Ena Murray Keur 13. Ena Murray
hy tussen die malende gesigte verdwyn het.
Dan merk Deon op: “Dié Hoessein Watsenaam klink na ’n interessante man. Ons kan hom gerus van nader leer ken.”
“Ek het dit al lankal gedink.” Elmarie kyk hom opgewonde aan. “Miskien sal hy ons nog kan help. Hy sal seker …”
“Nee!” Sy stem klink ongewoon streng. “Nee, Elmarie. Dit moet jy my belowe. Jy mag hierdie man nie in jou vertroue neem nie. Hy mag niks weet van Marcelle of die rede hoekom ons hier is nie. Verstaan jy?”
“Werklik, Deon, ek dink jy is nou ’n bietjie verspot met jou agterdog.” Sy kyk hom fronsend aan. “Jy vertrou selfs nie die hotelbestuurder nie! Hoe sal ons ooit ’n spoor van Marcelle ontdek as ons niemand in ons vertroue durf neem en navraag doen nie? Ek voel dat Hoessein, wat so bekend is en seker baie invloed het, ons miskien nog sal kan help.”
“Nee, beslis nie, Elmarie. Ek vertrou daardie man nie.”
“Maar hoekom nie? Jy het geen rede …”
“O ja, ek het. Daardie storie van die harem …”
“Deon! Jy wil my tog nie kom vertel dat jy daardie onsin glo nie! Jy … jy kan tog nie dink dat daar ’n moontlikheid bestaan dat hy Marcelle … Marcelle …”
“Ek glo alles totdat die teendeel bewys is. Dis nie onmoontlik nie, Elmarie! Dit kán so wees!”
Sy oorweeg sy woorde en erken dan teësinnig: “Nee, dis seker nie onmoontlik nie, maar … maar ek wéét net dit is nie so nie!”
Deon lyk openlik ontevrede. “Jy is net so behep met die man soos al die ander –”
“Moenie belaglik wees nie, Deon,” val sy hom vererg in die rede. “Ek het hom vandag vir die eerste keer ontmoet …”
“Juis – en vanaand ken jy hom so goed dat jy niks verkeerds van hom wil hoor nie!” Dit bring haar tot swye en hy vervolg: “Bly weg van daardie man af, Elmarie. Hy is gevaarlik. Al het hy dan ook op die aarde niks met Marcelle te doen nie, is dit nog beter vir jou om uit sy pad te bly. Daar kan niks goeds kom van ’n vriendskap tussen julle nie.”
Elmarie weet nie wat haar makeer nie, maar sy voel skielik na aan trane. Sy tel haar handsak vinnig op.
“Ek gaan slaap,” sê sy dan kortaf, maar Deon se hand op haar arm hou haar terug.
“Wag eers. Jou held het so pas met sy duur motor hier stilgehou. En hy is nie alleen nie. Hier kom hulle aangestap. Ek dink dis die beeldskone Farah van wie die hotelbestuurder vertel het daar by hom.”
Elmarie bly sit. Hoessein en sy metgesel gaan sit by ’n tafeltjie omtrent tien meter van hulle af. Hy sit met sy rug na hulle en die vrou neem regoor hom plaas. Hoessein se breë rug versper die vrou se profiel, maar skielik buig hy effens vooroor en dan kyk Elmarie vas teen die beeldskone gesig. Die donker oë kyk stip, kil in hare en Elmarie is nie in staat om haar blik weg te skeur nie.
Toe Hoessein weer regop sit en haar uitsig versper word, voel Elmarie ’n koue rilling langs haar ruggraat afgaan. Sy gril effens en staan vinnig op, skielik haastig om weg te kom uit die onmiddellike omgewing van die twee mense by die tafeltjie ’n entjie van hulle s’n af.
Deon volg haar stilswyend, blykbaar ook nie lus om verder te gesels nie.
Elmarie stap direk na haar venster en kyk oor die groot terras uit. Vanaf die tweede verdieping gaan haar blik oor die tafeltjies, maar daar is nou geen teken van Hoessein en sy vriendin nie. Hulle moet vertrek het pas nadat sy en Deon ingekom het. Elmarie voel rusteloos. Hoewel dit reeds na aan middernag moet wees, voel sy glad nie vaak nie. Daar woed ’n tweestryd in haar en ná ’n kwartier gee sy die stryd gewonne.
Daardie luukse woonstel van Hoessein op die boonste verdieping … En tog het sy hom uitdruklik geëien as die persoon wat ’n paar uur gelede by ’n kamer verder af in hul gang in verdwyn het. En dít pas … pas voordat sy die chaos in haar kamer aangetref het! Dit wás hy wat sy gesien het. Sy is seker daarvan. As hy ’n woonstel op die boonste verdieping het, wat het hy hier in hul gang gesoek?
