Droomman aan boord. Elsa Hamersma
Dalk moet sy Belle se raad dié keer volg en net ontspan. Dis gedane sake.
2
Op die lughawe moet Victoria geduld aan die dag lê om Belle van die adonis weg te kry. “Ek het net gou selfoonnommers met hom uitgeruil,” pruil Belle toe hulle eindelik koers kry doeane toe.
“En dink jy jy gaan hom weer sien?”
“Hoekom nie? Hy’t besigheid kom doen in Hongkong. Oor ’n week is hy terug in die Kaap en wanneer ek weer by die huis is, sal hy my bel.” In ’n kenmerkende gebaar stoot sy haar bolip met haar tong uit. “En as ek niemand op die boot ontmoet met wie ek lus is om ’n entjie op die lang pad aan te durf nie, sal ek hóm bel. Life is short en ek gaan nie geleenthede deur my vingers laat glip nie!”
“Maak net eers seker hy’s nie klaar getroud nie,” maan Victoria. “Kyk bietjie of jy die bordjie sien wat die taxistaanplek aandui.”
“Sjoe, is ek bly alles is nie in Chinees geskryf nie! Sal die taxibestuurder Engels kan verstaan?”
“Hy sal darem die basiese verstaan: Kowloon, Kai Tak Cruise Terminal en Queen Mary.”
“Dankie tog jy’s so slim,” sug Belle langs haar. “Ek sou nie geweet het watter kant toe om die bagasie te kry of niks nie.”
“Jy sou vir die adonis gekry het om jou te help,” antwoord Victoria. Belle het altyd ’n man of mans wat meer as bereid is om die pad vir haar makliker te maak. “Ons moet nog die boot se etikette om ons tasse se handvatsels sit.”
“O, gats! Ek het skoon daarvan vergeet. Wat het ek met myne gemaak?”
“Toemaar. Ek het al ons etikette in my handsak.”
Haar ouers wag hulle in toe die taxi by die boot se terminaal stilhou.
“Ek was só verlig toe ek die SMS kry dat julle op pad is met die taxi, Victoria.” Haar ma druk haar liggies teen haar vas.
“Was tannie ook bang die vliegtuig val?” vra Belle wat nog nooit vantevore oorsee was nie en die vlug as ’n onveilige en gewaagde deel van die reisplan beskou.
“Nee, ek was bang Victoria trek kop uit,” sê haar ma met ’n stywe glimlag, “of dat die vlug te vermoeiend vir haar sou wees, want sy het nog nie al haar krag herwin nie.”
“Ek breek gewoonlik darem nie my woord nie,” sê Victoria met net sulke stywe lippe. “En ek makeer niks nie, Ma. Ek het na die ongeluk bietjie gesukkel met my balans en so aan, maar nou is ek so gesond soos voor die ongeluk.”
“Dit kan dalk so wees, Victoria, maar ek ken jou mos goed. Ek kan sien jy is nog nie jouself nie. Liggaamlik is een ding, maar jy het ’n geestelike knou weg en is pas uit die hospitaal ontslaan …”
“Kom ons los nou al die stories van hospitale,” tree haar pa tussenbeide. “Ons is op die boot om vakansie te hou en nie om elke dag aan die ongeluk herinner te word nie.”
“Halleluja,” sê Belle opgeruimd.
Victoria vang haar ma se oog en kyk vinnig weg. Geestelike knou? Wat beteken dit?
“Is hier baie jong mense aan boord, oom?” wil Belle weet toe hulle na die vertreksaal stap.
“Um,” maak hy keelskoon. “Daar is baie jong mense wat op die skip werk, maar die passasiers lyk vir my in die algemeen na ouer mense. Afgetredenes.”
“Solank daardie afgetredenes nog lood in hulle pype het,” fluister Belle en rol haar oë vir Victoria.
“Seker net stokou mense wat die tyd en die géld het om weke lank leeg te lê,” fluister Victoria terug en rol haar oë met selfs meer mening vir Belle.
“Pappa het wel iemand raakgeloop wat hy ken. Ongelukkig was die arme man in ’n ski-ongeluk en is hy in ’n rolstoel. Sy broer is saam met hom om hom te help. Hulle is jonger mense, meer julle maats as ons s’n.”
“Ag, dis als reg. Ons sal die jong mense uitsnuffel,” glimlag Belle met die vertroue van ’n mooi vrou wat nog nooit sonder bewonderaars was nie.
