Ena Murray Keur 13. Ena Murray

Ena Murray Keur 13 - Ena Murray


Скачать книгу
hoekom het hy julle dan op die slawemark gekoop?” Elmarie frons verward.

      “Om ons vryheid aan ons terug te gee. Dit is wat hy gesê het. Maar nie een van ons begeer ons vryheid terug nie, nie in diens van so ’n man soos Hoessein Abd-el-Rahman nie.”

      Daar is soveel verering, byna aanbidding in sy stem dat Elmarie hom verslae aankyk. ’n Oomblik wonder sy of dit nie maar weer ’n set van Hoessein is om haar te beïndruk nie, maar toe sy in die man se oë kyk, besef sy dat dit geen toneelspel is nie. Hierdie man bedoel elke woord wat hy sê. Sy aarsel, maar kan haarself nie keer nie.

      “Sê my, Merjet, ek verstaan jou heer het ook ’n harem …”

      Sy voel uiters verleë toe die wag hartlik lag.

      “Dis sommer praatjies, juffrou. Dis omdat my heer ’n paar keer jong meisies op die slawemark gekoop het. Maar daar bestaan nie so iets nie. My heer het hulle dadelik hul vryheid geskenk. Hier is tans net een vrou op die oase, natuurlik afgesien van u en u suster, en dié is my vrou.”

      Elmarie lag verleë en voel terselfdertyd ontsteld oor haar groot verligting. Wat het dit met haar te doen? Het sy dan nie al klaar besluit dat daar nooit enigiets tussen haar en Hoessein kan bestaan nie?

      Sy sug en sonder dat sy daarvan bewus is, verskyn daar ’n weemoedige trekkie om haar mond. Daar is so baie wat mooi en goed is in Hoessein, en met sy sterk persoonlikheid kan hy werklik ’n groot man wees, ’n wonderlike man soos wat hierdie Merjet en ander glo hy is. Maar sy sug na besittings, na rykdom het van hom ’n skurk gemaak – en ’n moordenaar, want indirek is hy verantwoordelik vir die vlammedood van so baie in die onderaardse tempel in die Rooi See-berge.

      Binne-in haar krimp dit ineen. Hoe lank sal sy hom nog kan weerstaan? Sy moet nie alleen teen hom stry nie, maar ook teen haar eie hart wat so maklik vermurwe wanneer hy haar in sy arms neem. En hy weet, hy wéét watter mag sy liefkosings op haar het! Hy weet dat hy haar maar net kan begin liefkoos en haar nugter rede verlaat haar! En as sy eendag in ’n oomblik van swakheid verraai waar die hangertjie is, wat sal hy dan met haar doen? Doodmaak, soos Hatsjepsoet haar gewaarsku het? Het hy nie dieselfde met arme Hatsjepsoet gedoen nie? Toe hy haar nie meer nodig gehad het nie, toe sy ’n gevaar vir hom geword het, het hy die vinger na haar gewys en sy is soos ’n dier geoffer deur die waansinnige skare!

      Rusteloos dwaal sy deur die kamer. Dis Oosters gemeubileer en in goeie smaak. Ook hier in sy woonplek blyk dit dat Hoessein ’n uiters beskaafde mens is. Hoekom is hy dan in ander opsigte byna barbaars? Sal sy ooit hierdie man verstaan? wonder sy die soveelste keer.

      Die wag onderbreek haar somber gedagtegang.

      “By daardie deur in is die badkamer. Daar is warm water en handdoeke.”

      Elmarie knik dankbaar en toe sy die badkamer binnestap, moet sy weer ’n oomblik tot stilstand kom. Dis ’n moderne badkamer, voorsien van al die geriewe wat ’n mens kan kry. Tot haar verbasing sien sy dat daar van gasverwarmers gebruik gemaak word vir die warm water. Dis Hoessein, dink sy met ’n soort magtelose gevoel. Nog ’n faset van hierdie man se komplekse persoonlikheid. ’n Oase in die hart van die Arabiese woestyn, sonder ’n harem, slawe wat hul vryheid besit om te gaan wanneer hulle wil, maar tog nie gaan nie, kandelare en Persiese matte in die woonvertrek, Oosterse behangsels in die slaapvertrek en ’n moderne, witgeteëlde badkamer met ’n gasverwarmer! Hoessein – die een en enigste!

      Toe sy ná ’n verfrissende bad terugkeer in die kamer, lê daar tot haar verdere verbasing een van haar eie rokke op die divan oopgesprei.

      “Merjet!”

      Die wag maak dadelik sy verskyning.

      “Juffrou?”

      “Waar kom dít vandaan?” vra sy skerp en hou die rok op.

      “My heer is terug. Hy het gedink u sal gelukkiger in u eie klere voel. Daarom het hy van u klere saamgebring.”

