Vir die voëls. François Bloemhof
mense?” lag hy, vuiste in die sye.
Sy agterryers lag ook. Hy het na hulle gekyk en dit was tyd vir hulle om te lag. Nou wag hulle vir wat volgende moet kom, hoe Sampie die meisiekind nou gaan platsit.
“Jy sal nie weet wat ’n spesiale mens is nie, Sampietjie.” Irma is verbaas hoe kalm sy klink, want dit voel of daar iets taais in haar keel sit.
“En hoe sal jy weet!”
“Hoekom,” stel sy voor, “gaan speel jy nie ’n bietjie nie? Skop ’n bal.” Nou weet sy hy’s nie so goed met woorde soos sy nie. Hy kan haar tog nie slaan nie en dit beteken elke keer as hulle stry, kan sy wen. Met baie meer selfvertroue as waarmee sy die stryd begin het, lewer sy die uitklophou, of wat sy vertrou die uitklophou gaan wees: “Skop die bal, dan kom niemand dalk agter hoe stupid jy is nie.”
Marieda trek haar asem in. Irma wonder of sy gaan opstaan en loop.
Sampie se wange lyk soos spoorweghuis-baksteen. “Het jou mos klaar gesê ek speel nie met meisiekinders nie.”
“Jý’s ’n meisietjie, man!”
Sy is bang hy kom slaan haar. Hy lyk sterk. Maar sy sal staan by wat sy sê, want hier het sy niemand kwaad gedoen nie en hy loop al die pad van daar anderkant af om haar te kom treiter.
“Kom, ouens,” begin Sampie wegdraai. “Ek hou my nie op met vroumense nie.”
“Ja, loop voor die pad vol duwweltjies raak!”
“Jy …” draai hy terug.
“Ek dag jy’s op pad. Toedeloe,” wikkel sy haar vingers.
Hy stap weg, die ander twee saam met hom.
Nou voel dit of haar vel vol haartjies is aan die binnekant.
Marieda blaas asem uit, wat wys hoe op haar senuwees sy was.
Nóú hoor Irma haar eie stem bewe: “Hoe hou jy dit uit met so ’n broer?”
“Sampie is nie rêrig so sleg nie.”
“Hmf!”
“En hy is nie stupid nie.”
“Hmf.”
“Daar is baie meisies wat van hom hou.”
“Kom ons praat oor iets anders.”
Maar albei is stil. Waaroor om te praat nadat sy so ontsteld was? Ten minste weet hy nie hy het gemaak dat sy haar so opwerk nie. Sy’t gewen! Sy wil lag, maar kan nie met Marieda langs haar nie.
Wil tog nie weer praat oor die pop wat Marieda vertel het sy besig is om reg te maak nie – ’n hond het die ding se een been afgebyt, nou werk sy dit vas. Sy wat Irma is, het nog nooit ’n pop gehad nie. Sy sal self die ding se been afbyt as sy ooit een kry!
Geluide van kinders wat roep. ’n Kreet gaan iewers op, iemand het seker ’n bal gevang of is uitgeboul.
Daar is baie meisies wat van hom hou.
Onnosele goed. Kan seker nie wag om te trou en kinders te kry nie – en weet sy nie wat dán gebeur nie? Sy, wat seker maar die rede is hoekom haar ma nie lankal haar pa gelos het nie.
Dan’s jy vir ewig vas.
5
Irma luister na die gekwetter bokant haar kop, skuins na links, regs van haar ook, en wens sy kan tog net die voëls sien. Hier aan die rand van die dorp staan die bome dig.
Af en toe is daar die gewapper van vlerke, maar hulle bly buite sig.
Nou nie meer lank nie – sy sal moet aanstaltes maak huis toe, want sy moet in haar kamer wees as Pa en Ma terugkom.
Sy was nie lus vir kerk nie, toe gooi sy siek. “My kop is seer, Mamma.”
Ma Alta het haar hand op haar voorkop gesit. “Hm, dis nogal warm. Voel jy koorsig?”
“Nee, net kopseer. Dit sal weggaan as ek nog ’n rukkie slaap.”
