Amraal. Marinda van Zyl
kry ek ’n os en ’n melkkoei, het sy belowe.”
“In watter jaar is jy gebore?”
“Ek weet net ek en Aalwyn is een jaar se kalwers, al is hy groter as ek.”
“Dan’s dit in 1774. Dis nou 1791. Sê nou vir my hoe oud is jy.”
“Sewentien, Meester.”
Hy lyk verbaas. “Jy’t beter leer optel en aftrek as Aalwyn om dit sommerso uit die hoof te doen.”
Lammert help hom nie reg nie. Op die terugtog van die Kaap af het Aalwyn loop en spog dat hy sewentien is – oud genoeg om vrou te soek. “Ek’s sommer lus en vat die pad Kaap toe om daar te gaan werk.”
“Moenie bog praat nie, Lammert. Jy’s ingeboek tot jy die dag vyf-en-twintig jaar oud is. Op daardie dag kan jy jou troppie vee vat en loop, maar nie ’n dag vroeër nie. Of wil jy deur die veldwagmeester gevang en flenters geslaan word?”
“Hoe nou, Meester? Ons is mos nie slawe nie.”
“Julle name is in ’n boek geskryf. Julle Hottentotte bly in dieselfde baas se diens tot julle vyf-en-twintig is of tot hy julle ’n pas gee om na ’n ander baas te gaan.”
“Maar ons is tog Khoi-Khoin, Meester. Ons is vry mense,” stry Lammert.
“Julle is lankal nie meer Khoi-Khoin nie. Oorlams ja, maar voor die wet is jy Hottentot.”
Dit voel vir Lammert asof Aalwyn weer sy kop onder die water hou tot sy longe wil bars. Dis dan hoekom nôi Elsie al die laaste paar jaar vir hom ’n stukkie papier gee om in sy sak te dra wanneer hy na een van die buurplase moet gaan.
“Maar as jy regtig wil gaan, sal juffrou Elsie seker vir jou ’n pas gee. Sy’s mos nie ’n onredelike mens nie,” probeer Meester die skok versag.
Met die oestyd op hande kan Lammert hom nie oor Kaap toe gaan kwel nie. Dis krom staan agter die sekel van vroeg tot laat. Die gejil van die ander volkies laat hom vergeet van die Kaap tot saans wanneer die dansery begin. Hy kyk die jongens se danse uit voor hy self begin oefen aan die vlerksleepdans waarmee hy Klara se twee voetjies onder haar gaan uitslaan.
Ná die koringsnyers weg is, moet Lammert vir ’n vale keer om uit Aletta se pad te bly. Sy kom nou gereeld swemgat toe wanneer hy en Adam gaan swem. Oujaarsdag gaan nôi Elsie-hulle opskop hou by ’n buurplaas. Adam moet saam om die perde koud te lei en op te pas. Nou kan Lammert na hartelus swem en op die klipplaat in die son bak sonder om gepla te word.
Hy moet ingedut het en word wakker van ’n gegiggel. Dis Aletta hier langs hom.
“Wat soek jy hier?” skree Lammert met die induik.
Aletta lag en begin haar skoene en kouse uittrek. Lammert kyk weg toe sy haar rok oplig en hy die wit van haar bene sien. Sy het sowaar tot daar ook sproete. Soebat terwyl hy watertrap: “Asseblief, Aletta, gaan weg dat ek kan uitkom.”
“Ek sal nie. My ma dink ek is doodsiek in die bed.”
Die pes het dit sowaar alles beplan. Erger as die slang in die paradys. Toe sy wegkyk om die sokkies by haar skoene neer te sit, storm Lammert uit die water, gryp sy klere en nael soos ’n kolhaas tot by die rietbos waar hy sy klere oor sy nat lyf pluk. Hy bewe erger as die riete in die wind, terwyl hy bid dat hy van die bose verlos moet word.
Voor die eerste winterreëns val, word sy gebed verhoor. Gert van der Merwe, die seun van die mense by wie die Bassons met Aalwyn en Aletta se aanneming tuisgegaan het, kom al die pad te perd van die Kaap af. “Ek weet nie hoe julle mense met ’n wa en osse oor daardie gebergte kom nie,” sê hy vir Aalwyn met die afklimslag.
Lammert, wat nader gedraf het om vir Moos, Gert se slaaf, te wys waar die perde geroskam en gevoer kan word, hoor toe Aalwyn vir Gert aanraai: “Kry vir jou ’n wadrywer soos Lammert. Hy sal ’n span osse oor enige berg gepraat kry.”
