Satyn Omnibus 5. Wilmari Jooste

Satyn Omnibus 5 - Wilmari Jooste


Скачать книгу
sy wat hy bedoel. Hy het altyd gesê haar oë is pers. Bloupers, soos viooltjies. Sy het viooltjies vir oë. Sy wil huil, lag, haar arms om hom gooi.

      “Jy’s by!”

      “Beste manier … by te kom … mooi meisie by jou bed.”

      Sy kan nie glo dis dieselfde man wat gister so bleek en slap teen die kussing gelê het nie. “As jy komplimente kan uitdeel, is jy besig om gesond te word,” lag sy.

      Hy kyk verwonderd na haar, sy oë soekend oor haar gesig. “Ek onthou jou lag …”

      Sy onthou hom ook. Sy stem en sy mond en die tekstuur van sy vel. Dis of die jare wegval en hulle weer dertien en agtien is. Dokter Wim het gewaarsku dat hy moontlik aan geheueverlies kan ly as hy uit die koma kom. Tydelike of korttermyn-geheueverlies. Maar Arnold klink normaal. Praat net effe mompelend en sleeptong.

      “Lág,” herhaal hy, “weer … Dat ek kan hoor dis jy.”

      “Dis ek.” Clio kry ’n gedwonge lag uit. Sy buk oor hom en soen hom op die voorkop, daarna op elke wang. “Hallo, Arnold.”

      Hy druk haar hand. “Jy het gekom …”

      “Ek is hier,” beaam sy.

      “Gister … Was jy toe ook hier?”

      “Én eergister. Jy’t my nie eens gegroet nie, nie eens hallo gesê nie. Net heeltyd gelê en slaap.”

      “Sal nie weer …”

      Sy beduie met ’n dreigende wysvinger. “Jy beter nie! Ons het baie groot geskrik. Ek sal jou hierdie keer vergewe, maar jy moet belowe om nooit weer so iets aan ons te doen nie.”

      Dit duur ’n oomblik voor hy besef sy terg. Dan word sy oë sag. “Ek het verlang.”

      “Ek ook.”

      “Baie …”

      “Baie-baie!”

      “Meer as baie-baie!”

      “Ekstra baie!”

      Dit was ’n speletjie van hulle, waar elk die ander een probeer oortref, en hy speel saam. “Meer as ekstra baie!” Dan kyk hy soekend om hom. “Jou beter sien …”

      “Soek jy jou bril?”

      Toe hy na die bedkassie wys, haal sy die bril uit die laai en sit dit op sy gesig. Maar toe voel sy onverwags skaam. Hy is Arnold, haar ouboet en vriend en geesgenoot en dalk haar kêrel. Maar hy is nie meer die jong, onbeholpe tiener wat sy geken het nie. Die skoolseun het ’n man geword. Met baard en ’n dikker nek en stewige skouers. Selfs sy ore lyk groter, en dis te persoonlik om aan hulle te vat, al is dit net om die bril behoorlik te laat pas.

      Sy merk dat Arnold haar dophou. Hy het altyd geweet wat deur haar gedagtes gaan. Sy dwing haarself om die hare langs sy slape weg te stoot, aan die bokant van sy ore te vat en die oorskulpe vorentoe te buig sodat die bril netjieser sit.

      Sy mondhoek trek-trek aan die een kant, maar hy sê niks en sy weet nie wat deur sy gedagtes gaan nie. Dan frons hy skielik, skud sy kop en stoot die bril hoër op teen sy voorkop, terwyl hy met ’n gewrig oor sy oë vryf.

      Dubbelvisie as gevolg van die harsingskudding? wonder sy bekommerd. Is dit nie ’n teken van breinskade nie?

      “Kan nie wees …” frons hy en vryf weer.

      “Wat? Wat kan nie wees nie?” Sy hoor die vrees in haar stem.

      “Dat jy nóg mooier is … as wat ek gedink het … gedink het jy sal word.”

      “Ag, Arnie!” Sy druk bewoë sy hand teen haar mond en soen sy vingers een vir een. “Ek wil nie mooi wees nie, ek gee nie om hoe ek lyk nie, ek wil net hê jy moet gesond word.”

      “Hoe lank …” Hy sukkel en moet eers rus voor hy die sin uitkry: “… in koma?”

      “Drie dae.”

      “Wie’t jou by … op die lughawe gekry?”

      “Jurg.”

      “Skuus.”

