Ena Murray Keur 13. Ena Murray
slaan die bal mis,” antwoord hy koud. “Ek het gedink dit was jou suster en ek kon nie begryp wat aangaan nie, want sover ek geweet het, was sy dan …”
“Opgesluit in daardie donker hool, jou en jou muwwe Egiptiese mummie-koningin se gevangene,” voltooi sy sy sin. Haar stem is bitter en binne-in haar vreet die selfverwyt. As sy maar na Deon geluister het! Nee, maar toe begin sy mos soos ’n bakvissie reageer op ’n paar gefluisterde woorde van ’n donker vreemdeling. O, hoe kon sy so ’n gek van haarself gemaak het?
“Jy het dit alles mooi beplan, nie waar nie, Hoessein? Jy het besluit om my op jou verlief te maak sodat ek jou kan vertel waar daardie hangertjie is nadat jy dit nie in my kamer kon kry nie.”
“Ek het nie jou kamer deurgesnuffel nie. Ek het jou dit reeds gesê.”
“As dit nie jy was nie, wie dan?”
“Dit was … ander mense.”
Haar oë vernou.
“Trawante van jou koningin Hatsjepsoet … of sal ons haar maar by haar regte naam noem – Farah?”
Hy staan en suig aan sy sigaar en kyk stil deur die sigaarrook na haar, so koel soos ’n komkommer.
“Hoessein, waarmee is julle besig? Watse plek is dit daardie waar julle Marcelle gevange hou en rondloop soos goeters wat duisende jare oud is? Of is jy bang ek sal gaan vertel?”
’n Fyn glimlaggie breek om die harde mond.
“Nee, ek is nie daarvoor bang nie, want ek weet dat jy nooit die geleentheid sal kry nie. Ek sal jou nooit weer laat gaan nie, Elmarie. Dis ’n feit wat jy liewer moet aanvaar. Maar ek gee nie om om jou te vertel nie. Sit gerus.”
Toe sy plaasgeneem het, vervolg hy met ’n doodkalm stem: “Soos jy seker weet, word daar al baie jare opgrawings in Egipte gedoen, eintlik spesifiek in die grafte van die ou farao’s. Soos jy seker ook weet, is die piramides eintlik grafte van die farao’s. Hulle is gebou tydens die Ou Koninkryk van Egipte, omstreeks 2 700 jaar voor Christus, in die vierde dinastie van daardie tydvak. Ek sal jou nie verder vermoei met geskiedkundige feite nie. Wat eintlik van belang is, is dat hierdie praalgrafte van die ou farao’s ’n onweerstaanbare bekoring vir rowers ingehou het. Die ou Egiptenare het geglo dat die liggaam voortlewe ná die aardse dood, oftewel die ka, die gees of dubbelganger. Die ka sou dieselfde dinge nodig hê in die lewe hierna as wat hy nodig gehad het toe hy nog op aarde gelewe het. Daarom is die graftombes volgestop met alledaagse benodigdhede, kos, klere, meubels, juwele, artikels van onskatbare waarde. Daar is ook slawe lewend saam met die mummies van hul koning toegemessel sodat hulle sy ka tot diens kon wees. Die farao’s van die later tydperke het egter ouliker geraak. Hulle het gesien wat gebeur het met hul voorgangers se grafte wat so in die oog was. Toe het hulle begin om hul grafte weg te steek. Hulle het dit diep in die aarde uitgedolwe en die ingang verseël en so goed gekamoefleer dat argeoloë eers onlangs die ontdekkings in die Vallei van die Konings gedoen het, soos toe Toetankamen se graf oopgegrawe is. Dit was eintlik die eerste verseëlde graftombe van ’n farao wat ontdek is. Die ander was ook al voorheen deur rowers besoek.”
Teen haar sin word Elmarie geboei deur sy vertelling. Sy sit roerloos.
“In Egipte het daar die afgelope jare ’n kultus ontstaan, uitgeken aan die merk van die skarabee, wat bestaan uit fanatieke aanhangers van ou Egipte, sy skatte en sy tradisies. Hulle het die onmoontlike geloof dat as die beskawing van ou Egipte soos in die tydperk van die farao’s weer kan oplewe, Egipte sy verlore glorie sal herwin. Hulle glo as die ou gode – soos Amen, die hoofgod, en Ra, die songod – in ere herstel word, Egipte weer die heerser sal wees soos eeue gelede. Baie van die goed wat opgegrawe is, is uit Egipte weggeneem en pryk in ander lande se museums. Stadig maar seker word hulle deur hierdie mense teruggesteel en teruggebring na die plek van hul oorsprong. So is daar byvoorbeeld ’n kopstuk van koningin Nefertiti, vrou van Ikhnaton, wat Egipte omstreeks 1 400 jaar voor Christus geregeer het, wat gedurende die Tweede Wêreldoorlog uit Berlyn verdwyn het. Vandag kan ek jou gaan wys waar daardie kopstuk staan. Hierdie mense stuit vir niks om terug te kry wat hulle as hul eie beskou nie. Hulle het ’n geheime plek waar hulle hierdie goed versamel om die ou beskawing van Egipte weer te laat herlewe. In daardie plek staan skatte waarvan die waarde nie in geld bereken kan word nie, en daar word ook weer aan die ou gode geoffer soos duisende jare gelede. Aan die hoof van hierdie organisasie staan ’n vrou wat in haar hart daarvan oortuig is dat sy die opgestane mummie is van ’n Egiptiese koningin wat byna drie duisend jaar gelede geleef het.”
