Vurig op Flaminkevlei. Trish Goosen
het. Sy was nog nie vantevore self daar nie, maar te oordeel aan tannie Wollie se beskrywings reken sy hulle kuier gaan baie rustig wees. Sy is óp vir almal wat haar druk om weer met mans te begin uitgaan. Op Velddrif gaan sy haar foon afsit en maak soos sy wil.
Eintlik sal dit haar baie goed pas as g’n man ooit weer na haar kyk nie. Liefde maak seer en sy sien eintlik nie weer daarvoor kans nie.
Met haar handsak steeds onder die blad, stoot sy haar wieletjiestas by die kamerdeur uit en gaan soek na Klara.
Veertig minute later is hulle in die dubbelkajuitbakkie, en die wiele aan die rol. Weskus, hier kom die Van Wyks! Vyf ure saam met ’n hond en ’n kleuter as reismaats . . . Genade, Belinda hoop sy oorleef dit. Gelukkig het sy vir Sheila ’n karsiekpilletjie gegee voor hulle gery het en het Klara nog nie weer gekerm dat sy nie van haar rok hou nie.
Belinda loer met deernis na haar kind in die bakkie se truspieëltjie. Dié wieg in haar karstoeltjie op die ritme van liefdevolle Lolladier se nuutste kindertreffer. Anderkant die oopskuifvenster wat die kajuit van die kapbedekte bakkie skei, kan sy Sheila op haar luukse hondematras sien slaap. Die Deense hond is soos ’n kind vir haar – haar en Janus se eerste baba. Shame, sy dink Sheila mis haar baas steeds.
Belinda voel ’n hoofpyn aankom, en Albertinia is nog nie eens in sig nie. ’n Mens kan ook net soveel liedjies oor reënboë, tandemuise en Fomfompies op Lollaland hanteer voor jy heeltemal kens raak. Hopelik slaap Klara sommer nou-nou, want sy smag na grootmensmusiek, bietjie terapie vir haar siel. Valiant Swart behoort die ding te doen.
Belinda waag haar kans. “Klara? Ek dog dan jy sê jy gaan nie meer na Lolladier luister nie, want dit is vir babas.”
Die dogtertjie lyk nie juis gepla deur die opmerking nie. “Dit is vir groot kinders ook,” sê sy.
“O, nogal, nè?”
Klara knik haar koppie, en Belinda kan sien hoe die kind se wangetjies begin gloei van skaamte. Sy trek haar ogies skeel en grynslag verspot met ’n groot mond vol wit melktande.
Belinda lag saam. “Mamma se ou lawwe ding. Waar’t ek jou tog gekry?” Sy weet goed wat die antwoord gaan wees.
Klara kraai eers van plesier. Dan sê sy haar gunstelingstorie soos ’n rympie op: “In die berge by die apies. Mamma het my stert afgekap en my huis toe gevat.”
“Dit is reg, ja.” Belinda knipoog vir Klara in die truspieël. Sy stel die volume net so effentjies sagter. Sy sal Lolladier maar nog so ’n rukkie verduur.
Dit gaan Klara se eerste regte vakansie wees. Arme klein mensie. Belinda behoort haar seker te skaam dat sy die kind nog nooit iewers heen gevat het nie. Miskien sou dit anders gewees het as Janus se ouers nie ook op Mosselbaai gebly het nie – dalk sou sy dan verplig gevoel het om Klara te neem om haar grootouers iewers doer te gaan besoek. Belinda se eie pa kom kuier darem ook gereeld uit die Kaap, hoewel dit minder gereeld gebeur sedert hy die nuwe vrou in sy lewe het.
Belinda frons. Al is Mamma baie langer reeds as Janus oorlede, is dit steeds vreemd om te dink dat haar pa nou ’n nuwe liefde in sy lewe het. Sy het Beverley nog geensins aanvaar nie. Sy is seker maar orraait, maar dit voel so of Pappa vir Mamma verraai het. Hoe beweeg ’n mens ooit aan nadat jy jou lewensmaat verloor het? En hoe raak ’n mens nou skielik lief vir iemand anders? Sy weet uit ondervinding hoeveel tyd sy nodig gehad het om behoorlik te rou, op háár manier.
Dit was tawwe tye. Sy glo haar oorlewing is te danke aan die feit dat sy haar brein dag en nag besig gehou het. Sou sy gaan stilsit en haarself toegelaat het om te dink, sou die hartseer haar sowaar verswelg het. En wat sou dan van haar kind geword het?
