Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste
haar tong en maak al die regte geluide. Totdat Aloma leeg is. Totdat sy ná tien minute ’n laaste snuif gee.
“Nie tranerig nie,” verseker sy Clio. “Dit was ’n minagtende snuif. Stupid drip!” Sy blaas haar neus met mening om die laaste stukkie oorblyfsel van Rinus de Wet uit haar gestel te kry. “So ja, nou voel ek beter … Maar ek glo nie jy het gebel om na my treurmares te luister nie.”
“Dit ook, en om jou vir ete te nooi. Maar eintlik wil ek eers jou raad vra,” antwoord Clio.
“Oor wat? Hoe om pit in ’n man se pype te sit? Blouoog-blondines weet sulke goeters mos vanself. As ek soos jy gelyk het, het ek nie met ’n kluit soos Rinus uitgegaan nie. Daardie spul flerries kan hom kry. Ek sal hom selfs na hulle toe aanry, net om van hom ontslae te raak. So ’n …” Sy keer haarself om nog skelname uit te dink. “Oor wié soek jy raad? Oor Arnold?”
“Nee, sy broer.”
“Die sexy hunk met die kwiksilwer-oë? Wat wil jy met hom maak? Solank op kleinboet oefen vir die dag as ouboet huis toe kom?”
Dis sommer lawwe tergery, maar dit ontstel Clio. “Moenie sulke grappe maak nie! Dis nie snaaks nie.”
“Hoekom nie? Sny dit ’n bietjie na aan die been?”
“Genade, nee! Hoegenaamd nie!” ontken Clio ferm.
“Jy weet mos ek kan die broer nie verdra nie. Ons baklei soos kat en hond. Maar sy kwaai tante het beveel ons moet die lang messe en strydbyle begrawe. Ek is bereid om te probeer, ter wille van Arnold. Die probleem is: Jurg maak of ek pokke het. Hy vermy my en is nooit hier nie. Hoe kry ek gepraat met ’n moedswillige man wat nie vinnig genoeg met sy opgewarmde sportkar oor die bult kan wegjaag as ek naby kom nie?”
“Jy skryf ’n briefie.”
“Wat skryf ek daarin?”
“Jy maak ’n amptelike afspraak om hom te spreek.”
Hoekom het sy nie self daaraan gedink nie? “Dis nogal ’n plan …”
“Los dit op sy kussing, waar hy dit nie kan miskyk nie.”
“Liewer op sy lessenaar.” Clio is ingenome met die idee. Hulle gesels nog ’n rukkie oor flieks en TV, dan vra sy: “Wil jy nie Sondag, as Arnold tuis is, op Vuurfontein by ons kom eet nie?”
“Ek wil nie graag derdemannetjie speel nie.”
“Dis ’n viering, en hier gaan ander mense ook wees. Talien en dokter Wim en tannie Ria-hulle en hopelik Jurg. Jou werk gaan wees om hom besig te hou, sodat hy nie weer besluit om die pad te vat nie.”
“Hy klink nie na my tipe nie. Te veel soos Rinus.”
“As hy jou pla, gesels dan met Arnold. Hy’s gaaf. Julle twee is nogal eenders, jy sal van hom hou.”
Die diefstal van die basaarkoekies lê soos ’n turksvy op Clio se gewete. Nog dieselfde aand skryf sy ’n briefie om te vra of sy Jurg agtuur die volgende oggend aan die ontbyttafel kan spreek.
Agtuur is ’n goeie tyd, ’n neutrale tyd, besluit sy toe sy die koevert op sy rekenaar se sleutelbord neersit, waar hy dit sal sien sodra hy by sy kantoor instap. Hy kan nie agtuur al weer op pad uit wees nie, en as hy by ’n meisie was, behoort hy al terug te wees, want dis melktyd op die plaas.
Die weer is so lekker warm, sy sou graag Sondag wou braai. Maar Arnold is nog nie sterk nie en moet verkieslik binnenshuis bly. Sy sal Griekse slaai maak en ’n interessante nagereg prakseer, maar die kookkos aan Betta oorlaat. Betta is so goed daarmee, en sy wil nie op tone trap nie.
Sy wik en weeg tussen appelkoos-flambé met sjokolade-mousse, vrugte-pavlova of crêpes Suzette. Of wat van kaaskoek? Sy prakseer ’n banier met Welkom tuis! bokant die voordeur, besluit watse blomme sy vir die tafel sal rangskik en wat sy gaan aantrek.
Maar toe sy die aand in die bed klim en die lig afskakel om te slaap, is dit Jurg se gesig wat voor haar bly. Kwiksilwer-oë, het Aloma gesê. Is dit hoe sy temperament ook is? Soos vloeibare metaal, wat jy nie kan vashou nie?
