë,” mompel hy.

      Sy ruk soos sy skrik. Dit was sý stem. Bekend, soos sy dit onthou. Maar hy yl blykbaar. Sy voel met haar hand teen sy voorkop, maar hy is nie koorsig nie.

      Dan sien sy hy is wakker. Sy oë is oop. Helder. Die skrik gaan oor in blydskap, ’n warm vreugde wat deur


Скачать книгу