Amraal. Marinda van Zyl
kyk lank na hom voor hy antwoord: “Dis nie ’n vuur soos ’n veldbrand nie. Dis ’n vuur wat in jou binneste brand. Nie eens trane kan dit blus nie.”
Met die bou van leivore van die rivier na die nuwe boorde leer hulle tel. Hulle dra spoelklippe aan en moet vir Meester sê die hoeveelste klip dit is voor hulle dit op die hoop mag sit. Toe hulle by die bouwerk kom, luister Lammert nie meer na Meester en Aalwyn se pratery nie. Dis asof elke klip vir hom sê waar hy tussen die ander wil lê.
By lees en skryf kom Lammert nooit uit nie, want dit word saans in die kliphuis gedoen. Hy vra sy ma om by nôi Elsie te hoor of hy nie saans saam met Aalwyn kan gaan leer nie, maar sy jak hom af: “Wat wil jy met woorde op papier maak? Dit bring net hartseer.”
Meester prys Lammert se bouwerk toe daar later ’n skuur met ’n solder bo-op gebou moet word sodat hy ’n behoorlike blyplek kan hê. Daarna kom ’n watermeul langs die rivier, waar nie net hulle eie koring gemaal word nie, maar ook die ander boere in die vallei s’n. Nôi Elsie verruil Holkrans se oorskietmeel vir kruit en lood aan die boere wat nie saaigrond het nie. In die Kaap sou hulle nie gou weer uitkom nie. Al was Lammert handig met die dryf van die wa wanneer hulle boomstompe aanry, sal hulle nie oor die berg kom sonder Meester se hulp nie. En Meester is selfs te menssku om sy verskyning te maak as die bure kom koring maal.
In die tweede jaar dat Meester op Holkrans is, besluit hy die paar stokke eetdruiwe is nie voldoende nie. ’n Ordentlike wingerd moet nader aan die berg aangeplant word, want waar hy vandaan kom, groei druiwe in klipperige grond. “Daar bo,” beduie hy vir Lammert en Aalwyn, “by die hoogtetjie, net daar by die kloof.”
Lammert en Aalwyn kyk vir mekaar. Lammert kyk weer vinnig weg toe hy sy eie skrik in Aalwyn se oë sien. Sedert die brand was nie een van hulle weer naby die kloof nie. Tog leef Lammert elke dag daarmee saam. Sien hy die vlamme in die son se laaste strale wat teen die kranse weerkaats; hoor hy krete in die roep van ’n jakkalsvoël wanneer hy maat soek.
Dis ook so met Aalwyn, kom Lammert nou agter, want hy smyt die graaf neer en sê met die wegloop oor sy skouer: “As Meester daar wil plant, doen Meester dit self.”
Meester kyk hom oorbluf agterna. “Gelukkig is jý darem ’n voorslag, Lammert. Saam-saam doen ons dit.”
“Nee!” Lammert kan die trane wat al vir twee jaar in hom opdam, nie langer binnehou nie. Hoekom moes Meester nou sy pa se naam sê? Hy voel Meester se arms om hom gaan en stoot hom weg. “My pa is nog daar. Ek hoor hom skree.”
Die volgende oggend besluit Meester die grond naby die rivier is klipperig genoeg en Lammert en Aalwyn begin met oorgawe gate grawe voor hy dalk van plan verander.
Vier jaar later, in die herfs van 1791, maak Meester sy eerste wyn. Teen September daardie jaar is dit gereed om te proe. Dit vind Lammert uit toe hy een aand verby die skuur loop. Hy hoor ’n kreun en gaan staan stil. Het hy hom dit verbeel? Hy hoor dit weer en gaan by die skemer skuur in. Meester lê uitgestrek op die naat van sy rug tussen die wynvate.
“Meester? Meester!” probeer Lammert hom wakker skud, maar hy roer nie. Toe hy uiteindelik sy oë oopmaak, wil Lammert hom ophelp, maar Meester struikel-val teen een van die vate en beland weer op die vloer. Met toe oë mompel hy onverstaanbare woorde.
Sonder hulp sal hy nie vir Meester die trap opkry na sy solderkamer nie, besef Lammert. Hulp kan hy ook nie gaan haal nie. Nôi Elsie jaag Meester wragtig weg as hy met haar in vreemde tale begin praat. Lammert draf die trap op om ’n kombers en kussing te kry en maak vir Meester so gemaklik moontlik. “Obrigado, pá,” mompel Meester voor hy begin snork.
Met eerste lig stoot Lammert die skuurdeur oop. Meester saag nog balke. Lammert hurk langs hom: “Meester, Meester!”
