Die Poort 3: Helers. Nelia Engelbrecht
Sherbet. Ons het terug in tyd Gereis.
3
“Ek is Karel Marseveen, kaptein van die Oosterland. Wie is julle?” vra die groot man in Hollands.
Vra vir hom van watter touring company hulle is, sein Nomsa.
Ek ignore haar en spin weer my storie. “Ek is Kali, en dit is Nomsa en Tara en Leonardo. Daar was ’n storm en ons skip het gesink.”
Sorry, julle, maar ek dink ons het terug in tyd Gereis, tot in die sewentiende eeu, sein ek vir my pelle.
Ja, right, sein Nomsa.
Ek dink Kali is reg, sein Leonardo.
It can’t be, sein Tara, ongeloof op haar gesig.
“Wat was die naam van julle skip?” vra die kaptein.
Naam? Ek kyk op na die seile bokant ons. “Die Hoge Masten.”
Die kaptein frons en trek sy oë op skrefies. “Vreemd. Ek het nog nooit van so ’n skip gehoor nie. Waarheen was julle op pad?”
“Kaap toe. Jan van Riebeeck het ons ouers laat kom. Hulle moes … uhm … hom met die groentetuine en goed kom help.”
“Ons ouers was botaniste,” sê Leonardo in iets wat vir my soos ’n mix tussen Afrikaans en baie slegte Hollands klink. “Hulle moes help om groente te kweek vir die skepe van die Hollandse Oos-Indiese Kompanjie.”
Hoog tyd jy join die party, sein ek vir hom. My liegstories raak nou op.
“En dié een? Is sy julle slavin?” vra die kaptein en wys na Nomsa.
Nou kyk, slavin in Hollands en Afrikaans klink dieselfde en het dieselfde uitwerking op Nomsa. Soos altyd as sy baie kwaad word, blaas sy haar kieste op dat sy lyk soos een van daardie vissies wat hulle oppof om hulle vyande af te skrik. Haar oë skiet vonke en net voor sy die kaptein kan vertel waarnatoe hy moet vlieg, keer ek.
“Nee, sy’s ’n vryvrou.”
Wow, dankie, Kali. Eers is ek ’n bloody slaaf en nou is ek vryerig? sein sy vies.
“Eintlik is sy ’n Afrika-prinses,” sê Leonardo in sy slegte Afrikaanse Hollands. “Prinses Nomsa Chipunza van die Wes-Afrikaanse koninkryk van Asante. Haar pa is een van die prinse van Asante en hy het ’n ooreenkoms met Holland om hout en vars water aan die skepe te lewer.”
Ek is seker my mond hang oop terwyl ek na Leonardo staar.
Die kaptein trek aan sy baard. “Asante … ja, ek weet die Hollandse Wes-Indiese Kompanjie dryf handel met hulle. In goud ook.”
Jeez, Leonardo, hoe weet jy al dié goed? sein ek.
Negentig persent geniusness en tien persent internet, sein hy terug.
“Wel, as julle saam met ons tot by die Kaap van Goeie Hoop wil reis, sal julle moet werk vir julle passaat,” sê die kaptein.
Passaat? Wat is dit? sein Tara.
He says we have to work for our passage to the Cape, sein Leonardo vir haar.
Die kaptein draai na die man wat in charge van die reddingsbootjie was. “Eerste stuurman, kyk of jy vir hulle slaapplek kan kry. Hulle sal van môre af in diens van die kwartiermeester wees.”
Really? Weet dié man nie daar’s wette teen kinderarbeid nie? sein Nomsa vies terwyl ons agter die ou van die reddingsbootjie aanloop.
“Ek is Jan Verhoef,” sê die man wat voor loop, terwyl hy die lantern in die lug hou sodat ons darem so naastenby kan sien waar om te loop. “Die jongeling sal by die matrose slaapplek kry,” sê hy. Dan buk hy by ’n groot valdeur en maak dit oop.
“Siesa, wat stink so?” vra Nomsa toe ’n woeste stank van onder af ons tref.
“Meisies, julle slaap hier. Klim met die leer af tot onder.”
No ways. Sê vir hom hy moet onthou ek is ’n African queen. Ek soek my eie cabin, sein Nomsa.