Hulle tasse word weggeneem. “Hulle check seker nou eers of ons nie goed insmokkel nie,” sê Belle grootoog.
En daarna kry hulle elk ’n sleutelkaart vir hulle onderskeie kajuitdeure.
“Ons is nie op dieselfde dek as julle nie, maar ons sien julle halfsewe in die eetkamer,” groet Victoria se ma. Sy kyk op haar horlosie. “Dis sommer nou-nou. Ons eet in die Britannia Restaurant en julle sal ons tafel se nommer in julle kajuit kry. En onthou om iets moois aan te trek. Die Engelse is nogal formeel. Mans moet baadjies dra, en informele klere word nie geduld nie.”
“Dis als so smart,” koer Belle toe hulle in die imposante gang af loop om die hysbak na die vierde vlak te haal. “Ek is mal hieroor. Het jy gehoor, Tori? Ons is in ’n state room.”
Hulle state room is ’n luukse kajuit. By die badkamer verby sien hulle twee enkelbeddens wat langs mekaar staan. ’n Sagte blou bank staan voor die TV en die deur op die ander punt loop uit op ’n balkon. Victoria gaan dadelik uit om die uitsig oor Hongkong te bewonder.
Belle het intussen met ’n gilletjie ’n bottel sjampanje op die tafeltjie ontdek. “Om ons aan boord te verwelkom,” sê sy, lig die bottel uit die ysemmer en begin dadelik om die prop af te wikkel. “Bly net daar, Tori, ek bring vir ons champers.” Die prop skiet af en Belle skink. “Cheers. Op die vakansie van alle vakansies,” sê sy oomblikke later toe sy vir Victoria die glas met borrelende vloeistof aangee. “En daarmee bedoel ek dat ons MVV ’n groot sukses sal wees.”
“Cheers.” Victoria klink die lang glas teen haar vriendin s’n en ignoreer doelbewus die laaste paar woorde. “Het jy al ooit so ’n mooi uitsig gesien?” Sy wys na die hoë geboue van Hongkong oorkant die water. Die laaste sonstrale blink goud in die talle glasvensters en reflekteer in die water.
“Dis pragtig,” sê Belle dromerig. “Kan jy dink as dit nou-nou donker word en die liggies gaan aan? Al wat ons nog kort, is twee mooi mans weerskante van ons. Dan sal hierdie vakansie wees soos ’n droom wat waar word.”
Hulle tasse is laat en uiteindelik moet hulle in hul reisklere navraag gaan doen waar die eetkamer is en soontoe stap. “Tafel 103,” sê Victoria vir die kelner wat hulle galant inwag.
Hulle volg hom tussen die tafels deur totdat sy haar pa se vol bos grys hare sien waar hy hulle staande inwag.
“Hierso!” wuif hy hulle nader. Sy rysige figuur staan die mense agter hom heeltemal toe en eers toe hulle by die tafel kom, merk Victoria skrams die man in die rolstoel skuins agter haar pa op.
“Laat ek julle voorstel aan my dogter, Victoria, en haar vriendin Isabelle,” sê haar pa. “Dis Lukas en Bartho Krüger. Bartho het gaan ski en sleg seergekry. Hy het bietjie op die boot kom rus sodat hy kan herstel na die ongeluk.”
Dit voel vir Victoria of haar hart soos ’n hipersnel hysbak in ’n nanosekonde tot in haar voete sak. Voor haar sit Bartho Krüger, die man wat sy die aand van die ongeluk by die funksie ontmoet het. Hulle gesprek van daardie aand is vaag. Sy onthou net dat sy hom herken het as die man van haar drome, maar dat hy verloof was. Waar hy nou in die rolstoel sit, lyk sy mooi blou oë taamlik onvriendelik en is daar geen sweem van ’n glimlag op sy gesig nie.
Lukas Krüger spring egter op en stap om die tafel om hulle om die beurt hand te gee. “Ek is so bly om te sien hier’s darem ander jong mense op die boot,” sê hy vriendelik.
Belle gaan skielik soos ’n blom oop. Sy glimlag koketterig en gooi haar hare oor haar skouers. Victoria neem Lukas se hand en fokus dan op Bartho. Hy bied nie sy hand nie aan nie, want die gewrig van sy regterhand is verbind en in ’n hangverband om sy nek. Vermoedelik het sy bene die seerste gekry, vandaar die rolstoel.
“Ons het al ontmoet. By die bekendstelling van een van ons finansiële produkte?” Sy hou haar stem gelykmatig en hoop net dat niemand agterkom dat haar