Annelize Morgan Omnibus 7. Annelize Morgan
onsinnig.” Isabelle sit regop. “Die sultan behoort ’n einde daaraan te maak.”
Myrrha lag. “Selfs hy het nie die mag om mense te keer om mekaar te haat nie, Shahira. Hy kan die oorlog dalk verhoed voor dit te laat is, maar wie weet, volgende keer breek dit op ’n ander plek uit en dan sal hy niks kan doen nie. Die sjeikdomme van Khidr en Jarad sal altyd in ’n oorlog gewikkel wees.”
Isabelle kom agter dat die vroue agter hulle sluiers oor haar praat terwyl die lag vlak in hul oë lê. Sy is te bang om te vra wat hulle so amuseer, maar dis Myrrha wat lig op die saak werp.
“Jy is vir hierdie vroue iemand heel besonders,” sê sy die middag voordat Isabelle weer saam met Jarad die tog deur die woestyn moet aanpak. “Die verhale oor jou het al baie stertjies in die oase gekry.”
“Solank dit sal help om my uit die land te kry, is ek tevrede.”
Myrrha lag net. “Jy sal nog anders voel, wag maar.”
Die aand van hulle vertrek kom te vinnig vir Isabelle. Sy kan die verskrikking van hulle laaste tog oor die duine onthou en sidder by die gedagte. Myrrha hou haar besig met allerhande dinge wat sy wil hê Isabelle moet saamneem.
Sy pak nog twee asemrowende uitrustings in. “Ek het baie, Shahira. As daar meer plek op die kamele was, het ek dit alles vir jou gegee.”
Sy aarsel ’n oomblik en sê dan: “Probeer Xavier verstaan. Hy is net so vasgevang in die gebeure as jy. Eers het hy geveg uit weerwraak oor Leila, maar nou … Wie weet, dalk het hy nou ’n ander doel gevind.”
Myrrha se woorde bly Isabelle nog lank by nadat hulle uit Al Jesab vertrek het. Sy is oortuig daarvan dat Myrrha haar misgis. Sjeik Jarad het skaars na haar gekyk toe sy by hom aangesluit en op die kameel geklim het. Hy het net vir haar geknik en toe die bevel gegee dat hulle moet vertrek. Die wond aan sy boarm het genoegsaam genees dat hy die arm versigtig kan gebruik.
Die rasjids het haar een vir een kom groet, iets wat sy baie vreemd gevind het, maar sy het hulle ewe vriendelik elkeen met ’n ligte buiging teruggegroet.
Kort voor twaalfuur die nag gee Jarad die teken dat hulle die kamele ’n rukkie kan laat rus. Almal is dankbaar om uit die saals te gly. Dit was ’n strawwe reis tot hier.
Die rasjids haal watersakke van die kamele af en Jarad kom na Isabelle met ’n beker water.
“Ek wil hê dat jy my moet vergesel na die sultan,” sê hy.
Sy kyk verbaas op. “Hoekom?”
“Dis die enigste hoop vir jou om Jemen te kan verlaat.”
Sy is vir ’n oomblik heeltemal uit die veld geslaan. Dan het hy al die tyd tog geweet hoe sy voel en hoe sy verlang na haar vaderland en die mense wat sy geken het. Net daarvoor sal sy hom ewig dankbaar wees.
“Ek dag jy het gesê dat geen vrou toegelaat word om die land te verlaat nie.”
Sy oë is groen soos die see soms is wanneer die son met ’n sagter lig daarop skyn en toe hy na haar kyk, is die koue nie daarin soos sy verwag het nie.
“Hier is genoeg droefheid en hartseer in dié land. Ek wil nie hê dat hier nog meer moet wees nie.”
Sy weet nie wat om te sê nie. “Ek is jammer,” kry sy dit uiteindelik uit.
Daar is ’n lang stilte tussen hulle.
“As jy jou kaarte reg speel, kan jy alles kry wat jy graag wil hê.”
“My vryheid ook?”
Die uitdrukking in sy oë verander. “Dit sal ons moet sien. Maar dis nie die moeite werd om met jou lewe te speel nie, Shahira.”
Hy noem haar op die naam wat Myrrha haar gegee het. Sy onthou die dag toe hy op haar gebie het net om Khidr uit te tart, en sy sidder liggies.
“Jy ken net hierdie land,” sê sy terwyl haar blou oë swem van die trane. “Sal jy die woestyn wil verruil vir die geil wingerde van Frankryk?”
