Web. Naomi Meyer

Web - Naomi Meyer


Скачать книгу
Die enigste ding wat daardie spesifieke boodskap verskillend gemaak het van die res, is die feit dat jy stupid genoeg was om dit oop te maak en dit boonop te lees.

      Komaan, Trouw, jy weet jy’s ’n pro.

      Sy glimlag oor die verspotte rympie in haar kop, voel effens meer ontspanne. Hierdie Jester-trol is iemand anders, die vreemde boodskappe hou nie met mekaar verband nie. Trolle is outomaties lastig by enige blog-afdeling, dis hoe hulle is. Sy behoort dit mos te weet.

      Sy skuif die pyltjie op die skerm oudergewoonte na haar verstellings om die blog-trol te blokkeer. Môre is hy weer daar, in ’n nuwe gedaante, maar laat sy tog maar vandag van hom ontslae raak.

      Sistematies maak sy die trol se profiel oop en skuif tot op die plek waar sy moet klik om sy uitwissing te bewerkstellig.

      Haar useless shrink het een keer gesê mens val maklik vir iemand met dieselfde soort karaktertrekke as jou ma. Of iemand wat jou op dieselfde manier laat voel. Die vrou het vir ’n slag die waarheid gepraat. Trouw is mense soos hierdie blog-trol gewoond. Ook die stalker was nie ’n weird opsie nie. Hy was presies wat sy geken het, al die jare.

      Wil jy vir Jester uitwis? wonder Trouw se rekenaar. Sy talm. Maar ja, sy wil, absoluut.

      Story of my life. Mal mense is normaal, hulle is die enigstes wat daar is. Daarom is dit nie so maklik om van een ontslae te raak nie. Maar hierdie een sál waai.

      Terwyl sy besig is om al die blokkies te merk waar haar toestemming gevra word dat die persoon nou werklik van haar blog verwyder kan word, lui die telefoon.

      “BoekWeb, goeiemiddag.”

      Eers ’n stilte. Sy oorweeg dit om die gehoorbuis neer te sit. Dan maak ’n man keel skoon. Maar hy sê niks. Is dit al weer hý?

      “Wat wil jy nou weer hê?” vra Trouw. “Ek dog ons albei het besluit dit werk nie.”

      “Verskoon tog,” hoor sy egter ’n vreemde manstem. “Maar ek is op soek na Sophia.”

      “Sy is nie nou hier nie,” antwoord Trouw, effens van stryk gebring. “Is daar ’n boodskap?”

      Hy antwoord nie dadelik nie. Sophia het op universiteit ’n ding vir die stil, sterk tipe gehad, onthou sy onverwags. Dis hoekom Diederick se luidrugtige gelag haar voete so onder haar uitgeslaan het. Sy was nie daaraan gewoond nie.

      “Enige idee wanneer sy terug sal wees?”

      Dalk is dit omdat Trouw so ongeduldig reageer dat hy vinnig groet en aflui. Sy kan nie help om effens te glimlag nie.

      Om te dink daar is ’n man wat agter haar vaal, getroude kollega aan bel! Op universiteit was Sophia beslis meer flambojant. Hélderder, ook wat haar kleredrag betref. Deesdae is sy so half dof en uit fokus: lang grys jasse en vervelige skoene.

      “Jou kollega se laptop dié?” vra die rekenaardeskundige aan die ander kant van die lessenaar.

      “My kollega werk daarop. Dis BoekWeb se eiendom.”

      “Ek dink dis nou min of meer skoon. Maar daar was baie goggas.”

      Trouw rol haar oë. “My kollega is clueless met rekenaars. Ek dink sy download files met ekstra attachments, of sy maak pop-up screens oop. Daai goed het altyd virusse.”

      “Ek het ook eers gedink dis downloads,” sê hy terwyl hy in die rigting van die deur begin stap en sy hom volg. “Maar dis iets anders.”

      “Soos ’n nuwe soort virus?”

      Hy skud sy kop heen en weer. “Ek het nog nie so iets teëgekom nie – óf jou kollega weet al die tyd vrek baie van rekenaarprogrammering, óf ’n baie slim kuberkraker het op ’n manier haar rekenaar bygekom.”

      Dis of hy wag dat sy hóm moet vertel.

      “Nee, sorrie, ek kan jou nie sê wat dit is nie.”

