Mispa. Helena Christina Hugo
soontoe en loer in.
Dis leeg en sy hart kom tot bedaring.
Dankbaar gaan sit hy in sy stoel, strek sy bene, vou sy hande en maak sy oë toe. Net môre sê hy vir sy vrou hy vat haar en die kinders volgende jaar Kaap toe dat hulle die see kan sien. Jan Adriaan moenie dink hy is die enigste een wat ’n treinreis en huurkamers kan bekostig nie.
Hoofstuk 4
Kersdag, Desember 1893
Dis halftwaalf toe Willem Caroline by die sydeur uitlei en met die stoeptrappie af na die prieel langs die huis. Die sultanas is nog nie ryp nie en hul blare bied die beste skaduwee naaste aan die huis. Die etenstafel, sien sy, is heel feestelik gedek en getooi met oop rose en helderkleurige strooiblomme. Dis warm, die lug ruik na stof en van die rose het klaar verlep. Caroline versmag, al is sy lig geklee in katoen en dun moeselien. Sy wil vlug, maar Willem ondersteun haar met sy hand onder haar elmboog. Sy lig die soom van haar rok en trap fyntjies. Haar stoel staan langs syne aan die kop van die tafel.
Almal se oë is op haar en Willem en hulle vorder te stadig.
Wat gaan in die ander se gedagtes aan en hoe lank moet hierdie ete aanhou? Dalk kry die vroue haar jammer, die mans en kinders kan onmoontlik vir hulle indink hoe sy voel.
Ousus Hester en swaer Neels, sien sy, sit aan die ander ent van die tafel, naaste aan die kombuis sodat Hester die bediening van die ete kan reguleer. Sy is netjies aangetrek in ’n nuwe rok, maar haar gesig is blinkrooi en dit lyk of haar hare haastig opgekam en nie behoorlik vasgesteek is nie. Sy vertoon so angstig, Caroline glimlag ten spyte van haar eie ongemak. Met dié begin Hester hande klap en almal, selfs die kinders, volg haar voorbeeld, ook die jongstes en hul oppassers om die kleiner tafel in die skadu van die peerboom.
“Hiep, hiep hoera!” bulder Jan Adriaan.
Hy en Susanna klap al harder.
Langs hulle sit Anna Catharina met blomme in haar hare en ’n martelaarsuitdrukking op haar gesig. Caroline soek na Daniël wat sedert gisteroggend uithuisig is, en nêrens te vinde is nie. Maria en Elsje sit langs vet Neelsie met oorkant hulle Phillipus en Magdalena, Arnoldus se ongetroude broer en suster uit Jacoba se eerste huwelik, en haar en oorlede Father se drie opgeskote kinders. Volgens Hester het sy almal wat ouer as sewe is, toegelaat om aan die grootmenstafel te sit en gereël dat die Kersgeskenke eers vanaand uitgedeel word. Dusdoende is die kinders merkwaardig manierlik.
Willem roep almal tot orde en bedank Hester en Neels wat alles gereël het, ook vir Jan Adriaan en Susanna-hulle en Jacoba en Arnoldus-hulle wat van ver af gekom het.
“Hier op Mispa hou die Almagtige sy oog oor ons en seën ons nou tesame.”
Jan Adriaan wil soos gewoonlik nie by hom afsteek nie en val weg met dankbetuigings namens die gaste. Hy prys Hester vir haar harde werk en Willem en sy hoogswanger vrou vir hul gasvryheid op die ou geboortegrond. “Ons wil vandag nêrens anders wees nie!”
“Ek moet sit,” sê Caroline om Willem se aandag af te trek van Jan Adriaan se ontydige verwysing na geboortegrond.
Hy haal harder asem, maar hou sy humeur in toom terwyl hy haar stoel vir haar regskuif.
Langs haar sit haar oorlede Father se weduwee. Sy is in swart geklee al is haar jaar lange routyd reeds in die winter verby. “Geseënde Kersfees,” fluister sy.
“Dankie, Jacoba.” Caroline noem haar op haar naam al is sy na regte haar stiefma. “Geseënde Kersfees vir jou ook.”
Jacoba beduie trots na die jongman aan die oorkant van die tafel regs van Willem.
“Jy onthou vir Arnoldus, my oudste seun uit my eerste huwelik. Hy boer vir my op Fuller’s Valley. Hester was so gaaf om ons te nooi.”
Caroline wil heel manierlik sê dat dit lankal nodig was om ’n slag as familie saam te kuier, maar Willem maak keel skoon en sy kry nie kans om gaaf te wees nie.