      Sy druk sy hand gerusstellend. “Moenie jou ontstel nie. Alles het reg uitgewerk.”

      Nou eers onthou sy van die irisse. Sy wil nie Arnold se hand los om ’n blompot te soek nie en sit hulle sommer so droog op die bedkassie neer, saam met die houer koekies. “Ek wou hê die eerste ding wat jy sien wanneer jy jou oë oopmaak, moet iets moois wees. Toe koop ek die blomme.”

      Sy gesig vertrek en hy kreun.

      “Arnie, wat is dit? Het jy pyn?” vra Clio ontsteld.

      Sy vingers soek na sy ribbes, na die verband om sy bors. “Net as ek lag.”

      “Ek belowe ek sal nie vir jou grappe vertel nie.” Sy klink baie ernstig.

      “Iets moois? Jyself!” Hy lag weer en trek sy asem in. “Oe! Eina!”

      Die verpleegster loer by die deur in. “Is hier ’n probleem?”

      Sy wag nie op ’n antwoord nie, haal ’n termometer uit en druk dit onder sy tong in. “Jou temperatuur is onnatuurlik hoog, meneer Van Deventer.”

      Arnold knipoog effens. Hy kan nie praat nie, maar hy hoef nie. Clio weet wat hy daarmee wil sê: Sý is verantwoordelik vir die koorsigheid.

      Die verpleegster skuif sy pajamamou op en neem Arnold se bloeddruk. Ook dié is blykbaar hoog.

      Sy draai verskonend na Clio. “Ek is jammer om die besoek kort te knip. Maar hy is vermoeid en het rus nodig.”

      Clio staan terug en neem haar handsak. “Ek het nie bedoel om hom te vermoei nie. Ek sal dadelik gaan, ek wil net gou die blomme in water sit, voor hulle verlep.”

      Sy blaas ’n soentjie vir Arnold. “Ek is in die wagkamer as jy my soek.”

      “Soek jou al … elf jaar,” mompel hy sleeptong.

      “Dit mag lank duur voor hy weer wakker word,” waarsku die verpleegster.

      “Dit maak nie saak nie. Ek het elf jaar gewag, nog ’n uur of drie sal nie ’n verskil maak nie. Ek sal ’n tydskrif koop en sit en lees.”

      Eers sit Clio net, agteroor geleun in die gemakstoel, en laat die kleintydse herinneringe oorneem. Sy was onnodig senuweeagtig oor die herontmoeting. Dieselfde gemaklikheid van destyds is steeds tussen hulle. Miskien nou selfs meer as toe.

      Dit was wonderlik om hom weer te sien en met hom te kon praat. Sy wou hom in haar arms toevou en nooit weer los nie. Maar drie van sy ribbes is gebreek en sy was bang hy kry seer.

      Hy het harsingskudding en moet stil gehou word, het dokter Strachan gemaan. Stil gehou word in die hospitaal? Of sal hy oor ’n week of so kan huis toe kom? Selfs dan sal hy seker nog ’n tyd lank bedlêend wees. Dit beteken sy sal haar terugvlug moet kanselleer en reël dat iemand by die galery vir haar instaan.

      Clio sit regop. Dis nie nou die tyd vir mymeringe en spekulasies of vir sit en lees nie. Sy moet Talien bel en haar die goeie nuus vertel, dan haar ma en Betta en Aloma. En seker vir Jurg?

      Nee, besluit sy, sy wil nie nou met Jurg praat nie. Dit voel nie reg nie. Nie so kort ná Arnold nie. Jurg is seker by die melkery, en gelukkig het sy nie sy selnommer nie. Talien of Betta kan hom maar laat weet sy broer is wakker.

      Sy hou haar oproepe kort, met net die jongste nuus oor Arnold se toestand. Dit duur minder as ’n halfuur. Toe gaan loer sy weer by 3B in. Maar die verpleegster was reg: Arnold slaap soos ’n baba.

      Clio gaan koop ’n blikkie koeldrank in die kafeteria en ’n Peppermint Crisp – nog ’n luukse wat hulle nie in Kanada kry nie. Sy het al dikwels ’n onversadigbare lus daarvoor gehad soos ’n vrou wat swanger is.

      Uiteindelik koop sy tog ’n tydskrif om die tyd mee te verwyl, een wat sy gewoonlik op die internet lees. Maar die nostalgiese vreugde van die Sarie en die Peppermint


Скачать книгу