Annelize Morgan Omnibus 7. Annelize Morgan
aan die oorlog tussen sjeik Jarad en sjeik Khidr.”
Isabelle draai ergerlik van haar af weg. Beryl se selfvoldaanheid maak haar woedend, maar sy besef ook dat sy nie alleen teen die sultan se besluite kan baklei nie.
Sy moet probeer om Kamal eenkant te kry en hom te vra of dit moontlik is om hier weg te kom. Sy sal nie stilsit en wag dat ander oor haar lewe besluit nie.
Vroegaand kom Kamal na die vrouekwartiere. Beryl staan afwagtend op asof sy aanneem dat sy nou na sjeik Jarad geneem sal word, maar dis vir Isabelle wat Kamal kom haal. Toe Isabelle oor haar skouer terugkyk, sien sy die onverbloemde haat in die ander meisie se oë. Sy sidder liggies toe sy omdraai en Kamal na buite volg.
Beryl kom wel onderdanig voor, maar onder daardie sagte uiterlike skuil ’n wil van staal. Sy, Isabelle, sal deeglik rekening moet hou met die beeldskone meisie uit Oman.
Sjeik Jarad is alleen in die ontvangslokaal toe sy deur Kamal binnegelei word. Isabelle besef dat haar toekoms hier en nou bespreek gaan word en dat dit wat hier gepraat word, waarskynlik verreikende gevolge sal hê. Sy vrees dit wat Jarad aan haar gaan sê.
Met ’n vlugtige beweging van sy hand beduie hy aan Kamal om hulle alleen te laat. Isabelle se hart klop versmorend in haar keel. Daar is iets dreigends en onheilspellends in die atmosfeer. Jarad se houding is koud en afsydig.
Sy staan swyend en wag dat hy moet praat, want alles hang nou van hom af.
Sy groen oë verraai niks van wat in sy gedagtes omgaan nie. Hy kyk ’n lang ruk in stilte na haar, asof hy elke woord oorweeg wat hy gaan sê. Die lamplig gooi skaduwees oor sy aantreklike gesig en glinster op die goue koorde van sy hoofbedekking.
“Ek het jou jou vryheid gegee, Shahira,” sê hy eindelik en daar is ’n moeë toon in sy stem. “Ek kan jou nie hier hou nie, al wil ek dit hoe graag doen. Hier sal jou lewe elke oomblik in gevaar wees. Ek moet jou wegstuur ter wille van jou eie veiligheid. As jy iets moet oorkom, sal ek myself nooit vergewe nie.”
Hy haal diep asem en draai van haar af weg. “Ek mag die bevel van die sultan nie veronagsaam nie. Hy het my voor ’n ultimatum gestel en ek word gedwing om te kies. Dis nie my wens nie.”
Isabelle voel die vertrek om haar draai. Tot nou toe was daar nog die vae hoop dat hy haar sal beskerm. Daar was selfs die hoop dat sy saam met hom gelukkig sal kan wees, maar in een oomblik het dit alles verander.
“Sal ek na my vaderland kan teruggaan, Xavier?” vra sy op ’n fluistertoon.
“Ek is jammer.” Daar is pyn in sy stem, half pleitend, asof hy haar om vergifnis vra. “Jy sal nie toegelaat word om Jemen te verlaat nie.”
Sy kyk op na hom, haar oë verblind deur trane. “Moet ek dan vir die res van my lewe in hierdie godverlate woestyn ronddwaal sonder dat ek weet waarheen ek gaan?”
“Die sterre sal vir altyd ons getuies wees, ya habibi.”
Isabelle krimp ineen. Waarom noem hy haar juis nou “my liefling”?
“Die sterre … bring nie … vertroosting nie,” stamel sy.
“Ons ken nie die toekoms nie, Shahira. Daar wag dalk vir ons ’n nuwe en ander pad vorentoe – een wat ons saam kan loop. Maar vir nou moet ek net seker maak dat jy niks oorkom nie.” Hy aarsel en sê dan: “Daar is altyd nog ’n môre met nuwe hoop, en waar jy jou ook al in die woestyn bevind, sal ek jou vind as die tyd reg is.”
Maar sy weet hoe ontsaglik groot die woestyn is, hoe tyd stilweg verbygaan in die eindelose uitgestrektheid. Dalk sal hy haar eers weer vind wanneer sy oud is en al vergeet het dat sy eens op ’n tyd ’n man van die woestyn liefgehad het.
“Wanneer moet ek vertrek?” vra sy sag.
“Môreaand. Ek stuur Kamal saam om jou op te pas.”
Dis ’n klein stukkie troos vir haar geskokte gemoed.
