Droomman aan boord. Elsa Hamersma
is lus en soen die baas, hoewel sy weet dat sy antwoord vir party mense dalk vreemd voorkom. Sy wonder wat meneer Krüger van haar wil hê. Rynard het net een keer aan die begin haar naam genoem. Hoekom sou meneer Krüger wou hê dat sý moet antwoord?
Die oomblik toe die amptelike voorlegging verby is, vat Victoria nog ’n glas sjampanje by ’n verbygaande kelner. Dit sal die laaste een wees, maar dit help om iets in haar hand vas te hou terwyl sy met kliënte gesels. Amper soos ’n reddingsboei, het sy al gedink, want as sy tyd nodig het om eers te dink oor ’n antwoord, kan sy altyd aan die glas teug om tyd te wen.
Iemand vat aan haar skouer en sy draai om.
“Victoria, kan ek jou voorstel aan Bartho Krüger?” Die baas knip ongesiens vir haar oog. Eric dink natuurlik die man is sommer oorlams om haar spesifiek te wil uitvra. “Bartho, die een en enigste Victoria Verbeek. Soos jy gesê het, is sy ons produkspesialis. Haar agtergrond as aandelehandelaar van valuta-afgeleide produkte maak van haar ’n baie waardevolle lid van ons span. Ek is seker sy sal al jou vrae kan beantwoord.”
Sy draai haar kop en kyk vas in die blouste paar oë wat sy nog gesien het. Selfs blouer as Belle s’n. Sy knip haar eie oë om seker te maak dat sy nie verkeerd gekyk het nie, want voor haar staan – in lewende lywe – die beeld wat sy nog altyd van ’n perfekte droomman gehad het. Vandat sy liefdesverhale in haar vroeë tienerjare begin lees het, visualiseer sy al haar droomman in haar dagdrome en selfs dié in die nag: donker, definitief langer as sy, met pragtige blou oë. ’n Vriendelike man wat haar skans teen die lewe sal wees. Prentjies van hulle twee voor die kansel, saam in hulle knus huisie, elke dag saam met hom, snags langs hom, het in haar kop lewe gekry.
Die laaste paar jaar het sy egter minder en minder tyd gehad om aan dié drome te wy en het sy volwasse geword. Realisme het die plek ingeneem van drome toe sy nugterder na die wêreld begin kyk het. Dit was nie lank voordat sy aanvaar het dat die man waaroor sy so lank gedroom het, eenvoudig nie in die werklike lewe bestaan nie; dat daar ’n oorvloed paddas om haar is wat nie die belofte inhou om in haar spesifieke prins te verander nie.
En nou staan dié man onverwags voor haar en lyk hy presies net soos in haar fantasie. Nee, beter. Sy netjiese donker wenkbroue en die donker wimpers wat die blou oë raam, is mooier as in enige droom. Hy steek sy hand na haar uit en glimlag.
Sy glimlag skitterbly terug en voel hoe haar knieë onder haar knak. Sy hand is groot en koel, en sy handdruk net ferm genoeg.
Die wonderlike oomblik spat in skerwe toe hy skuins omdraai en ’n blonde vrou met baie rondings en klere wat dit adverteer, nader trek: “Maya Venter, my verloofde,” stel hy haar voor.
Victoria sluk droog. “Aangename kennis,” mompel sy en voel hoe haar hart tot in haar skoene sak. Dit is beslis nié vir haar ’n aangename kennismaking nie.
Die lewe kan darem ’n boelie wees as hy tyd het, dink sy, en vat werktuiglik ’n groot sluk sjampanje. Bartho Krüger wat die vergestalting van haar ideale man is, is klaar aan ’n ander vrou verbind. ’n Regte poppie met al die bates wat Victoria nie het nie.
“Bartho sê net baie slim mense kan sulke finansiële langtermynplanne uitdink,” verklaar Maya Venter met ’n soet glimlag vir Victoria. “Hy’s elke keer verbaas wanneer dit ’n vrou is.” Sy draai na haar verloofde toe en druk sy hand. “Bokkie, gesels julle lekker shop, ek gaan bietjie sosialiseer.”
Bartho kyk sy verloofde eers agterna voordat hy na Victoria toe terugdraai. “Ek neem aan jy het my vraag netnou gehoor?”
“Ja.” Victoria haal diep asem. Sy het nie verwag dat iemand wat soos haar droomman lyk, verbaas sal wees dat vroue intelligent kan wees nie. Sy sal eenvoudig nou die teendeel moet bewys. Sy byt op haar tande en konsentreer so hard sy kan. Nou is nie die oomblik om oor die verydeling van haar romantiese droom te dink nie. Sy moet haar werk doen, anders gaan nóg Bartho, nóg haar baas beïndruk wees. Eric Verhoef het nie intussen verdwyn nie, maar staan steeds reg langs haar asof hy wil hoor hoe sy antwoord. En Willie se gesig verraai sy nuuskierigheid.
