Mispa. Helena Christina Hugo
maak ’n keelgeluid. “Jy en jou seuns? Klein-Willem is skaars sewe.”
“Oor vyf jaar is hy twaalf en Daniël negentien. Teen daardie tyd sal hulle kan kies of hulle in skaapboerdery of in renperde belangstel. Ons gaan aan die voorpunt wees, hou ons dop en vergeet nie vir Hercules en George nie.”
“Jy dink ver in die toekoms.”
“Tyd vlieg. Danko, vat vir Baron in.”
Danko, wat die heeltyd geduldig Baron se halter staan en vashou het, draai die reusedier terug na sy stal. Jan Adriaan vis in sy baadjiesak en haal ’n blikkie sigarette uit. Hy maak dit oop en bied een aan.
“Dankie, ek hou by my pyp.”
“Nes jy wil.” Jan Adriaan trek ’n vuurhoutjie en maak sy sigaret brand.
Willem voel in sy sak na sy rookgoed, maar los dit eers. Hy en Neels kan netnou saam aansteek. “Kom ons staan huis se kant toe. Swaer Neels is seker klaar met aftuig.”
“Kan nie verstaan hoekom hy dit nie aan jou knegte oorlaat nie.”
“Hy hou daarvan om toesig te hou en ek gun hom dit.”
“Nes jy.”
“Jy ook.”
Jan Adriaan gee ’n keellaggie. “Ek hoor jou.”
Willem glimlag. Alles is wel. Dié keer heers die gees van Kersfees dalk van begin tot einde en verseker gemoedelikheid, broederliefde én wedersydse respek. Om hom te beïndruk, lei hy Jan Adriaan met ’n ompad langs die buitegeboue verby. Die mure is pas afgewit en alles vertoon vooruitstrewend. In die smidswinkel is Danster en sy helpers aan die werk. Hulle groet beleefd.
“Jy’s bevoorreg om die Oliphants in jou diens te hê, ek sukkel met werkers,” sê Jan Adriaan.
“Ek gee vir hulle ’n heenkome.”
“Watter heenkome? Hulle was mos maar altyd hier op Mispa.”
Willem antwoord nie. Hy het te gou gerus geraak. Sy broer volg sy ou taktiek, hy wil hom uitlok om weer sy erfporsie te probeer regverdig.
Dit veroorsaak onnodige stremming en hy loop vinniger, maar Jan Adriaan hou by.
“Het Neels al jou stoethings bewonder?” vra hy.
“Ons het hom in Port Elizabeth gaan haal – ek en Neels.”
“So, julle boer nou saam?”
“Ons help mekaar. Ek het vanjaar twee merinoramme by hom gekoop. Dieselfde span wat by hom skeer, skeer by my ook. In droogtetyd koop ek voer by hom. Hy mors nie met die rivier nie, hy boer vooruit en daarvoor het ek respek.”
“Ek skat so – hy lewer gereeld vars groente in Kimberley.”
Willem is verbaas. Jan Adriaan en Neels is verlangs aangetrou, maar nie vriende nie.“Kuier julle?”
“Ons groet op straat. Sy naam staan op sy wa – Erasmus-tuine – al is sy plaas se naam Doringfontein.”
“Die tuine is mos eintlik Hester se afdeling.”
“Kwaai vrou, daai een.”
“Sy dra die broek, dis nie altemit nie. En jy? Susanna kan jou mos om haar pinkie draai?”
Jan Adriaan neem ’n teug aan sy sigaret en grinnik. “Vreemd tog van jou – jy is vooruit wat jou boerdery betref, maar jy klou aan ou gewoontes.”
“Ek hou van my vrou op haar plek.”
“Dit weet ons almal. Jou baard verraai jou.”
Willem hark met sy vingers deur sy baard. Dit tref hom skielik dat Caroline dit eens op ’n tyd gekam en geknip het. Sy doen dit nie meer nie. “Wat het my vrou met my baard te make?” Sy stem klink selfs vir hom rou.
“Niks, behalwe dat sy lyk asof sy met haar oom getroud is. Jy is uit die oude doos, broer Willem. Skeer, voor jy en Caroline weer Kimberley toe kom.”