Teen haar sin voel sy hoe haar voete haar na die deur dra. Haar hand huiwer op die deurknop. Dan, asof sy haarself net nie langer kan keer nie, stap sy in die gang uit. Die skerp hoofligte is afgeskakel en net die muurliggies gooi ’n flou skemering in die lang gang. Sy gewaar niemand nie. Versigtig sluip sy op die sagte mat by Deon se kamerdeur verby en is effens kortasem toe sy eindelik voor ’n toe deur tot stilstand kom.
Sy aarsel, klop dan saggies aan. Daar kom geen reaksie nie. Versigtig draai sy die deurknop. Dit gee mee. Stadig raak die skrefie al groter en haar bewende vingers tas na die skakelaar.
Die volgende oomblik flits die elektriese lig aan en die leë kamer, duidelik een wat nie op die oomblik gebruik word nie, is ’n antiklimaks. Wat sy eintlik verwag het, weet sy self nie, maar sy voel buitensporig verlig. Maar byna dadelik kom die treiterende vraag weer by haar op … Maar wat hét Hoessein dan in hierdie kamer kom soek? Die agterdog groei weer teen wil en dank aan en met ’n bekommerde frons draai sy om en skakel die lig af.
Haar gesnak na asem is duidelik hoorbaar. Die man wat so in die voorgrond van haar gedagtes is, staan skaars ’n tree van haar af in lewende lywe. Sy staar magteloos op in die donker oë wat skerp op haar gerig is. Maar nou glimlag hy nie soos die vorige kere nie, en op hierdie oomblik merk Elmarie op hoe ongenaakbaar streng sy gesig werklik is … dat die mond selfs wreed kan lyk wanneer die lippe grimmig opmekaar gepers is soos nou. Sy wil skree, maar haar keel word toegetrek deur ’n band van vrees, en sy voel so verlam van skok dat sy selfs nie kan terugdeins toe hy sy hande na haar uitstrek nie.
Deur ’n suising in haar ore hoor sy hom vra: “Wat makeer? Jy is bleek!” Sy hande lê op haar skouers en sy voel hoe sy effens nader getrek word. “Wat is dit, Elmarie?”
Sy vra die eerste ding wat in haar gedagtes kom: “Hoe ken jy my naam?”
Hy glimlag.
“Dit was nie so moeilik om dit vas te stel nie.” Dan frons hy liggies terwyl sy blik na die nommer op die deur agter haar gaan. “Dit is nie jou kamer nie. Wat het jy hier kom maak?”
Sy roer onder sy hande en slaan haar ooglede verbouereerd neer.
“Ek … ek het deurmekaar geraak met die nommers. Wat soek jý hier?”
“Ek het jou kom vra om ’n drankie saam met my te kom drink.”
Sy kyk hom verbaas aan.
“Dié tyd van die nag? Dis seker al oor twaalf!”
“Dan is daar nou al twee dinge wat ek van jou weet wat die hotelregister my nie kon vertel nie. Jy hou nie van snelheid – of om ná middernag ’n drankie te drink nie!” Sy oë is tergend. “Jy is ’n interessante vrou, Elmarie Wiid. Ek sal jou graag beter wil leer ken. Sê my, waarmee kan ek jou hierdie tyd van die nag na my woonstel lok?”
Toe hy haar ’n interessante vrou noem, het haar hart onwillekeurig vinniger begin klop. Niemand het haar nog ooit dít genoem nie. Maar nou kyk sy hom wantrouig aan. Hy erken openlik dat hy haar na sy woonstel wil lok! Sy trap ongemaklik rond en voel die drukking van sy vingerpunte op haar skouers verskerp.
“Jy is tog seker nie bang om alleen met my te wees nie, of is jy?”
“Ek …” Sy weet nie wat om te antwoord nie. Dis die eerste keer in haar lewe dat sy so ’n man ontmoet en sy weet nie hoe om hom te hanteer nie.
“Sal jy nie daarvan hou om my woonstel te sien nie? Dit het ’n daktuin en daarvandaan kan jy oor Kaïro se liggies uitkyk en die Nyl duidelik in die maanlig sien blink. Dis ’n pragtige gesig en iets om in die herinneringskis weg te bêre vir wanneer jy terug is in jou land.”
Sy kan die versoeking nie weerstaan nie. Sy is wel bang om alleen met hierdie man te wees, maar terselfdertyd is daar ’n opgewondenheid, ’n vreemde afwagting in haar aanwesig.
Haar blik gaan vinnig na Deon se kamerdeur. Sy wil liewer nie dink aan wat sal gebeur as Deon