Ettie Bierman Keur 12. Ettie Bierman
ek al vir jou gesê dat ek jou liefhet?” fluister hy teen haar hare.
“Ja, maar sê dit asseblief weer. Dis heerlike woorde om na te luister.”
“Ek het jou liefgekry, Mynie, die eerste keer toe ek jou gesien het. Daardie heel eerste aand toe ’n paar groot groen oë vir my deur die boluik geloer het.”
“Is nie!” sê Mynie verontwaardig. “Jy het nie gesien toe ek op ’n stoel geklim het om deur die luik vir jou te loer nie.”
“Hoe anders sou ek dan geweet het jy het dit gedoen? Ek het selfs die eetkamerstoel hoor val toe jy dit nie gou genoeg onder die tafel ingeskuif kon kry nie.”
“Is nie! Jy het dan nie opgekyk nie. Hoe kon jy my sien?”
“O, ek het opgekyk lank voor daar ’n nuuskierige klein gesiggie bokant my kop verskyn het en die paar groot groen oë my raakgesien het,” antwoord Conrad vroom. “En toe het ek weer haastig weggekyk en taktvol gemaak asof ek niks agtergekom het nie. Ek wou jou nie nog meer verleë laat voel het, my skat, as wat jy in der waarheid was toe jy ’n minuut later die voordeur oopgemaak het nie.”
“Jy jok, Conrad.”
“Was jy darem tevrede met die eerste aanblik van jou penvriend?” terg Conrad. “Gelukkig het ek daardie oggend my skoenpunte blink gepoets, my baadjie se skouers afgestof en die kroontjie bo-op my kop gekam. Wat sou jy gemaak het, Mynie-skat, as jy ’n ou met stowwerige skoenpunte, skilfers op sy skouers, ’n deurmekaar kroontjie bo-op sy kop en ’n onnet paadjie tussen sy hare onder jou boluik sien staan het? Geweier het om die voordeur oop te maak? Van die stoel afgeklouter, ’n skottel water gaan haal en dit oor jou penmaat omgekeer het?”
“Ag, loop … Jy geniet dit blykbaar om my skaam te maak.”
“Kan ek daaruit aflei dat Wewenaar ’n gunstige eerste indruk op jou gemaak het, Mynie? Hoeveel punte het jy my gegee ná jy my eers sorgvuldig bestudeer het? Tien uit tien?”
“Nul uit tien.”
Conrad se regterwenkbrou lig vraend. Hy lyk nog steeds baie geamuseer. “Nul uit tien, maar tog kon jy nie gou genoeg by die voordeur kom om dit oop te maak nie? So haastig dat jy selfs die eetkamerstoel laat val het.”
Mynie ag dit gerade om liewer die aftog te blaas.
“Ek gaan vir ons koffie maak.”
“Hierdie ronde het ek gewen!” roep Conrad agterna toe Mynie die hasepad kombuis toe kies.
“Jy is uiters verwaand, Conrad Duvenhage!” roep sy bokant die gedruis van water wat in die ketel ingetap word. “Miskien vier, hoogstens vier en ’n half uit tien. Beslis nie volpunte nie.”
Mynie haal beskuit uit en ’n sjokoladekoek wat sy spesiaal vir hierdie doel gebak het. Toe sy dit egter saam met die koffie op die skinkbord pak, stap Conrad die kombuis binne. Hy neem die skinkbord uit haar hande, sit dit op die wasbak neer en sê bekommerd: “As die nooientjie jou verwaand noem, beteken dit dat sy op die punt staan om vir jou kwaad te word. Ons kan koffie drink terwyl jy vir my kwaad is, maar ek dink ek moet gou vir jou iets vra terwyl jy nog goed is.”
“Wat wil jy vir my vra, Conrad?”
“Ek wil vir jou vra of ek jou volgende keer ’n belangrike vraag mag vra. Ek weet dit klink deurmekaar, maar ek weet nie hoe om my woorde beter te kies nie. Ek is ’n verliefde kêrel wat nie logies kan dink nie. Sê net dat jy ja sal sê op die baie belangrike vraag wat ek volgende keer vir jou wil vra.”
“Hoe kan ek belowe om ja te sê as ek nie weet wat die vraag gaan wees nie?”
“Jy het seker ’n vae idee wat ek wil vra, Mynie. Hoekom anders dink jy is my tong nou skielik weer in tien knope geknoop en my handpalms natgesweet?”
Mynie tel een van sy hande op en druk dit teen haar wang.
“Jy oordryf. Jou hande is kurkdroog.”
Toe Conrad se hand teen haar wang afgly, oor haar nek streel en hy haar weer wil nader trek, bloos Mynie en gee haastig ’n tree agteruit.
“E … O-ons koffie word koud,” stamel sy verleë.
