Christine le Roux Keur 2. Christine le Roux
jy het tog ander kêrels gehad. Wat van … wat was sy naam nou weer? So ’n mooi man met blonde krulhare. Leo, was dit Leo?”
“Ja,” sê Victoria bot.
“Wat het van hom geword? Jy het hom nog saamgebring na ons troue toe en ek het gedog jy lyk baie verlief.”
“Hy het nie dieselfde gevoel oor my nie. Ek was nie sy enigste meisie nie, soos ek mettertyd agtergekom het. Die ander een was baie mooi en sexy.”
Marlise sug. “Jy is ook mooi. Ek dink jy is pragtig. As jy bietjie moeite doen en ander soort klere dra en …”
“Ek hou van my klere,” sê Victoria. “As iemand nie van my hou soos ek is nie, stel ek nie belang nie. Leo en voor hom Johan en voor hom Casper wou altyd hê ek moet iemand wees wat ek nie is nie. Hulle het altyd aan my getorring om my hare kort te knip of te laat krul of rooi te kleur, of om korter rokke te dra, of hoëhakskoene of jeans of iets. Hulle het nooit van my gehou soos ek is nie; hulle wou my verander. Dis hoekom ek dink dit sal werk met Roland. Hy lyk nie asof hy omgee hoe ek lyk nie. Dis ’n saketransaksie en dit pas my.”
“Wel, ek dink dis ’n vermorsing. Ek dink jy het baie om ’n man te bied.”
Victoria glimlag. “Ek weet. My huislike eienskappe. Ek kan kook en ’n huishouding bestuur. Dis wat ek wil doen, en dis wat Roland van my verwag. Heel ongekompliseerd.”
“Maar Leo sou …”
Victoria se lippe verstyf en sy kyk verby haar suster na die venster. “Ek en hy het die oggend in die bed gelê,” sê sy stadig. “Ek het net vir ons koffie gebring toe hy my vra om sy sakboekie uit sy baadjie te haal. Toe ek dit doen, val daar ’n brief van ’n ander meisie uit. Ek het dit gelees, want ons het nie geheime gehad vir mekaar nie – of dis wat ek gedink het. Hy was glad nie ontsteld nie. Allermins. Miskien bietjie verleë. Hy het vir my gesê ek is mos mooi groot en …” Sy byt haar lip ’n oomblik vas. “Dit blyk toe hy het hierdie fantasie van my en hom en die ander meisie, al drie saam in die …” Sy skud haar kop heftig en vee hardhandig oor haar voorkop, asof sy die herinnering wil doodvee. “So jy hoef my nie te waarsku teen perverte nie.”
“Haai, Vicky,” sê Marlise geskok. “Ek het nie geweet nie. Ek hoop jy het die man summier uitgeskop.”
“Ja, ek het.” Sy gee ’n droë laggie. “Hy was gekrenk. Het gesê hy het gedink dit sou volmaak wees. Ek is die afsydige maar huislike een, en die ander meisie is die sekskat, en saam behoort ons al sy fantasieë …” Sy skud weer haar kop. “Genoeg hiervan. Dis lankal verby.”
“Maar dit moes jou diep seergemaak het.”
Victoria staan op om vir hulle tee te maak. “Ja, dit het. Miskien soveel te meer omdat hy die eerste een was.” Sy glimlag wrang. “Ek was mos maar altyd stadig. Moes seker die enigste maagd van ses-en-twintig gewees het. En om dan …” Sy haal die koppies uit die kas. “Jy kan dus verstaan waarom ek nou dink ’n huwelik gebaseer op ’n waterdigte kontrak en duidelik omlynde voorwaardes is presies waarna ek soek.”
“Ek veronderstel so,” sug Marlise bedruk.
Hoofstuk 4
Peter Ruthven is die afgelope vier jaar Roland se privaat sekretaris, en as uitvloeisel hiervan ook sy beste vriend. Hy sorg dat Roland altyd die regte dokumente het, betyds op lughawens kom en nie vergeet om sy hotelrekening te betaal nie. Hy beskik oor dieselfde werkywer as Roland, wat ’n goeie ding is, anders sou hy nooit vier jaar uitgehou het nie. Hy vergesel Roland op al sy oorsese reise, is gedurende die week sy regterhand en is altyd gewillig om oor naweke ook te werk as Roland hom nodig het. Hy is daarom ook nie getroud nie, om dieselfde rede as Roland. Hulle het nie tyd om meisies te ontmoet of uit te neem nie. Hy is wel jonger as sy baas – dertig teenoor Roland se ag-en-dertig – en hy is blond, terwyl Roland donker is, maar andersins kon hulle ’n tweeling gewees het.
