Mispa. Helena Christina Hugo
“Jy is sterk, jy sal deurkom.”
Willem maak die riem om die koei se agterpote los. Hy klap haar op die boud. “Jou kalf roep, gaan soek hom. Daniël, loop maak oop die hek!”
Die seun stut sy hark teen die stalmuur.
Willem kyk hoe hy wegstap – kreupel, maar haastig. Hy is veertien jaar oud en groot vir sy ouderdom, ’n seun na sy hart, al is dit asof ’n doring dit deurboor elke keer as hy hom agternakyk. Stadiger gaan dit beter. As Daniël haastig is, swaai hy sy lyf sodat dit lyk asof hy uit homself wil klim en hy kan nie. Sy gebrek is deel van hom, dis in die familie – ’n vloek tot in die derde en vierde geslag.
Willem skud sy kop, kyk weg, lig die laaste melkemmers en stap aan melkkamer toe. Werfhoenders spring uit sy pad, sy honde kom hom tegemoet en loop saam. Op pad kry hy vir Klaas en dié se jongste seun met grawe en tuinvurke.
“Waar gaan julle?”
“Huistuin, my seur.”
“Roer vir julle, die mense van Kimberley kom vroeg. Hoor jy my, Sadrag? Maak gou!”
Willem sien die kyk wat die seun hom gee, maar vanoggend hou hy hom in. Sadrag is nie so onderdanig soos Klaas en Bet se ander kinders nie, maar dis omdat hy van kleintyd af Daniël se speelmaat is en hom verbeel hy is familie van die Bassons.
Bet staan in die deur van die melkkamer. Sy vat die emmers aan.
“Môre, Seur.”
“Dag, Bet. Dit gaan warm word.”
“Ek sal kyk virrie goed in die koelkamers, seur Willem.”
“Dankie, Bet.”
Oor haar kla hy nie. Mispa se botter en kaas haal wintertyd goeie pryse op die mark. In die somer maak sy vir huisgebruik. Winters verkoop hulle dit saam met die slaggoed, eiers, droëvrugte, konfyt en ingemaakte vrugte – byna alles haar en Doelie-hulle se handewerk. Caroline raak benoud, glo omdat Ma-Maria, Mother soos hulle haar genoem het, haar en haar susters van vroeg tot laat met die plak in die hand in die kombuis vasgekeer het. Maar dis waar hy haar die eerste keer gesien het – voor die stoof in haar ma se kombuis. Toe het sy geglimlag asof sy daar tuis is. Al die tyd wou sy wegkom, al die tyd was hy haar uitkoms – asof hy aan wegloop kon dink toe sy pa nog geleef het. Hy sou niks gewees het en niks besit het as hy nie bereid was om al kruipend sy hande deur te werk nie. Het sy grootvader dan nie met bloed betaal vir hierdie land nie? Dit moes hy tydig en ontydig aanhoor, selfs terwyl sy eie bloedsweet op die grond tap – dat dit heilige grond is met bloed gekoop, grond wat sy broers nie waardeer het nie.
Toe erf hy Mispa. Elke stoffie, elke klip en bossie en lewende wese wat hier saamwoon en werk, is syne en sy nageslag s’n, nou al ses eie kinders! Sou sewe gewees het – meer as hulle nie hul eersteling-seun verloor het en Caroline nie al daardie kastige misgeboortes afgegooi het nie. Willem voel ’n rilling deur sy lyf trek. Die nag toe hy haar betrap het, flits voor sy geestesoog verby. Hy skud dit uit sy gedagtes en trap dit in die aarde weg. Daar sit kraalmis aan sy stewels. Hy stamp dit af op pad agterdeur toe. Nog voor hy die trap klim stoep toe, hoor hy die gelag en gestoei van sy kinders en Caroline wat hulle tot orde roep.
“Julle moet eet voor Sinterklaas kom kyk wat hier aangaan.”
Sy is aangetrek en haar hare is gekam, maar hy kan nie die sakke onder haar oë miskyk nie. Sy voer vir Annatjie in haar hoë stoeltjie. Willem is trots op daardie stoeltjie. Hy het die patroon afgekyk by Jan Adriaan wat weet hoe om met hout te werk.
“Groet julle nie?”
“Môre, Pappa,” kom dit van alle kante, sedig soos predikante.
Willem sluk sy glimlag, hy stap na Caroline, sit sy hand op haar skouer en soen haar op die wang.
