Amraal. Marinda van Zyl
“Die brand waarin julle pa’s dood is. Aalwyn het my vertel dat jy die vuur begin het. Die dag toe julle so ontsteld was omdat ek wingerdstokke naby die kloof wou plant.”
“Maar, Meester, dit was mos nie my skuld nie. Ek sweer …”
“Jy moet jou sondes bely, Lammert, anders sal jy nooit vergewe word nie. Maar wees verseker jou geheim is by my veilig.”
Skrik oor Meester hom nie glo nie, hom nie eens kans wil gee om te verduidelik nie, laat Lammert vlug. Swemgat toe. Hy stroop sy klere af en duik in die water in om tog net van Aalwyn se verraad weg te kom. Hoe kon Aalwyn dit doen? Aalwyn wat vir hom van kleintyd af soos ’n broer is. Hy bly bibberend watertrap, terwyl die son die lug ligroos kleur en uiteindelik die kranse aan die brand steek.
’n Giggellag laat hom omkyk.
Op die wal staan Aletta met sy broek en hemp in haar hand. “Kom haal dit. As jy mans genoeg is,” terg sy.
“Los my goed!” gil hy sy woede teenoor Aalwyn op haar uit.
“Nou goed dan.” Aletta smyt sy klere in die water voor sy omdraai en met swaaiende heupe wegstap.
5
Vroeg in Oktober 1791 begin die voorbereiding vir die tog Kaap toe, waar Aalwyn en Aletta moet katkiseer. Dit gee aan Lammert ’n goeie verskoning om uit Aalwyn se pad te bly. Soggens stuur hy vir Adam kliphuis toe om by nôi Elsie te hoor wat nog gedoen moet word. Adam kom vertel opgewonde dat hy, Lammert en oompie Ben saamgaan Kaap toe. Nôi Elsie se broer kom van Tierfontein af om haar te help. Hy bring sy ervare wadrywer, Swartpiet, en ’n ekstra een saam. Lammert moet net sorg dat alles klaar is as hulle oor ses dae hier aankom.
Lammert moet sy teleurstelling maar sluk. Hy het gehoop om self die wa te dryf – om vir Aalwyn te wys wie is man en wie muis. Aalwyn wat nie eens ’n os se naam kan onthou nie, al kan hy glo lees en skryf. Tog is hy bly om ook saam Kaap toe te gaan. Hy onthou sy pa se stories oor die plek met die plat berg waar sy voormense vandaan gekom het. Maar meestal het sy pa net gespog hoe hy die volgelaaide wa oor die Olifantsrivierberg kry, om draaie wat so skerp is dat die voor- en agterwiel aan die afgrond se kant nie gelyktydig op die pad is nie. Orals lê stukke wa wat wys waar osse en drywer mekaar nie verstaan het nie.
Die vrag goed wat moet saamgaan, raak al hoe swaarder: dis vars nartjies en lemoene, twee vate lemoensap, vaatjies met gedroogde vye en perskes, stene boerseep, vaatjies botter en kiste klere. Dit oortuig Lammert om ’n span van sestien osse uit te soek vir die tog, en gee hom ook die geleentheid om die elfjarige Adam touwys te maak soos sy pa, Voorslag, dit met hom gedoen het.
“Adam, roep ons twee beste agterosse uit,” sê Lammert terwyl hulle op die kraalmuur sit en die osse bekyk.
“Soetland, Suurknol,” sing-roep Adam, maar nie ’n enkele os roer nie.
“Ook maar goed hulle luister nie vir jou nie. Hoekom dié twee?”
“Hulle name sê die lekkerste.”
“Ai tog, met hulle kry ons nie eens die wa oor die eerste bult nie. Hoi-hoi, Spekboud, Hoi-hoi, Oolfant,” roep Lammert en twee frisgeboude osse beweeg tussen die ander osse uit na die hek.
“Die sterkstes, want hulle moet die trekwerk doen, nè, Ouboet?”
“Mooi so, en voorosse moet nuuskierig wees, altyd wil vorentoe. Watter twee?”
“Geelslang op hot en Meerkat op haar.”
“Ditsem, maar hoe’t jy geweet Geelslang kom links?”
“Mos gesien hoe jy hulle inspan,” lag Adam en koes toe Lammert speels ’n hou na hom mik.
Nôi Elsie se broer daag sonder die tweede wadrywer op. “Die ou man het viervoet vasgesteek toe hy hoor watter berg ons moet oor. Is glo in sy kindsbeen amper daar af saam met ’n wa.”
“Agge nee, Bertus, hoe nou gemaak? Ons moet oor ses dae in die Kaap wees.”
“Maar jy’t mos ’n klong hier wat ’n wa kan dryf. As mens vir Aalwyn kan glo.”
