Ena Murray Keur 11. Ena Murray

Ena Murray Keur 11 - Ena Murray


Скачать книгу
galant op terwyl die twee vroue hulle stilswyend sit en beskou, eers met blye herkenning en dan – wanneer hul blik op Karlien val – met verbystering.

      Malcolm laat teatraal hoor: “Die verlore seun is terug, en raai wat – met vrou en baba kompleet!”

      Julius kyk sy vriend kwaai aan. “Jy kan gerus nou jou verspottigheid laat staan, Malcolm!”

      Die blonde vrou lag, maar dit klink gespanne. “My liewe Julius, weet jy nou nog nie dat Malcolm ’n verwronge sin vir humor het nie?” Haar blou oë flits na Malcolm. “Jou grappie is in slegte smaak, my skat. Niemand vind dit amusant nie.” Sy strek haar hand na Julius uit, die blou oë groot en blink. “Welkom terug, Julius! Ek … ons het jou baie gemis.”

      Julius buig oor haar hand. Sy trek hom nader en bied hom haar mond aan.

      “Dankie, Carroll. Dis goed om te hoor dat ’n mens nog gemis word.” Hy kom dadelik orent en buig ook oor die ander vrou. “Hallo, Daphne. Soos altyd, sien jy daar goed uit.”

      “Dankie.” Die stem is effens koel en haar blik bly vasgenael op Karlien wat nog soos Lot se vrou daar staan.

      Julius groet die twee mans wat duidelik baie ingenome is om hom weer te sien. Dan is elke oog weer op Karlien gerig en dis of die vraag hardop uitgeskreeu word: Nou wie is sy?

      Julius draai terug na Karlien en met ’n hand op haar rug stoot hy haar liggies vorentoe, sy stem egalig en kalm, sy hele houding beheers.

      “Karlien, ontmoet Carroll Day, Malcolm se vrou.” Die blonde vrou knik effens, haar oë steeds kil. “En dit is Daphne Roderick.”

      “Hallo, Karlien.” Daphne knik ook maar net effens, maar erken darem die bekendstelling hardop.

      “Meneer James Roderick, een van die direkteure van die maatskappy waarvoor ek werk en … John Roderick – sy seun en Daphne se broer.”

      Hulle buig beleef en dan is dit ’n sekonde lank doodstil. Julius se stem is so kalm toe hy vervolg, dat Karlien dit met die geluid van haar bonsende hart in haar ore amper nie kan hoor nie.

      “En dit is Karlien, vriende. Soos Malcolm reeds gesê het, my vrou. Die baba is haar oorlede suster s’n wat in ons sorg geplaas is.”

      Malcolm Day het gelyk gehad, dink Karlien vaag. ’n Groter bom kon Julius blykbaar nie gelos het nie. Eers is daar net volslae verbystering gemeng met ongeloof op die gesigte te lees. Dan verander die gesigsuitdrukkings in die duidelik geskokte stilte wat op sy bekendstelling volg. Karlien kyk vlugtig van die een gesig na die ander.

      Die blonde vrou se oë vernou en in ’n flits van ’n sekonde sien Karlien hoe die rooi lippe saampers, ’n harde trek om haar mond, die vernoude oë vernietigend op haar gerig. Die ander meisie, Daphne Roderick, lyk verslae en skepties. James Roderick, die direkteur, lyk aangenaam verras en sy seun staar Karlien met openlike bewondering aan.

      Dis Daphne Roderick wat eerste haar goeie maniere onthou. “Welkom in ons midde, Karlien. Jy gee seker nie om as ek jou sommer dadelik so noem nie, nè? Hier op die Seychelle is ons almal eintlik een groot familie. Kom sit hier.”

      Karlien sak dankbaar langs haar neer. As sy ’n oomblik langer so in die spervuur moes staan, het sy inmekaargestort. Carroll Day klap met haar hand op die stoel langs haar.

      “Kom sit, Julius. Vertel ons ’n bietjie van die beskawing.”

      Sy ignoreer Julius se vrou totaal en Karlien is haar dankbaar daarvoor. Die oë draai eindelik weg en sy voel hoe die styfheid in haar ’n bietjie skiet gee. Daphne vra beleef uit na die reis en sy antwoord ewe beleef, intens bewus daarvan dat die meisie langs haar haar goed deurkyk en opsom. Telkens kyk van die ander ook na haar kant en sodra sy hulle betrap, verskyn ’n beleefde glimlag en word die kop vinnig weggedraai.

      Net Carroll Day kyk nie weer een keer in haar rigting nie. Al haar aandag is op Julius toegespits.