Sy antwoord na die beste van haar vermoë, maar Bartho val haar kort-kort in die rede met nuwe vrae.
“Victoria het al daardie deel van die vraag beantwoord,” sê Eric een keer, maar Bartho laat hom nie stuit nie.
“As jy jou uitgee om slim te wees, moet jy die vrae kan hanteer,” antwoord hy kortaf.
Dit voel vir Victoria soos ure voordat hy eindelik fronsend om hom begin kyk. “Waar’s Maya?” vra hy asof hulle moet weet.
“Sy het netnou daar anderkant met Roelf Beneke gestaan en praat,” bied Willie hulpvaardig aan.
Sonder om om verskoning te vra of selfs net dankie en totsiens te sê, draai Bartho om en verdwyn – klaarblyklik nie beïndruk dat sy verloofde met ’n aantreklike ouer man staan en gesels nie.
“Ongeskik,” sê Eric. “Dit het vir my gelyk asof hy jou probeer vasvra.”
“Maar hy kon nie, nè?” lag Willie ingenome.
“Dankie dat jy gekeer het toe Bartho Krüger wou hê dat ek oor die mikrofoon moes antwoord, Eric.” Sy ril by die herinnering.
“Dis my plesier, maar Victoria, jy sal jouself ’n guns doen om aan te sluit by iets soos Toastmasters. Jy is so slim, dit sal jou net in ’n nog beter posisie plaas. Jy sal baie ver kan vorder in die maatskappy as jy nie so beskroomd voor ’n gehoor is nie.”
“Ek weet,” antwoord sy sag. Dis seker nie die regte oomblik om vir hom te sê dat sy al daardie paadjie geloop het en dat dit niks gehelp het nie. Iemand anders met goeie bedoelings het die raad gegee dat sy haar moet verbeel die hele gehoor sit kaal voor haar. Dit het die teenoorgestelde uitwerking gehad. Kaal mense in rye voor haar is genoeg om haar te laat weghardloop. As enigste kind in ’n streng ouerhuis, kan sy nie onthou dat sy een van haar ouers ooit kaal gesien het nie. ’n Mens ontbloot jouself nie voor ander as jy enigsins selfrespek het nie, sê haar ma graag.
Al mens wat sy al ooit kaal gesien het, is Belle, want Belle is soos haar suster.
“Ek dink die aanbieding was baie suksesvol,” sê Eric. “Dit is ’n goeie produk en daarom sal dit goed verkoop.”
“Ons sal eers weet wanneer ons sien hoeveel van die adviseurs se kliënte daarin belê,” antwoord sy redelik. “Kan jy my dalk nou huis toe vat, Willie? Dis seker reg as ek nou huis toe gaan, Eric?”
“Natuurlik.”
“As jy gereed is, is ek reg,” antwoord Willie.
By die motor maak hy weer galant vir haar die deur oop.
Die laataandverkeer is besiger as gewoonlik, maar sy ontspan heeltemal en leun terug teen die sitplek.
“Snaakse ou, daai Bartho Krüger,” sê Willie. “Niemand anders kon by jou uitkom nie, want hy het jou heelaand gemonopoliseer.”
Die motor ruk skielik sidderend soos Willie briek trap. Victoria se lyf du vorentoe tot waar die gordel hard teenkanting bied. Eers op die laaste oomblik sien sy waarom Willie so vinnig gerem het: die taxi wat teen ’n hoë spoed slingerend oor die pad reg van voor op hulle afgejaag kom. Wanhopig draai hy die stuurwiel, maar dis te laat.
Die laaste wat sy hoor, is haar eie stem wat hard, hoog en aanmekaar gil.
“Victoria? Maak oop jou oë.”
Die kalm stem hou aan dat sy haar oë moet oopmaak, al het sy nie baie lus nie. Sy sweef êrens sag en warm waar dit rustig en stil is.
“Tori? Maak oop jou oë!”
Sy dwing haar oë oop. Dit was onmiskenbaar Belle se skril stem en die dringendheid daarin maak haar bang.
“Welkom terug,” sê die kalm stem. Dit behoort aan ’n man in ’n wit oorjas met ’n sagte gesig.
Sy wil antwoord, maar sy kwaak soos ’n eend met asemhalingsprobleme.
“Toemaar. Moet nog nie probeer praat nie.” Hy sit sy hand