Dis ’n plegtige geleentheid en die Familiebybel lê voor hom oop. As gasheer en hoof van die gesin is dit sy voorreg om die Kersverhaal te lees. Hy maan almal tot stilte en trek weg, sy houding en stemtoon so gesaghebbend soos ’n profeet uit die ou tyd. Selfs dominee Kestell sou dit nie beter kon doen nie, maar Maria wat aan die begin net gemompel het, se meisiestemmetjie word al harder en dis spoedig vir almal duidelik dat sy die hele gedeelte uit haar kop ken en haar pa ver vooruit is.
Willem kyk vlugtig in haar rigting en struikel oor sy woorde. Terwyl hy sy plek soek, buk Susanna oor en pluk Maria se arm so hard, sy voeg ’n “eina” in, maar gaan onverpoosd voort en lei haar pa netjies na die slotsin. Tot sy eer kyk hy net een keer streng in haar rigting, maak dan die Bybel toe en sê: “Kom, ons dank ons Almagtige God en Here vir sy gawes.”
Sy “amen” is skaars uit of Hester lui die klokkie en Doelie, Siena en Bet, gevolg deur ’n halfdosyn vliegslaners, verskyn met die opskepskottels. Hulle plaas die vleisdisse op strategiese plekke en gaan dan terug om die groentes te kry. Jan Adriaan skink die wyn wat hy van Kimberley af saamgebring het en Bet bring glase limonade vir die jonger kinders.
“Is dit Maria wat so pront voorgedra het?” vra Jacoba.
“Ja, Willem se oogappel. En sy aanbid die grond waarop hy loop.”
“Julle is duidelik ’n gelukkig gesin,” sug Jacoba.
Caroline knik skynheilig. Sy wys na die vleiskottel. “Kry vir jou.”
Hester het haarself oortref en Jacoba bewonder die hoenderpastei se perfekte skilferkors, die blink gebraaide soetpampoen en rys met saffraan en rosyne.
“Ek moet hierdie resep vir my kry,” sê sy toe sy die Kaapse uieslaai in romerige suursous proe.
Caroline is te naar om te eet, maar stem oor alles met haar saam en wonder intussen oor Daniël wat steeds nie opdaag nie. Haar blik val op Jan Adriaan. Hy skink vir Anna Catharina ’n glas wyn, seker om haar te troos. Sy slaan dit weg asof dit gemmerbier is. Susanna raas en Anna Catharina blaas haar mond op en stoot haar halfvol bord weg. Die vliegslaners agter hulle kyk verlangend na die kos en bid seker stilletjies dat die ete moet end kry sodat hulle die oorskiet kombuis toe kan aandra en hul deel daarvan kry.
“Wat wil jy dié keer hê?” vra Jacoba.
“Ekskuus?”
“Seuntjie of dogtertjie?”
“Maak nie saak nie, solank die kind normaal is.”
Jacoba knik stadig. Daar is pers beetslaaivlekke om haar mond. “Jou pa wou ’n seun hê en toe gee ek hom drie. Vreemd dat hy en jou moeder net dogters gemaak het.”
Caroline haal haar skouers op. Dis ’n onderwerp wat sy liefs nie wil aanroer nie.
Jacoba leun oor en trek Willem se aandag. “Willem, het julle al aan name gedink?”
“Ons het nog nie besluit nie,” sê hy.
“Seker alles behalwe Daniël of Anna?”
“Die oumense moet vernoem word en ons het ons deel gedoen. Nou is dit ons beurt.” Hy wys met sy vurk na Klein-Willem. “Daar’s my naamgenoot, Caroline moet nog hare kry.”
“Caroline is vir my so ’n mooi naam, klink soos ’n prinses in ’n Engelse storieboek,” sê Jacoba.
“Kom van die Fullers se Engelse voorsate en hulle lees storieboeke, maar Caroline Anne staan klaar op ons geslagsregister en daar sal dit bly.”
Willem het besluit en sy sê niks, al hoor sy dit nou vir die eerste keer. Miskien is dit goed dat haar naam bly voortleef, miskien nie.
“As dit ’n seuntjie is?”
“Ons dink aan Johannes na my pa se broer,” sê Willem. “Die Xhosas het hom vermoor – vir hom en my oupa.”
“Hoe oud was hy?”
“Vyftien en my oupa dertig. Hulle bloed het gevloei vir Mispa, maar God slaap nie.”
“Ja,”