Ena Murray Keur 13. Ena Murray
rug teen hom vasgeknel staan. Bokant die vingers voor haar mond staar haar oë wydgerek en kyk stadig op … op in die wit toegedraaide gesig totdat sy die oë agter in die hol gate sien blink. Skielik verslap haar liggaam en nog steeds woordeloos tel hy haar in sy arms op.
Met ’n gebed in sy hart dat die wagte by die deur nog nie teen hom gewaarsku is nie, stap Hoessein kalm met die tonnel af. Hy pyl reg op die twee wagte af en tot sy grootste verligting staan hulle dadelik opsy toe hulle hom herken. Daar is fyn sweetdruppeltjies op sy voorkop sigbaar toe hy op die klein platform uitstap en die deur weer agter hom toegaan. Tot dusver gaan alles besonder goed. Te goed … Dis asof hy die gevoel het dat alles nie pluis is nie, dat dit te maklik geraak het om so ongesiens deur die ingewande van hierdie Egiptiese tempelstad te sluip. Maar dan maan hy homself en glimlag.
’n Oomblik lank het hy vergeet dat hy Nektanebo is! Hy huiwer op die bopunt van die trap terwyl hy vlugtig die toneel voor hom beskou. Marcelle Wiid lê geboei op die divan, haar oë gerig op die man wat onder die fakkel met penne en toue aan die muur vasgemaak is. In die middel tussen hulle staan ’n tafeltjie met vrugte en water daarop. Hy snap dadelik die betekenis daarvan en voel sy liggaam yskoud raak. Kan daar ’n groter foltering wees om waansinnig van honger en dors te wees en die kos en water net buite bereik te sien?
Terwyl hy die trap afstorm, ruk hy ’n mes onder die wit lendekleed uit en sny eers Marcelle se toue en dan Deon s’n. Deon is reeds swak op sy bene en hy help hom na die divan waar Marcelle verdwaas regop kom. Dan bring Hoessein die beker water na hulle en oorhandig dit aan die verbysterde Deon.
“Drink. En masseer jou arms sodat die bloed weer kan begin sirkuleer. Ons moet so gou moontlik hier wegkom. Sal jy kan stap?”
Deon knik net en Marcelle kyk skerp na die man hier voor hulle op.
“Maar … gaan jy ons help ontsnap?” vra sy in totale verbasing.
“Dit is die plan, maar of ons sal slaag, weet ek nie,” antwoord hy grimmig.
“Stap jy solank ’n bietjie rond sodat jou litte kan losraak. Ek sal meneer Rabie ’n entjie rondlei. Ons sal moet flink beweeg wanneer ons by daardie deur uitgaan.”
Hy voeg dadelik die daad by die woord, en met Deon se arm om sy skouers, dwing hy die bykans verlamde ledemate tot beweging. Die ongeduld lê soos gloeiende kole binne-in hom, maar hy maan homself tot kalmte.
Dit sal nie help om te probeer ontsnap met ’n man wat skaars op sy voete kan staan nie. Wanneer hulle by daardie deur uitgaan, sal die een wat agterbly, moet agterbly.
Daarom stap hy nou stadig met die verswakte Deon aan sy sy, om en om in die sel, totdat Deon later fluister: “Ek dink ek is nou reg. Ons kan maar gaan.”
“Waar is Elmarie?” vra Marcelle toe hulle in die rigting van die trap beweeg.
“Sy is veilig. Deon, wanneer die deur oopgaan, vat jy die regterkantste wag. Hier is ’n dolk. Jy steek hom reg in die hart.” Hy sien die verstarring van Deon se oë en neem hom aan die arm, sy stem dringend. “Reg in die hart, verstaan jy? As jy dit nie doen nie, sal jy die een wees wat ’n dolk in jou hart gaan kry. Jy doen wat ek sê, en so vinnig moontlik voordat hy alarm kan maak. Marcelle, bly agter ons totdat jy sien ons het die twee wagte oorweldig. Reg?”
Marcelle knik en ook Deon nadat hy met afgryse na die moordwapen in sy hand gekyk het. Hy voel nog uiters swak en net die gedagte dat daar van hom verwag word om ’n mens koelbloedig dood te maak, laat ’n mislikheid op die krop van sy maag vorm. Maar hy besef dat hierdie man gelyk het. Van die oomblik dat die deur voor hulle oopgaan, moet hy bereid wees om tot die dood toe te veg. Dis al manier waarop hulle lewend hier sal uitkom. Die gedagte dat hierdie mense sonder ’n knip van ’n oog hom aan die wreedste foltering onderwerp het, troos nie baie nie.
Met ’n laaste waarskuwende blik na die meisie en man langs hom, gaan Hoessein se hand na die deur uit.
Op daardie selfde oomblik gaan die sarkofaagdeur wat na die selle lei oop en ’n hele prosessie verskyn, met Hatsjepsoet vooraan, en haar oë lewe met ’n lig van oorwinning.
