Ena Murray Keur 13. Ena Murray
swaai om, maar van alle kante reik hande na haar uit en voor die verbysterde oë van Elmarie en die ander twee word die klere van haar liggaam afgeskeur. Nakend staan sy voor hulle en op hierdie oomblik kry Elmarie haar innig jammer. Op die volmaakte liggaam is daar geen teken te sien nie. Die donker oë lewe met ’n haat wat soos iets tasbaars uit haar straal.
“Moenie julle laat bedrieg nie, kinders van Egipte! Ook Nektanebo het geen merk om aan julle te toon nie!”
Hande begin haar die trap op na die offerbak dra waar sy Hoessein wou laat sterf. Sy weet nou dat die dood sy kake oopsper en gil weer hard uit: “Nektanebo was my handlanger! Hy het julle saam met my verraai! Hy moet saam met my sterf!”
Die skare raak mal. Hulle besef dat hulle bedrieg is en storm die trap na die altaar op. Soos ’n see van verdoemenis sien Hoessein die gesigte nader kom. Blitsvinnig gaan sy hand na die juweelbelaaide kraag om sy nek en met ’n kragtige beweging ruk hy dit van hom af.
’n Oomblik duur die rumoer nog voort. Dan skok die aanstormende skare tot stilstand. In die helder lig van die vlamme kan almal dit sien. Op die breë bors van Hoessein Abd-el-Rahman sit die merk van die skarabee! Net soos die skare, staar Elmarie-hulle ook na die ontblote bors op en in Elmarie se gemoed flits die gedagte: eindelik sien sy die ware Hoessein voor haar. Dít is Hoessein. Nie die man wat in Egipte bekend is vir sy beskaafde maniere en Westerse leefwyse nie. Ook nie die man wat in die skarabee-kultus bekend was as Hatsjepsoet se skoothondjie nie. Maar dit is Hoessein, die fors liggaam tot sy volle lengte uitgestrek, die merk van die skarabee op sy gespierde bors, afstammeling van ’n faraogeslag wat eeue lank regeerders was van ’n land wat duisende jare gelede so ’n hoë beskawingspeil bereik het dat hul bouwerk, soos die piramides, vandag nog die moderne wêreld dronkslaan.
En saam met hierdie besef kom daar ook ’n ander. Vir haar en Hoessein kan daar geen toekoms ooit saam wees nie. Diep in haar hart het sy nog altyd die hoop gekoester dat Hoessein miskien nie werklik ’n Oosterling is nie. Maar so pas het hy aan almal geopenbaar dat hy die bloed van ’n Egiptenaar geslagte al in sy are saamdra, dat hy een van die weinig egte Egiptenare van vandag is. En sy besef dat hulle tot twee verskillende wêrelde behoort. Dis of sy op hierdie oomblik van hom afskeid neem in haar hart. Die ongevraagde gevoel wat hy so eensklaps in haar wakker geskud het, sluit sy weg. Niemand mag ooit daarvan weet nie – die minste van almal Hoessein self.
Die stilte wat soos ’n mantel oor die groot saal neergesak het, word verbreek deur ’n oorverdowende geskreeu uit baie kele. Dis asof die skare skielik mal geword het, waansinnig in hul woede teen die vrou wat hulle byna die man met die merk van die skarabee laat offer het.
Tevergeefs probeer Hoessein hulle stuit en hy word later verswelg deur swaaiende arms. Eindelik slaag hy daarin om deur die malende skare te bars. Hy storm die trap af na onder en gryp Marcelle aan die hand.
“Kom! Die skare is mal! Ons moet maak dat ons wegkom! Waar is Elmarie?”
Maar daar is geen teken van Elmarie nie. Koorsig soek hul oë tussen die skare deur, maar nêrens kan hulle haar blonde kop gewaar nie.
“Maar waar kan sy wees? Sy het nog ’n oomblik gelede langs my gestaan,” laat Marcelle bekommerd hoor.
Hoessein se oë blits om hom rond. Daar is nêrens ’n teken van Naton, die wandelende mummie, te sien nie. Hy word yskoud. Dit kan net een ding beteken. Naton het Elmarie in sy mag.
“Ek sal julle tot buite die berg neem. Stap dan reg wes en julle sal op my motor afkom wat met ’n seil toegemaak is. Klim daarin en bly daarin totdat ek kom. Moenie die seil verwyder nie. Kom!”
Marcelle en Deon volg hom soos twee robotte. Vir hulle het selfstandige denke ’n paar dae gelede al opgehou bestaan. Hoessein lei hulle vinnig deur groot sale, deur suilgange en tonnels totdat hulle die woestyn in sy verblindende witheid voor hulle in die skerp sonstrale sien blink. Hy wys met ’n vinger.
“Daardie rigting. Hou sowat anderhalf kilometer aan. Dan sal julle die motor vind.”
