Mispa. Helena Christina Hugo
Bybel se ereplek is op die hoektafel tussen twee koperkershouers, bo-op ’n gehekelde kleedjie oorhoeks gedrapeer om die tafelblad te beskerm. Daar is ’n stoel byderhand en ’n inkpot en pen in die laai. Die kleedjie is skeefgetrek en een van die blakers lê op sy sy. Caroline maak alles reg voor sy die Boek netjies neersit. Ingedagte maak sy die koperknippe los, lig die leeromslag op en blaai twee bladsye aan. Die Bassons se familiegeskiedenis staan op bladsy drie – getrou geskryf in die vorm van name en datums deur Willem en sy moeder Anna Catharina Basson, gebore Venter. Sý, Caroline Anne Basson gebore Fuller, het die meeste inskrywings gemaak. Sou Willem daarmee voortgaan as sy nie meer hier is nie, haar sterfdatum en hul jongste kind se geboortedatum invul? Wie se naam gaan op hare volg – een van haar ongetroude susters s’n of iemand wat sy glad nie ken nie? Willem sal tog nie sonder ’n vrou kan klaarkom nie en die kinders moet ’n moeder hê.
Caroline maak die Bybel toe en sak op die stoel neer. Sy moet haar kommer met iemand deel – iemand soos ousus Hester. Willem is streng en arbeidsaam, maar selfsugtig en veeleisend en so puntenerig, sy word nie eens toegelaat om vir die kinders uit die Hollandse Bybel voor te lees nie. Die probleem is, sy het met die King James Bible grootgeword, hy met hierdie Nederlandse Staten-Biblia. Nou reken hy hy is die enigste een in die huis wat Hooghollands kan lees – nie dat dit vir hom so maklik is nie. Hy oefen die afgelope weke so hard aan Lukas twee van vers een tot sewe, sy en die kinders kan gedeeltes daarvan al opsê. In haar kop hoor sy sy stem buig en bars om die moeilike Hollandse woorde: “Ende het … geschiedde als sy daer waren dat de dagen vervult … wierden dat sy baren soude. Ende sy baerde haren eerstgeboren soon ende … wondt hem in doecken ende leyde hem neder in de kribbe.”
Wat sou Maria gedoen het as sy die volgende dag wakker geword het en haar kind haal nie meer asem nie? Maar vir haar was dit nie so bestem nie. Haar seun was ’n jongman in die fleur van sy lewe toe sy Hom aan ’n kruishout sien sterf het. Kan dit makliker wees?
Caroline laat sak haar kop.
Ag, Here, is ek ondankbaar?
“O, hier is jy!”
Ousus Hester! Sy staan ’n tree of twee van die portaaldeur af, geklee in gemaklike ryklere, strooihoed in haar een hand, reissak in die ander.
“Ousus, ek is bly.”
“Ek ook. Wat maak jy so alleen in die hoekie?”
“Ek het die Bybel kom bêre, toe rus ek bietjie.”
Hester sit haar tas neer, haar hoed op die bankie met die bont geborduurde kussings. Sy gooi haar arms oop, hink nader, buk oor en hou Caroline vas.
Sy ruik na stof en gekneusde roosblare, maar sy is sagter en versigtiger as Susanna.
Toe sy regop kom, hou hulle nog hande vas. “Hoe gaan dit?”
“Ek weet nie.”
“Moeg?
“En … bang.”
“Ek help jou boontoe, dan rus jy in vrede. Ek sal Susanna geselskap hou.”
“Ek waardeer dit, maar moenie my vergeet nie. Daar is vrae wat ek jou wil vra.”
“Laat ek net gou die middagkos aan die gang kry, dan kom sit ek by jou.”
“Is jy nie ook moeg nie?”
“Van die heerlike oggendrit?”
“Susanna sê dis warm.”
“Susanna dra baadjies in die middel van die somer. Wat verwag sy?”
Caroline wil lag. “Saggies, sy hoor ons.”