Vir hulle albei bestaan die lewe uit syfers, beleggings en aandele. Om ’n nuwe maatskappy te stig, nuwe beleggers te kry en so gou moontlik ’n wins te toon, is hulle lewensbrood. Dis hulle werk, hulle stokperdjie en hulle liefhebbery.
Dit is dus te begrype dat Peter heeltemal stomgeslaan is toe Roland hom vra of hy sal saamkom hof toe om as getuie op te tree by die huwelik.
“Wat?” kryt Peter en kantel sy stoel so ver agteroor dat hy amper omval. “Wat het jy nou net gesê?”
“Ek trou môre,” sê Roland van waar hy in die deur staan. “Ek wil graag hê jy moet ook daar wees.”
Peter kyk na die venster. “Dit lyk nie vir my na reën nie, maar dalk is daar donderweer in die lug. Voel jy nie lekker nie? Het jy iets snaaks geëet vir middagete?”
Roland grinnik. “Nee, ek trou net môre.”
Peter kantel sy stoel stadig terug. “Met wie?”
“Victoria Malan.”
“En wie is sy?”
“’n Meisie, hoe anders?”
“Ek weet sy’s ’n meisie,” sê Peter geduldig. “Wel, ek hoop sy is een, maar waar kry jy haar vandaan?’
“Ek het haar nou die dag ontmoet. By ’n ete. Sy’s ’n wonderlike kok. Sy hou van huishoudelike dinge.”
“Ja?” vra Peter skepties. “En toe komplimenteer jy haar met die kos en vra haar om met jou te trou?”
“Soort van.”
“En sy sê toe sommer ja?”
“Presies.”
Peter kyk hom ongelowig aan. “Komaan, Roland, vertel my die waarheid.”
“Dit ís die waarheid. Sy het die kos gemaak vir daardie ete voorverlede Saterdagaand. Die ete by my huis. Ek het dit vir jou genoem.”
“Jy’t so iets genoem, ja, maar jy het niks gesê van trou nie.”
“Wel, nou gaan ek. Môremiddag drie-uur.”
Peter kyk hom deurborend aan. “En waarheen gaan julle dan?”
“Wat bedoel jy? Ons gaan nêrens heen nie. Ek en jy moet oor die naweek werk aan daardie voorlegging.”
“Geen wittebrood nie?”
Roland maak sy mond oop om te begin verduidelik, om vir Peter te sê dis nie daardie soort huwelik nie, maar iets weerhou hom daarvan. Lojaliteit teenoor Victoria, of dalk sy eie trots – hy weet nie. “E … sy kan volgende maand saamgaan Praag toe.” Hy besef hoe dit klink en korrigeer homself. “Ek bedoel, dis wat sy wíl doen. Liewers as om nou weg te gaan.”
“Ek sien,” sê Peter kripties. “Hoe lyk sy, is sy mooi?”
“E … ja. Op ’n outydse manier.”
“’n Outydse manier!” herhaal Peter stadig.
“Ja, sy trek nie modern aan of … of so iets nie.”
“Ek sien uit daarna om haar te ontmoet,” sê Peter beleef en wonder wat in sy vriend se kop aangaan. Hy besluit om liewer die onderwerp te verander. “Weet jy dat jou hele hempsak vol ink is? Jy het seker weer jou pen sonder sy dop daar ingedruk.”
Roland kyk af na sy hemp en klik sy tong. “Miskien sal Victoria weet hoe om dit skoon te kry.”
“Inderdaad, ja,” sê Peter. “Môremiddag drie-uur, sê jy?”
“Ja. Ons kan sommer saam ry.”
Peter is baie nuuskierig toe hy die volgende dag een van sy goeie donker pakke aantrek. Behalwe dat Roland ook ’n donker pak dra, is daar geen teken daarvan dat hy binnekort ’n bruidegom gaan wees nie. Die dag is so besig soos altyd, sodat hulle tien voor drie eers motor toe hardloop en deur die verkeer jaag.
Wat presies Peter verwag het, sou hy nie kon sê nie, maar toe hulle uiteindelik parkeerplek kry