Hy groet nie en kyk ook nie of hulle sy bevel gehoorsaam nie, maar draai dadelik weer om en verdwyn die berg in. Hy skiet deur die gangetjies en tonnels en deur die sale met die snelheid van ’n weerligstraal, aangedryf deur die angs in sy hart.
Eindelik bereik hy Hatsjepsoet se woonkwartier. Vlugtig deursoek hy elke vertrek, maar daar is geen teken van ’n mens nie. By die deur aarsel hy besluiteloos asof hy nie weet watter kant toe nie.
Terwyl Elmarie nog saam met die ander in ongeloof na die merk van die skarabee op Hoessein se ontblote bors gestaar het, het ’n mummieagtige gestalte ongemerk van agter af nader beweeg. En toe die skare se woede losbars, is hy reg agter haar.
Terwyl elke blik vasgenael bly op die skrikwekkende toneel voor hulle waar die naakte liggaam van hul gewese koningin al nader aan die offervuur gestoot word, word ’n wit hand blitsvinnig van agter af omgeskiet en sluit sterk vingers om Elmarie se mond. Haar oë soek desperaat na haar suster, maar Marcelle en Deon staar na die fantastiese toneel voor hulle. Niemand sien hoe Elmarie uit die saal gesleep word nie. Sy is te vreesbevange om vol te hou met spartel teen die krag van die arms wat haar optel en wegdra. En eindelik, toe sy ’n oomblik in die oë wat na haar staar, opkyk, sak ’n genadige floute oor haar toe.
Toe Hoessein die sarkofaagsaal binnebars, skok hy tot stilstand die oomblik dat hy die mummieagtige gestalte in die middel van die saal opmerk. Twee paar oë ontmoet oor die ruimte tussen hulle.
“Waar is Elmarie, Naton? Jy sal sterf as ’n haar van haar hoof geval het!”
“Ek kan nie sterf nie, Nektanebo! Ek het reeds gesterf! Weet jy dit dan nie? ’n Mummie kan nie sterf nie, want hy is reeds dood!”
’n Waansinnige lag vergesel die woorde, en Hoessein gee dreigend ’n tree nader terwyl dit nog kouer binne-in hom raak. Naton is waansinnig!
“Waar is sy, Naton? Wat het jy met haar gedoen? Wáár is sy?” Hy gryp die wit verbande voor die hors vas en staar stip in die kranksinnige oë.
“Sy is hier … hier …”
“Waar?” gil Hoessein dit byna uit en ruk die lomp gestalte heen en weer in sy angs. Wat as Naton in sy waansin vergeet het wat hy met Elmarie gedoen het?
Die oë agter die wit verbande kyk idioties om hom rond.
“Hier rond … naby. Ek … kan nie onthou nie … Sy is hier naby.”
Hoessein se oë flits om hom rond, maar al wat hy sien, is die sowat twee honderd sarkofae wat in twee rye langs die mure opgestapel staan. Skielik skiet ’n gedagte hom te binne en hy ruk die mummie weer nader.
“Het jy haar in ’n sarkofaag gesit? Naton, luister jy?”
“Ek weet nie … ek weet nie …”
Met ’n vloek op sy lippe stamp hy Naton van hom af weg en storm op die eerste sarkofaag af, ’n gebed op sy lippe. As die verskriklike vermoede wat skielik by hom posgevat het, reg is, is daar ’n groot moontlikheid dat hy Elmarie nie betyds sal kry nie. Indien die kranksinnige Naton haar in ’n sarkofaag versteek het, is daar twee honderd om deur te soek. Dit hang net af hoe lank gelede Naton haar daar ingesteek het en hoe gou hy haar vind. Indien dit nie baie gou is nie, sal sy versmoor.
Hy slaan geen verdere ag op die gestalte wat hom waggelend in die middel van die saal staan en bekyk nie. Met vingers wat gedwing is tot kalmte sodat hulle met die grootste snelheid kan werk, word die een deksel na die ander oopgeswaai. Met party sukkel hy en só gaan kosbare tyd verlore.
Toe Naton by ’n deur in verdwyn, merk hy dit nie op nie. Al sy aandag is toegespits op sy taak en hy gun homself nie eens tyd om die sweet wat oor sy voorkop afrol, af te vee nie. Dis amper teen die einde van die eerste ry dat die deksel oopswaai en Elmarie se slap liggaam vorentoe val. Hy gryp haar net betyds en sy blik dwaal beangs oor haar toe oë en wasbleek wange. Dan slaak hy ’n sug van verligting. Hy was betyds. Sy haal nog asem.
Hy gryp haar in sy arms vas en storm met sy kosbare vrag op die naaste deur af. Ver op die agtergrond kan hy nog die rumoer in die offersaal van Amen hoor en hy weet dat hy so gou