Annelize Morgan Omnibus 7. Annelize Morgan
skreeu Jarad agter haar aan.
Die gedreun van perdepote laat haar vinnig omkyk. Sjeik Khidr het intussen nader gekom en maak nou sy verskyning van agter die naaste duin. Op volle vaart jaag hy met sy perd op haar af.
Sy gaan staan en kyk verskrik oor haar skouer na Jarad en sy rasjids. Hulle is sowat vyftig tree weg van haar en sy sien hoe Jarad haastig terugklim op sy kameel. Sy bly verward staan, onseker oor wat om haar gebeur. Khidr is byna by haar.
Die volgende oomblik word sy in ’n kragtige greep vasgevat en van die grond opgelig. Jarad trek haar tot voor hom in die saal en swenk vinnig na regs.
Sy rasjids volg op sy hakke en sny die woedende Khidr van hom af. Dis die teken waarop die hordes gewag het. Hulle stroom uit elke bos en gat na die oop stuk grond waar Khidr rasend op hulle skreeu.
“Val aan!” gil hy. “Brand die dorp af. Vernietig elke lewende siel in hierdie plek!”
“Los my!” skreeu Isabelle aan Jarad. “Kyk wat het jy gedoen!”
Hy antwoord nie, maar jaag net voort na ’n uitstaande rots weg van waar die geveg plaasvind. Sy hamer met haar vuiste teen sy bors, maar dis asof hy dit nie eens voel nie.
“Jy sal hul dood op jou gewete hê!” skreeu sy. “Toe jy die belofte gemaak het, het jy nie geweet hoe dit hier lyk nie! Jy het nie geweet dat Khidr ’n volskaalse oorlog beplan en reeds op jou lê en wag nie!”
“Dit gaan hier oor grondgebied en mag, Shahira, nie oor jou nie. Khidr wil my mag in die woestyn breek. As hy van Beryl weet, sal hy haar ook doodmaak.” Sy donker oë is koud. “As iets met my gebeur, kan jy na die sultan gaan. Ek gaan nou terug om saam met my rasjids te veg.”
Hy draai om en stap ligvoets oor die sand weg.
Isabelle staar hom agterna. Dit sal nie help om hom te probeer terugroep nie; hy sal nie terugdraai nie. Hy het haar bevele gegee wat hy verwag sy sal gehoorsaam.
Jarad kan onmoontlik Khidr se manne terugdryf, dink sy koorsig. Dis ’n hopeloos ongelyke stryd. Sy neem die kameel se leisels en lei hom na die rotspunt, vanwaar sy ’n goeie uitsig op die skermutseling het.
Daar is ’n groot rumoer om Helu, en sy jeuk om deel te wees van die geveg. Die swaard wat Jarad vir haar gegee het, steek nog in haar lyfband. ’n Rukkie lank aarsel sy, maar dan trek sy dit uit haar lyfband en stap uit agter die rots.
Dit neem haar ’n oomblik om Khidr se manne te herken aan die band om hulle kop. Die son het intussen opgekom en brand reeds genadeloos neer. Dis warm en ongemaklik en haar kommer oor Xavier neem by die minuut toe.
Die bloeddorstige krete van die vegters bereik haar ore en sonder enige verdere verkwisting van tyd hardloop sy tussen die manne in. Minute later dryf sy die punt van haar swaard deur een se skouer. Van Jarad is daar geen teken nie, maar sy kan ook nie haar aandag daaraan wy om na hom te soek nie.
In die versengende hitte begin sy gou twyfel oor die wysheid om deel te neem aan die geveg. Daar is egter nou net een uitweg en dis aanhou totdat alles verby is.
Uiteindelik hoor sy krete van oorwinning, maar sy is te bang om op te kyk om uit te vind wie gewen het. Om haar word die geveg gestaak en almal kyk in die rigting van Helu.
’n Groep ruiters jaag by Isabelle verby, terug na die woestyn. Haar blik val op Jarad, wat in die middel van die chaos op sy manjifieke swart perd sit. Hy druk sy sabel in die skede aan sy sy asof hy dit nie meer nodig sal kry nie. Groepe van Khidr se vegters verdwyn te perd die woestyn in en om haar gaan ’n juigkreet op onder die mense van Helu wat so verbete geveg het.
Dan gewaar sy die optog wat Helu van die oostekant af nader. Dis ’n karavaan kamele en perde. Twee ruiters kom vooruit. Hul deftige klere glinster in die verblindende son en op die koppe van hul perde is daar donkerpers pluime.
