Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman
is egter te skaam om dadelik met haar plan vorendag te kom. Heinz is ses-en-twintig jaar oud. Hy weet seker al teen hierdie tyd dat hy aantreklik vir lede van die teenoorgestelde geslag is. Sy is bang Heinz dink sy beplan om self haar flikkers vir hom te gooi, daarom besluit Elma om eers voorbrand te maak, die saak versigtig aan te voor en te sorg dat dit op die einde lyk asof die plan eintlik van sy kant af gekom het.
“Onthou jy hoe ontsteld Mynie oor daardie blondine op die lughawe en oor Annette Basson was?” Elma weet sy gaan haal die bobbejaan ver agter die bult, maar dis nodig om soos Alice in Wonderland te maak en by die begin te begin.
“Kan ek dit ooit vergeet?” vra Heinz gevoelvol.
“Wat het jy daaruit afgelei?”
“Ek weet nie. Daar was nie tyd vir afleidings nie. Ek was te besig met verduidelikings.”
“Miskien omdat ek ’n buitestander is, kon ek die tekens objektief beskou en die korrekte afleiding maak. Of dalk ken ek Mynie beter as jy, Heinz. Ek weet hoekom sy so kwaad daaroor was.”
“Hoekom?”
“Mynie is nie van nature besitlik of jaloers nie, maar geen meisie hou daarvan as ’n ander een in haar slaai krap nie. Is ek reg?”
“Jy is reg. Ek weet egter nie waarop jy afstuur nie.”
“Wees geduldig. Net soos alle mansmense, verstaan jy nie die kuns om ’n vroumens reg te hanteer nie. Jy kon daardie misverstand met jou suster tot jou eie voordeel omskep het. Jy kon dit gebruik het om Mynie se oë te laat oopgaan en haar wakker te skud. Dis presies wat sy nodig gehad het om haar te laat besef dat sy jou liefhet. Sy was goed op pad om daardie ontdekking te maak toe Conrad Duvenhage ongelukkig op die toneel verskyn het – om haar weer horende doof en siende blind te maak wat haar gevoel vir jou betref.”
“Dus?”
“Dus skep ons ’n soortgelyke situasie om Mynie uit haar dwaling wakker te skud.”
“Ek moet ’n ander nooi kry om Mynie mee jaloers te maak?”
Elma glimlag tevrede. “Jy is nie so dom soos jy lyk nie, Heinz. Dis ’n briljante idee wat jy nou net gekry het, ’n skitterende plan wat jy self uitgedink het. Dit behoort te slaag.”
“Dis goed en wel, maar waar kry ek op kort kennisgewing ’n ander nooi? En hoe gaan ek te werk om die meisie se gevoelens nie seer te maak en haar nie te laat agterkom sy word net gebruik om Mynie Cronjé mee te vermaak nie?”
“Luister, ek sal jou vertel hoe ons maak …”
Heinz sit nog steeds aandagtig en met groeiende opgewondenheid na Elma en luister toe tant Dollie Visagie ’n halfuur later die sitkamer binnestorm.
“Ek kom nou net van die lughawe af en ek dag ek sal julle eers die goeie nuus kom gee, Elma. Luitenant Hoekstra sê hulle het ’n leidraad! Daar is ’n moontlikheid dat ek my beursie en my geld kan terugkry.”
Sy sien nou eers vir Heinz op die bank sit en die stortvloed woorde word ’n oomblik lank onderbreek voordat tant Dollie met ’n nuwe vlaag begin.
“Is jy die speurdertjie? Die luitenant op die lughawe het vir my gesê hy en ’n sersant As van Staden van Johannesburg werk nou glo saam, want die soort boereverneukery waarmee ek gevang is, het glo ook in die stad kop uitgesteek.
“Eers ’n jong huisvroutjie wat glo ’n vreemde man toegelaat het om haar motor te parkeer en nooit gedink het die vent sal daarmee wegjaag nie. Toe weer ’n oujongnooi en ’n klomp ander mense wat van geld beroof is, en nou weer ’n man wat gaan kla het dat hy vir ’n sekere bustoer betaal het, maar dat die bus nooit die volgende oggend opgedaag het nie en dat daar ook nie so ’n reisagentskap bestaan as wat hulle vir hom vertel het nie. Arrie, nee, waar gaan die wêreld heen? Is jy sersant Van Staden?”
