Annelize Morgan Omnibus 7. Annelize Morgan
help dit my?”
“Jy het bewys dat jy soos die woestynmense dink. Ons gee om vir mekaar en ons help mekaar – dis hoe dit in hierdie barre wêreld is.”
“Ek sien …”
Dis nie die wêreld waar ek wil inpas nie, dink Isabelle. Ek wil groen velde om my hê, en koel bome en baie water. Hier sal ek verdroog soos die kurkagtige bossies van die woestyn.
“Ek verstaan Xavier het jou van Khidr gekoop,” onderbreek Myrrha haar gedagtegang.
“Dis waar,” knik Isabelle. “Ek is net sy slavin.”
Myrrha lag onbesorg. “Hy het nie ’n slavin nodig nie, my liewe … Geen Arabier kan jou naam uitspreek nie. Ek dink ons sal jou Shahira noem. Dis die naam van ’n meisie wat in die gryse verlede ’n heldin in hierdie gebied was.”
Isabelle glimlag senuweeagtig. “Dis goed so. Shahira is ’n mooi naam.”
“Natuurlik is dit! Nou is jy een van ons!”
“Maar ek wil na die Kaap de Goede Hoop gaan. My verloofde wag daar op my.”
“My liewe meisie, jy sal vergeet van daardie ver land en van die man aan wie jy verloof is. Daar is geen uitgang vir ’n vreemdeling uit Jemen nie – die sultan sal jou nie toelaat om die land te verlaat nie. Hierdie sal nou jou land word, en jy sal dit moet aanvaar.”
Isabelle se bene voel lam en sy gaan haastig op die stapel kussings sit. Sy het so gehoop dat Jarad haar sal help om uit Jemen weg te kom. “Ek … kan nie vir altyd … hier bly nie,” stamel sy.
“Die liefde oorbrug alle probleme, Shahira. Xavier sal jou gelukkig maak en jou van jou eie land laat vergeet.”
“Daar is nie iets soos liefde tussen my en sjeik Jarad nie. Ons is vreemdelinge vir mekaar. Hy het my net gehelp om weg te kom van Khidr, dis al.”
Myrrha lag vrolik. “Jy verstaan baie min van hierdie land, meisiekind. Hier het ’n vrou nie keuses nie. Jy trou en jy kry kinders as jy nie ’n slavin is nie.”
Isabelle sluk swaar. Sy is uitgeput van die moeilike tog deur die woestyn en het geglo dat hierdie oase vir haar die einde van haar smarte sal bring.
“Ek verstaan van my slavinne dat daar baie oor jou gepraat word, veral onder die rasjids,” sê Myrrha tergend. “Wat het jy gedoen om dit te verdien?”
“Praat hulle goed of sleg van my?”
“Met ontsag.”
Isabelle lag ten spyte van hoe sy voel. “O, dit!” Sy vertel kortliks van die geveg in die berg en dan haal sy haar skouers op. “Ek het nie eintlik ’n keuse gehad nie. Ons was te min teen hulle, en buitendien het my pa my reeds as kind geleer om ’n swaard te hanteer.”
Myrrha sit haar geskok en met wyd gerekte oë en aankyk.
“Ek glo dit nie …” fluister sy. “Ek sal vanaand gaan luister na wat die mans praat sodat ek jou kan waarsku as hulle jou wil doodmaak.”
“Dit sal baie ondankbaar van Jarad wees as hy dit wil doen,” sê Isabelle. “Ná ek twee dae en drie nagte by hom moes waak!”
Myrrha is baie stil. ’n Slaaf kom in, sit die kos op die grasmat neer en laat hulle weer alleen.
“Ek dink ek moet meer uitvind by my man.” Die vrolike lag en onbesorgdheid is weg uit Myrrha se stem. “Kom ons eet eers, dan kan ons vir jou klere uitsoek. Ek sal my slavinne vra om vir jou ’n bad gereed te kry.”
Vir Isabelle is dít ten minste goeie nuus. Water in die woestyn is skaars en ’n ware bad is ’n luuksheid.
Die bad is met roosolie gegeur. Die aroma daarvan vul die hele vertrek. Soos alles in Arabië is dit ook, volgens Isabelle se standaarde, ’n bietjie oordadig. Die bad is amper ’n ritueel, en twee slavinne staan haar by met alles wat sy nodig het.
