Ena Murray Keur 13. Ena Murray
versigtig moet wees. Word ons nou gevang, is dit klaarpraat.”
Sy klim gehoorsaam uit en sien hoe hy ’n wit seil agter uit die motor haal en oor die motor trek. Op ’n afstand sal die voertuig glad nie tussen die wit duine sigbaar wees nie. Maar voordat hulle begin aanstap, draai hy na haar.
“Elmarie, ek wil jou iets vra wat vir jou miskien onmoontlik is, maar ek vra dit nietemin.”
Sy kyk hom vraend aan. Sy stem is so ernstig soos wat sy dit nog nooit gehoor het nie. “Ja?”
“Vertrou my, asseblief.” Hy sien die verstilling van haar gelaat en sy hande gryp haar skouers vas. “Asseblief, Elmarie, ek smeek jou! Vergeet die volgende paar uur van jou agterdog teenoor my. Vergeet wat jy dink jy van my weet. Vertrou my volkome. Dis al manier waarop ons lewend hier sal uitkom. Jy moet my vertrou, al gebeur wat ook al! En moet niks, niks wat jy gesien en gehoor het, verklap nie, byvoorbeeld die feit dat ek Afrikaans magtig is nie … al kos dit ook jou lewe!”
Sy verbleek by die aanhoor van sy woorde. As hierdie man haar net in sy vertroue wil neem!
“Hoessein, wat beteken dit alles? Wie is jy? Wat presies is die rol wat jy speel?”
“Ek mag jou niks vertel nie, Elmarie. Ek wens ek kon, meisietjie, maar veral ter wille van jou eie veiligheid mag jy niks meer weet nie. Jy weet reeds te veel. Maar onthou net dit, my skat, die oomblik dat jy gaan praat, gaan jy ons doodsvonnis teken – myne, joune én die ander twee s’n.”
Sy kyk hom lank stilswyend aan.
“Goed, Hoessein,” antwoord sy dan. “Ek het geen ander keuse nie. Ek moet jou vertrou. Ek sal nie praat nie.”
En daar onder die flou skynsel van ’n Egiptiese maan, omring deur blinkwit sandduine, neem hy haar weer in sy arms. Hierdie keer soen sy hom terug met die volle wete van wat sy doen en sy gee nie om nie. ’n Roekeloosheid het van haar besit geneem. Al wat sy weet, is dat dit miskien die laaste keer is dat sy so in sy arms sal wees – en dis vir haar ’n ontsettende gedagte.
Hy laat haar eindelik gaan en neem haar hand, sy stem skor. “Kom.”
Hulle het ’n paar honderd meter gevorder toe hulle skielik op ’n sandduin voor hulle ’n eensame gestalte sien. Blitsvinnig ruk hy Elmarie langs hom op die sand neer en fluister dringend: “Lê doodstil. Dis een van die wagte.”
Die man tuur ’n oomblik voor hom uit. Dan draai hy sy rug op hulle en kyk in die rigting van waar hy gekom het.
Hoessein druk sy lippe teen Elmarie se oor en sy hoor hom fluister: “Wag. Ek is nou terug.”
Hy beweeg langs haar en sy sien hoe hy stadig, behoedsaam oor die sand begin seil, sy oë stip op die man se silhoeët gerig. Haar hart klop in haar keel. Wat as die wag nou omdraai?
5
Eindelik is hy kort agter die wag. Die volgende oomblik skiet sy liggaam soos ’n pyl uit ’n boog op die niksvermoedende man af. ’n Oomblik lank staan die twee worstelende gestaltes teen die vroeë oggendhemel afgeteken. Dan syg een stadig grondwaarts. Elmarie is te angsbevange om te roer. Wat as dit Hoessein is? Maar dan kom die gebukkende gestalte orent en wink met die hand. Sy hardloop nader en hy druk haar rukkende liggaam teen syne vas.
“Is hy … is hy dood?” fluistervra sy met afgryse.
“Ja.” Sy stem is grimmig. “Dit was noodsaaklik. Dit was óf hy óf ons. Kom.”
Met sy arm om haar begin hulle weer vorentoe beweeg. Binne-in Elmarie woel en kook dit. Hoessein het haar so pas getoon dat ook hy in staat is tot koelbloedige moord as dit vereis word. Sy sidder. En dis hierdie man wat sy moet vertrou, wat sy moet gehoorsaam, al kos dit ook haar lewe!
Hoe nader hulle aan die berge kom, hoe versigtiger beweeg Hoessein. Eindelik sluip hulle die skaduwees binne en Elmarie sug verlig. Hoessein vee die sweet van sy voorkop af. Die moeilike taak om ongesiens oor die verraderlike wit sand te kom, is afgehandel. Maar hy weet dat die moeilikste nog voorlê. Elmarie staar na die kaal rotse wat bo haar kop uittroon.
