.
nou eenmaal die idee in haar kop en weier om my enige antwoord te gee tensy sy seker is dat jy nie sal seerkry nie, soos sy dit gestel het. Ek het gewonder of jy nie met haar sal praat en vir haar sê dat sy haar dit verbeel nie.”
Elmarie weet tot op hierdie oomblik nie hoe sy hom kon antwoord nie, maar sy het die versekering in haar eie stem gehoor: “Natuurlik sal ek met haar praat, Deon. Ek … ek weet nie waar sy aan die gedagte kom nie. Soos jy sê … dis belaglik! Ons was nog altyd net … vriende.”
Elmarie het nooit voor daardie oomblik geweet hoe goed sy kan toneelspeel nie.
Sy het Marcelle dadelik bygedam toe sy van die vlug af terugkeer. Dit was die pynlikste oomblikke van haar twee en twintig jaar.
“Elmarie, is jy seker jy vertel my die waarheid? Ek was dan so seker dat jy op Deon verlief was … is,” het Marcelle volgehou.
Elmarie het haar vas in die oë gekyk en toe geglimlag, ’n glimlag wat haar baie gekos het. Maar Marcelle het dit nie geweet nie.
“Kleintjie,” het sy haar suster op die troetelnaam van hul kinderdae aangespreek, “dit wys net hoe min jy werklik van die lewe af weet. Omdat Deon my eerste werklike mansvriend is, beteken dit nie dat ek op hom verlief moet wees nie. Ek erken ek hou baie van hom en hy is die eerste man wat ek ontmoet het teenoor wie ek spontaan kan uitpraat. Hy is so verstandig.”
“Ja, ek veronderstel dit is so, maar …” Marcelle het haar fronsend aangestaar.
Elmarie het gebid dat hierdie gesprek moet eindig.
“Marcelle, is jy seker dat jy Deon liefhet?”
“O ja! Van die eerste oomblik af dat ek hom gesien het, hét ek geweet hy is anders.”
Dit was die finale slag. Omdat dit al tweede natuur by Elmarie was om terug te staan vir die geluk van haar suster, het sy ná hierdie woorde finaal afskeid geneem van enige sprankie hoop in haar hart. Deon was nie vir haar nie.
Sy moet beslis haar rol baie oortuigend gespeel het, want in die maande wat gevolg het, het nie een van die intieme huiskring ooit geraai dat daar ’n wond in haar hart was nie. Aan die begin het sy Marcelle se blik peinsend op haar betrap, asof die jonger meisie nog nie heeltemal oortuig was nie. Dan het Elmarie op haar tande gebyt en by haarself gesweer dat Marcelle nooit die waarheid sal agterkom nie.
Haar gelukwensing toe Marcelle en Deon verloof geraak het, was opreg. Sy het selfs so ver gegaan om met Marcelle te praat toe Deon haar hulp inroep om Marcelle te oorreed om van haar beroep af te sien sodat hulle dadelik kan trou. Dit, meer as enigiets anders, het Marcelle finaal daarvan oortuig dat haar ouer suster nie verlief op haar verloofde is nie.
Marcelle het egter voet by stuk gehou. Sy het maar pas begin met oorsese vlugte en hoewel daar geen twyfel bestaan het dat sy Deon werklik liefhet nie, wou sy nog ’n rukkie voortgaan met haar beroep. Deon het maar toegegee, want soos die Wiid-gesin, kon niemand vir Marcelle nee sê nie.
In daardie tyd het Elmarie se lewe vir haar soos ’n ou verbleikte lap teen dié van haar jonger suster gelyk. Marcelle het oor die aardbol gevlieg. En wanneer sy terugkeer, het Deon op haar gewag. Elmarie, daarenteen, het in die sleurgang van daaglikse roetine verval en saans tuis deurgebring met boeke wat Marcelle vir haar saamgebring het uit die lande waar sy oral was.
Elmarie het ongemerk al dieper in die skaduwee van haar jonger suster begin leef. Soms het Marcelle ook aandenkings uit verre lande vir haar saamgebring. Dié het sy almal in ’n spesiale vertoonkassie in haar kamer gehou. Die laaste keer het sy vir haar ’n hangertjie uit Egipte gestuur saam met ’n lugwaardin met ’n kruisvlug in Kaïro. Sy het die hangertjie by een van die menigvuldige kraampies langs die strate van Kaïro gekoop waar ’n mens “van ’n speld tot ’n olifant te koop kan kry”, soos haar gidsboek Elmarie verseker het. Daar was ’n kort briefie by die pakkie ingesluit:
Ek stuur die pakkie saam met juffrou McClear van die B.O.A.C. se vlug wat ons s’n in Kaïro kruis. Dit mag eintlik nie gedoen word nie, maar sy was so gaaf om in te stem om dit vir jou saam te bring. Die goggading aan die kettinkie is glo ’n replika van ’n skarabee, ’n Egiptiese kewer wat as heilig beskou word. Die ou vrou van wie ek dit gekoop het, beweer dis in die ou tyd beskou as ’n gelukbringer en dat hierdie spesifieke hangertjie werklik uit die graf van die Egiptiese farao Toetankamen kom!
