Ena Murray Keur 13. Ena Murray
kan dit wees, Deon? Wat kan ek in my besit hê waarin ’n onbekende persoon of persone in Egipte kan belangstel? Wat meer is, ons het maar vandag hier aangekom. Hoe kan hulle nou al vermoed dat ek dit het – wat dit ook al is?”
“Ek weet nie, maar ek het net die gevoel dat ek reg is, dat die inbreker of inbrekers na iets spesifieks in jou kamer gesoek het. Maar maak eers seker dat hier regtig niks weg is nie. Ek wil net in my kamer gaan kyk of hulle nie miskien ook daar was nie. Ek dink hierdie saak moet vanaand nog by die hotelbestuurder aangemeld word. Ons gaan netnou weer af ondertoe.”
Ná ’n paar oomblikke keer Deon terug en op die vraag in haar oë antwoord hy: “Nee. Daar is nie by my kamer ingebreek nie. Agtergekom dat iets weg is?”
“Nee. Niks. Net …” Sy skud haar kop.
“Ja?”
Elmarie lag effens senuweeagtig en haar stem klink verskonend. “O, dis seker nie van belang nie. Dis seker maar iets wat die vorige persoon hier laat lê het. Hier is dit.”
Sy hou ’n wit papiertjie na hom uit en hy kyk verbaas daarna.
“Waar het jy dit gekry?”
“Op die kassie langs die bed.”
“Het jy dit nie vroeër vandag daar opgemerk nie?” Hy kyk haar skerp aan.
“Nee … e …” Haar stem klink onseker. “Dit kon daar gelê het. Ek het dit miskien net nie opgelet nie. In elk geval is dit net ’n ou tekeninkie. Dit kan tog nie iets met die inbraak te doen hê nie.”
Deon kyk weer fronsend af op die papiertjie in sy hand.
“Ek wonder wat dit is? Dit wil bekend voorkom.”
“Ja, vir my lyk dit ook soos iets wat ek al tevore gesien het, maar ek kan nie dink waar nie.”
Hy steek die tekening in sy binnesak.
“Kom ons gaan kyk of ons die hotelbestuurder in die hande kan kry.”
Deon en Elmarie sit by ’n tafeltjie op die grasperk toe die hotelbestuurder hom by hulle voeg. Die grasperk en sitkamers is nog vol mense, al is dit reeds laat. Nadat die bestuurder plaasgeneem het, vertel Deon hom wat gebeur het.
“Ek is trots daarop dat sulke dinge nog nooit in my hotel gebeur het nie. Maar, nou ja,” en hy trek sy skouers gelate op, “ek is baie jammer daaroor, juffrou. Wat vermis u?”
“Gelukkig niks nie.”
“Daar word selfs nie eens geld vermis nie,” voeg Deon by.
“Dis eienaardig. Hoekom sou hulle dan ingebreek het?” Die man frons.
“Dis wat ek ook wonder,” stem Deon saam en steek sy hand in sy binnesak. “Kan u my sê wat dit is?”
Die bestuurder kyk lank daarna. Sy stem klink effens gedemp toe hy eindelik antwoord: “Dis ’n skarabee. Waar kom u daaraan?”
“Ek het dit in die gang opgetel,” antwoord Deon sonder om te blik of te bloos.
Hoekom sou Deon ’n leuen vertel? wonder Elmarie verbaas.
“Hoekom vra u?” wil Deon nou weet.
Die hotelbestuurder se laggie klink senuweeagtig, sy antwoord ontwykend. “O, nee, sommer.”
“Wat is ’n skarabee?” vra Deon weer, en Elmarie loer vinnig na hom. Sou hy werklik nie weet nie of het hy vergeet van die hangertjie?
“Maar dit weet jy tog, Deon, of het ek jou nie vertel nie? Dis ’n soort kewer, en hier in Egipte word dit as ’n heilige insek beskou – nie waar nie, meneer?”
Die oë wat na haar kyk, is effens nougetrek.
“U is heeltemal in die kol, juffrou. Waar het u dit gehoor?”
“Dis nie ’n geheim nie, is dit?” vra Deon vinnig.
“Nee, natuurlik nie.” Dit lyk asof hy wil opstaan. “U sal my nou moet verskoon …”
Deon keer hom egter.
