Vurig op Flaminkevlei. Trish Goosen
se hondesalon is nou wraggies geld wat in die water gegooi is – geld in die rivierwater om presies te wees.
Die man kyk vir haar. Hy sit net daar in die boot. Toe snap sy. Dit moes hý gewees het wat haar vroeër van agter die blindings by die siersteenhuis dopgehou het. Wat dink hy nie als nie? Tyd om haar trots te sluk en dankie te sê. En dan moet sy hier wegkom voor sy vergaan van skaamte en ongemak.
Sheila kom flikflooi weer om gestreel te word en Belinda gee toe.
“Ek is Liam,” sê die man uiteindelik. Sy stem is diep en hees.
Mooi naam. Mooi stem. “Belinda.” Sy kyk op, maar vermy oogkontak.
Hy klim uit die boot en die onvaste seehoof wieg onder haar voete toe hy nader stap. Sy ruik die riviermodder ook aan sý lyf toe hy by haar kom. Hy is lank, toring bo haar uit. Hy lyk soos iemand bekend. ’n Akteur dalk? Maar wie?
Sy wil net haar mond oopmaak om hom te bedank, toe hy haar voorspring: “Jy kan bly wees jou hond is nie geskiet nie.” Hy sê dit doodluiters, so asof hy die agtuurnuus voorlees.
Haar blik soek onmiddellik na syne. Sy mooi groen oë verraai dat dit net ’n ydele dreigement is. Maar wat ’n aaklige ding om kwyt te raak! En dít om aan haar ’n punt te bewys.
“Wat?” is al wat sy kan uitkry. Skok word binne sekondes ergernis en dan woede: “Dreig jy my hond?” Sy is nou lus vir baklei. Die skaamte is sommer skoonveld weg. Inteendeel, hý is die een wat hom behoort te skaam. Dink hy die dorp behoort aan hom of wat? Wie gee hom die reg om so met haar te praat?
“Nee, jy verstaan my verkeerd. Ek bedoel almal in die straat is nie so nice soos ek nie.” Hy verhef nie sy stem nie, stoot sy hand net ewe cool deur sy donker hare en kyk haar weer stip aan.
Sy het gedink die man se hare is swart, maar nou sien sy dit is eerder ’n baie donker bruin, soos bittersjokolade – die heerlike soort wat negentig present kakao bevat.
Nie almal in die straat is so nice soos hy nie? Nice? Nou het sy regtig alles gehoor. Jy is g’n nice nie, meneer Liam, of wat ook al jou naam is. As dié man aan homself as nice dink, wil sy nie graag weet wie is die “nie so nice” mense na wie hy verwys nie.
Nice se gat!
Sy dink aan honderd sêgoed waarmee sy hom terug kan kap, en tog kom daar niks by haar mond uit nie. Ook maar beter, want sy is so kwaad dat haar hande skoon bewe. Sy draai haar rug op hom. Hy kan maar van ’n dankie vergeet.
“Kom, Sheila. Ons moet huis toe.”
Sy pluk liggies aan die hond se leiband, en Sheila begin gehoorsaam wal se kant toe stap. Die bedorwe brok is ook net gehoorsaam die dag wanneer sy lus het.
Belinda se kop is so besig dat sy nie eens huiwer toe sy die vreesaanjaende seehoof weer oorsteek nie. Sy is halfpad deur die veld en teen die bultjie uit toe sy besef die man gaan haar sonder ’n verdere woord laat gaan.
Sy kan voel hoe hy haar agternakyk.
Die vermetelheid! Dit maak haar sommer van voor af kwaad dat hy nie eens gaan probeer om haar terug te roep nie. Sy tel spoed op toe sy by die sanderige sypaadjie kom en swenk regs terug na tannie Wollie se huis. Klara wonder seker al wat van haar ma geword het . . .
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.