Dis natuurlik louter onsin, want hierdie oudheid kos my die fenomenale bedrag van een rand! In elk geval, ek stuur dit aan jou, want dis iets eg Egipties. Wie weet, dalk as jy op die ding se maag vryf, gebeur daar iets snaaks! Liefde aan almal. Ek sien julle oor ’n week.
Marcelle
Elmarie het gelag vir haar suster se stuitigheid en die “gogga” oor die maag gevryf. Daar het egter niks gebeur nie!
Daardie selfde middag het die tyding gekom. Lugwaardin Marcelle Wiid, verbonde aan vlug 706 van die Suid-Afrikaanse Lugdiens, word in Kaïro vermis. Alle pogings word aangewend om haar op te spoor. Die laaste wat iemand van Marcelle gehoor het, is die kort briefie wat ingesluit was in die pakkie waarin sy die skarabee-hangertjie aan haar suster gestuur het.
’n Maand het verbygegaan.
Vir Deon Rabie en die Wiids was dit die verskriklikste maand van hul lewe. Deon het dadelik by die Departement van Onderwys aansoek gedoen om drie maande verlof. Hy het Elmarie gevra om hom te vergesel. Nadat hulle haar ouers omgehaal het, het sy ’n plaasvervanger vir haar musiekpos gesoek en haar gereed gemaak om saam met Deon Egipte toe te gaan.
Dit was vir haar ’n verligting om eindelik iets daadwerkliks te doen. Die afgelope maand se sit en wag op nuus uit Kaïro het hulle byna van hul verstand gedryf. Haar ma en pa het hulle besonder sterk gedra. Dit was Deon wat gedreig het om ’n ineenstorting te kry. In hierdie tyd het Elmarie eers besef hoe lief Deon haar suster moet hê. Dit was juis die toestand waarin Deon verkeer het wat haar ouers eindelik oorreed het om Elmarie toe te laat om saam te gaan. Met die inpak het sy ’n oomblik die hangertjie wat Marcelle vir haar gestuur het, opgetel en daarna gekyk. Toe het sy dit saam met ’n paar stukkies juwele in die tas gepak, asof sy nie afskeid wou neem van die laaste skakel tussen haar en haar suster nie.
Terwyl sy en Deon hulle koorsagtig gereed gemaak het, het die vreeslikste gedagtes hulle geteister. Hulle het skielik onthou dat daar al vantevore meisies so geheimsinnig verdwyn het. Hulle het onthou van ’n bewering in ’n tydskrif kort gelede dat daar ’n florerende slawehandel in jong meisies in die Midde-Ooste aan die gang is. En dat polisie en politici magteloos is om dit stop te sit.
Met ’n ruk keer Elmarie tot die werklikheid terug toe die ligte waarskuwend aanflits. “Ons nader Kaïro. Maak asseblief u sitplekgordels vas,” klink die lugwaardin se stem op.
Elmarie se hande gehoorsaam vanself die bevel, maar soos Deon staar sy af na die stad wat daar onder hulle lê. Kaïro … hart van Egipte, wat gevoed word deur die blou aorta van die Nyl. Kaïro – die plek waar Marcelle laaste gesien is …
Eindelik is al die formaliteite by die lughawe afgehandel en is Elmarie en Deon in die agterste sitplek van ’n taxi op pad na die Kaïro Grand, die hotel waar hulle plek bespreek het. Met asembenemende snelheid jaag die motor deur smal straatjies en skreeu die bande om straathoeke totdat Elmarie haarself nie langer kan beteuel nie.
“Is die man dan van sy verstand af? Hy sal ons verongeluk! Deon, praat met hom!”
Deon tik hom op die skouer en probeer hom op Engels aan die verstand bring dat sy passasiers dit verkies om stadiger te beweeg. Al reaksie wat hierdie pleidooi egter uitlok, is ’n breë, vriendelike glimlag en ’n voet wat nog ’n bietjie swaarder op die petrolpedaal rus. Deon trek sy skouers magteloos op.
“Dit lyk my dis veiliger om stil te bly. Dis seker maar die gebruik hier, want ek sien die ander motors jaag net so. Ons hoop maar vir die beste,” sê hy en glimlag onwillekeurig vir die verskrikte gesig langs hom.
“Dis vreeslik! Is hier dan geen snelheidsperk nie? O, dankie tog, hemel, hier word ons voorgekeer!” roep sy uit toe die motor agter ’n lang ry motors tot stilstand gedwing word. Voor, op die kruising, sien Elmarie ’n verkeerskonstabel wat die verkeer reguleer.