En binne-in die berg, by die lig van ’n fakkel, staan twee mense.
Hatsjepsoet, soos sy verkies om genoem te word, kyk die persoon wat stil langs haar verskyn het uitdrukkingloos aan.
“Wel, Naton?”
’n Hol laggie klink op.
“Die meisie met die wit hare is verkoop teen ’n fabelagtige prys, my koningin.” Hy noem die bedrag en ’n flou reaksie van verbasing flits oor die emosielose gesig.
“Wie het daardie verspotte hoë prys vir haar betaal?”
Weer die laggie – tergend, tartend, tevrede.
“Wie anders as jou minnaar, Nektanebo!”
Die altyd uitdrukkinglose oë vernou tot twee splete.
“Waar is hy nou? Kry hom vir my – onmiddellik!” sis sy.
“Dis nie nodig nie, my koningin. Dit sal jou verbaas om te weet waar hy op hierdie oomblik is, hy en die meisie wat hom van jou gesteel het!”
Behoedsaam sluip Elmarie en Hoessein vorentoe. Dis net die sterk vingers wat hare omklem wat Elmarie se bewerige bene aan die gang hou. Die nag is onheilspellend stil. ’n Swye rus oor die wit duine en bo hul koppe troon die Rooi See-berge soos stom wagters wat hul gang met agterdogtige, hol oë bespied. Hoessein trek haar by ’n spleet in wat eerlank wyer raak in ’n donker, steeds smal tonnel. Sy voel onder haar voete dat die tonnelvloer afwaarts strek en met elke tree wat hulle vorentoe gee, sak hulle dieper in die ingewande van die berg af.
Hoessein kom tot stilstand om hulle ’n blaaskans te gee.
“Hier is ’n geheime ingang wat ek per toeval ontdek het. Die ingang wat gebruik word, is hoër na die suide. Dit sit baie hoog. Jy sal seker onthou dat jy met ’n mandjie opgehys is,” fluister hy verduidelikend. “Ons sal dwarsdeur die berg na die ander kant moet gaan om by die plek uit te kom waar Marcelle en Deon gevange gehou word. Ons nader nou die eerste suilgang wat na die tempel van Ra, die songod, lei. Ek weet nie hoe ons by die priesters gaan verbykom nie, maar ons sal maar moet probeer. Kom!”
Die tonnel maak ’n reghoekige draai ’n paar treë voor hulle en toe hulle verby is, strek daar meteens ’n groot ruimte voor hulle uit, gevul met pilare waarop die bekende hiërogliewe van die ou Egipte aangebring is. Dit skitter dof in die flou lig van ’n paar fakkels en toe hulle versigtig nader kom, sien Elmarie dat die fakkels ’n goudkleurige glans het. Die lug is drukkend en die atmosfeer somber. Geluidloos beweeg hulle oor die vloer tussen die twee rye suile deur in die rigting van ’n opening aan die oorkant. Hoessein druk Elmarie agter hom teen die muur vas en loer versigtig na binne.
“Ons is gelukkig,” fluister hy. “Die priesters is besig om te offer aan Ra. Die son is aan die opkom. Ons sal agter hulle moet verbysluip en net hoop dat nie een omkyk nie.”
Hy vat haar hand weer stewig vas en Elmarie, stom van vrees, volg hom in ’n dwaal.
Die toneel in die groot saal laat Elmarie onwillekeurig in haar spore tot stilstand kom sodat Hoessein haar aan die hand moet ruk. Alles in hierdie saal – die mure, suile, beelde, waaraan jy maar kan dink – is oorgetrek met bladgoud sodat die hele vertrek ’n byna verblindende glinstering uitstraal in die lig van die baie fakkels. Die saal is gewy aan Ra, die songod.
Heel aan die oorkant sien Elmarie die priesters, wie se klere dieselfde goudkleurige glans weerkaats, voor ’n groot beeld, drie maal menshoogte. Dit het die lyf van ’n man, maar die kop van ’n arend. Die snawelbek glinster wreedaardig en vir Elmarie voel dit asof die hol, lewelose oë elke beweging van hulle dophou. Aan weerskante van hierdie aaklige beeld staan groot wierookbakke waaruit ’n soet, wit wasem omhoog styg en in deurskynende vlieswolkies deur die groot offersaal swewe.
Hoessein kyk egter nie links of regs nie. Hy pyl vinnig maar geruisloos op ’n sydeur af. Weer bevind hulle hulle in ’n breë gang. Weer word daar eers versigtig ingeloer toe hulle ’n deur bereik.