Lammert kry sommer dadelik ’n afkeer in die man. Gert speel met sy bokbaardjie terwyl hy hom op en af bekyk of hy te koop is. Spog dan luidrugtig by Aalwyn dat hy ’n leenplaas het al werk hy nog vir Jan Kompanjie. Aan sy groot lyf en drilwange te oordeel, eet hy meer as wat hy werk, dink Lammert.
Maar Lammert se gesindheid teenoor Gert verander soos handomkeer toe Aalwyn hom later vertel Gert wil met Aletta trou.
In Oktober 1792 gaan hulle Kaap toe vir die troue. Lammert sing-praat die osse om elke haarnaalddraai bergop en bergaf. ’n Hele maand in die Kaap lê voor, want die gebooie moet drie maal loop voor die troudag. Nôi Elsie gaan dié keer by ander mense tuis, want voor die troue mag Aletta glo nie in dieselfde huis as die bruidegom bly nie.
Lammert kan aan geen verskoning dink om by die Van der Merwes se huis op te daag in die hoop dat hy vir Klara sal sien nie en moet geduldig wag tot Sondagmiddag. Klara gryp haar rokspante bymekaar en hardloop nader toe hy haar naam roep. “Ek het gewonder of jy weer saamgekom het.”
Lammert swaai haar in die rondte tot hulle duiselig neerval. Dan spring hy op en trap die vlerksleepdans vir haar. Maar die los sand laat hom struikel en hy slaan neer. Klara lag so dat hy nie kans kry om te verduidelik wat hy met die dans bedoel nie.
“Jy’s anders as die jongens van hier, hulle wil net altyd vat, vat, vat,” sê sy toe sy die lagtrane afvee. “Is al jou mense so snaaks?”
Lammert voel afgehaal oor haar laggery, toe spog hy maar met sy voormense. “Hierdie stuk aarde het eers aan my oupagrootjie se mense behoort. Hier van die Platberg af tot doer by die baai wat hulle nou Saldanhabaai noem en soontoe,” wys hy na die ooste, “waar die blou-blou berge lê, was alles hulle grond. Toe die Duusvolk hier te veel geword het, het my oupagrootjie maar saam met ’n Duusman Olifantsrivier toe getrek. My oupagrootjie was ’n groot kaptein.”
“Die berg se naam is Tafelberg, nie Platberg nie,” help Klara hom reg.
“Die Khoi-Khoin het mos nie geweet van tafels nie. Vir hulle was plat net plat,” sê Lammert, teleurgesteld omdat Klara nie deur sy storie beïndruk is nie.
Ná die tweede Sondagmiddag saam weet Lammert wat om te doen. Vroeg Maandagoggend is hy by die tuishuis en soebat ’n slavin om vir Aletta te roep.
Aletta lyk verskrik toe sy hom sien. “Jy gaan nie moeilikheid vir my maak nie?” Dit klink of sy tegelykertyd vra en dreig.
Lammert keer haastig. “Nee, nee, jy moet my help, asseblief.”
“Om te?”
“Ek wil hier in die Kaap agterbly. Vir jou nuwe man werk.”
“Hoekom?”
“Hier’s ’n meisie. Ek wil met haar trou. Sy sal nie kan saam Holkrans toe nie.”
“Hoekom nie?”
“Sy’s ’n slavin.”
“Klara!” spoeg Aletta die naam uit. “Ek wou mos sê, daardie dag, verlede jaar toe jy die bagasie moes aandra. Jou lus het behoorlik uitgehang.”
Lammert wil eers stry, maar waarheid is waarheid. “Asseblief, Aletta, jy sal nie spyt wees nie.”
“Daarvan kan jy seker wees, Lammert.” Aletta grynslag. “Ek sal met Gert praat. Kom hoor môremiddag selfde tyd wat hy sê.”
Aletta wag reeds in die tuin. “Dis reg so. Gert soek al lankal na ’n betroubare wadrywer. Maar hou dit eers vir jouself. Gert moet nog met my ma praat.”
Klara gooi koue water op sy vuur toe hy haar die Sondagmiddag vertel: “Begryp jy dan glad nie hoe dinge werk nie, Lammert?” Sy kyk doer na Robbeneiland terwyl sy praat, en hy onthou van sy pa wat ook so eenkant toe gekyk het om nie sy seerkry te wys nie. “Ek is ’n slaaf. My kinders sal vir ewig en altyd slawe wees. Hoe sal jy voel as jou kinders een vir een verkoop word? Miskien deur die genade uit die hand, of poedelkaal uitgestal op vandisie, vir almal om te bevoel.”
“Ek gaan jou vrykoop, Klara. Ek sweer. Môre moet ek al my eerste vrag ry en …”
“Vergeet