Vurig op Flaminkevlei. Trish Goosen
die straat kom ’n vet, goed versorgde gemmerkat aangestryk. Die kat paradeer langs die bakkie voor die oorgehaalde hond. Toe hy nog nader kom, sien Belinda in die kantspieël hoe hy sy lyf teen die agterste regterwiel vryf voor hy grasieus, met swaaiende agterstewe, wegtrippel en op tannie Wollie se geplaveide oprit gaan sit en wag.
Die blaffende Sheila vlieg om en Belinda voel hoe die bakkie se suspensie vir ’n oomblik onder die hond se gewig meegee. Met een sprong kom Sheila te lande voor die oop venstertjie tussen die kajuit en die bak. Sy grom en laat die kat nie vir ’n oomblik onder haar oë uit nie.
Klara druk haar hande oor haar ore en begin lag toe die hond net duskant haar kop begin blaf.
Deksels! Dit is seker die tannie se kat. Sheila kon nog nooit ’n kat verdra het nie. Wollie het nie in hul gesprekke genoem dat sy ’n kat het nie. En sy was baie tegemoetkomend toe Belinda oor verblyf vir Sheila gevra het. Ag nee, man. As sy dít geweet het, het sy mos ’n ander plan met die hond gemaak.
“Sheila wil die kat vang!” gil Klara, bo-oor die geblaf, skynbaar heel in haar noppies met die gedagte dat die gemmerkat moontlik in hulle Deense hond se bek kan beland. Dié kind tog; sy dog dan Klara is kamma so besorg oor die diertjies . . .
“Mamma, Mamma, Sheila wil die kat vang!” Net om seker te maak haar ma het haar gehoor.
“Nié vandag nie,” fluister Belinda en haal Sheila se leiband uit die paneelkissie. Sy klim uit, loop om die bakkie en sien dat die kat steeds soos ’n gemmerstandbeeld met ’n vermakerige glimlag in die oprit sit en wag. Net sy mooi donsige stert kwispel so af en toe. Hy laat haar nogal dink aan die Cheshire-kat in Alice in Wonderland.
Belinda maak sagte skoertgeluide en beduie vir die kat dat hy moet loop, maar die gemmerkat roer nie.
Waar bly hul gasvrou tog? Sy moet haar kat kom wegvat voor hier groot marakkas kom.
Belinda maak Klara se deur oop met die leiband steeds ferm in haar een hand. Die dogtertjie glip uit haar stoeltjie se gordel en steek haar arms na haar ma toe uit. Belinda help haar by die hoë voertuig af, want die beentjies is nog te kort om self uit te klim. Dan stap hulle na die bakkie se agterste kapdeur.
Sheila se blaffery het bedaar, maar nou maak sy klein tjankgeluidjies en trippel desperaat met haar groot lyf agter in die bakkie rond.
Belinda sluit die deur oop en maak haar gereed om die hond aan haar halsband te gryp voor sy probeer uitspring.
“Mamma, kan ek Sheila se band aansit?” Klara pluk-pluk aan die leiband in Belinda se hand.
“Nee, wag nou, Klara. Staan so bietjie terug. Sheila gaan weghardloop. Mamma moet maar eerder.”
Die dogtertjie vra nie weer nie, maar Belinda sien uit die hoek van haar oog hoe Klara haar armpies ergerlik voor haar bors vou.
Belinda lig die deur en staan reg. Die tjankende hond laat sak haar groot kop en hou dit by die opening. Haar lyf is skielik stil in afwagting. Lyk kompleet of sy regmaak vir die wegspringknal in die honderd meter.
“Julle is uiteindelik hier!” Dit is tannie Wollie se stem.
Belinda kyk net vir ’n oomblik op en sien hulle gasvrou, geklee in ’n pers kaftan, haastig in die huis se oprit aangestap kom.
Maar dan stamp Sheila die kappiedeur verder oop en met een verbasend ratse beweging is die formidabele lyf buite die bakkie.
“O, donner!” Belinda gryp na haar kop en sien al in haar geestesoog hoe Sheila die kat se lewelose lyf in haar bek rondruk voor sy dit by Wollie se voete gaan neersit.
Die hond trek haarself plat soos ’n jagluiperd wat haar prooi bekruip en verdwyn blitsig om die bakkie.
“Sies, Mamma praat lelik.” Maar daar is nie tyd om jammer te sê nie, want die selfvoldane kat sit steeds houtgerus op die plaveisel.