      “Werklik?” Elmarie weet nie of sy moet lag of huil nie. Watter ander man sal in sulke omstandighede aan so iets dink? Net Hoessein!

      “My heer het gevra om u te spreek sodra u gereed is.”

      “Goed, ek sal oor ’n kwartier gereed wees.”

      Elmarie voel meer seker van haarself toe sy haar beeld in die lang hangspieël bekyk. Sy het maerder geword, maar dis of sy skielik meer volwasse vertoon. Is die grusame ondervindings van die afgelope dae die oorsaak daarvan, of is haar vrouehart eindelik werklik wakker geskud? Sy swaai vinnig weg van die spieël. Sy durf nie daaraan dink nie! Sy moet onthou dat Hoessein ’n skurk is. Dis al wat haar sal help om sy vreemde magnetisme te weerstaan.

      Merjet lei haar die gang af, deur die woonvertrek tot in ’n klein binneplein. Die skemeraand het reeds verdonker tot ’n fluweelsagte swart. Sy trek haar asem skerp in toe sy die binnehof betree. Die toneel van blomme en struike en sagte, gedempte ligte laat haar terugdink aan die daktuin bo-op die Kaïro Grand en sy huiwer. Sy wil Hoessein nie in so ’n atmosfeer ontmoet nie. Maar hy het reeds te voorskyn getree langs ’n kunsmatige watervalletjie wat langs sy voete verbymurmel tot in ’n leliedammetjie ’n entjie verderaan.

      “Goeienaand. Ek hoop jy het goed gerus en geëet?” vra hy op beleefde toon.

      “Dankie.” Sy kom nie nader nie, en haar stem is ook onpersoonlik.

      Hy beduie met sy hand na een van die gemakstoele wat oral rondstaan.

      “Kom sit gerus. Wat kan ek vir jou inskink? ’n Koue vrugtedrankie of iets sterkers?”

      “Ek wil niks hê nie, dankie.”

      Hy frons en sy blik op haar verskerp.

      “Kom sit dan, asseblief,” sê hy en toon vae tekens van ongeduld.

      Maar Elmarie staan asof sy op een plek geplant is.

      “Ek verkies om te staan. Jy wou my spreek.”

      Hy beweeg effens nader en kyk in haar koel oë af. Teen haar sin bemerk sy die moeë lyne om sy oë en op sy voorkop, maar sy verhard haar hart.

      “Elmarie, asseblief, ek is totaal uitgeput. Solank jy staan, kan ek ook nie sit nie. Sit tog, asseblief!”

      “Nog altyd die fyn beskaafde heer wanneer dit jou pas, Hoessein?” ’n Sarkastiese glimlaggie plooi om haar mondhoeke. “Dink jy nie dis ’n bietjie kinderagtig om daardie klug voor my te probeer handhaaf ná alles wat gebeur het nie?”

      “Ek weet nie wat jy daarmee bedoel nie, maar as jy nie nou gaan sit nie, sal ek jou dwing.” Hy vee moeg oor sy oë. “Moenie my te ver tart nie, Elmarie. Ek is ’n mens van vlees en bloed.”

      “Net soos ek gedink het!” Haar stem is sag, beledigend. “Dis maar ’n dun lagie beskawing wat jy om jou dra. Goed. Ek sal sit, maar maak asseblief hierdie onderhoud so kort moontlik. Spaar jou asem as jy my weer wil vra waar die hangertjie is.”

      Haar oë ontmoet syne uitdagend en hy staar haar ’n oomblik stilswyend aan. Vlugtig dwaal sy blik oor haar skraal gestalte, die fynbesnede gesiggie, en daar kom teësinnige bewondering in hom op.

      “Ek wonder of jy werklik weet wat jy praat. Ek kan doen wat ek wil. Besef jy wat dit kan beteken, wat dit alles vir jou kan inhou?”

      “Ek begryp maar te goed ná wat ek alles die afgelope paar dae van jou gesien en gehoor het. Maar jy sal my nie afskrik nie, Hoessein. Ek sterf liewer as om van jou nog ’n groter skurk te maak as wat jy reeds is!”

      Hy kyk vinnig op; sy oë vernou. Dit is lank stil. Dan buk hy vooroor, gooi vir hom ’n drankie in en neem tydsaam ’n sluk. Dan steek hy ’n sigaar aan en dis eers toe hy die rook uitblaas en ontspanne agteroor terugleun in sy stoel dat hy praat.

      “Jy glo so maklik wat ander jou vertel, Elmarie. Hoekom vind jy dit so moeilik om te glo wat ek jou vertel?” Hy sit vorentoe, sy blik priemend in hare. “Sal jy my glo as ek jou weer die versekering gee dat ek nie is wat jy dink ek is nie?”

      Sy kyk in sy donker oë


Скачать книгу