Die dood van 'n goeie vrou. Chris Karsten
die warrelwind van emosies, eers die aggressie, nou die selfverwyt.
“Hoekom hét jy?”
Dis nie ’n beskuldiging nie, die antwoord is net nog ’n stukkie wat ingelê moet word in die legkaart van hierdie moord, want Clara Heyns is nié aan ’n hartaanval dood nie.
“Ek wou, ek het haar gevra om saam te kom. Om bietjie weg te breek. Maar sy was te besig, vergaderings en goed, altyd besig.”
Ook dringende besigheid op ’n Saterdag?
Hy kyk op. “Kan ek haar sien, waar’s sy?”
“Klaar weg. Die patoloog doen Maandag die ondersoek op haar. Jy kan haar Dinsdag gaan sien, meneer Heyns. Vir die amptelike uitkenning.”
“Waar’t hy ingekom?”
Hy? Nie hulle nie?
“Die stoep se skuifdeur was nie gesluit nie en die alarm was af. Iemand kon daar ingekom het, maar ons is nog nie seker nie. Ook nie hoe die aanvaller, of aanvallers, by die erf ingekom het nie. Lyk nie na gewone inbraak en roof nie.”
Hy frons. “Wat bedoel jy?”
“Daar’s altyd chaos ná ’n huisbraak. Nie hier nie.” Sy wuif met ’n hand. “Kyk, hier’s haar rekenaar, iPad, iPhone, handsak met beursie, in die woonkamer is die TV op sy plek, die dekodeerder, DVD-speler, CD’s, in die slaapkamer lê haar horlosie en ringe op die spieëltafel, ook een met diamante. Het julle ’n kluis?”
“Onder in daai kabinet. Vir persoonlike dokumente, juweliersware, kontant. Hoekom?”
“’n Vuurwapen?”
“Sy’t een vir selfverdediging.”
Ella hou die bossie sleutels vir hom.
“Kan jy in die kluis kyk of alles nog daar is?”
Hy gaan kniel, vroetel en sê: “Niks is weg nie.” Hy hou ’n pistool op. “Hier’s dit ook, sy’s onverhoeds betrap.”
Of sy’t aanvanklik nie gedink dis nodig om haarself teen haar besoeker te beskerm nie.
“Waar’s joune? Jy’s ’n jagter, jy’t seker –”
“My vuurwapens is in geweerkluise by my kantoor. Is sy geskiet, is dit hoekom jy oor vuurwapens vra?”
“Nee.”
“Hoe dan? Hoe is sy dood, hoekom kan jy nie sê nie?”
“Daar was sigbare tekens van trauma aan haar, dis al wat ek kan sê.” Die hou teen die kop, die duimspykers in die oë. Dis alles trauma.
“Trauma beteken wonde, is dit nie? Wat ek vra, is hóé is sy doodgemaak?”
“Ek het nie meer inligting nie. Dis die doel van die outopsie, om sulke feite vas te stel. En die oorsaak van dood.”
“Maar julle moet tog weet, julle het haar tog daar sien lê. Ek bedoel, as sy nie geskiet is nie, is sy met ’n mes gesteek? Oor die kop geslaan? Hoe lyk dit vir julle?”
Sy voel ineens jammer vir hom, so byna pleitend. “Jammer, meneer Heyns, maar wat ek gesien het of wat ek vermoed, is in hierdie vroeë stadium onbelangrik. Ek kan verkeerd wees. Kom ons wag vir die patoloog, ons behoort Dinsdag meer antwoorde te hê.”
“Wie sal so iets aan haar wil doen?”
“Ja, dis die groot vraag, en dis my werk om vas te stel wie dit gedoen het, en hoekom. En dit bring my by ’n paar lastige vrae wat ongelukkig altyd eerste in sulke omstandighede gevra moet word. Want enigiets kan help, hoe nietig of persoonlik ook al.”
Hy knik. “Vra.”
“Het jy rede om te glo dat jou vrou … dat daar ’n ander man in haar lewe was?”
Sy oë is nou stip en kil, en sy kan haar indink: daardie oë deur die teleskopiese visier van ’n jaggeweer. Dan elke woord asof afgemeet: “Nee. Daar is niemand nie. Clara is nie só nie.”