Willem byt op sy tande, maar dis uit voor hy kan keer. “Jan Adriaan, jy het niks om my mee te troef nie, nou raak jy persoonlik. Los liewer jou stadsmaniere, voor ek jou die hek wys. Of het jy vergeet hier op Mispa maak ek die reëls?”
Jan Adriaan blaas die rook van sy winkelsigaret eenkant toe. “Kleinboetie! Moenie jou so opwerk nie – ek terg soos toe ons kinders was.”
“Ek’s nie meer ’n kind nie en ek laat my nie terg nie.”
“Goed-goed, ek hoor jou.” Jan Adriaan lig sy hande kalmerend. “Ons sien mekaar ook so min – dalk verstaan ons mekaar nie meer nie. Wanneer kom julle weer stad toe?”
“Sodra die nuwe kleintjie sterk genoeg is – vir die doop.”
“In die winter?”
“Of volgende somer. Hang af van die kind. Dis nie asof julle so gereeld hier kom kuier nie.”
Jan Adriaan suig aan sy sigaret. Hulle loop in stilte tot by die eendedam en gaan staan in die koelte. Die ou wilger se takke sleep in die modder. Eende en makoue plons in die water en roei weg. Vinkmannetjies bou fluks aan die soveelste nes. “Ek weet nie of ons weer hier moet afpak nie,” sê Jan Adriaan.
“Hoekom nie? Ma en Pa se grafte is hier, ons is familie.”
“Juis. Pa het nie nodig gehad om ons te onterf nie – dis teen die wet en jy weet dit. Deel van Mispa moet my toekom.”
“Jou ou deuntjie, en spyt kom altyd te laat.”
“Ek was nog nooit spyt oor Kimberley nie. Die stad het my goed behandel. Oor een ding verwyt ek my en dis broer Daan. Ek is jou en Caroline ewig dankbaar dat julle sy naam laat voortleef. Ek en Susanna werk nog daaraan.”
“Dis Pa se name en jy hou nie van Pa nie.”
“Asof jy met Pa klaargekom het.”
“Ek was dertien, een jaar jonger as my oudste seun toe ek saam met Pa begin boer het en nie geweet het of ek die volgende dag gaan haal nie. Julle – jy en broer Daan – het my in die steek gelaat.”
Jan Adriaan gooi sy sigaretstompie op die grond. Hy trap dit fyn en flenters. “Kom ons vergeet van die verlede voor ons mekaar nog ’n keer pak.”
“Jy soek daarna.”
“Jy gee dit vir my op ’n skinkbord.”
“God vergewe jou jou onregverdigheid,” prewel Willem. “Ek kan nie.”
Of Jan Adriaan gehoor het wat hy sê, weet hy nie. Hy vat koers en loop koeikamp toe waar hy swaer Neels druk in gesprek met Klaas sien staan.
Hoofstuk 3
Caroline het ingesluimer en droomloos geslaap. Toe sy wakker skrik, is dit laatmiddag. Sy is natgesweet, ongemaklik en dors. Die hoofpyn waarmee sy gaan lê het, het nie opgeklaar nie. Sy buig haar bene. Die kind roer en rek hom uit.
Hoe het die dag begin en waarheen gaan dit?
Stemme ruis op van die voorstoep se kant. Die gekletter van teelepels teen porseleinkoppies word afgewissel met die uitroepe van mense wat gemoedelik verkeer. Wat soek hulle op Mispa se werf? Toe onthou sy. Dit is die dag voor Kersfees en die familie is hier: Willem se broer Jan Adriaan en sy opgemaakte pop van ’n Susanna, die meisiekinders Anna Catharina en Elsje, Hester en Neels en Klein-Neelsie. Caroline span haar in om uit te maak wie praat. ’n Vrou lag senuweeagtig. Dis nie Susanna of Hester nie. Wie dan?
Here, wat dink hulle van my? Ek is die huisvrou en ek kruip weg.
Te oordeel na die skaduwees teen die engelmuur, is dit lank ná middagete. Verbeel sy haar of hoor sy koeie huis toe kom en potdeksels in die kombuis klap? Kosgeure dring deur die skrefies van die toe deur. Iemand is in beheer – ousus Hester. Sy het gesê sy sal sorg.
Caroline kom langsaam orent. Daar is ’n kraffie met water en ’n omgekeerde glas