“Ongelukkig nie, mevrou …”
Elma onthou haar maniere en stel hulle gou aan mekaar voor.
“Ongelukkig is ek nie sersant Van Staden nie, juffrou Visagie,” herhaal Heinz.
Tant Dollie knik afgetrokke, haar gedagtes nog heel duidelik by haar vermiste beursie. Dan kyk sy nuuskierig na Heinz en Elma.
“As jy dan nie die sersantjie is wat na my kom soek het om verdere leidrade te kry nie, wat het jy hier kom maak, meneer Du Preez?”
Dis Elma wat antwoord.
“Hy het vir my kom kuier, tant Dollie.”
“Vir wat?”
“Omdat hy my kêrel is,” antwoord Elma skalks.
“Jou nuwe kêrel, sê jy?”
“Dis reg, tante.”
“Wel, ek moet sê, ek hou meer van hom as van daardie ander langhaargedoentes wat in die verlede vir jou kom kuier het, Elma. En ek moet sê, as ek so vyftig jaar jonger was, het ek sélf my flikkers vir hierdie nuwe kêreltjie van jou gegooi …!”
10
“Ek wil berge sien,” sê Conrad. “Hier is te veel mense om ons. Ek wil alleen saam met jou in die rustige natuur wees. Ek wil jou in my arms hou terwyl ons ’n uitsig op die berge en valleie en klowe het.”
“Dis goed. Jy kan jou berg kry, maar mag ons darem hout en vleis saamneem?” vra Mynie.
Dis ’n Sondagoggend en Conrad het voorgestel dat hulle iewers heen uitry om die dag in die buitelug deur te bring.
“Hout en vleis en toebroodjies en drinkgoed. Ek weet van ’n mooi plekkie in die Magaliesberge wat niemand anders nog ontdek het nie. Dis afgesonderd en bo-op die kruin van ’n berg. Van bo af het mens ’n panoramiese uitsig oor die valleie en klowe. Ek sal net op pad daarheen brandstof moet kry. Hout het ek. Het jy genoeg vleis om te gaan braai, Mynie?”
Conrad kyk saam met Mynie in haar vrieskas, haal tjops en biefstuk uit en timmer ’n sous aanmekaar wat hy oor die vleis gaan sprinkel terwyl dit op die hardekoolvuur braai.
“Hulle sê hardekool is so skaars soos stinkhout,” merk Mynie op. “Waar het jy daardie kosbare hout gekry?”
“By ’n ander ou,” antwoord Conrad vaag. “Hoe ruik hierdie sous vir jou?” en hy hou dit onder Mynie se neus.
“Hmmm …”
“Wat beteken ‘hmmm’?”
“Lekker. Heerlik. Mond wat water.”
Soos Conrad gesê het, wil hy bo-op ’n berg staan, afkyk op die afgrond voor sy voete en vars, onbesoedelde lug inasem. En hy is haastig om uit die lawaaierige stad met die baie mense weg te kom. Hy gun homself skaars tyd om brandstof langs die pad in te gooi en is ongeduldig toe die petroljoggie nie gou genoeg met sy kleingeld terugkom nie.
Toe hy dit wel kry, tel hy die muntstukke vinnig.
“Daar is vyf sent te min,” sê hy kil.
Een blik na die koue gesig laat die petroljoggie besluit om nie te redekawel nie. Hy haal blitsig vyf sent te voorskyn en lyk verlig toe ’n ander motor agter die Mercedes stilhou sodat hy ’n verskoning kan hê om hom uit die voete te maak.
“As mens jou oë nie oophou nie, word jy om elke hoek en draai gekul,” sê Conrad grimmig.
Mynie verwonder haar aan hierdie man se luime wat soos kwiksilwer kan verander. Een oomblik is hy sagmoedig en liefdevol, die volgende wreed en ongevoelig. Conrad is ryk. Vyf sent sou hom nie armer gemaak het nie en die arme petroljoggie het dit miskien nodiger gehad as hy. Kon hy nie maar geswyg of die vyf sent as ’n fooitjie toegelaat het nie?
“Die vermetelheid om vyf sent van my geld in sy sak te steek … Dis nie die geld nie. Dis die beginsel. Stem jy saam?”
Mynie stem nie saam nie. Conrad het baie haastig getel. Is hy seker daar is vyf sent te min?
“Ja, Conrad,” sê Mynie sag. “Jy