Ena Murray Keur 13. Ena Murray
en Deon agter in die motor toe die seilpunt skielik opgelig word. Hoessein ruk die deur oop.
Hy laat die bewustelose Elmarie in haar suster se hande en skuif agter die stuurwiel in. Die volgende oomblik dreun die enjin, maar voordat Hoessein die motor omgedraai kry in die rigting van die oase, skop hy meteens weer die rem vas. Die geweldige ruk wek Elmarie uit haar beswyming op, maar nie een van die ander drie merk dit op nie. Almal staar verslae na die berg waaruit eienaardige rookwolke walm.
“Wat is dit?” vra Deon verskrik.
“Daar moes seker ’n brand in een van die offersale ontstaan het. Heel waarskynlik in dié van Amen,” antwoord Hoessein met ’n onpeilbare gesig.
“Maar dan is daardie mense mos besig om dood te brand!”
“Ja.”
Elmarie praat die eerste keer. Sy draai vinnig na Hoessein en gryp hom aan die arm.
“Hoekom sit jy so? Gaan red hulle! Hoe kan jy net so sit en toekyk dat hulle …?”
“Dit sal nie help nie, Elmarie. Teen hierdie tyd is almal en alles al daarmee heen. Dié wat nie doodgebrand het nie, het verstik. Dit sal selfmoord wees om nou daar te probeer ingaan,” probeer hy verduidelik, maar sy kyk hom met wydgerekte oë aan en hy frons skerp vir wat hy in haar oë lees.
“Dan het Hatsjepsoet gelyk gehad.” Elmarie se stem is hees van emosie terwyl sy hom met bewende lippe beskuldig. “Dan het sy die waarheid gepraat. Jy is harteloos, sonder gevoel! Daardie mense het jou gedien asof jy ’n god was, en noudat hulle sterf, draai jy jou rug op hulle! Hatsjepsoet was in die kol toe sy gesê het jy is ’n koelbloedige moordenaar. Jy ís een!”
Sy hamer met haar vuiste teen sy bors en hy gryp haar polse vas. Hy is net so bleek soos sy op hierdie oomblik.
“Elmarie, dink wat jy praat! Jy is van jou sinne af!”
Maar Elmarie is heeltemal histeries. Al die ou agterdog teenoor Hoessein kom weer na vore.
“Alles wat Hatsjepsoet gesê het, is die waarheid. Jy ís die leier van hierdie … hierdie goddelose kultus! Jy is die man agter al hierdie ellende! Daar op jou bors sit die merk van die skarabee!” Sy kyk hom vas in die oë. “Hoessein, jy het verloor. Erken dit en gee oor. Daar het niks van jou ou Egiptiese beskawing oorgebly nie. Jou mag is gebreek. Gaan gee jou oor en behou sodoende nog ’n klein bietjie selfrespek deur te boet vir jou dade.”
Haar stem is skielik pleitend, maar die man se gesig bly soos graniet. Hy buk oor om die enjin weer aan te skakel, maar voordat hy wegtrek, kyk hy in haar oë.
“Jy vergeet een ding, Elmarie. Ek het nog nie alles verloor nie. Ek het maar eintlik baie min verloor in vergelyking met wat ek nog het.”
“Wat bedoel jy?”
’n Fyn, diaboliese glimlaggie verskyn skielik om sy mondhoeke.
“Ek het nog vir jou – en saam met jou – die hangertjie!”
Op pad terug na die oase is dit stil. Niemand praat verder nie. Agter in die motor sit Marcelle en Deon met ineengestrengelde hande. Vir hulle is dit op die oomblik genoeg om by mekaar te wees. Voor in die motor agter die stuurwiel sit Hoessein gespanne, sy oë stip voor hom gerig, die onleesbare gesig strak, koud, ongenaakbaar. Langs hom sit Elmarie met neergeslane ooglede, haar gesig bleek.
Die afgelope dae se spanning en gevare het sy tol begin eis. Noudat sy ’n oomblik tot stilstand gekom het, besef Elmarie eers dat sy totaal uitgeput is. Afgesien daarvan dat sy nie kan onthou wanneer laas sy geëet het nie, het ’n moegheid oor haar toegesak. Eerlank val haar liggaam skuins en toe ’n arm onder haar ingedruk word en sy gemaklik nader getrek word totdat sy ’n stut teen ’n breë bors en skouer kry, sit sy haar nie teë nie. Op die oomblik is die liggaamlike behoefte aan rus te groot om aan enigiets anders te dink.