Meester vlieg vervaard op sodat Lammert op sy sitvlak land. “O, dis jy,” sê Meester duidelik verlig en sak terug teen die wynvat. “Wat maak ek hier?”
“Ek kon Meester nie trapop kry nie, toe’t ek Meester maar hier gemaklik gemaak.”
“Oe, my kop! Ek moet seker geval en dit gestamp het.”
“Nooit anders nie,” grinnik Lammert, “Meester moet ’n harde stamp gekry het, want Meester het tot gedink ek is jou pa. Dis wat ek verstaan het toe Meester soos die profeet in tale gespreek het.”
Meester sit ’n ruk met sy kop tussen sy knieë voor hy opkyk en vra: “Wat het ek gesê?”
“Toe ek die kussing onder Meester se kop sit: ‘Obrigado, pá’. Van die res kon ek nie ’n snars verstaan nie.”
“Wie anders het gesien, gehoor?” Meester klink soos ’n moeë ou man.
“Niemand nie. Dis hoekom ek vir Meester so vroeg kom opjaag, sodat niemand hoef te weet nie.”
“Dankie, my vriend. Dis wat ek gisteraand vir jou gesê het. Jy is ’n ware vriend.”
Lammert lag verleë. “Dan draf ek maar, Meester. Die melkkoeie …”
“My regte naam is Augusto Amaral.”
“Hoe nou, Meester?”
“Ek is g’n meester nie. Juffrou Elsie was reg. Ek is ’n droster. Nou sal ek weer my bondel moet vat en loop.”
“Nee,” keer Lammert, “niemand sal weet van gisteraand of die vreemde naam nie. Ek sweer.”
“Dis Portugees. Ek is ’n boerseun uit Portugal wat visserman moes word oor die plasie te klein was vir twee broers. Toe trou ek die mooiste meisie op die dorp.”
Lammert skrik toe Meester skielik na hom gryp. “Hoor vir my, Lammert. Bly weg van mooi vrouens af. Hulle dryf jou tot moord.”
Lammert wil opspring en weghardloop, maar Meester klou aan sy hemp.
“Nee, moenie gaan nie. Ek wil vir iemand vertel. Dan sal ek dalk vrede kry. Ons vissermanne moes soms dae, weke op see bly om ’n goeie vangs te kry. Toe ek een aand by die huis kom, is daar ’n ander man in my bed. Ek het aanhou slaan en slaan tot daar geen lewe in hom was nie.” ’n Siddering gaan deur Meester en hy kyk na sy hande asof daar nog bloed op is. “Toe vlug ek in ’n vissersbootjie. Sterk winde het my noorde toe gevat, maar dit was ’n lang reis. Ek was halfdood van dors en honger toe ek uiteindelik aangespoel het op ’n strand in Holland. Die predikant van die dorpie het my in sy huis geneem. Ek het hom belieg: gesê my vrou is dood en ek het geen familie in Portugal oor nie. Drie jaar lank het hy gespook om my van die Rooms-Katolieke geloof te laat afsien.”
Meester lag, maar dit klink vir Lammert meer na huil. “Dis waar ek die Bybel so goed geleer ken het dat ek vir Aalwyn en Aletta kon katkiseer. Maar in daardie paradys was daar ook ’n slang. Die predikant se dogter wou my nie met rus laat nie.”
Haar naam was seker ook Aletta, dink Lammert en verloor byna die draad van Meester se storie.
“… weer ’n ander naam, ’n ander werk, matroos op ’n skip van die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie. Dit was louter hel. Nie die werk of die swaarkry nie … Weet jy hoe skree ’n man wanneer stukke vleis uit sy rug geruk word met ’n kats?”
Lammert skud sy kop. Hy weet nie eens wat ’n kats is nie. Hy weet darem hoe bulk ’n kalf as hy ’n os gemaak word. Mens maak maar net of jy nie hoor of sien nie, want wat gedoen moet word, moet gedoen word.
“Mens vergeet dit nooit ooit nie, selfs in jou drome hoor jy dit. Gelukkig moes die skepe in Saldanhabaai skuiling gaan soek teen ’n storm. Onder die skuilte van die nag het ek in die water gespring en land toe geswem. Met die sterre as rigtingwyser snags noordwaarts geloop en uit tuine kos gesteel. Ná dae se loop was ek gerus dat die Kompanjie se soldate my nie sou opspoor nie. By die eerste plaas waar ek werk gevra het, is ek aangestel as onderwyser. Amper ’n jaar daar, toe gewaar ek eendag soldate in aantog. Ek het inderhaas laat spaander. Ooswaarts na waar die blou berge gewink het.”
“En toe kom Meester hier uit. Meester moenie weer weggaan nie,” pleit Lammert. “Ek sal vir niemand sê nie.”
“Dankie,