Mispa. Helena Christina Hugo

Mispa - Helena Christina Hugo


Скачать книгу
soos Johannes die Doper se kop op ’n skinkbord aangedra.

      ’n Lastige windjie skop skielik stof in die lug op.

      Willem loer na die horison. “Wolke,” verklaar hy, en met dié goeie vooruitsig steek hy bloeddorstig sy vurk in die vleisbord en prop ’n yslike stuk in sy kies.

      Caroline stoot haar bord weg van haar.

      “Jy eet nie,” verwyt hy haar al kouende.

      “Ek voel nie lekker nie.”

      “Wil jy gaan lê?”

      “Ek sal uithou.”

      Toe wend hy hom weer tot Arnoldus. Hester skep hompe poeding in bakkies en stuur dit aan saam met ’n beker brandewynsous. Van die kleintjies hardloop om die tafel. Die vliegslaners is moeg, hul arms hang. Susanna maak ’n waaier oop en waai haar gesig koel. Jan Adriaan lyk verveeld. Siena maak vuil borde bymekaar. Die rose het heeltemal verlep.

      En die kind in Caroline is onheilspellend stil.

      Jacoba gee vir haar haar poeding aan. “As daar vandag iets moet gebeur, is hier baie wat jou kan help,” troos sy.

      “Ouma Sêrah is ook byderhand.”

      “Ouma Sêrah?”

      “Sy het al my kinders gevang.”

      “Hoekom eet sy nie saam met ons nie?”

      “Sy’s Khoi.”

      “O.” Jacoba maak haar poedingbakkie leeg voor sy weer praat. “Ek het ook eers een van hulle gehad – Koba Meerkat. Sy was beter as die Boervrou wat jou pa vir my laat kom het. Jy lyk vir my moeg.”

      Caroline knik, trane vorm in haar ooghoeke.

      “Ek wil jou nie voorskryf nie. Miskien moet jy gaan lê?”

      “Is dit goeie maniere om voor die dankgebed van die tafel af op te staan?”

      “Steur jou nie aan maniere nie, ek stap saam kamer toe,” sê Jacoba. “Willem, jou vrou voel nie lekker nie.”

      Hy en Arnoldus redeneer so heftig oor kampe en draadheinings, hulle hoor skaars. Jacoba haak by haar in en vertel hoe sy die laaste keer stokalleen was met niemand om haar te help nie. “Gelukkig my maklikste geboorte, hopelik my laaste. Dis my voorwaarde.”

      “Sien jy kans om weer te trou?” vra Caroline verbaas.

      “Wat anders? Ek kan nie vir altyd by my seun en sy vrou inwoon nie. Dit veroorsaak geskille en daarvan het ek genoeg gehad.”

      “Father was nie ’n maklike man nie.”

      “Hy was rusteloos, die jagveld was sy lewe – dit het sy dood gekos.”

      Hulle klim die trap in stilte – verby die opgestopte dierekoppe teen die muur, jagtrofeë van die mans wat Mispa mak gemaak het. Caroline dink aan die leeu wat haar pa verskeur het. Dit het gereent en sy spore is vir goed weggewas.

      “Iemand sal daai stinkhond kry,” sê Jacoba.

      Caroline kon nog nooit mans se liefde vir doodmaak begryp nie. Father het seker ’n hele trop leeus uitgeroei voor een van hulle hom ingehaal het.

      Sy en Jakoba rus op die trapportaal en sy bly uitasem. Die kamerdeur staan oop en dit lyk asof die gordyne wil wegwaai.

      “Hierdie wind het skielik opgekom,” sê Jacoba en loop vinnig om die venster toe te druk.

      Verder is alles in orde, behalwe die bed wat gepak is met geskenke waarvan die meeste nog nie oopgemaak is nie. Jacoba stoot hulle eenkant toe. “Lê eers.”

      Caroline doen dit gedwee, maar moet dringend die kommode gebruik en die vroumens maak nie aanstaltes om te loop nie.

      “Is daar nog iets wat ek vir jou kan doen?”

      In die hoop dat sy sal moet uitstap en gaan haal, vra Caroline of daar water in die lampetbeker is.

