Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman
nogtans hoe hy so dikwels van die kantoor kan wegbly en of hy op sulke kort kennisgewing ’n maand vakansie sal kan neem. Heinz is ook senior, maar hy werk harder as sy ondergeskikte kollegas en hy kan nie sommer na willekeur enige middag van die kantoor wegbly nie.
Conrad knik ongeërg. “Dis nie elke dag dat ’n man gaan trou nie. My kollegas moet môremiddag maar alleen opsnork.”
Dis selde dat hy oor sy werk praat. Mynie gebruik die opening om taktvol te vra: “Is julle baie besig op die oomblik?”
“Redelik. Ons sal die volle som geld moet trek, Mynie, om jou ring te koop, vir die vakansie te betaal en daarna nuwe meubels aan te skaf.”
“Goed. Spesialiseer jy as prokureur in een besondere afdeling of hanteer jy algemene sake, Conrad?”
“So ’n bietjie van beide. Eintlik is ek ’n deskundige op die gebied van die Deeltitelwet, maar ek hanteer soms ook boedels en testamente. Is dit dan reg dat ons Maandagmiddag die geld gaan trek?”
“Ja, dis reg so. Sal die bougenootskap vir my ’n tjek kan gee?”
“Dis onnodige moeite en ’n tjek kan dalk probleme oplewer as ek dit op my lopende rekening wil inbetaal. Soms vereis die bank tien dae klaring voor ’n kliënt op die tjek mag trek. As dit gebeur, is jy jou ring kwyt en ons ons vakansie. So, ek dink kontant sal beter wees.”
“Het bougenootskappe altyd soveel kontant byderhand?”
“Daar behoort geen probleme te wees nie.”
“Sê nou maar iemand slaan jou oor die kop en steel die geld as ons uit die bougenootskap kom?”
“Moenie aan sulke grusame dinge dink nie, my skat. Dink liewer aan iets meer aangenaam … Volgende week hierdie tyd is ons meneer en mevrou Duvenhage, in ’n makrostraler op pad Parys toe vir ons wittebroodsdae. Kan jy dit glo?”
“Ek moet myself kort-kort knyp om seker te maak dat ek nie droom nie.”
Die mooi uitsig op die afgrond en die berge wat Conrad so graag wou sien, kry nie veel aftrek gedurende die volgende paar uur nie. Daar word drome gedroom en lugkastele gebou. Die eerste uur word gebruik om te besluit hoe laat die oggend die huweliksbevestiging in die landdroskantoor moet plaasvind en waar hulle dit daarna met middagete en vonkelwyn gaan vier. Tussendeur sit Mynie en prakseer hoe haar rok gaan lyk en watter kleur hoed sy wil dra. Die tweede en derde uur word aan Parys bestee.
Conrad probeer die atmosfeer van die wonderlike ou stad vir Mynie skets. “As ’n mens Parys werklik wil ervaar, moet jy sommer net na willekeur deur die strate dwaal – van die kronkelstegies van Montmartre tot by die romantiese boulevards van die Champs Élysées, die Faubourg St Honoré en die Quai d’Orsay. En ’n mens moet op die wal van die Seine staan met jou geliefde aan jou sy …”
“Kan ons gaan kyk hoe die Notre Dame lyk? En al die trappies tot bo in die toring klim?”
“As jy genoeg stamina sal hê. Maar van bo is die uitsig op Parys die moeite werd. Dis mooier as bo van die Eiffel-toring af. As jy na ’n paar weke vir Frankryk moeg is, kan ons deur die res van Europa toer. Gaan ski in Switserland, ’n handvol munte in die fonteine van Trevi gooi, op Piccadilly gaan staan en kyk hoe die res van die wêreld verbykom …”
Dan kom Conrad by die minder romantiese, maar meer praktiese.
“Ek glo nie dis ’n goeie idee om binne gemeenskap van goedere te trou nie. Op huweliksvoorwaardes is beter. Ek sê nie dit sal gebeur nie, maar as ek byvoorbeeld bankrot speel, kan die balju nie aan my vrou se besittings raak nie. As ek ’n huweliksvoorwaardekontrak laat opstel, word my vrou beskerm. Ek sal in die kontrak onderneem om direk na ons troue my huis, meubels, plaas en ander besittings op jou naam oor te plaas. Ek sal ook onderneem om ’n som geld aan jou uit te betaal indien ons ooit sou skei.”
“Dankie, Conrad. Dis lief van jou, maar jy moenie van sulke dinge praat nie. Ons het dan beloof om mekaar vir ewig lief te hê.”
“Jy kan dalk vir my moeg word.”
“Nooit.”
“Of dalk eendag ’n ander man bo my verkies.”
“Nooit.” Maar Mynie se stem klink effens minder beslis as netnou. Sy is vies vir haarself daaroor en voeg heftig by: “As ek ooit ophou om jou lief te hê, moet jy my oor jou skoot trek en my die pak slae gee wat ek verdien.”
“Ek sal so maak, maar ek wil nog steeds onderneem om jou ’n som geld uit te betaal indien jy dalk eendag jou vryheid wil hê. Ek wil nie hê jy moet dink ek trou net met jou om jou geld in die hande te kry nie, my liefste. En dis ook om dankie te sê vir die geld wat jy vanaf Maandag vir my gaan leen. Dit sal egter nie ’n volle vyf jaar hoef te wees nie. Sodra ons terug is van Europa, gaan ek die bestuurder van die bougenootskap spreek en vra om die termyn van vyf na een jaar te verkort.”
“Kan ’n mens so iets doen?”
“As die bestuurder van die bougenootskap moedswillig is, breek ek sy brandkluis oop en help myself. Ek beloof om jou geld nie langer as hoogstens een jaar te leen nie, en jou tien persent rente te betaal.”
“Vyf persent.”
“Tien.”
“Vyf.”
“Kan my aanstaande vroutjie onthou wat in die huweliksformulier staan? Weet sy dat sy volgende Saterdagoggend gaan beloof om haar man onderdanig te wees en hom in alle opsigte altyd te gehoorsaam? Sy sal solank moet begin oefen om nie so baie met haar man te stry nie.”
“Waar staan dit dat die vrou die man onderdanig moet wees en …?”
Dog Mynie se verontwaardigde vraag word met ’n soentjie stilgemaak.
“Moenie so baie praat as ek besig is om jou te soen nie,” fluister Conrad liefkosend.
Конец ознакомительного фрагмента.
Текст предоставлен ООО «ЛитРес».
Прочитайте эту книгу целиком, купив полную легальную версию на ЛитРес.
Безопасно оплатить книгу можно банковской картой Visa, MasterCard, Maestro, со счета мобильного телефона, с платежного терминала, в салоне МТС или Связной, через PayPal, WebMoney, Яндекс.Деньги, QIWI Кошелек, бонусными картами или другим удобным Вам способом.