Verbeel hy hom of verduur sy dit net?
“Hoe gaan dit vanoggend? Moeg?”
Sy lig haar hande, trek haar skouers net effens op.
Dis nie meer lank nie. Hy sien dit in haar oë, die gelatenheid wat hy ook by sy diere gewaar. Terwyl hulle lewe moet gee, verwag hulle die dood. Dis Eva se straf op ongehoorsaamheid – barensnood, so sê die Bybel, en so weet God. Dit is hulle lot om met pyn en doodsangs kinders in die wêreld te bring. Soms word dié angs werklikheid en die dood die enigste uitweg. Hy moes al van sy merries en koeie help om te sterf, maar hoe help jy jou vrou?
“Eet jy nie?”
“Perskes,” sê sy en wys na die bord met skille voor haar.
Gebakte lewer en ’n stewige bord pap is wat sy nodig het, maar hy sal haar nie voor die kinders aanspreek nie. Hy gaan sit aan die kop van die tafel en vou sy servet oop. Toe hy opkyk vang sy blik vir George wat sukkel om met ’n lepel te eet. Caroline sien dit nie, sy smeer ’n broodkorsie met skaapvet en druk dit in Annatjie se handjie. Doelie, flink soos gewoonlik, sit sy pap voor hom neer.
“Ek wil ook brood hê,” kerm Maria.
Caroline stoot die bakkie vet na haar kant toe.
“Mamma moet vir my smeer.”
“Jy is groot, Maria.”
“Mamma smeer vir George en Annatjie.”
“Een van die dae moet jy dit vir hulle doen.”
“Ek sallie!”
Maria skreef haar gesig en pers die trane uit.
Willem maak of hy nie sien of hoor nie. Hy is haastig oor ousus Hester-hulle wat opsluit hier wil kom Kersfees vier, volgens haar ter wille van Caroline en die kinders, en jy stry nie met Hester nie. Vandat George en Maria Fuller albei oorlede is, verbeel sy haar sy moet namens hulle vermaan en veroordeel, maak nie saak wie sy te na kom nie – selfs vir Caroline. Sy wat gesê het Maria was te lank die enigste meisiekind, toe Annatjie kom, voel sy uitgeskuif – asof hy dit nie weet nie. Caroline het dae omgesit met Annatjie op haar skoot, altyd die voetjies aan die druk en draai. Hy kan nie onthou of sy ooit soveel tyd vir Maria gegee het of nog sal gee nie. Die kind snik nou asof sy tandpyn het.
Hy sit sy lepel neer, hard genoeg dat Caroline dit kan hoor. “Maria, gee jou brood en gee die vet, ek sal vir jou smeer.”
Hy is nog besig toe Daniël in die kombuisdeur verskyn.
Willem frons in sy rigting. “Waar kom jy nou eers vandaan?”
“Ek moes die kalwerhok se hek heelmaak en ek kon nie los nie. Môre, Ma.”
“Dag, Daniël.” Caroline klink asof sy verkoue het.
Willem gee Maria se brood vir haar aan. “Eet, dat ons kan boekevat voor die familie opdaag.”
“Dankie, Pappa.” Haar trane het soos mis voor die son weggedroog.
Daniël gaan sit aan sy regterkant en gooi melk oor die stomende berg in sy papbord.
Willem kry drie gebakte eiers en ’n stuk springbokwors. Hy eet die wors en soek dan die kind met die skoonste hande. Klein-Willem sit met die jammerlap en speel. “Jou beurt om die Boek te gaan haal,” sê hy.
“Kom Neelsie ook vandag?” Klein-Willem gee die lap vir Caroline wat dadelik begin om Annatjie se gesiggie af te vee.
“Willem, jou dom wurm!” snip Maria. “Neelsie en Anna en Elsje en …?”
Klein-Willem gee haar ’n stamp teen die skouer en maak dat hy wegkom.
“Hy stamp my, hy’t my gestamp!” Maria skree so hard, Annatjie gaan aan die huil.
Willem byt op sy tande, sy hande jeuk om die plak agter die spensdeur af te haal en Klein-Willem by te kom. Hercules sit ook al weer in sy neus en krap en dis etenstyd.
Caroline haal haar sakdoek uit, sy druk Annatjie se krulle van haar voorkop af weg, sy soen haar handjies. “Moenie huil nie, moederskat.”