Hou op moan en maak soos hy sê – ons sal later plan maak om hier weg te kom, sein ek terug.
Leonardo? sein Tara benoud.
Bly julle net bymekaar, ons sal fine wees. Probeer slaap, want môre moet ons al ons Kragte en Magte gebruik om huis toe te Reis.
Ek het skaars agter Nomsa en Tara met die leer afgeklim tot onder of die deur bokant ons klap toe. Ons Bewaker-nagvisie skop in en in die flouerige maanlig wat deur ’n dakvenstertjie skyn, kan ek slapende mense op rye bunk beddens uitmaak.
“Dit lyk soos koshuisbeddens,” fluister Nomsa. “Eeeuw, I bet they’re full of bed bugs en goggas wat in mens se ore klim …”
Sy bly stil toe een van die donker figure opstaan en naderkom.
“Je suis monsieur Jean Prieur du Plessis, un médecin de Poitiers,” sê die man sag.
Holy moly, watter taal praat dié ou? sein Nomsa.
It sounds like French. Kan jy dit verstaan, Kali? vra Tara.
Wel, ek weet hy het gesê hy is ’n mediese dokter, so ja, dan verstaan ek seker Frans ook, sein ek terug.
Dan drop die pennie. Dié man is my ma se oer-oupagrootjie, ’n Hugenoot uit Frankryk. Dit is vrék weird. Ek kan seker nie vir hom sê hallo, ek is jou afstammeling uit die een-en-twintigste eeu wat bietjie kom kuier het nie? Dan maar weer ons skipstorie spin.
Ek begin die storie vertel en die Franse woorde wat by my mond uitkom, is vreemd en bekend gelyk. Wow, ek moet sê, dié Magte is nogal cool.
“Wie is dit, Jean?” vra ’n vrouestem uit die donker.
“Drenkelinge – drie meisies. Slaap jy, my lief, jy is nie wel nie,” sê hy in Frans. Hy draai weer na ons. “Daar is ’n bed oop in die verste hoek – julle sal dit moet deel.”
Gelukkig is die bed darem breër as ’n gewone een en ons squeeze langs mekaar in soos drie sardientjies in ’n blik.
“I’m sorry. It’s my fault,” sê Tara in die donker. “Die droom … ek het julle hierheen laat kom en ek weet nie eens hoekom nie.”
“Maybe is dit ons destiny om hier te wees,” sê Nomsa, maar dit klink nie juis of sy haarself glo nie.
Die warm lug druk swaar op ons. Ek ruik ou sweet en vuil lywe en baie stink toilette. “Moenie worry nie, môre Reis ons huis toe,” fluister ek.
Huis toe. Na my ma-hulle en my Corgi-hond, Kristoffeltjie, toe. Na Zak toe. Verál Zak. Die hart-seer bring trane in my oë. Ons het my oupa se huis geërf en Zak-hulle was nog al die jare sy bure. Elke Desembervakansie as ons in Bospoort gaan kuier het, het ek en Zak saam gespeel. Nou is hy én Bospoort eeue ver in die toekoms in.
Die ergste is dat Zak ’n paar dae gelede in ’n motorongeluk was. Hy sal wonder waarom ek nie meer vir hom in die hospitaal kom kuier nie. Oor minder as ’n week is dit skoolvakansie. As my ma-hulle dink ek gaan saam met hulle Italië toe om die Internasionale Raad van Bewakers te gaan sien, maak hulle ’n hengse fout. Ek bly by Zak. Dis nou as ons dit kan uitfigure om terug huis toe te Reis.
Zak, Zak, skommel die skip. My oë val toe.
4
Die dress code vir meisies op die Oosterland is beslis nie sweetpakke soos myne of jeans soos Nomsa en Tara s’n nie. Die eerste ding wat die tannies op die skip doen toe ons die volgende oggend wakker word en ons storie vir hulle vertel, is om vir die arme “drenkelingmeisies” elkeen ’n rok te gee.
Die aantrekhokkie is nie juis boetiekgehalte nie. Dis net ’n kombers wat aan ’n tou in een van die hoeke van die groot vertrek hang. Nomsa begin proes toe ek die rok oor my T-shirt en sweetpakbroek aantrek.
“Wát?”
“Dit lyk soos