Met ’n diep frons kyk Isabelle na die karavaan. Dan eers sien sy die vergulde takhtrawan omring deur ruiters. Nog ’n drastoel volg, ook met beskermende ruiters daaromheen. Agterna kom die swaargelaaide kamele.
Niemand hoef haar te vertel wie dit is nie – dit kan net die sultan wees wat self kom kyk of sy opdragte uitgevoer word. Sy byt op haar tande omdat sy weet dat Beryl ook daar sal wees – daardie beeldskone Arabiese meisie met die geheimsinnige donker oë.
7
Kamal, Jarad se getrouste volgeling, kom na haar toe aangehardloop.
“Saïda! U moet na die sjeik se huis gaan! Die sultan is op pad!”
“Hulle wil my doodmaak, Kamal.”
“Nee, saïda, ons sal dit nie toelaat nie. U is Shahira, die vrou wat nie bang is vir die djins nie.”
Sy glimlag ten spyte van die benoude gevoel in haar binneste en gaan haal die kameel wat Jarad vir haar gelos het. Dan klim sy op en skep moed toe Kamal vrolik vir haar glimlag. Hulle ry swyend die oase binne.
Helu is soos ’n fort gebou, met dik, hoë mure wat die dorpie omring en waarop skerpskutters met pyl en boog enige aanvallers met gemak kan afmaai. Dis ’n geil en groen oase en sy kan verstaan waarom Khidr dit wil hê.
Kamal ry vinnig vooruit, met Isabelle kort agter hom. Sy het haar abaya oor die onderste deel van haar gesig gedraai om nuuskierige blikke te vermy. Die bloedkolle aan haar klere is egter duidelik sigbaar.
Eindelik hou Kamal sy perd voor ’n groot houthek in. Hy roep ’n bevel op Arabies en die hek word oopgemaak. Hulle bevind hulle in ’n ruim binneplaas. Isabelle volg hom na ’n deur in ’n muur en hy lei haar vinnig met ’n smal trap op na ’n klein balkon. Daar gaan sy staan en kyk oor die rand af na die binneplaas waar die sultan pas gearriveer het. ’n Leer word na die voorste drastoel geneem en die sultan klim uit.
Haar hart klop in haar keel toe sy sien hoe Jarad te voorskyn kom en die sultan groet. Sy kan nie hoor wat hulle praat nie. Die sultan gee ’n teken aan een van die wagte en dié verskuif die leer na die ander drastoel. ’n Gesluierde Beryl klim uit en sy bly eenkant staan, die toonbeeld van onderdanigheid.
Isabelle se hart krimp ineen. Sy dink aan die vorige nag toe sy en Jarad so intiem saam was in die woestyn. Sy haal diep asem om haar verwarde emosies te beheer. Miskien moet sy geduldig die tyd afwag totdat sy die mense en die omstandighede in hierdie land beter verstaan. Dalk sal daar dan vir haar ’n geleentheid wees om te vlug en weg te kom uit Jemen, weg van Jarad en Beryl.
Isabelle word na ’n ruim vertrek aan die agterkant van die huis geneem. Dis heeltemal afgesny van die res van die huis en sy voel alleen en vasgekeer.
Sy dink aan Jeanne en wonder of sy die Franse meisie ooit weer sal sien. Sy dink ook aan Etienne le Riche, en dit voel of ’n swaar hand haar keel toedruk. Dis tog immers waar sy veronderstel is om te wees: by Etienne le Riche in die Kaap de Goede Hoop.
Sy staan by die venster en kyk uit oor die buitemuur na die dorpie daar anderkant. Sy voel weer so verskriklik alleen soos toe sy in die land aangekom het.
“Ons sal vir ’n paar dae saam moet woon,” hoor sy ’n sagte stem agter haar sê en sy swaai verskrik om.
Beryl het geruisloos ingekom op haar kaal voete en haar abaya van haar gesig afgehaal. Sy is nog mooier as wat Isabelle haar onthou.
“Jy het niks om jou oor te bekommer nie,” sê Isabelle, die bitterheid vlak in haar stem. “Jy het die sultan aan jou kant, en selfs die sjeik kan nie sy wense veronagsaam nie.”
Beryl kom ook by die venster staan.
“Maar dit sal ook die einde van die oorloë met sjeik Khidr beteken,” sê sy kalm. “Dis vir die sultan baie belangrik om ’n einde daaraan te maak.”
“Sal ek dan toegelaat word om Jemen te verlaat en terug te gaan na my vaderland?”
“Nee, maar as ek sjeik Jarad mooi vra, sal hy jou as slavin vir my gee.”
Isabelle voel weersin in haar keel opstoot. “Jy is baie seker van jou saak. Jy aanvaar sommer net dat Xavier met jou sal trou.”