      Karlien kry nou kans om die ander goed te bestudeer. Daphne Roderick is ’n mooi meisie, seker so iets in die twintig, met donker hare en ’n gelaatskleur wat die tropiese son adverteer. Sy is lank en stewig gebou sonder om vet te lyk.

      John, haar broer, lyk nog jonk – niks ouer as twintig, een en twintig nie. Hy is donker, maar ’n bietjie skraler en korter as sy suster. Hul pa is ook donker, met ’n bles, ’n magie en skerp oë wat versag sodra hy glimlag.

      Malcolm, wat regoor haar sit, is donker, maar ietwat maer, met ’n snaakse geel kleur ten spyte van sy sonbrand. Karlien se blik gaan laastens na Carroll, sy vrou. Sy is net so fyn en klein soos Karlien, met blonde hare, blou oë en ’n pragtige roomwit vel. Karlien probeer haar ouderdom skat en besluit: enigiets tussen vyf en twintig en vyf en dertig. Haar vel laat jou dink aan vyf en twintig, en tog is daar iets wat Karlien laat vermoed dat dit eerder vyf en dertig is.

      “Ek het ’n enkelkamer vir jou bespreek, Julius, maar daar sal seker nie probleme wees om dit na ’n dubbelkamer te verander nie,” hoor Karlien vir James Roderick sê en sy kyk vinnig na haar man. Hy antwoord dadelik: “Dankie, meneer, maar ek sal verkies dat ons vanaand nog na Praslin vertrek.”

      Dis Daphne wat protes aanteken. “Ag nee, hoekom so haastig?”

      “Ek dink Karlien sal graag die einde van haar reis wil bereik. Die baba is sekerlik ook moeg.”

      “Dan behoort julle juis oor te bly. Dis nog ’n hele ent na Praslin.”

      Maar Julius is baie beslis en Karlien is hom dankbaar daarvoor. Hoe gouer hulle onder hierdie mense se oë uitkom, hoe beter. Malcolm kom hulle onverwags tot hulp.

      “Daphne, kan jy dan nie verstaan nie? Julius wil natuurlik sy bruid in die tuin van Eden kry. Dis tog die aangewese plek vir haar, nie waar nie?”

      Die mans lag, maar die drie vroue sit met strak gesigte. Daphne lyk verleë en vererg; Karlien lag nie saam nie omdat sy nie weet waaroor daar gelag word nie, en Carroll lyk ongetwyfeld woedend.

      Julius se antwoord op haar man se tergery staan haar duidelik nog minder aan. “Miskien het jy gelyk, my vriend. ’n Vliegtuig is nie juis die mees romantiese plek nie.”

      James Roderick frons meteens. “Maar waar gaan julle bly, Julius? Dit skep nogal ’n probleem. As jy my vooraf gewaarsku het …”

      “Hulle kom natuurlik eers by ons bly totdat die ander huis reggemaak is,” laat Malcolm gasvry hoor. “Julius kan dan op sy tyd die ander plek regmaak …”

      “Dankie, Malcolm, maar ons sal regkom.”

      “Maar, Julius, jy het nog altyd by ons gebly. Natuurlik kom jy … julle …”

      “Dankie, Carroll, dis vriendelik van julle, maar ek sal beslis nie so van jul gasvryheid misbruik maak nie. Die ander huis is nie so sleg nie. Hy kort net ’n bietjie opknap, dis al.”

      Malcolm kyk sy vriend ontevrede aan. “Jy is nou sommer net hardkoppig. Liewe land, jy kan nie met vrou en baba sommer dadelik daar gaan intrek nie. Bly die eerste rukkie …”

      “Dankie, Malcolm, maar ons gaan direk huis toe.” Sy vriende kyk hom net hulpeloos aan.

      “Julle het nie eens beddegoed nie …” probeer Malcolm nog vir oulaas.

      “Ons het. Ek het alles saamgebring wat nodig is.”

      James Roderick lag. “Laat maar staan. Die Schreider-hardkoppigheid is weer in ons midde.”

      “Ja.” Malcolm sug en trek sy skouers op. “Soos jy wil, my vriend. Ek weet dit sal nie help om verder te redeneer nie.”

      Karlien is egter op hierdie oomblik innig dankbaar vir die hardkoppigheid wat haar man openbaar. Liewer ’n hut van takke en blare as wat sy haar intrek by Carroll Day in dieselfde huis moet neem. ’n Oomblik ontmoet hul oë, en Karlien voel hoe sy terugdeins voor die hardheid in die ander vrou se oë. Een ding is seker. Van die ander weet sy nog nie, maar hierdie vriendin van Julius verwelkom haar beslis nie op die Seychelle nie. Sy beskou Karlien as ’n indringer, ’n ongewenste vreemdeling in hierdie klein Eden.


Скачать книгу