Hy kom staan by haar en lig haar ken met sy vingerpunte sodat sy na hom moet opkyk.
“Sal jy my kan vergewe?” vra hy skor.
“Vir jou, ja. Maar nie die sultan of hierdie vervloekte land nie.”
Toe hy haar in sy arms toevou, besef Isabelle hoeveel angs daar ook in hom is. Hulle gryp na mekaar soos drenkelinge, wetende dat hierdie hulle laaste oomblik saam is. Hulle sal mekaar nooit weer sien nie, en net die sterre sal hulle nog herinner aan hulle kortstondige geluk.
Beryl praat nie met haar toe sy teruggaan nie, en Isabelle gaan later na die daktuin om oor haar benarde situasie na te dink. Die verlatenheid van die woestyn om haar weerspieël haar gemoedstoestand. Sy raak in gedagtes versonke, asof sy daar vertroosting wil soek.
’n Geluid agter haar laat haar vinnig omswaai. Die daktuin is verlate, en tog is sy oortuig daarvan dat sy nie alleen is nie.
“Kamal?”
Haar stem klink vreemd in die swaar stilte. Die skaduwees lyk dieper en donkerder as netnou en sy kan haar hart in haar keel voel klop. Dis nie Kamal wat hier in die daktuin is nie – dis iemand anders.
Stadig beweeg sy na die deur waar die trap is wat ondertoe lei. Wie dit ook al is wat hierheen gekom het, het geen goeie bedoelings nie. Dan sou hy of sy uit die skuilplek gekom het en met haar gepraat het.
Daar is weer ’n fyn skuurgeluid agter haar, baie naby. Isabelle versteen en haar hand gly na die hef van die dolk wat sy in haar lyfband dra. Sy draai stadig om.
Haar hart ruk in haar keel toe sy die gestalte skaars twee tree van haar af sien. Sy rug is na die maan gekeer en sy gesig is net ’n donker poel. Sy kan nie retireer nie. Haar rug is teen die muur wat die daktuin omring en agter haar is niks om te keer as hy haar oor die muur sou stamp nie. Haar hand klem stywer om die dolk.
Hy beweeg so vinnig dat dit haar onkant vang. Al wat sy kan doen, is om laag te buk. Hy stamp haar teen die ruwe muur vas en die pyn skiet deur haar rug waar die muurtjie teen haar rug druk. Dan gaan sy hand blitssnel omhoog en die lem van ’n dolk flits in die maanlig.
Sonder om te aarsel ruk Isabelle haar hand waarin die dolk is omhoog. Sy voel siek toe die lem deur die man se klere glip en in sy maag steek. Sy hoor hom snak na sy asem, hoor hoe sy dolk op die vloer neerkletter voordat hy stadig vooroor buig en oor die muurtjie van die daktuin na benede stort.
Bewend kom sy orent, siek oor wat sy gedoen het. Al was dit uit selfverdediging, was dit nogtans ’n verskriklike daad. Dan kyk sy af na haar hande wat om die rand van die muurtjie klem en sy ril toe sy die bloed sien … oral op haar klere en hande.
Sy hoor vinnige voetstappe en uitroepe in die binnehof waar die man geval het. Mense kom van oral aangehardloop om te sien wat gebeur het. In die verwarring hoor sy Salem Khidr se naam en sy besef dat hy iets met die aanval te doen gehad het.
Sy draai weg van die muurtjie en hardloop met die trap af na binne. Sy sien Beryl in die middel van die vloer staan, haar hande verskrik teen haar slape gedruk. Haar donker oë is wyd gerek van skok.
“Wat het jy gedoen!” roep sy uit.
“Hy wou my vermoor,” sê Isabelle en hardloop by haar verby na waar ’n skottel water in die aangrensende vertrek gehou word vir wasdoeleindes. Sy druk haar hande in die water en was die bloed af terwyl die angs haar laat bewe. Wat gaan die sultan doen? Wat gaan Jarad doen? Wie het gesien wat gebeur het? In die binnehof raas en skreeu dit.
Daar is iemand by die vrouekwartiere se deur. Sy hoor Beryl se stem en dan dié van Kamal. Hy storm in terwyl Isabelle haar hande aan ’n doek afdroog.
“Saïda! Saïda!” roep hy ontsteld.
Sy kyk gemaak kalm na hom. “Wat is dit, Kamal?”
“Ons vertrek dadelik – dis die sjeik se bevel. U het net ’n paar minute om u goed bymekaar te kry. Die sultan weet nog nie wat gebeur het nie, maar die sjeik sal daaroor swyg totdat ons in die woestyn is.”
Isabelle se hande bewe toe sy die doek op die tafeltjie neersit. “Ek kom.”