Elmarie is eers te verslae om iets te sê. Dan fluister sy eindelik: “Dan is dít waarom hulle so graag die hangertjie wil hê! Maar, Hoessein, ek glo nie hierdie hangertjie is een van die goed wat werklik uit die ou tydperk dateer nie. Marcelle het dit vir een rand by ’n straatstalletjie gekoop.”
“Ja, sy het, en hoe dit daar beland het, weet niemand nie. Maar hierdie versekering kan ek jou gee. Daardie hangertjie, my skat, is meer werd as al die skatte wat hulle tot dusver vergader het!”
“Net die blote hangertjie?” Sy kyk hom verslae aan.
“Nee, nie net die blote hangertjie nie. Daar is ’n geheim aan daardie hangertjie verbonde, en as daardie geheim opgeklaar kan word, sal die menslike oog skatte sien wat hy nooit, so oud as wat die wêreld is, tevore saam gesien het nie.” Hy druk sy sigaar dood en tree nader, sy gelaat skielik strak, onverbiddelik. “En nou, Elmarie, nou gaan jy my vertel.” Sy hande gryp haar skouers vas en die donker blik boor in hare. “Wáár is daardie hangertjie, Elmarie?”
“Ek weet nie.” Elmarie kyk strak in die donker oë terug.
“Dis ’n leuen! Ek weet dis ’n leuen. Terwyl jy met die sambok geslaan is, het jou suster jou toegeroep dat jy nie moet praat nie. Met ander woorde, jy weet waar dit is.”
Elmarie se oë vernou.
“Hoe kon jy verstaan wat Marcelle geroep het? Sy het Afrikaans gepraat.”
Hy aarsel, draai dan van haar af weg en neem stelling voor die kandelare in. Hul oë ontmoet oor die breedte van die vertrek.
“Goed, Elmarie. Jy is skerpsinniger as wat ek gedink het. Ek gooi my kaarte in. Ek verstaan Afrikaans.” Hy huiwer en slaan dan van Engels af oor na Afrikaans. “Soos jy kan hoor, praat ek ook Afrikaans.”
Elmarie trek haar asem skerp in. Sy staar hom met wydgerekte oë aan. Eindelik kry sy haar stem terug.
“Wie is jy, Hoessein?”
“Dis nie ter sprake nie. Wat van belang is, is waar daardie hangertjie is.”
“Hoekom wil jy dit nou weet as jy ’n paar uur gelede aan my gefluister het ek moet nie sê nie?”
“Omdat Farah onder geen omstandighede mag vasstel waar daardie hangertjie is nie. Verstaan jy, Elmarie? Al kos dit ook jou lewe en jou suster s’n.”
’n Frons verskyn op Elmarie se gesig.
“Ek begryp nie, Hoessein. Hoekom …?” Sy swyg en kyk hom skerp aan. “Natuurlik! Jy wil daardie hangertjie self hê! Jy wil jou Egiptiese minnares in die rug steek! Daarom dat jy so grootmoedig was om my by die slawemark te kom red. Daarom dat jy jou uiterste gedoen het om my op jou verlief te maak.”
’n Glimlag ruk aan sy mondhoeke, sy oë glinster spottend.
“Ek het daarin geslaag, nie waar nie? Jy is op my verlief, Elmarie!”
Haar mond gaan oop van verontwaardiging en haar oë blits, maar hy hou sy hand omhoog.
“Asseblief, ons sal nie nou daaroor redeneer nie. Kom, Elmarie, waar is die hangertjie?”
“Jy moet van jou verstand af wees as jy vir een oomblik dink dat ek jou dit sal vertel.” Sy stik eintlik van woede.
Sy oë kyk haar nougetrek aan. Hy bestudeer haar in stilte. “Jou suster en haar verloofde is in die mag van mense wat geen genade ken nie,” sê hy dan. “Marcelle en Deon Rabie sal nooit weer lewend uit daardie plek kom nie, Elmarie. Op hierdie oomblik ondergaan Deon die wreedste foltering denkbaar en jou suster moet dit