“Ek sal haar reguit sê. Kom, ek klim saam met jou boontoe.”
Dit verstom Caroline telkens dat iemand wat so swaar loop soveel energie het, maar dis ousus Hester. Sy steur haar nie aan haar gebrek nie, sê altoos dat sy aan niks anders gewoond is nie, sy sit in elk geval net as sy naaldwerk doen en groente skil.
“Heerlik koel is jou slaapkamer!” roep sy uit.
Soggens is dit inderdaad heel aangenaam, maar smiddae bak die son op die dak en dan raak dit soms ondraaglik. Dis nie die ergste nie, Caroline kan hier alleen wees en daarvoor sal sy opoffer. Hester help haar op die bed. Sy trek haar sloffies uit, druk-druk aan die geswelde voete.
“Jy moet met jou bene hoër lê. Het jy ’n ekstra kussing?”
“Dit help nie meer nie.”
Hester prop die een aan Willem se kant onder Caroline se hakskene in. “Beter?”
“Ja, soos jy dit doen.”
“Nog pyne?”
“My kop.”
Hester gooi water in die lampetkom, maak Caroline se waslap nat en gee dit vir haar aan. “Hou jou kop koel.”
“Dis die einde.”
“Dis die begin.”
“Wag tot ek jou van my nagmerries vertel.”
“Steur jou nie aan sulke drome nie.”
“Ek sien oorlede Daniëltjie – helder oordag.”
Hester vat die waslap, vou dit tot dit smal genoeg is en sit dit op Caroline se voorkop. “Vergeet van Daniëltjie. Hy sal weggaan sodra die kleintjie gebore is. Rus nou, ek sal Siena stuur met jou tee.”
“Net water, asseblief.”
Voor sy loop, maak Hester seker dat die silwertafelklokkie binne Caroline se bereik is. “Lui hard as jy ons nodig kry.”
Willem voel die trots in sy borskas opborrel. Jan Adriaan kan sy oë nie van Baron afneem nie.
“Waar kom jy aan hom?”
“Direk uit Holstein in Duitsland ingevoer.”
“Wanneer?”
“So … jaar en drie maande gelede. Julle kom mos nie kuier nie.”
“Dit was ’n besige jaar. Hoeveel het dié een jou uit die sak gejaag?”
Willem kyk na Danko wat die leiband vashou, sy gesig uitdrukkingloos. Hy sal nie die bedrag voor die stalkneg uitlap nie, Danko is slim genoeg om sulke inligting tot sy eie voordeel te gebruik.
“Dit was ’n waagstuk, maar dit het my naam as een van die voorste telers gevestig.”
“Hy’t seker ’n ellelange bloedlyn?”
“Ja, die oorspronklike Holsteiners gaan so ver terug as die dertiende eeu. Dit het hulle honderde jare geneem om die ras te verfyn.” Willem vryf met sy hand oor die lang nek, die hoë skof, die mooi gevormde skouers en langs die reguit rug af. Die dier trap rond en skud sy maanhare. “Bedaar, Baron, bedaar.”
“Wat noem jy hom?”
“Baron. Sy stamboeknaam is Baron von Brandes IV.”
“Baron von Brandes IV uit Holstein in Duitsland op Mispa in die Karoo?”
“Ek sal hom nie tussen my wilde perde loslaat nie, as dit is wat jy bedoel?”
“Jy’t vir hom ’n merrie uit die adelstand gekies – soos ek jou ken.”
“Prinses Hermina Elbertina.”
“Een van jou Frieslanders?”
“Haar vullens vaar goed op die Kaapse Turf en sy’s weer dragtig.”
“Ek hoor by van my Londense vriende die Turf is ’n klug teen die Ascot.”
“Gee kans, die Kaap kom by en Port Elizabeth is nie ver agter nie.”
“Dink jy regtig perdewedrenne gaan in ons land ook posvat?”
“Mense wil geld maak. Buitendien, ek