      Hy loop nog steeds nie. “Haar rekenaar is op ’n manier met jou rekenaar … geconnect.”

      “Mens noem dit die internet.”

      Hy lag nie. Glimlag nie eens flouerig nie. “Ek druk my nie duidelik uit nie, want ek is nie heeltemal seker wat hier gebeur het nie. Daar is ’n vreemde boodskap op haar rekenaar wat van joune af kom: ‘Attention, suspicious activities …’”

      Trouw se hart mis ’n slag. Maar sy gáán nie voor hierdie ou lyk of sy nie weet wat aangaan nie.

      “Van my e-posadres af? Dis vals. Ek het ook so ’n soort boodskap gekry …”

      Weer skud die man sy kop, heen en weer, asof hy diep nadink.

      “Dis asof iemand die rekenaars in hierdie kantoor probeer hack het. Is jy die enigste mens wat op jou eie rekenaar werk?”

      Trouw wil nie te kenne gee dat sy nie verstaan nie. Sy het nog altyd onder die indruk verkeer dat al die rekenaars in die kantoor dieselfde IP-adres het as hulle dieselfde internetkonneksie deel. Die man beskou haar stilte as ’n teken dat sy wonder wie nog op haar rekenaar werk.

      “Kry maar jou anti-virusprogramme in orde.”

      “Werk die rekenaar nou weer?”

      Hy knik. “Touch wood. Hoor hier, wat weet jy van die #fire-veldtog?”

      Sy trek haar skouers op. Vir wat maak die man praatjies?

      “Vergeet dit, net iets wat ek die afgelope paar dae sien opduik. Ek het vir jou die rekening gemail, baie dankie.”

      Hy vertrek en sy bly alleen in die kantoor agter.

      Néé. Dis die ou storie: Die internet lees gedagtes. Die worldwide web het gesien sy het hierdie boodskap op haar rekenaar oopgemaak, dit was ’n virus en nou het dit kleintjies gekry. Die internetman was toe al die tyd nie so betroubaar nie. Hy was oor die muur en weet nie wat fout was met Sophia se rekenaar nie.

      Virus scan. Trouw kyk hoe die sirkeltjie op haar rekenaar begin draai.

      Twintig oor drie. Nie net die sirkeltjie wat draai nie. Waar bly Sophia nou weer?

      Sy kyk weer vir die sirkeltjie. Om en om.

      Sy maak haar oë toe.

      Toe ons saam in die BPhil-joernalistiekklas was, het die internet nog nie bestaan soos hy vandag is nie, Sophia. Maar ek leer hom elke dag ken. Ek wens ek het al meer geweet. En ek wens daar was iemand anders wat net so nuuskierig was oor hierdie web soos ek. Iemand anders as Bok.

      Iemand wat my kon vertel wat áángaan.

      Dis presies wat sy wil doen: aangaan. Met haar werk, terwyl die virus scan in die agtergrond al haar rekenaar se probleme probeer regmaak.

      Wag. Laat sy net gou vir oulaas op Facebook loer wat vang die res van die wêreld aan.

      Hierdie slag, vyf minute nadat sy dit verlaat het, is Facebook nie meer ’n vriendelike plek nie. Iemand het kommentaar gelewer op ’n inskrywing en foto wat sy omtrent ’n roman op BoekWeb se bladsy opgelaai het.

      Die skrywer is, volgens die persoon, “baie lief vir ons rooi en pers en bont boeties en sussies”. Die boek “is een groot gegatkruip en gesoentjie-soentjie van ons medelandsburgers”.

      Trouw sug.

      Hide comment.

      Vanmiddag, kan sy sien, gaan sy nie kan blog nie. Haar groot taak gaan wees om Facebook dop te hou vir krisisbestuur. Die alewige catch-22: Deel mens nie iets op sosiale media nie, weet niemand daarvan nie en val die statistieke nog verder deur die vloer; verskyn dit wel op Facebook, stroom die onvoorspelbare en dikwels rassistiese kommentare in.

      Aangaan. Ten spyte van die mans in haar verlede, ten spyte van haar ma daar bo in die huis. Net fokken aangaan.

      En Sophia is baie laat vandag. Wat’s haar storie? Elke middagete ’n verskoning. Dis altyd te doen met haar kinders. Darwin het die kat aan die hond se gat beet gehad. Niks van ’n survival of the fittest nie. Die spesie moet breinloos voortplant.


Скачать книгу