“Die kat. Tannie se kat!” gil Belinda freneties. Sy onderskat Sheila geensins nie. Deense honde is geteel om te jag.
Die kat het vir Sheila gewaar, maar sit en wag verwaand tot Sheila amper by hom is. Dan vlug hy miaauend oor die heining van die bure op die hoek en verdwyn.
“Toemaar, Bokkom is vinnig. Hy sal nie vir hom laat vang nie,” sê Wollie wat intussen by die bakkie aangekom het. Haar bottelrooi hare is met ’n pers band uit haar gesig weggebind.
Belinda reageer nie. Haar aandag is steeds by Sheila wat pas besluit het om die kat te gaan soek, en sy verdwyn ook al blaffend om die bure se heining.
“Ek gaan vir Sheila haal,” sê Klara baie vasbeslote.
Belinda vat haar aan die hand sodat sy nie kan stap nie. “Wag eers, netnou raak jy ook weg.”
Deksels! Sê nou maar die hond verdwyn? Sheila ken nie die plek nie. Goeie jagter beslis, maar so rigtingbedinges soos môre heeldag.
“Belinda, hoe gaan dit met jou?” vra Wollie. Sy kom spontaan nader vir ’n drukkie, maar tree dan weer verleë terug toe Belinda bly staan.
“Jammer, tannie. Ek sal nou-nou ordentlik kom groet. Staan gou hier by my kind. Groot asseblief.”
Wollie knik.
Belinda laat nie op haar wag nie. Sy mik straataf in die rigting waarheen Sheila gehardloop het en draai amper om toe sy Klara bekommerd agter haar aan hoor roep, maar dan hoor sy tannie Wollie iets in ’n vertroostende stemtoon vir haar kind sê.
Belinda tel spoed op, leiband steeds in haar hand. Klara sal by die vreemde tannie oukei wees. Hulle kan mekaar solank leer ken. Belinda se bors brand van die hardloop. Magtig! Sy is darem vreeslik onfiks. Die windjie wat van voor af kom, laat haar oë traan. Sy verminder heelwat spoed om haar asem terug te kry en bekyk die wêreld om haar.
Dit is ’n korterige straat wat doodloop in ’n T-aansluiting. Agter die sanderige sypaadjie is ’n strook vaal veld in skerp kontras met die welige, heldergroen biesies aan die duskant daarvan. Die hoë biesies versper haar uitsig, maar die magtige Bergrivier kruip beslis agter die groenigheid weg. Sy het nie besef tannie Wollie woon só na aan die water nie.
Geen teken van Sheila of die kat nie.
Vreeslike windgat kat. Tannie Wollie het hom Bokkom genoem, nes die straat waarby sy vroeër verby gery het.
Waarheen eerste? Links of regs?
Sy kies regs en stap ’n ent in die breë pad af. Die rivier is nou aan haar linkerkant, al kan sy dit nie sien nie. Sy hoor die biesies net in die wind suis. Ook ’n baie kort straat met net vier huise aan die regterkant wat teen ’n groot soutbos doodloop. Lelike ou bos. Die goed groei oral hier rond. Wraggies nie haar tipe plant nie.
Die huise is nuwerige dubbelverdiepings met groot toegeboude kuierdekke op die boonste verdieping. Om oor die biesies te sien natuurlik. Wat is ’n waterfronteiendom dan nou sonder ’n asembenemende uitsig?
Die teerpad is amper onherkenbaar gelaat deur die wind wat ’n laag wit sand daaroor gewaai het.
“Sheila?” roep Belinda die veld in.
Net die wind antwoord.
Sy voel skielik ongemaklik. Kyk iemand vir haar?
Hier is nie ’n siel in die straat nie. Dan trek iets haar aandag na die groot siersteenhuis, die laaste een in die straat wat dig teen die soutbos staan. Het die blindings voor die skuifdeure op die boonste vloer effens geroer? Sy is doodseker iemand staan agter daardie blindings en hou haar dop. Seker maar ’n nuuskierige kleindorpiebewoner wat oor die vreemdeling in hulle straat wonder.
“Sheila!”
Ver weg, rivier se kant toe, hoor Belinda die hond blaf.
Waar is sy tog? Belinda kan net mooi niks verby die biesies sien nie. Sy stap ’n bietjie vinniger en dan is daar ’n opening in die muur van plantegroei. Die rivier se vloedvlakte lê breed voor haar met klomp klein biesiebegroeide eilandjies wat bo die bruin omgeklitste water uitsteek.
Daar loop ’n uitgetrapte voetpad tussen die biesies