“Nog net een vraag, asseblief. Ken u ’n man met die naam van Hoessein?”
“Natuurlik! Wie ken hom nie? Hoekom?”
“Ek vra maar. Het al van hom gehoor. Wie is hy eintlik?”
“Hy is Hoessein Abd-el-Rahman, ’n skatryk Egiptenaar met sy eie oase en duur Amerikaanse motors. Hy is baie gewild, veral onder die skoner geslag,” en hy lag skalks in Elmarie se rigting.
“Ja, maar wat dóén hy?”
“Niks nie, sover ek weet. Hy het nie nodig om iets te doen nie.”
“Wat is die bron van sy rykdom?”
“Dit weet ek nie. Ek weet net hy is ryk. Daar word natuurlik allerhande dinge agter sy rug vertel.”
“Soos wat byvoorbeeld?”
Die bestuurder aarsel en trek sy skouers op.
“Ag, u weet, die gewone dinge. Dat niemand eintlik weet wie hy is, waar hy vandaan kom, wat die bron van sy rykdom is nie, en so meer. Hy is beslis ’n geheimsinnige figuur. Hy is natuurlik een van die bes opgevoede en verfyndste mense wat ek al ontmoet het. Maar niemand raak ooit intiem bevriend met hom nie. Hy is dikwels in Kaïro, maar word dan weer lang rukke nie gesien nie. Dan is hy by sy oase en daar gaan niemand glo kuier as jy nie persoonlik deur hom genooi is nie. Hierdie geheimsinnige manier van hom om niemand by sy oase toe te laat sonder sy toestemming nie, het natuurlik al wilde stories gebaar.”
Elmarie hang omtrent aan sy lippe en vra vinnig: “Watse stories?”
“Stories soos dat hy byvoorbeeld ’n groot harem daar aanhou, en nog sulke vergesogte dinge,” lag die man.
“Hoekom so vergesog? Dis nie onmoontlik nie,” laat Deon hoor.
“Nee, dis nie onmoontlik nie, maar tog – as u hom ’n bietjie beter leer ken, sal u begryp. In sy gedrag en maniere is hy meer Westerling as Oosterling en ek kan my net nie voorstel dat Hoessein Abd-el-Rahman iets soos ’n harem sal aanhou nie. Dit … stryk net nie met die man se aard nie.”
“Ja, u is reg. Ek dink ook dis kaf.” Elmarie knik haar kop nadenkend.
Deon kyk spottend na haar en keer hom dan weer na die man regoor hom.
“Daardie man moet ’n besondere bekoring vir vroue besit. Juffrou Widd het hom nog net twee keer gesien en sy is reeds diep beïndruk. Dit maak die storie van die harem vir my glad nie so onaanvaarbaar nie.”
Die hotelbestuurder lag hartlik en Elmarie frons vererg.
“As u dink dat Hoessein ’n flirt is, maak u ’n fout, meneer. Dis heeltemal waar dat die teenoorgestelde geslag hom uiters aantreklik vind, maar hy word altyd met één vrou gesien.”
“Wie is sy?”
“Farah, die dogter van ’n ander ryk Egiptenaar. Hulle is reeds twee jaar lank onafskeidbaar. Dit verbaas my dat die huwelik nog nie plaasgevind het nie.”
“Gaan dié Hoessein ook altyd hier tuis wanneer hy in Kaïro is?” wil Deon weet.
“Hy het ’n permanente stel kamers hier. Hy is nou weer hier tuis.”
Elmarie kyk vinnig op. “’n Stel kamers?”
“Ja. Op die heel boonste verdieping is luukse woonstelle wat uitsluitlik gehou word vir vername gaste, soos oorsese politici. Hoessein het een van hulle. Dit kos hom natuurlik ’n klein fortuintjie, want sy woonstel het ’n privaat daktuin en alles.” Hy staan op. “U sal my regtig nou moet verskoon. Juffrou, ek kan die saak by die polisie aanmeld as u wil.”
“Ek dink nie dis nodig nie,” antwoord Deon vinnig. “Daar is tog niks weg nie.”
“Dis baie vriendelik van u.” Die bestuurder lyk verlig. “Ek is natuurlik