In die stilte tussen hulle kan sy haar hart in haar keel voel klop. Hy kyk weg oor die donker duine voor hy antwoord.
“Nee, ek sal nie, maar ek begryp hoe jy voel. Kyk na my land met ander oë. Dis ’n dor, droë land waarin mens en dier skaars ’n bestaan kan maak. Hier het ons ander waardes. Hier word ’n mens gereken na wat jy is omdat daar niks is wat dit kan wegsteek nie. As jy haat, is dit met oorgawe en as jy liefhet, is dit met dieselfde intensiteit.”
“Ek is nie Shahira nie … ek is Isabelle Deneuve van Frankryk.”
“Jy is Shahira van die woestyn, die meisie wat doen wat geen ander vrou kan doen nie,” sê hy kalm en ’n glimlag laat die hoeke van sy oë kreukel. “My rasjids beskou jou nie as ’n slavin of maar net ’n vrou nie. Ek hoor wanneer hulle om die vure van jou praat. Hulle sê jy is hierheen gestuur om die mag van elke djin te breek.”
Isabelle kyk verskrik na hom. “Hulle misgis hulle!”
“Maar dis wat hulle glo. Dís jou pad na vryheid, Shahira, nie deur die sultan nie. As jy wil terugkeer na jou vaderland, moet jy nog ’n rukkie bly. Die Bedoeïene sal jou dan gewillig laat gaan.”
Stadigaan dring die besef tot haar deur dat hy gelyk het.
“Ek is nog steeds jou slavin.”
“Ek staan nie in jou pad na vryheid nie.” Sy stemtoon is gerusstellend.
“Dankie …”
Die woord hang swaar tussen hulle. Hy het iets aangebied en sy het dit aanvaar, maar die implikasies daarvan rus swaar op Isabelle se gemoed. Jarad sal nooit weet hoe moeilik dit vir haar sal wees om van hom afskeid te neem en terug te gaan na haar land nie.
In Harib gaan hulle tuis in ’n huis aan die buitewyke van die oase. Isabelle sien Jarad byna glad nie, en wanneer hulle praat, is dit oor wat volgende gedoen moet word. Haar verlange na Frankryk en Ninon is skerp in haar hart, want vanaand gaan sy die geleentheid kry om haar saak voor die sultan te stel. Dalk is sy gelukkig …
Sy word gehaal vir haar oudiënsie met die sultan. Sy het geen idee wat sy voor hom moet doen of sê nie. Hoe moet sy haar saak stel? Hoe moet sy optree?
Xavier wink haar om hom te volg. Hulle gaan saam die trap op na die ingang, waar hulle deur die wagte deurgelaat word. Onwillekeurig dink Isabelle aan Riza – haar tong is uitgesny omdat sy te veel te sê gehad het. Sy, Isabelle, sal versigtig moet wees wat sy sê, want hier kan ’n mens se lewe in ’n oogwink in ’n nagmerrie verander. Of vinnig en onverwags beëindig word.
Hulle word na die dak van die huis geneem, waar die sultan na Mekka staan en staar asof hy baie diep oor iets nadink. Hy draai om toe Xavier hom groet. Isabelle staan ’n paar treë agter Xavier, bloot omdat sy onseker is hoe om op te tree.
Die sultan kyk na haar. “So, dit is Shahira. Ek het van jou gehoor … die meisie wat die djins uitdaag.”
Isabelle se oë rek en die sultan lag gemoedelik. “Daar word dikwels meer dinge aan ’n mens toegedig as wat jy glo dat jy verdien.”
Sy is te bang om te antwoord.
“En waarom is jy vanaand hier, Shahira?” vra die sultan.
Sy kyk verskrik na Jarad.
“Sy het ’n versoek,” sê die sjeik.
Die sultan lig sy wenkbroue. “O? En wat is die versoek?”
“Ek wil graag teruggaan na my geboorteland, na Frankryk …” sê sy en dit voel asof haar keel toegedruk word.
Die sultan knik stadig. “Ek sien. En hoekom wil jy dit doen?”
“Ek verlang na my land … Ek is verloof aan ’n man in die Kaap de Goede Hoop. Ek het hom agt jaar laas gesien en ons sou trou.”
“Die noodlot het hierdie pad voor jou oopgemaak, Shahira,” sê die sultan met ’n vaderlike stemtoon. “Hoe