Tog is dit wonderlik om in die warm water te kan ontspan en die stof en sand van haar af te was. Vir die eerste keer in ’n lang tyd onthou sy vir Ninon en Frankryk en hulle pragtige huis met al die ou erfstukke. Daar het ook dikwels ’n geur van rose in die vertrekke gehang, want Ninon het graag potpourri in bakkies oral gelaat. Trane drup uit die hoeke van haar oë in die badwater, maar sy vee dit nie van haar wange af nie. Sy wens dat sy haar vaderland net weer kan sien sodat die pyn van verlange kan verdwyn.
Myrrha bring vir haar klere van helder turkooisblou wat met goud omboor is. Isabelle trek die uitrusting met gemengde gevoelens aan. Sy dink terug aan die oomblikke toe sy naby Jarad was, toe sy in sy oë kon kyk en na sy stem kon luister. Sy onthou die fladdering van haar hart. Maar dis nie genoeg om ’n leeftyd se geluk op te bou nie. Dis te min om haar van haar vaderland te laat vergeet.
Terwyl die twee slavinne haar koperkleurige hare kam tot dit blink, dwaal haar gedagtes kort-kort na Jarad. As sy ooit toegelaat word om Jemen te verlaat, sal sy hom nie kan vergeet nie. Ninon het gesê dat elke meisie se droom van ’n ridder op ’n wit perd net ’n droom is – niks meer nie.
Dis met somber gedagtes dat sy na Myrrha terugkeer.
“Die sultan is in Harib,” sê Myrrha opgewonde. “Xavier wil by hom besoek aflê en jy sal saamgaan. Die sultan besoek Harib net vir ’n week of so. As jy dit gelukkig tref, sal jy in sy teenwoordigheid toegelaat word. Miskien gee hy jou dan ’n geskenk. Hy en Xavier is groot vriende.”
“Ek sal hom vra om my toe te laat om Jemen te verlaat,” sê Isabelle.
“Shahira! Jy stel my teleur!” roep Myrrha uit. “Waarom wil jy nog vlug as jy so gelukkig hier kan wees?”
“Hoe moet ek gelukkig wees in hierdie barre wêreld terwyl ek elke dag verlang na die groen valleie van my geboorteland? Sjeik Jarad stel net belang in oorlog, Myrrha. Moenie meer daarin lees dat hy my gekoop het nie.”
“Maar jy kan dit verander! Jy kan hom tot ander insigte bring.”
“Ek of jy kan hom nie verander nie. Hy is vry soos die woestynwind.”
“En net so vernietigend,” sê Myrrha ongelukkig. “Xavier en Khidr is die twee sjeiks met die meeste mag in Jemen. Hulle is soos twee woedende bulle wat mekaar gedurig aangluur, en af en toe raak hulle slaags. Die hemele behoed dat dit op ’n volskaalse oorlog uitloop.”
“En wat sal van my word as sjeik Jarad sterf in so ’n oorlog?” wil Isabelle weet.
Myrrha kyk dringend na haar. “Wen die guns van die sultan, en Khidr sal nie aan jou raak nie. Jy sal altyd die sultan se beskerming hê as jy Jarad se hart wen.”
Isabelle haal diep asem en sê niks verder nie. Daar lê nog ’n swaar pad voor na haar vryheid – as sy dit ooit gaan kry. Daar is nie net tasbare struikelblokke nie, maar ook dit wat ’n mens nie kan sien nie.
In die Kaap de Goede Hoop wag Etienne le Riche op haar. Daar sal sy madame Le Riche wees en sal sy danspartytjies, etes en soirées moet hou. Sy sal weer elke dag uit fyn koppies tee drink en saans wyn uit ’n kristalglas. En wanneer sy by die venster uitkyk, sal dit lowergroen wees.
Die woestyn sal uiteindelik net ’n herinnering wees. As sy Jemen verlaat, sal sy nooit terugkeer nie. Dan sal sy sjeik Xavier Jarad ook nooit weer sien nie …
Gedurende die dag slaap die vroue van sjeik Nimur Turan soos alle vroue in harems doen. Hulle ontwaak eers teen vyfuur. Die nagte is koeler en dus die beste tyd om enig-iets te doen wat jy wil geniet. Daar is nie veel vir hulle te doen nie. Hulle drink tee en sit net en skinder of gesels. Al tydverdryf wat hulle het, is om mooi aan te trek en hulle bestee ure aan hul voorkoms.
Isabelle is dankbaar vir die blaaskans. Sy slaap die hele dag en teen die aand word sy deur Myrrha wakker gemaak.
“Julle gaan vir nog ’n paar dae hier bly, voordat julle na Harib vertrek. Xavier het tyding gekry dat Khidr beplan om na sy huis in Helu op te ruk.”
“Watter wonderlike nuus om mee wakker te word,” sê Isabelle. “Hoekom