Toe hulle by die oase aankom, word kos vir die vermoeide Deon en Marcelle voorgesit en dan kamers aangewys waar hulle kan rus. Ook hulle is so uitgeput dat hulle dadelik op die beddens neerval en aan die slaap raak sonder dat dit tot hulle deurdring dat hulle nog altyd gevangenes is. By elke deur word ’n wag geplaas – wat eintlik onnodig is, aangesien nie een van die gevangenes eens ’n gedagte daaraan sal gee om te probeer ontsnap nie.
Ook Elmarie word versigtig op ’n bed neergelê. ’n Oomblik bly die man gebukkend oor die slapende meisie staan, sy gesig onpeilbaar terwyl sy blik oor die moeë gesig dwaal. Dan lê hy sy lippe baie saggies en baie teer oor haar mond en verlaat die vertrek. Hy self is tot in sy siel toe uitgeput, maar daar is geen ruskans vir hom nie.
“Kyk goed na haar. Sodra sy wakker word, moet daar vir haar kos voorgesit word. Ek sal vanaand terug wees.” Die wag by die deur knik en Hoessein stap weg. By die gangdeur draai hy egter terug. “Sy is vir my baie kosbaar, Merjet. Wanneer ek terugkeer, sal ek haar lewe van jou hand eis.”
“Ek sal haar met my lewe beskerm, my heer,” antwoord die wag. Hoessein knik tevrede en met ’n laaste blik na die toe kamerdeur stap hy weg.
Binne enkele oomblikke dreun die motor oor die woestynpad en die oase raak ’n spikkeltjie agter hom.
Elmarie word eerste wakker. ’n Oomblik lê sy met oop oë op die bed en staar met ’n verwarde frons om haar rond. Dan spoel die herinnering haar te binne en sy spring op. Maar skaars het haar voete grondgevat of die deur swaai oop. Die wag maak sy verskyning.
“Ek sal kos na die kamer laat stuur, juffrou. Ek vertrou u het goed uitgerus?” vra hy beleef.
“Dankie. Waar is Hoessein?”
“My heer is nie tuis nie, maar ek verwag hom aanstons.”
Elmarie frons. Waarheen sou Hoessein verdwyn het? Sy kyk vlugtig by die venster uit en voel verbaas. Dis al skemeraand. Sy het omtrent die hele dag geslaap.
Sy kyk weer na die wag. Sy oë is vriendelik en sy voel instinktief aan dat sy hom nie hoef te vrees nie. Sy probeer glimlag. “Kos sal nou wonderlik smaak. Waar is my suster-hulle?”
“In hul kamers. Hulle rus nog.” Sy maak ’n beweging in die rigting van die deur, maar Merjet hou sy hand waarskuwend op. “Asseblief, juffrou. U mag nie u kamer verlaat nie, nie voordat my heer terug is nie.”
“Ek wil net na my suster toe gaan,” laat Elmarie fronsend hoor, maar die wag skud weer beslis sy kop.
“Ook hulle mag nie hul kamers verlaat nie. Hier is die kos. Ek hoop u is tevrede. As daar nog iets is wat u verlang …”
Elmarie sug en neem dan by die tafeltjie plaas. Die wag lyk vriendelik en beleef, maar hy het duidelik getoon dat sy heer se bevele uitgevoer sal word. Toe haar blik op die kos val, vergeet sy egter van haar ontevredenheid. Sy besef nou eers hoe verskriklik honger sy is. Die wag glimlag ingenome toe hy sien hoe goed sy reg aan die maal laat geskied. Daar is ook ’n glimlag op Elmarie se lippe toe sy eindelik haar hande afvee en na hom opkyk. Sy voel soos ’n ander mens.
“Dankie. Dit was heerlik. Wat is jou naam?”
“Merjet, juffrou.”
“Merjet … Is jy al lank in jou heer se diens?”
“Vandat hy hier op hierdie oase kom bly het, juffrou.”
“Dit is al ’n hele rukkie, nie waar nie? Julle twee moet dus goed klaarkom. Sê my, hoe ’n soort mens is hy?”
“My heer Hoessein? Beter kan nie gekry word nie, juffrou. Hier is niemand in sy huishouding wat nie hul lewe vir hom sal gee as dit moet nie.”
Elmarie se oë raak peinsend. Hoe is dit moontlik dat iemand so ’n groot skurk soos Hoessein Abd-el-Rahman kan wees en dan so ’n getuigskrif kry?
’n Paar uur gelede, toe sy na die ontblote bors met die merk van die skarabee daarop voor die altaar van Amen gestaar het, het sy gedink dat sy eindelik die ware Hoessein voor haar gesien het. Nou begin sy egter weer twyfel.
“So? Wat maak hom so … e … wonderlik, Merjet?”
“Sommer