Hoe lank Elmarie in ’n beswyming van skok was, weet sy nie, maar toe sy later haar oë oopmaak, kyk sy teen die gesig van Hatsjepsoet vas. Sy kom vervaard orent en kyk om haar rond. Angsbevange staar sy na die wit gestalte skuins langs haar. Die eerste keer sien sy Hatsjepsoet werklik glimlag.
“Dis Naton, my getroue lyfwag. Jy hoef nie vir hom bang te wees nie,” laat sy gerusstellend hoor en lê dan tot Elmarie se verbystering haar hand op haar voorkop. “Arme kind! Watter ontsettende vrees moet jy nie al deurgemaak het nie! Maar nou is jy veilig. Ontspan, Elmarie. Jy hoef niks te vrees nie.”
Elmarie kyk in die donker oë op, heeltemal verward.
“Wat … wat bedoel jy, ek is veilig?”
“Jy het niks van my te vrees nie. Dis Nektanebo – of soos jy hom ken, Hoessein – wat jou bedrieg en bedreig. O, hy is baie slim, Elmarie. Hy speel sy rol so goed dat jy my waarskynlik nie sal glo as ek jou die waarheid vertel nie, maar dit is so. Jy moet my glo!” sê sy dringend.
“Wat moet ek glo?” vra Elmarie vol agterdog.
“Dat Hoessein besig is om jou te verraai; dat hy besig is om jou vet om die oë te smeer om sy doel te bereik.”
“Watter doel?”
“Om uit te vind waar daardie hangertjie is, natuurlik.” Sy sien die openlike agterdog en gryp Elmarie om die pols vas. “Dis waar! Elmarie … jy gee seker nie om as ek jou op die voornaam noem nie, nè? Hier is Naton om te getuig dat ek nie nou leuens opdis nie. Hoessein is in werklikheid die hoof van hierdie organisasie. Hy gebruik my net as Hatsjepsoet sodat, as daar moeilikheid kom, hy alles op my kan pak en self skotvry daarvan afkom. Aan die begin wou hy jou op hom verlief maak. Toe ontvoer hy jou en bring jou hierheen om Marcelle deur jóú aan die praat te kry. Toe hy sien dat ook hierdie metode nie wil werk nie, het hy op ’n ander puik gedagte gekom. Hy sal jou na die slawemark stuur en jou dan self gaan ‘red’. Uit dankbaarheid sal jy hom dan vertel wat Marcelle jou vertel het – waar die hangertjie is.”
Elmarie staar die vrou voor haar onseker aan. Haar stem klink so ernstig, so oortuigend. Durf sy glo dat sy die waarheid praat? Alles wat sy vertel het, pas so mooi in. Dit kán waar wees.
“Elmarie, as jy net ’n bietjie nadink, sal jy besef dat ek die waarheid praat.” Hatsjepsoet se donker oë kyk haar vas aan. “Op hierdie oomblik is hy besig met ’n slinkse plan. Deur jou suster en haar verloofde te ‘red’, weet hy sal hy die verlangde inligting uit haar kry. Dit sal my nie verbaas as hy nog sover sal gaan om julle wys te maak dat hy ’n speurder of so iets is nie. Maar moet hom nie glo nie, Elmarie, want dis leuens. Naton is in werklikheid die speurder. Hoessein was egter nog te glibberig dat hy hom kon vastrek.”
Elmarie staar haar met wydgerekte oë aan, nie in staat om ’n geluidjie te uiter nie.
“As jy ons net wil sê waar die hangertjie is, sal ons hom in ’n lokval kan lei en hom aan die kaak stel. Hy is besig om hierdie arme mense te bedrieg deur sy slimpraatjies van ’n ou Egiptiese beskawing wat weer moet opstaan, maar intussen is dit net om hulle vir sy slinkse set te gebruik sodat hy homself kan verryk. Waar dink jy kom hy aan sy rykdom, die oase, die motors, die hoë lewe wat hy lei? Moenie toelaat dat sy fisieke aantreklikheid jou verblind soos dit my verblind het nie!” roep sy uit en Elmarie laat haar ooglede vinnig sak.
“Ek weet nie wat jy bedoel nie.”
“O, ja, jy weet. Geen vrou is teen Hoessein se bekoring bestand nie. Dis hoe hy my in sy mag gekry het. En nou nog, wanneer hy my liefkoos, selfs terwyl ek weet watter skurk hy werklik is, raak ek soos klei in sy hande. Hy gebruik my gevoel roekeloos tot sy eie voordeel. Net soos wat hy jou gevoel en baie ander s’n uitbuit.”
Elmarie wil Hoessein probeer verdedig, maar besluit om liewer enduit te luister.
“Hy is sonder ’n hart, daardie man. Jy het netnou self gesien hoe hy sonder om ’n ooglid te verroer twee van sy getrouste volgelinge koelbloedig vermoor het net om ’n rol voor jou te speel. Dink jy dis werklik so maklik