Sy was bly om te hoor haar voorkop is warm, sodat dit kan lyk of sy rêrig iets makeer. Sy was net nie lus om in die kerk te moet sit met daardie skepsel in die bank agter haar nie. Volgende Sondag sien sy dalk daarvoor kans, eintlik sal sy moet, want sy sal nie elke keer kan lieg nie, maar vandag is sy vry.
Sy het die kar hoor wegtrek, toe maak sy haar kamervenster oop en uit is sy.
Die skelmgeit is deel van die lekkerte. Om iets te doen en daarmee weg te kom. Dis nie goed om te jok nie, weet sy, maar hoekom vóél dit partykeer so? As dit iets is wat niemand kwaad doen nie.
“Jy met jou mandolientjie,” neurie sy, “ek met my bandolientjie, sing ons die oukraalliedjie saam …”
’n Getwiet, en haar kop ruk daardie kant toe. ’n Geritsel in een van die bome, maar daar’s soveel blare …
Sy buk en pluk twee pienk daisies. Mooi. Hou een in elke hand vas, rol die stingels tussen haar vingers. Sy kan dit huis toe vat en …
Dan gaan hulle weet sy was buite. Sy gaan mos moet maak of sy heeltyd geslaap het. Sal wag tot hulle binne is en dan haar kamerdeur oopmaak en uitstap – onthou om te gaap – en vra hoe was kerk en sê sy voel nou beter.
Dit vat baie onthou om goed te lieg!
“Sing ons van waterstrome, slange en olienhoutbome, en ’n ribbok wat daar teen die rantjie staan … Ons sing, ons speel …”
Sy hoor iets klap en haar kop ruk daardie kant toe.
Kan niks sien nie, of eerder, sy sien net bome. Dit was seker ’n kar se exhaust. Maar dit het nie so geklink nie. Maar jy kry mos verskillende soorte karre.
Dit het naby geklink.
Maar sy gaan mos nou-nou waai. Net eers kyk of daar in daai boom ’n voëltjie is.
Sy weet nie wát dit is wat hulle vir haar so fantasties maak nie. Die natuur se juweeltjies, het haar ma hulle al genoem, en dis waar: dat hulle die bome en bosse versier, dat hulle vrolike geluidjies maak, dat hulle kleur en lig bring soos robyne en saffiere en diamante.
Irma gee net ’n tree, toe gewaar sy ’n figuur aan haar regterkant, seker so tien meter weg.
Haar hart ruk.
Hy!
En met ’n geweer. Hy is nie in die kerk nie, sy wou wegkom van hom af en nou’s hy hier. Kan nie wees nie! Sy sien nou dis ’n windbuks. Hy lê plat op sy maag, het haar nog nie opgemerk nie.
Sy wil omdraai, wil padgee, maar volg die lyn van die wapen se loop.
’n Poeletjie. ’n Duif wat sit en water drink.
Nee! Sy wil die woord skree, maar trek net haar asem in.
Nou weet sy wat die klapgeluid was.
En hier kom dit weer: Kwa!
Vere fladder.
Irma laat val die daisies, sien hoe dit langs haar skoene in die stof land.
“Hei!” skree Sampie, besig om orent te kom.
Sy wil naar word toe sy agterkom die duif is nie dood nie, dit beweeg nog.
Sampie is soontoe op pad, hy gaan dit seker doodmaak, en sy wil keer, maar sy weet sy moenie, dis beter so, die arme ding ly nou net.
Sy tol so vinnig om dat sy duiselig raak, en begin hardloop.
Is skielik vas oortuig hy gaan haar in die rug skiet. Iemand wat ’n duif kan skiet, kan enigiets doen. Sy wag vir die klap van die skoot, die pyn in haar rug, maar dit kom nie, daar is net die geraas van haar asem. Sy skop haar skoene uit, want sy kan nie so vinnig daarmee hardloop nie, gryp dit, dan kry sy weer spoed. En dan is sy tussen die bome uit en laat met elke tree die bos verder agter.
Sy kom na ’n ruk tot stilstand om haar wind terug te kry. Besef die koue op haar wange is van trane.