Lammert laat nie op hom wag nie. “Ek sal die wa veilig oor die berg kry, Nôi. Adam kan toulei. Ons verstaan mekaar.”
“Dan moet ons maar so maak.” Sy gee haar broer ’n kwaai kyk. “Maar jy koop vir my ’n nuwe wa en betaal my vrag as daar skade is.”
Voordag klap die swepe. Dis ’n lang skof tot by die Piekenierskloof, al langs die Olifantsrivier op, oor die berg wat die twee valleie skei tot by die uitspanplek. Die osse dra broek van al die blomme en gras wat die vallei oortrek en stap vanself teen ’n gemaklike pas. Lammert en Swartpiet laat die werk aan die touleiers oor. Lammert luister met ’n halwe oor na Swartpiet se praatjies oor die berge noordwaarts waar hy en baas Bertus al tot by die Buffelsrivier gaan jag het.
By die uitspanplek droog Swartpiet se praat op toe hy sien waar hulle die berg moet oor. “Nee, gonnatjie, my baas, dis mos nie onse bergies dié nie,” kla hy kliphard vir almal om te hoor. “Hier verongeluk ons mos in onse moer in.”
“Ek sal voor gaan, Baas,” gryp Lammert die kans. “My pa’t gesê bo-op die berg is ’n fontein. Ek los my wa daar en kom haal Swartpiet s’n as hy ’n bangbroek is.”
“Bangbroek se moer,” skel Swartpiet. “Ek wou jou bangpraat, want waar’t jy nou gesien ’n snotkop kan ’n wa oor dié berg vat.”
Die volgende oggend trek Lammert die kortste loot en kan eerste ry. Aalwyn en Bertus gaan te perd vooruit om te waarsku as daar rotse op die pad is. Nôi Elsie en Aletta klim op Swartpiet se wa. Lammert kyk maar anderpad. Vandag sal hy hulle ’n ding wys.
Ben en twee van Bertus se Khoi-Khoin is Lammert se handlangers. Rieme word aan die kant van die wa vasgemaak; hieraan moet hulle vasklou om die wa regop te hou as die pad om ’n draai na die afgrond toe uitgooi. Met die afgaan aan die ander kant van die berg moet een man pal by die remskoen wees om dit vas te trek as die wa wil weghol. Eers toe Lammert seker is elke man verstaan wat van hom verwag word, roep hy: “Aanstap, aanstap.” Die voorosse reageer dadelik en soos die rieme styf trek, kom die ander ook in beweging.
“Vastrap, Adam, vastrap. Die riem mag nie slap word nie,” skree Lammert toe hulle die steilte vat. Hy laat die voorslag van die sweep soos ’n geweerskoot op die grond klap. Eers by die voorosse, dan by die agterosse. Moet nooit aan ’n os slaan wat klaar sy werk doen nie, hoor hy nog sy pa se stem. Gee net vir hulle pas aan met die klap van jou sweep. Die trekketting span styf. Die wa kreun bergop.
By die fontein op die berg uitoorlê Swartpiet vir Lammert en vat die pad terwyl hy nog sy wa nagaan. Halfpad bergaf is ’n sloot oor die pad gespoel. Lammert sien Swartpiet se wa deur die knik wip. “Hoi daar!” bring hy sy span voor die sloot tot stilstand. “Dis ’n asbreker hierdie. Gou, pak klippe, ons moenie agterraak nie.”
Twee draaie verder haal hulle die ander wa in. Sy vrag moet geskuif het, want die wa hel effens na die afgrond se kant oor. En Swartpiet is besig om die draai te wyd te vat. Een los klip kan die agterwiel laat gly. Swartpiet is voor langs die osse en sien nie die gevaar nie. Sy handlangers loop tussen die wa en die bergwand, maar nie een hou ’n riem vas nie.
“Hokaai!” gebruik Lammert Swartpiet se bevel. Dit weergalm deur die klowe en Swartpiet se osse kom tot stilstand. Dan is Lammert onder die wa en slaan die rem voor die agterwiel aan. Die klip wat hy afstamp, verbreek die suisende stilte.
Aletta gil.
Swartpiet skree: “Rieme!”
Lammert gaan vat self die tou en lei die osse weg van die afgrond af.
Toe hy die sweep klap om sy eie span aan die gang te kry, sit Aletta en haar ma weer op sy wa.
Dis laatmiddag toe hulle die uitspanplek aan die suidekant van die berg haal. Lammert is teleurgesteld dat hy nie die plat berg of die see kan sien nie. Tot by die Piketberg, wat ’n dagskof verder is, golf groen koringlande. Verder weg is net ’n blou waas.
Die aand kom Aalwyn