Ja, sy besef ook sy is selfsugtig deurdat sy haar so in haar werk begrawe. Maar om die sirkulasiebestuurder van ’n sukkelende koerantgroep te wees is g’n grap nie. En ja, sy het haar kind beslis in die proses so effe afgeskeep. Maar ten minste het Klara nog ’n ma. Belinda is deur donker dae. Sy het met die depressie-ondier geworstel en die lelike swart hond het haar gelukkig nie baasgeraak nie.
Vat so! Belinda is terug, liewe wêreld. En dit is tyd dat sy en Klara saam nuwe hoofstukke skryf en mooi herinneringe maak.
Sy is nie meer so bang vir stiltes nie en in haar bors waar daar voorheen net ’n groot gapende gat gesit het, het gedeeltes van haar hart darem al begin teruggroei. Maar gereed vir ’n nuwe verhouding? Sy glo nie dat sy ooit weer by ’n ander man betrokke sal kan raak nie.
Belinda loer weer na Klara in die spieëltjie. Die wiegery het opgehou en die dogtertjie se ogies lyk of hulle binnekort gaan toeval. Sjoe, dit was gou.
“My liewe Klaratjie . . .” fluister Belinda sommer teenoor haarself. Haar keelspiere voel skielik styf. “Mamma is so jammer.” Belinda vee die nattigheid onder haar oë weg, skud haar skouers om ontslae te raak van die bewoënheid wat haar onkant gevang het, en druk die knoppie wat outomaties haar Valiant Swart-CD laai. So ja, nou moet sy net ontspan en die lang rit probeer geniet.
’n Paar uur later kondig ’n bordjie langs die pad aan dat Velddrif net tien kilometer verder is. Hulle is amper daar. Die pad was verbasend stil, en Belinda se reismaats het hulle goed gedra. Sheila het nie eens ’n glips agter in die bakkie gehad nie. Sy het mooi soet gewag vir elke russtop voor sy haar blaas gaan leegmaak het.
“Mamma?” vra Klara.
“Ja, my skat?”
Die kleuter wat die afgelope uur tjoepstil ’n speletjie op Belinda se foon gesit en speel het, sit meteens regop, so asof sy ook aanvoel dat hul bestemming nou naby is.
“Hoekom lyk dit so lelik buite?” wil sy weet.
“Lelik? Hoe bedoel jy?”
“Dit is so bruin, Mamma. Hoekom is dit nie groen nie?”
“Dis maar net baie droog, liefie. Dit het lanklaas gereën.”
“Ek hou nie daarvan nie. Ek hoop nie ons gaan hier bly nie.” Klara se gesiggie is die ene verontwaardiging. So ougat, Belinda vreet haar sommer op. Regte klein drama queen, dié kind van haar.
Belinda rig haar blik op die dorre veld wat verby haar venster flits. Klara is reg, die wêreld is wraggies vaal.
Klara is natuurlik gewoond aan die pragtige immergroen Tuinroete. Dit is g’n wonder sy sê die plek is lelik nie. Sy sal die kind se houding moet verander, en sy het omtrent vyf kilometer om dit reg te kry. Sy kan nie by tannie Wollie aankom met iemand wat kla dat sy wil huis toe gaan nie.
In die truspieëltjie sien Belinda dat Klara weer met die selfoon doenig is. “Het jy geweet, Klara, hulle noem dit die Swartland? As ek nou reg onthou.”
Klara kyk op. Sy frons. “Hoekom? Dis dan bruin.” Sy sit die selfoon op die sitplek langs haar neer. Die speletjie is amptelik tot ou nuus verklaar.
“Wel, die ooms wat hier op die plase boer, brand soms hulle lande, dan lyk die wêreld swart.”
“Hoekom?” Klara se ogies is skielik yslik groot. Dit lyk amper of sy uit haar stoeltjie wil klim van nuuskierigheid. Ditsem! ’n Ander kind binne sekondes. Die lokaas het sommer gou gewerk.
“Ek is nie seker nie, Klara. Jy moet tog vir tannie Wollie vra wanneer ons nou daar by haar stilhou. Sy het hier grootgeword en weet alles. En ons gaan sommer lekker lank by haar kuier. So, jy kan haar alles vra wat jy wil weet.”
“Nee.” Klara se armpies is voor haar bors gevou.
“Wat bedoel jy met nee?”
Klara skud haar kop. “Ek en Mamma en Sheila moet alleen gaan vakansie hou.”
Sheila gee ’n blaffie van agter uit die bakkie, so asof sy Klara se versoek beaam. Belinda sien die hond se lang gespierde stert agter Klara se kop uitsteek. Die mêdempie het seker pas ontwaak.
“Ek, Mamma en Sheila,” herhaal Klara.
“Komaan, liefie. Die tannie is baie vriendelik. Jy sal van haar hou.”
“Nee,” brom Klara weer en stoot haar onderlippie vorentoe.