      Jacoba loop wastafel toe, maar die engelmuur trek haar aandag en sy bly vasgenael. “Waar kry jy die engele?”

      “Ek teken en verf hulle. Dis my stokperdjie.”

      “Jy is so kunstig. Hoe doen jy dit?”

      “Is daar water? Ek raak bietjie benoud.”

      “Jammer! Jy wil seker privaat wees.” Sy loer in die beker. “Ja, genoeg. Ek los jou eers, dan kom ek netnou weer.”

      “Dankie, Jacoba.”Sy kom staan langs haar en raak aan haar arm.

      “Ek weet hoe jy voel.”

      Toe sy uitstap, verdonker haar swart rok die deuropening vir een vlugtige sekonde.

      Caroline gly van die bed af en storm byna halsoorkop op die kommode af.

      Sy ken haar nie juis nie, maar sy sien nou wat Hester bedoel het oor Jacoba wat goed was vir Father, terwyl Mother hom nie kon verdra nie. Wie kan weet wat agter toe deure aangaan en hoe mense mekaar vind of nie vind nie? Net die Here weet wie liefhet en wie nie.

      Caroline klap die kommode se deksel toe en stap na die wastafel om haar af te koel, maar beland nes Jacoba voor die engelmuur. Sy het vir elke kind een uitgedink. Willem het nie van hulle gehou nie, hy het gesê dis teen die Bybel. Toe soek sy die gedeeltes oor engele en wys dit vir hom, nou los hy haar dat sy teken. Die kind roer asof hy haar aandag wil trek. Hy moet nog sy engel kry en sy was maande lank nie lus om een uit te dink nie. Weet hy dit?

      Wind warrel die gordyne by haar verby en sy maak die venster toe.

      Sy is besig om haar natgeswete lyf af te spons toe die pyne begin. Sy gooi haar nagrok oor, maar kry skaars tyd om van die geskenke van die bed af te tel voor die volgende een haar tref. Buite jaag die wind die feesgangers aan. Skottels en borde word hardhandig opmekaar gestapel. Grootmense vermaan, kinders lag en roep uit. Die eerste druppels val op die dak. Deure klap en die huis word van alle kante af ingevaar. Sy wag vir die volgende pyn en dit bly weg. Waar is Jacoba? Sy het iemand nodig om haar hand vas te hou – Jacoba of Hester.

      Hester is in die kombuis, sy deel bevele uit en jaag die bediendes aan. Hulle moet klaarmaak en strooise toe, groot reent is op pad.

      Die volgende pyn gryp Caroline, hou haar vas en bedaar op sy tyd. Om haar aandag af te trek, kry sy een van die pakkies beet en maak dit oop. Dis ’n pienk bedbaadjie, kunstig gehekel en prakties afgerond met ’n rooi lint wat om die nek ingeryg is – ideaal vir voedingstye, te warm vir die somer, dalk vir ’n stormnag soos vannag.

      Moet sy die klokkie lui of moet sy nie?

      Sy hou die horlosie op die kaggelrak dop, die pyne is tien minute uitmekaar.

      Iemand speel op hul huismusiekie, iemand sing. Dis ’n jong vrou, dalk Alida van Arnoldus.

      “Als ik dit wonder vatten wil, staat mijn verstand vol eerbied stil …”

      Die stem klim soet en suiwer hoër en hoër. Dit raak aan die hemel.

      “U, die voor ons geboren zijt,

      U zij ons hart, ons lied gewijd,

      Wij voegen juichend onze stem

      Bij ’t Englenheir van Bethlehem.”

      Dis een van die Evangelische Gezange wat in haar ma se tyd verbied was, maar deesdae aanvaar word.

      Reent knetter op die dak, die sang raak weg, haar pyne ook, en sy slaap.

      ’n Paar uur later gryp die duiwel haar en skud haar wakker. Dis donker en sy roep uit.

      “Help my!”

3952.jpg

      Willem vlieg regop. Caroline se gil deurklief die lug en tref hom soos ’n werpspies in sy kop. Hy voel-voel na die kers wat hy byderhand hou om aan te steek.

      “Caroline?”

      “Dis


Скачать книгу