Haar sel vibreer. Sy ignoreer dit en vra: “Wat van vyande, weet jy van so iemand?” Sy beduie na die rame teen die muur. “Benewens haar huispraktyk het sy ook baie vrywillige werk gedoen. Op uiteenlopende plekke. Dwelmslawe, straatkinders.”
Dit lyk of hy ook dié vraag eers deeglik oorweeg, ’n antwoord in sy gedagtes toets en hertoets. Sy kry die indruk van ’n berekende man.
“Nee, sy het nie ’n minnaar óf ’n vyand gehad nie.”
“Enige mens het vyande.”
“Sy sou my vertel het. Soos sy vertel het hoe Lettie van der Sloet haar op skool geboelie het. Maar dit was ’n kwarteeu terug. Is Lettie ’n vyand?”
“Hoe lank is julle getroud?”
“Elf jaar.” Sonder aarseling, al het die meeste mans eers ’n abakus nodig.
“Hoe was julle verhouding? Ek bedoel die laaste tyd.”
“Wat!” Dadelik opgepluk, ’n man met ’n kort lont. “Wat impliseer jy?”
“Ek impliseer niks, ek vra vrae. Self is ek ongetroud, maar dis mos hoe verhoudings werk, ook in die huwelik – daar’s soms grade van turbulensie. En jy moet maar kalmeer, meneer Heyns, as my vrae vir jou lastig is, want dis nog net die begin. Ek gaan baie vrae hê en mense hou nie altyd van my vrae nie. Maar dis al hoe ons by die waarheid gaan uitkom. En is dit nie wat ons álbei soek nie? Ons wil tog weet wat regtig laas nag hier in jou huis gebeur het, ons wil weet hoekom dit gebeur het, maar bowendien wil ons weet wié dit gedoen het. Jy lyk moeg, het iemand jou iets vir die skok gegee?”
“Ek’s reg.” Hy staan op. “Ons verhouding was goed, geen fout nie, jy’t dit tog seker self al gesien, die SMS wat sy gisteraand vir my gestuur het.” Uitdagende blik, begin dan heen en weer stap en sê oor sy skouer: “Wat nou?”
“Jou vingerafdrukke. Ons moet alle vreemde afdrukke isoleer. Ook jou DNS, dieselfde rede.”
Hy steek vas. “Daar’s vreemde DNS in my huis?” Dis of iets hom meteens so hard in die maag tref dat hy met albei hande op die lessenaar moet kom leun, sy oë op haar. “DNS van wat?”
“Van enigiets. Hare, sweet, spoeg, velselle, bloed, ander vloeistowwe. Ons toets alles en het jou monsters nodig. Waarin slaap jou vrou, in nagklere, propperse pajamas?”
Hy staan tru en dit lyk of hy die vraag nie mooi verstaan nie, of dalk sukkel om hom nou eers weer sy dooie vrou lewend in die egtelike bed te verbeel.
“In die winter, ja. Lang pajamas, broek en hemp. Hoekom? Is sy, is sy …”
Ella skud haar kop. “Ek weet nie, kan nie sê nie, die patoloog moet eers toetse doen. En in die somer?”
“Soms ’n T-hemp, frokkie, soms in … in …”
Sy help: “In ’n broekie en kamisool dalk?”
“Ja, is dit wat sy aangehad het, sy was nie kaal nie?” Toon van verligting in sy stem.
“Ook ’n lang kamerjas, liggrys satyn.”
“Ja, ek ken dit. Vir wat moet hy dan toets?”
“Dis standaardprosedure. In sekere situasies word altyd vir seksuele molestering getoets. Net om seker te maak. Ook vir moontlike vreemde DNS aan haar liggaam en klere. Gaan rus nou eers. Maar ek’s bevrees nie hier nie. As ek jou dringend soek, sal ek bel.”
“Die Eloffs verwag my. Maar ek ry môreoggend vroeg plaas toe, my seuns het my nou nodig.”
“Goed, ek sal jou nie onnodig daar pla nie. Sterkte daarmee, dan sien ek jou Dinsdag ná die uitkenning. Vir ’n verdere geselsie en die vingerafdrukke en speekselmonster.”
“Waar?”
“Ek sal jou Maandag bel. Twee ander sake vir Dinsdag. Een: Wie dink jy sal so iets aan