Conrad lag saggies, dan tel hy die skinkbord op en volg haar daarmee sitkamer toe.
Toe hy die suikerpot vir haar hou, sê hy met ’n tergende glimlag: “Na ek my koffie klaar gedrink het, moet ek seker soos ’n soet seuntjie huis toe gaan en gaan slaap …”
Mynie kyk op haar horlosie. “Ja, dit is al laat, Conrad.”
“Ek sal mooi luister wat die juffrou beveel. Ek wil nie die gunstige indruk bederf wat ek op haar gemaak het nie. Onthou net die vraag wat ek volgende keer vir jou wil vra, Mynie …”
8
Heinz du Preez het nie gesien toe die verliefde paartjie vroeër die aand hand aan hand by Astrahof uitgestap gekom het nie, maar hy sien toe ’n roomkleurige Mercedes kort voor elfuur die aand voor die woonstelgebou stilhou, en hierdie keer herken hy die meisie in die blou rok.
Eers kan Heinz sy oë nie glo toe hy merk Mynie is saam met ’n vreemde man nie. Toe besef hy weer dat hy ’n dwaas was. Stiksienig en onnosel. Skielik besef hy waarom Mynie die afgelope tyd so ontwykend en afsydig was. Dis omdat sy ’n ander kêrel het en nie meer in hom belangstel nie. ’n Oomblik lank flikker die flou vlammetjie van hoop dat dit een van die onderwysers is wat saam met Mynie skoolhou, dat sy ’n skoolfunksie bygewoon en dat ’n kollega haar uit hoflikheid opgelaai het. Toe hy egter sien hoe sorgsaam die man haar uit die motor help en dan haar hand in syne neem, doof die vlammetjie uit om Heinz se toekoms pikdonker te laat.
“Mynie het ’n ander kêrel.” Hy sê daardie vyf woorde oor en oor om dié feit te kan inneem en besluit wat hy daaromtrent kan doen.
Op die oomblik niks, besluit Heinz terwyl hy sy vuiste magteloos bal, behalwe om daardie vent net daar op die sypaadjie storm te loop, Mynie se hand uit syne te ruk en hom ’n opstopper te gee. Maar sal dit sy saak by Mynie Cronjé bevorder? Hy weet dit sal nie. Dit sal meer skade as goed doen.
Heinz sit vol wrewel en kyk hoe die lig in Mynie se sitkamer aangeskakel word. Sou sy die vent binnegenooi het? Na vyf lang minute besluit hy dat sy dit wel gedoen het. Die vent het nog nie weer by die ingang uitgestap gekom en in sy rammelkas geklim nie. Of hoe lank duur dit om tien tree ver na ’n hyser te loop, drie verdiepings na onder te ry en op die sypaadjie te voorskyn te kom? Heinz besluit hy sal die vent nog tien minute toelaat, dan gaan boender hy hom met geweld daar uit en eis om te weet wat hy in sy nooi se sitkamer soek.
Sý nooi? wonder Heinz. Is Mynie nog sý nooi, of is daar ’n verhouding tussen haar en daardie witkopvent? ’n Oomblik lank kan Heinz hom indink hoe Mynie gevoel het toe sy van Annette uitgevind het. Hy stoot die gedagte ergerlik eenkant toe. Daar is geensins ’n vergelyking tussen die twee gevalle nie. Annette is ’n verloofde meisie en niks meer as net ’n kollega van hom nie, terwyl daardie vent ’n … hy weet nie wat van Mynie is nie. ’n Goeie vriend? ’n Terloopse kennis? Iemand wat haar na afloop van ’n funksie goedgunstiglik huis toe gebring het? Nee, besluit hy weer. Dan sou die man nie haar hand vasgehou en sy arm om haar middel gesit het toe hulle in die gebou verdwyn het nie. En ook nie so lank getalm het om vir Mynie tot siens te sê nie …
Omstreeks dieselfde tyd wat Mynie op haar horlosie kyk en vir Conrad sê dis al laat, kyk Heinz ook weer op sy horlosie. Die vent se laaste minuut is bykans verstreke.
Om sewe minute oor elf klim Heinz uit sy motor en klap die deur baie hard agter hom toe. Hy het nog nie besluit wat hy gaan doen nie. Maar die hele tyd in sy motor bly sit of huis toe ry sonder dat hy weet hoe laat die man by Mynie weg is? Dit kan hy ook nie doen nie.
Heinz druk die knoppie vir die hyser, nog steeds sonder ’n plan van aksie. Net met moord- en wraakgedagtes in sy hart. Terwyl hy wag, druk hy die knoppie ongeduldig ’n derde en ’n vierde keer. Hy merk dat die verligte nommers bokant die deur by nommer drie aangaan, dan by nommer twee, nommer een en uiteindelik by die grondverdieping stilstaan. Heinz