Clio is lank voor agtuur die volgende oggend op en aangetrek. Sy is in die kombuis met een van Betta se groot voorskote om haar middel gebind besig om omelette te maak toe Jurg instap. Hy is skoongeskeer en ruik na sitroenseep, sy hare nat en effens krullerig ná die stort. Hy het ’n liggrys hemp aan wat by sy oë pas. Sy skouers is breed en vierkantig, sy sitvlak netjies plat in ’n styfpassende denim.
Sy het nie geweet ’n man kan soveel sensuele aantrekkingskrag uitstraal nie. Haar maag bondel op ’n knop en die sinne wat sy gisteraand so netjies agtermekaar gehad het, vlieg by die venster uit.
“Môre!”
Hy groet vriendelik, maar sy kan sien hy is op sy hoede, onseker wat om te verwag. Haar selfvertroue is skielik ook weg, saam met haar logies geformuleerde sinne. Sy sê die eerste beste ding wat in haar kop kom.
“Ek is bly jy is betyds terug.”
Sy wenkbroue lig verbaas. “Terug waarvandaan?”
“Lizaan of iemand …”
Toe die woorde uit is, kan Clio nie glo dis wat sy gesê het nie. Waar is haar brein heen?
Sy wenkbroue sak in ’n frons. “Hoekom op aarde dink jy ek sal agtuur die oggend van Lizaan Visser af terugkom?”
“Ek weet nie … Dis wat mans doen. Dis hulle natuur. Hoe hulle is …” Clio trap klei. Hoe meer sy probeer red, hoe erger klink dit. Sy weet sy kan Jurg nie kwalik neem dat hy geïrriteerd lyk nie.
“Hulle natuur? Om soos mannetjieskatte snags te kerjakker? Is dít wat jy bedoel?”
“Nee!” ontken sy, maar is te bang om uit te wy, bang sy knoop haarself verder vas.
Dis nie vir Jurg goed genoeg nie. Die geur van gebraaide spek en uie was aanloklik, maar hy is skielik nie meer honger nie. Hy stoot die stoel terug wat hy wou uittrek. “Is dit hoekom jy my douvoordag ontbied het? Om my oor my sekslewe uit te vra?”
“Nee,” herhaal sy. “Ek het jou nie ontbied nie, net gevra of agtuur geleë sal wees om met jou te praat.”
“Dit was nie geleë nie, maar ek is hier en ons het gepraat. Jy wou weet of ek ’n ding aan het met Lizaan en ek het gesê nee, ek het nie. Ook nie met enige ander meisie nie, en ek loop nie snags rond nie. Tevrede? Mag ek nou gaan melk, voor die kalwers uitsuip?”
Jurg wag nie op toestemming nie. Hy vat ’n broodrol van die tafel af en verdwyn by die agterdeur uit.
Nou eers sien Clio vir Betta by die opwasbak staan, vingers teen haar mond gedruk en haar oë soos pierings. Sy wil kommentaar lewer, maar Clio gee haar nie kans nie, gooi net haar hande radeloos in die lug en hardloop agter Jurg aan.
Sy haal hom by die groentetuin in, by die tamatiebedding. “Ek het jou oor die basaarkoekies belieg en bedrieg en ek is jammer en ook oor ek netnou sleg van jou gedink het,” borrel dit uit, alles in een sin.
Daar’s nie botter op die broodrol nie en Jurg pluk ’n tamatie om daarmee saam te eet sodat dit minder droog is. Terwyl hy kou, probeer hy die warboel inligting ontrafel. “Wát?”
Hy lyk nie op die punt om weer die pad te vat nie. Dit gee Clio kans om weer haar woorde agtermekaar te kry. “Destyds toe ek by Talien geklik het dat jy die soetkoekies vir die kerkbasaar opgeëet het, het ek gejok. Dit was ek.”
Hy kou rustig en byt nog ’n stuk brood af. “Ek weet.” Sy kyk versigtig op na hom. Daar is ’n vreemde uitdrukking op sy gesig, maar sy kan nie besluit presies wat nie. Kwaad of verwytend? Gegrief of wraaksugtig? Sy weet nie. Maar dis nie vergifnis nie.
“Wéét?” herhaal sy. “Hoe het jy geweet?”
“Dis elementêr. Dit was nie ek nie en dit was nie Arnold nie, nie Talien of Betta nie, dus moes dit jy gewees het. ’n Eenvoudige proses van eliminasie. Geen wonder jy kon nooit wiskunde doen nie.”
“Ek